Brand verwoes 500 plakkershutte

Sowat 2 000 mense is dakloos nadat ‘n brand by die Kya Sands-lokasie sowat 500 plakkershutte Donderdag verwoes het, het die Johannesburgse nooddienste gesê.

Woordvoerder Nana Radebe het gesê rampbestuur probeer vasstel hoeveel mense geraak word, maar van die aanvanklike waarnemings is sowat 2 000 haweloses.

Radebe wou nie die getal bevestig totdat die amptenare hul verslae voltooi het nie, het sy gesê.

Agt mense moes vir rookinaseming behandel word.

Sowat 500 plakkershutte het afgebrand, het Radebe gesê.

Die brand is na bewering deur ‘n gasstoof veroorsaak wat nie dopgehou is nie. Gemeenskapsleiers het intussen huise van die regering geëis “om verdere rampe soos dié te voorkom”.

‘n Plaaslike kerk het alternatiewe akkommodasie aangebied vir die nag, en nie-regeringsorganisasies het kos en klere vir diegene wat geraak is, uitgedeel.

Geen sterftes is aangemeld nie.