Bloemhof in Noordwes is tans in die greep van ‘n diarree-uitbraak.
Die dorp ondervind al reeds geruime tyd probleme met skoon water.
Verskeie leerders is van die skool af huistoe gestuur vir mediese hulp nadat hulle simptome van die siekte begin toon het, het RSG berig.
Daar word vermoed dat die siekte die gevolg is van die onverwerkte riool wat in die Vaalrivier inloop en besoedeling van die gemeenskap se watervoorsieningsnetwerk.
Die Departement van Gesondheid in die provinsie en privaat mediese praktisyns het bevestig dat daar baie pasiënte is, met simptome wat ondermeer braking en maagkrampe insluit.
Die Departement van Gesondheid het intussen watermonsters geneem om die oorsaak van die uitbreking te probeer vasstel.
Die Registrateur-generaal, Tobaiwa Mudede het Zimbabwiërs aangeraai om voorbehoedmiddels te staak. Hy het gesê voorbehoedmiddels is ‘n slenter deur magtige Westerse lande om bevolkingsgroei te vertraag in Afrika en sodoende die kontinent te verswak.
Mudede het gesê voorbehoedmiddels lei tot pandemiese siektes soos kanker, veral in vroue. Hy het voor kerklike gemeentelede ter herdenking van Afrika-dag in Kambuzuma, Harare dié waarskuwing gerig.
Teenwoordig was senior Zanu-PF- en ander regeringsamptenare.
Mudede het gesê hy is mede-outeur van ‘n boek oor bevolkingsbeheer wat hy saam met televisieprodusent Richard Hondo gepen het.
Hy het gesê die boek verduidelik waarom swartes moet ophou om voorbehoedmiddels te gebruik en gesê hulle moet eerder soveel kinders as moontlik kry.
Mudede het toegegee dat sy idees weerstand sal kry. Maar, het hy gesê: “Ek is beangs as ek dink dat my dogtertjie voorbehoedmiddels moet gebruik. Hoekom wil jy hierdie buitelandse produkte hê? Dit veroorsaak baie pyn vir my.
“Waar gaan jy kry soldate kry as daar ‘n aanval is? Ons wil polisiebeamptes, werkers, verpleegsters hê. As jy die jong mense vandag vra hoeveel kinders hulle het, hoor jy hoe hulle trots reageer ‘net twee’.”
Mudede het gesê Zimbabwe kan nie ‘n supermoondheid word indien hy sy bevolkingsgroei aan bande lê nie.
Hy het verwys na Nigerië, wat ‘n bevolking van meer as 130-miljoen het, en ‘n opbloei in sy ekonomie beleef, terwyl lande soos Zimbabwe wat hom steur aan voorbehoeding, traer ekonomieë het.
RSG berig dat daar vandag twee tussenverkiesings in die Wes-Kaap plaasvind, een in Kaapstad en die ander een in die Matzikamamunisipaliteit op Vredendal. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê stembusse sal oop wees van sewe-uur die oggend tot nege-uur die aand. Die OVK se hoof in die Wes-Kaap. Courtney Sampson, sê bykans 60-duisend kiesers is in die 34 stemdistrikte geregistreer. Sampson sê in wyk 25 in Kaapstad waar die ANC, DA, FNLA en PA sake sal uitspook, sal daar 9 stemlokale wees. By die tussenverkiesing op Vredendal word daar in wyk ses gestem en sal die ANC, DA en PA sake uitspook.
‘n Opera wat die lewensverhaal van oudpresident Nelson Mandela uitbeeld is na slegs drie vertonings in die Staatsteater in Pretoria gekanselleer, het RSG berig.
Die opera, “Madiba: The African Opera” het Vrydag begin, maar moes drie dae later die gordyn laat sak omdat daar nie geld is om die sangers te betaal nie.
Die regisseur, Unathi Mtirara, sê geen geld is van die Nasionale Lotery ontvang nie.
Na die premiere sou daar ook optredes in Qunu wees voordat dit op ‘n buitelandse toer geneem word.
Die Staatsteater het bevestig dat die vertonings gekanselleer is, maar wou geen besonderhede oor ‘n privaatproduksie gee nie.
Nog ‘n skandaal dreig om die DA te verswelg nadat ‘n private Twitter gesprek tussen die party se jeugleier, Mbali Ntuli, en ‘n vriend van Lindiwe Mazibuko uitgelek het.
In die twiet verwerp Ntuli bewerings dat Mazibuko afgedank is en sê: “Ek is verbaas Lindi [ Mazibuko ] het so lank gehou as wat sy gehou het. Hulle [die wittes] is verskriklik met ons. Elk geval, ek is bly vir haar.”
Die twiet bevestig die rassespanning wat dreig om die party te skeur.
Mazibuko het ‘n dag na die 7 Mei-verkiesing aangekondig dat sy nie sal terugkeer na die parlement as DA-leier nie want sy wil aan Harvard Universiteit in die VSA gaan studeer.
Maandag het Ntuli gesê sy is bekommerd dat ‘n private gesprek uitgelek het van haar vriend se Twitter-rekening.
Sy het die skuld op opposisiepartye gepak wat in hulle rekeninge “ingebreek” het.
“Dit is die ander persoon se rekening. Hy was baie ontsteld daaroor. Ek is nie seker watter regstappe hy gaan neem nie.”
Mazibuko se vertrek kom nadat die DA se parlementêre koukusbesluit verlede jaar ten gunste van die Wet op Gelyke Indiensneming gestem het. Die partyleier Helen Zille het daarna teen die besluit gegaan.
Zille het ontken dat sy swart leiers in die party terughou.
Malema het om verskoning gevra nadat die SAID Maandag sy voorlopige sekwestrasie in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria verleng het.
Malema het erken dat hy sy plig versuim het ten opsigte van belasting. Hy is tot 25 Augustus gegun om sy uitstaande belasting ten bedrae van R16 miljoen plus rente te betaal.
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ná Malema se verskoning gesê dit is nie in SAID se belang om met regstappe teen Julius Malema voort te gaan nie.
Die leier van die EFF het ook om verskoning gevra het vir sy uitlatings dat SAID bevooroordeeld en oneerlik is.
Volgens hofstukke skuld Malema die SAID R16 miljoen in belasting sedert 2010.
Malema het SAID voorheen van ‘n politieke agenda teen hom beskuldig en ‘n “doelbewuste poging” om hom te diskrediteer.
Maar Maandag het hy sy deuntjie verander . “Ek kon dinge in die openbaar gesê het wat ‘n negatiewe beeld van die reputasie van die SAID en ‘n paar van sy amptenare skep,” het die EFF-leier gesê.
SARS se prokureur, Nick Maritz, het aan die hof gesê dat die Inkomstediens ‘n kompromie-aanbod aanvaar het dat Malema sy belastingskuld vereffen.
Die ooreenkoms is onderhewig aan sekere voorwaardes. Een hiervan is dat hy ‘n volle bekendmaking van sy bates, laste en bronne van inkomste voorlê, en dat sy belastingsake op datum gebring word.
Die saak sal weer voor die hof wees in Augustus om te verseker dat die voorwaardes nagekom word. As dit nie gebeur nie, kan die voorlopige bevel nog finaal gemaak word.
Tot dan sal Malema sy setel in die parlement te behou.
Zuma en sy nuwe adjunk-president Cyril Ramaphosa, links
President Jacob Zuma sê die regering se doelwit om proporsionele verteenwoordiging van vroue in die Kabinet te bevorder is byna bereik.
Zuma het Sondagaand die nuwe Kabinet by die kantore van die Regeringkommunikasie en Inligtingstelsel in Pretoria bekendgemaak.
Die president het gesê dat hy 20 mans en 15 vroue as Ministers aangewys het, en 20 mans en 16 vroue as adjunkministers.
Susan Shabangu gaan ‘n nuwe Vrouedepartement binne die Presidensie lei. Shabangu is uitgeskuif van minerale hulpbronne om die nuwe ministerie te lei.
Sake-eenheid Suid-Afrika, Busa, het aanstellings in die nuwe kabinet verwelkom. Die organisasie het veral die aanstelling van Cyril Ramaphosa as adjunkpresident geprys.
Busa het ‘n beroep op Ramaphosa gedoen om implementering van die Nasionale Ontwikkelingsplan te lei.
Busa is nietemin teleurgesteld oor die verskuiwing van Pravin Gordan maar meen sy aanstelling as minister van Samewerkende Regering is noodsaaklik vir die bestuur van munisipaliteite waar dienslewering sukkel.
Die Sake-eenheid het die aanstelling van Nhlanhla Nene as minister van Finansies verwelkom en gesê hy het homself reeds as bekwaam bewys.
Die organisasie het ook hul kommer oor die skeiding van Ekonomiese Ontwikkeling en Handel en Nywerheid uitgespreek, en sê die twee ministeries kan tot verdere gebrekkige koördinering lei.
Daar was gemengde reaksie by opposisieleiers oor president Zuma se nuwe kabinet. Volgens die DA leier, Helen Zille, is die nuwe kabinet te groot en lomp om goeie regering te waarborg.
Die EFF-leier Julius Malema het die samestelling van die nuwe kabinet as die begin van ‘n ramp vir die volgende vyf jaar bestempel.
Malema sê die president beloon steeds lojaliteit, selfs al het sy ondersteuners nie die vermoë om die werk te doen nie.
Terwyl ‘n paar nuwe gesigte bygekom het, is ander ministers ook uitgelaat.
Pieter Mulder, leier van die VF+, is sy pos as adjunk-minister van landbou in die nuwe kabinet kwyt. Hy het die ANC gekritiseer oor die aanstelling van SAKP-lede in die kabinet.
Zuma het van sy groot ondersteuners beloon. Fikile Mbalula, Aaron Motsoaledi, Ebrahim Patel, Thulas Nxesi, Angie Motshekga en Blade Nzimande is van die ministers wat hulle portefeuljes behou het.
Die president het nogtans gepoog om die publiek se vertroue in sy leierskap te herstel deur omstrede ministers te verwyder. Paul Mashatile en Lulu Xingwana is uitgelaat.
Die voormalige minister van Polisie, Nathi Mthethwa is geskuif na die ministerie van Kuns en Kultuur. Mthethwa is omstrede weens die geweld by Marikana en die veiligheidsopgraderings by die president se privaatwoning op Nkandla.
Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het Zuma geloof vir die veranderinge wat hy aan die Veiligheidsgroepering in die Kabinet gemaak het, en dat hy kontinuïteit behou het in die ministerie van Verdediging. Hy het egter gesê dat die kabinet steeds te groot is.
Die Johannesburgse Nooddienste is bekommerd oor ‘n vlaag brande in die Johannesburgse middestad, het RSG berig.
‘n Woordvoerder van die Nooddienste, Robert Mulaudzi sê die oorsaak van die brand Saterdagaand by ‘n gebou op die hoek van Rissik en Loveday straat is nog nie bekend nie.
Hy sê een persoon is dood in die brand, en twee mense is behandel vir rookinaseming en geringe brandwonde.
Volgens Mulaudzi het brandbestryders die afgelope week minstens vier brande in die middestad geblus.
Hy sê hulle het ook gistermiddag ‘n brand geblus by Ubuntu Kraal in Soweto.
‘n Afvaardiging van die Suider Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap is in Lesotho om met die regering, die polisiekommissaris en die bevelvoerder van die weermag te vergader.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ( SANW) is na berig word gereed om die Lesotho Weermag ( LDF ) te ondersteun.
Volgens inligting van bronne by Interpol in Lesotho, was die SANW reeds in Februarie naby die land se grens by Wepener ontplooi om “enige verdagte Lesotho militêre verwikkelinge te monitor”.
Die SANW-ontplooiing volg nadat ‘n skynbaar beplande onrus georkestreer is deur elemente in die Lesotho weermag.
Die Suid-Afrikaanse weermag het intussen intelligensie ingesamel.
‘n Opstand binne Lesotho se weermag sal “verpletter word omdat die plaaslike blok SAOG ( Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap ) nie enige omverwerping van ‘n vreedsame verkose regering sal duld nie” het bronne gesê.
Die Lesotho Mounted Police Service het bevestig dat swaar gewapende Lesotho militêre lede langs die land se grense ontplooi is.
Dit volg na spanning tussen die weermag en polisie.
Die afvaardiging bestaan uit die ministers van Buitelandse Sake van Namibië en Tanzanië en die uitvoerende sekrekraris van die SAOG, Dr Stergomena Lawrence Tax.
Die SAOG sal ook met Koning Letsie III, die eerste minister Tom Thabane, koalisie-partyleiers, die hoofregter en godsdiensleiers vergader.
President Jacob Zuma het reeds onderafdelings van die Wet op Nasionale Gesondheid onderteken wat kan verhoed dat dokters en ander gesondheidswerkers private praktyke open waar hulle wil.
Alle gesondheidswerkers – soos tandartse, dieetkundiges en fisioterapeute – wat ‘n private praktyk wil oopmaak, sal moet aansoek doen by die Departement van Gesondheid om hulle toestemming te kry vir ‘n sertifikaat van behoefte.
Die sertifikaat sal verpligtend wees vanaf April 2016 .
Artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid bestaan reeds 10 jaar, maar is nie in die wet onderteken tot die einde van verlede jaar nie.
Dit sal in April in werking tree, maar gesondheidswerkers het twee jaar om die sertifikaat van behoefte te bekom .
Die doel van die sertifikaat is om ‘n “billike verspreiding” van dokters en ander gesondheidswerkers regoor die land te verseker.
Gesondheidswerkers kan tot vyf jaar tronkstraf of ‘n boete ontvang as hulle ‘n private praktyk bedryf sonder ‘n sertifikaat na April 2016.