Brand verwoes 500 plakkershutte

Sowat 2 000 mense is dakloos nadat ‘n brand by die Kya Sands-lokasie sowat 500 plakkershutte Donderdag verwoes het, het die Johannesburgse nooddienste gesê.

Woordvoerder Nana Radebe het gesê rampbestuur probeer vasstel hoeveel mense geraak word, maar van die aanvanklike waarnemings is sowat 2 000 haweloses.

Radebe wou nie die getal bevestig totdat die amptenare hul verslae voltooi het nie, het sy gesê.

Agt mense moes vir rookinaseming behandel word.

Sowat 500 plakkershutte het afgebrand, het Radebe gesê.

Die brand is na bewering deur ‘n gasstoof veroorsaak wat nie dopgehou is nie. Gemeenskapsleiers het intussen huise van die regering geëis “om verdere rampe soos dié te voorkom”.

‘n Plaaslike kerk het alternatiewe akkommodasie aangebied vir die nag, en nie-regeringsorganisasies het kos en klere vir diegene wat geraak is, uitgedeel.

Geen sterftes is aangemeld nie.

Brande teister Johannesburgse middestad

fireDie Johannesburgse Nooddienste is bekommerd oor ‘n vlaag brande in die Johannesburgse middestad, het RSG berig.

‘n Woordvoerder van die Nooddienste, Robert Mulaudzi sê die oorsaak van die brand Saterdagaand by ‘n gebou op die hoek van Rissik en Loveday straat is nog nie bekend nie.

Hy sê een persoon is dood in die brand, en twee mense is behandel vir rookinaseming en geringe brandwonde.

Volgens Mulaudzi het brandbestryders die afgelope week minstens vier brande in die middestad geblus.

Hy sê hulle het ook gistermiddag ‘n brand geblus by Ubuntu Kraal in Soweto.

Klag teen nooddiens ondersoek wat “vuil” vrou weier

joburgnoodDie Johannesburgse nooddienste sal ’n formele klag ondersoek wat hulle ontvang het nadat ’n vrou glo behandeling geweier is omdat sy “te vuil was”.

Die vrou is Vrydag dood.

Robert Mulaudzi, woordvoerder vir die Johannesburgse nooddienste, het in ’n verklaring gesê: “Hierdie aantyging word baie ernstig opgeneem en die [nooddiensbestuur] sal enige formele klag van die familie ondersoek en die nodige dissiplinêre stappe neem indien bevind word dat daar verkeerd opgetree is.”

Die Daily Sun het Maandag berig dat ambulanswerkers na bewering geweier het om die vrou, Sarah Bezuidenhout, hospitaal toe te neem omdat sy glo te vuil was.

Dit is nie bekend wat die oorsaak van haar dood was nie.

In ‘n soortegelyke geval het omstanders vroeër die nooddiens geskakel oor ‘n sterwende boemelaar. Die nooddienste wou hom nie in die ambulans laai nie en hom daar gelaat dat hy sterf nadat hulle hom ondersoek het.

Die optrede van die ambulanspersoneel is glo op veiligheidskameras opgeneem.