Nuwe helde

Twee groot sake, twee helde.

So kan kortliks verwys word na mnr. Paul O’Sullivan en dr. Richard Young, wat onderskeidelik met groot deursettingsvermoë die Jackie Selebi- en die wapenskandale bly takel het.

Beide het lywige dossiere opgebou. In die proses is Suid-Afrika se voormalige polisiebaas reeds skuldig bevind, en gaan Skoor weer, met nuwe getuienis, na die wapenskandaal kyk.

Op 10, 11 en 13 Augustus gaan verskeie instansies en persone voor die parlementêre Skoor moet kom verduidelik.

Hoewel minstens twee prominente mense, Shabir Shaik en Tony Yengeni, reeds weens kantlynbetrokkenheid tronkstraf opgelê is, maar skynbaar spesiale behandeling te beurt geval het, was dit vanuit die staanspoor duidelik dat slegs aan die oppervlak gekrap is. Daar is jare gelede reeds berig dat die destydse ondersoekspan se verslag erg verander is, en oud-pres. Thabo Mbeki se naam is genoem. Nou dien dokumente wat dit blykbaar bewys voor Skoor.

Dat daar lank hard probeer is om die skandaal as afgehandel onder die tafel in te vee, lyk op die oog af voor die hand liggend. Maar die tentakels het bly uitkruip, ook soos buitelandse ondersoeke gevorder het en ‘n notule selfs aan die lig gebring het dat Mbeki ‘n erg omstrede vergadering met ‘n wapenhandelaar bygewoon het. Iets wat hy later aangedui het hy nie kan onthou nie.

Ook die aanklagte teen pres. Jacob Zuma is onder vreemde regsreëls laat vaar en word nou ook in die hof betwis.

Nou word verskeie prominente mense se name opnuut genoem, waaronder mnre. Trevor Manuel en Mosiuoa Lekota. Vir Lekota, wat in sy tweestryd met Mbhazima Shilowa om Cope se hart die morele hoë grond probeer opneem, kon hierdie beriggewing kwalik op ‘n slegter tyd gekom het.

Die tragedie is dat die prosesse skynbaar nooit deurgevoer sou kon word as dit nie vir die buitengewone en jarelange deursettingsvermoë van twee individue was nie. Hulle het vasgebyt, selfs toe dit as nuuswaardigheid op die agtergrond moes staan. Die ondersoeke het hulle persoonlik baie gekos.

Sonder sulke mense sou die land veel armer daaraan toe gewees het.

Vir die regering moet dit ook as ‘n belangrike les dien. Skade word die beste voorkom deur in die eerste plek nie die lang vingers in die koekblik te steek nie.

Die skande is om die misdrywe te pleeg, nie om uitgevang te word nie.

instawowphotoФильчаков

Die geskiedenis en die reg

‘n Ouer persoon wat werk soek het moontlik ál die ondervinding en kundigheid waaroor ‘n werkgewer maar net kan droom, maar hy het nog iets…bagasie. Elke persoon doen in sy lewe bagasie op, wat soos ‘n blok aan sy been hang. Die hartseer is dat van hier bagasie op grond van kwaadwillige bewerings bekom is, en dat die draer daarvan dikwels self onbewus is daarvan en dus nie sake kan regstel nie.

Die deure klap maar voor hom toe.

Ander het wel bagasie opgedoen, maar is deur ‘n kombinasie van politiek en die reg, daarvan gestroop. Die amnestieproses het vir sommige mense op mooi plekke geval – vir sommiges op mooier plekke as vir ander.

Vanoggend word berig dat Robert McBride, die man wat vir die slagting in ‘n Durbanse dameskroeg verantwoordelik was, op die kortlys is van kandidate om die Tshwane Metroraad se nuwe veiligheidshoof te word.

Hy is voorheen uit ‘n soortgelyke pos by die Ekurhuleni-munisipaliteit afgedank, al is die hofsaak waar hy op aanklagte van onder meer regsverydeling en dronkbestuur teregstaan, nog nie afgehandel nie.

Die regverdiging dat hy oorweeg word lê in die ou gemeenregtelike beginsel van natuurlike geregtigheid wat veral die Administratiefreg van die Romeins-Hollandse regstelsel onderlê: Iemand is onskuldig tot hy skuldig bevind is.

Dié beginsel beteken egter nie dat die polisieselle en selfs tronke vol verhoorafwagtendes is nie. Hulle is ook aan niks skuldig bevind nie, maar word aangehou – soms baie lank aangehou.

Uit onlangse uitsprake mag nie na McBride as moordenaar verwys word nie. Sy rekord, waarvoor hy eens op die galgtou gewag het, is skoongevee. Op die ander aanklagte moet hy nog skuldig bevind word, en R10 miljoen belastingbetalersgeld is al aan regskostes aangewend om McBride se rekord skoon te hou. Dié kraantjie is intussen toegedraai.

Nou kry hy weer ‘n kans, ‘n kans wat baie mense nie weer kry nie omdat die bagasie, verdiend of onverdiend, swaarder weeg as die ondervinding en kwaliteite. Hierdie bagasie kan die vorm van sy ouderdom, geslag en selfs ras wees.

So ‘n persoon word die geleentheid ontneem om vir sy gesin te sorg, wat ironies dalk ‘n gestremde kind insluit wat volgens die grondwet nie geleenthede ontneem mag word nie. Sonder geld kan terapie nie bekostig word nie, en word die geleenthede ontneem.

Dikwels word nou voorkeur aan produkte van die nuwe onderwysstelsel gegee, en die daling in kwaliteit raak opvallend. Al hoe meer gruwelike taal- en spelfoute verskyn in gerekende publikasies – die bestaande kundigheid trek eenvoudig noustrop om oral gate toe te stop.

Skaars geletterdes ry met peperduur vuurwaens met hul beste kwalifikasie dat hulle kaders is wat ontplooi word, en waar hulle te veel vasbrand, herontplooi word.

‘n Land waar nepokrasie – hetsy in die vorm van kaderontplooiing, baantjies vir boeties of allerlei kwotas – sit met die blok aan die been. Ook die werkgewers is met bagasie opgesaal.

иг ры для детейАлександр Фильчаков

Oor kapitalistiese kommuniste en oor grondsake

Politieke kommentator op politieke kommentator is skepties oor die regering se werklike verbintenis tot die uitroei van korrupsie. En die regering self bied volop rede om bedenkinge te koester. ‘n Gebrek aan deursigtigheid – die begrip wat in die aanloop tot 1994 deur Sanco en die ANC gonswoorde gemaak is – verdiep hierdie persepsie.

Hoewel waarskynlik nie verbandhoudend nie, het die SAKP pas sy steun aan ‘n voorgestelde mediatribunaal toegesê na dit aan die lig gekom het dat sy eie leier en minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, ‘n peperduur hotelverblyf agter die blad het. Op die belastingbetalers se rekening.

Terwyl dit gons oor die aangekondigde groenskrif oor grondhervorming, wat gister aan die parlement voorgelê sou wees maar geherskeduler is, is daar ‘n storm aan die broei oor of die DG van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thozi Gwanya bedank het of nie. Volgens verskeie bronne het Gwanya bedank toe die OG ‘n spesiale verslag voltooi het. Nou word dié bedanking ontken, en die OG-verslag se inhoud is nie bekend gemaak nie.

Dié insident herinner sterk aan die Maroga-Eskom- en Gama-Transnet-sages.

Terselfdertyd is berig dat die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, ‘n brief aan Onderstepoort Biologiese Produkte geskryf het om die skorsing van dié staatsinstelling se hoof, Andile Dyasi, tersyde te stel. Soos in die Maroga-geval, weier die raad skynbaar om kop te gee. Dyasi het geweier om vir sy dissiplinêre verhoor op byna ‘n dosyn ernstige aanklagte op te daag.

Joemat-Pettersson is trouens besig om ‘n redelike reputasie op te bou. Sy ontken wel enige verkeerde handeling in haar optrede, toe nog as Noord-Kaapse LUR, met die invoer van wild uit Zambië, maar ander optredes is moeiliker om onder die mat in te vee. Hieronder tel haar versuim om vir ‘n afspraak met TLU-SA op te daag en waarvoor groot kostes aangegaan is, ‘n artikel in Rapport waarin sy erg foutiewe syfers oor grondhervorming – wat nie haar portefeulje is nie – verskaf het, en oplaas haar gedagte oor 40 % bemagtigde aandeleskap in landbougrond.

Terwyl die sokkereuforie op sy hoogste was, het die vrye media – weliswaar nie almal nie – stories gedra oor hoe die ANC dié euforie gebruik het om gediskrediteerde kaders bloot in soortgelyke poste of selfs hoër te hersirkuleer.

Die werklikheid, so lyk dit, adem die gees wat deur Gwede Mantashe en genl. Nysnda in verskillende fases oor die Gama-fiasko geuiter is – dat Gama steeds hul steun het.

Tim du Plessis, redakteur van Beeld, het onlangs in ‘n rubriek na nog ‘n problematiese faset verwys – dat die hoë bome meen as hulle iets sê, dan is dit gedoen. Dit beteken in wese dat Zuma en sy eietydse Mandaryne voor die media en op sake-ontbyte die mooiste woorde kan uiter, maar dat weinig hiervan in die praktyk neerslag vind.

Trouens, die teenoorgestelde gebeur eintlik daagliks. En dan is daar nog kroonprins Malema ook.

So sal die regering kort voor lank agterkom dat die beeldkapitaal wat met die sokker opgebou is, verteer is. Die gans wat die goue eiers lê is geslag.

банная печь каминФильчаков прокурор отзывы

Joodse Raad vier sestigste bestaansjaar in Duitsland

Die afgelope Sondag was nie net oud-pres. Nelson Mandela se geboorteherdeking nie. Buite die internasionale oog het ‘n herdenking in Duitsland plaasgevind wat waarskynlik net so ‘n belangrike historiese aanloop het.

Teen 1933 was daar ‘n geraamde halfmiljoen Jode in Duitsland, waarvan ‘n derde in Berlyn gewoon, en het ongeveer een persent van die bevolking uitgemaak het. Teen 1941 het die Nazi-bewind formeel Joodse emigrasie verbied, maar teen daardie tyd was daar nog net sowat 163 000 in die land oor.

Met die Nazi-oorname het bykans 40 000 Jode die land verlaat, meestal na buurlande waar die Nazi’s baie gou toegeslaan het na die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Van die geraamde 163 000 Jode voor die oorlog in Duitsland het, volgens bronne, verreweg die meeste in uitwissingsaksie omgekom, en was daar na raming net sowat 25 000 oor.

Vandag is die sestigste bestaansjaar van die Duitse Joodse Sentrale Raad gevier. Die regerende Christen-Demokratiese Unie van kanselier Angela Merckel het die raad met sy herdenking geluk gewens, en sowel die raad en die Jode van die land vir hul bydrae tot die ontwikkeling van die land, asook demokrasie, geluk gewens.

Dié Joodse raad is ‘n korporasie wat in terme van die publieke reg bestaan, en hom op verskeie maniere vir die Joodse belange beywer. In 2003 is ‘n ooreenkoms tussen die Federale Regering, toe onder die leiding van Gerhard Schröder en die Raad gesluit. Dit is bykans as ‘n bilaterale ooreenkoms aangebied. Die funksies is hoofsaaklik religieus en kultureel, maar volgens die beskikbare inligting lyk dit of die erkenning en ondersteuning wat dié organisasie geniet, baie daartoe bydra dat Jode hulle weer tuis in Duitsland voel.

Onlangs het ‘n bekende in Volkstaatkunde op Praag se webwerf die Afrikaner se onvermoë om as vertrekpunt ‘n soortgelyke meganisme tot stand te bring, vergelyk met die manewales om ‘n trop hoenders te probeer aanjaag.

Kort voor die wêreldbeker-sokkertoernooi het verskeie opnames aangetoon dat baie Afrikaners meen hulle voel soos vreemdelinge in hul eie land. Dit is met die sokker-euforie blykbaar in ‘n mate teruggewerk, maar daar is geen rede om te vermoed dat dit nie sal herstel as die euforie grootliks in die post-euforiese depressie omgesit het nie.

Die vraag is enersyds wat die Afrikaners daarmee wil maak, en andersyds wat die regering daarmee wil maak. Veral die akademikus, prof. Amanda Gouws, het in die onlangse verlede in rubrieke die stand van volkskap naas nasieskap onder die loep geneem, moontlik met te veel waarde aan die ontwikkeling van liggame soos die Europese Unie.

Die proses op die ander punt van die skaal, die versterking en selfs herontdekking van volksidentiteit word skynbaar onderskat. Die Friese het hul oorspronklike taal gaan afstof, Brabants het onlangs sy eie Bybelvertaling gekry, ‘n rits Kataloniese dorpe het in ‘n referendum vir die totale onafhanklikheid van Katalonië gestem, daar is kort-kort gewapende skermutselings tussen die Turke en die Koerde …noem maar op.

Presies waar die middelpuntsoekende kragte die midelpuntvliedende kragte ontmoet, hang soveel af van die mate waaronder ‘n volk vreemdheid in sy eie land ervaar.

video gladiatorлобановский александр игоревич класс

Olieramp versnel soeke na oplossings

Die nuus dat BP uiteindelik daarin geslaag het om die uitvloei van ru-olie uit ‘n boorgat in die Golf van Mexiko te stuit, is die eerste goeie nuus in drie maande rondom hierdie sage.

Namate olie wat vlak onder die oppervlak lê skaarser word, en tegnologie verbeter, word dieper geboor, en ook al hoe dieper onder die oppervlak van die see.

Hoewel taamlik na-aan die kus van die VSA, is die see by hierdie boorgat meer as ‘n kilometer en ‘n half diep. Die gat van die see-oppervlak af is bykans drie keer dieper. Toe sake so diep skeefloop, is BP se fondse en menslike tegnologie tot die uiterste beproef. Op 15 Julie het BP die koste reeds op $3,5 miljard beraam. Al hoe meer berigte lui dat dié ramp BP se einde kan beteken.

Die slegte nuus is dat eers 48 uur na die massiewe blokkasie op die gat geplaas is en die uitvloei gestuit is, finaal bepaal sal kan word of die proses geslaag het. Daar is reeds met die boor van verligtingsgate begin, wat dit eventueel moontlik sal maak om die bestaande gat finaal te seël. Eers dan sal BP sy skade volledig kan bereken, en sal die kusgemeenskappe wat van die seelewe afhanklik hul skade kan bereken. Ekologiese skade is egter moeiliker om in geldwaarde te meet.

Terwyl die drama hom afgespeel het, het die wêreld egter ook deeglik kennis geneem oor die tragedie. Aan die een kant is kennis geneem dat die prys vir voortgesette fossielbrandstofbenutting op verskeie maniere peperduur kan raak. Lande soos Maleisië beskik ook oor groot oliereserwes, maar so diep onder die see-oppervlak dat die prys om ontginning lonend te maak meer as $100 per vat moet wees. Beter tegnologie kan wel die prentjie verander.

Die tweede, meer belangrike impak is egter dat daar wêreldwys ‘n verskerpte besef gekom het dat die groen en blou energiebronne nou dringend verhoogde aandag verg. Dit beteken ook dat die tegnologie om hierdie energie optimaal te kan benut behoorlike aandag verg. Baie word reeds gedoen, maar ‘n volledige omskakeling lê nog te ver in die verskiet.

Maar nou gaan die wêreld eers asem ophou om te kyk of die lekkasie blywend gestuit is.

сколько стоит гипсовая штукатуркаФильчаков прокуратура харьков

Beskerming van inligting en mediavryheid

Met Gwede Mantashe en Blade Nzimande, twee kommuniste in die ANC-topkader, se woorde oor ‘n beoogde mediatribunaal skaars koud, maak ‘n wetsontwerp opspraak.

In alle state is daar wetgewing wat sensitiewe staatsinligting weerhou van die publiek. Trouens, in Italië het die grootste gros joernaliste die afgelope week ‘n nuusboikot gehou teen wetgewing wat skielik ingestel is na die premier se sekskapades onthul is.

Kritici teen die nuwe voorgestelde wetgewing om inligting te beskerm meen dit sal onder meer ondersoekende joernalistiek in die wiele ry. Korrupsie, ook korrupsie waarby regeringslui betrokke mag wees, sal toegesmeer kan word.

Die land sit steeds onvergenoegd oor presies wat met die Wapenskandaal gebeur het. Nog strenger wetgewing lyk dus op die oog af na ‘n onding.

Die beoogde wetgewing val ook saam met onthulling op onthulling dat soustreinryers, wat dikwels hopeloos onbekwaam is, die land met astronomiese salarisse en bonusse – wat ironies prestasiebonusse genoem word – leegsuig.

So belangrik het ‘n vrye media geword dat dit al gereeld die vierde been van die demokrasie genoem is – weliswaar ‘n nie-amptelike been.

Dit handel nie net oor ‘n bydrae tot skoon regering nie, dit handel oor die voorsiening van gediversifiseerde inligting aan die kiesers wat ‘n veelparty-demokrasie onderlê.

Suid-Afrika se jongste posisie op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks, 33ste, is baie swakker as Suid-Afrika se beste posisie van 21ste in 2003, maar beter as die swakste posisie van 44ste in 2006. In 2003 was Suid-Afrika die mees persvrye land in Afrika, maar sedertdien nie, met veral Ghana wat sedertdien goed presteer. En raai watter Afrikaland was die eerste wat deur pres. Barack Obama besoek is na hy tot president verkies is?

Die jongste verslae oor Suid-Afrika op Verslaggewers Sonder Grense se webwerf dateer uit 2006, toe wetgewing oor sensuur ter sprake was, en mnr. Jacob Zuma ‘n brief van dié organisasies gekry het oor lastersake wat hy teen koerante aanhangig gemaak het. Dit was dieselfde jaar waarin Suid-Afrika die laaste posisie beklee het.

Sedertdien lyk dit nie of Verslaggewers Sonder Grense werklik die verwikkelinge in Suid-Afrika monitor nie, vandaar die geleidelike verbetering op die indeks. Nou lyk dit of die regering op die beeldkapitaal van die afgelope sokkertoernooi wil teer om wetgewing op die wetboek te kry wat die land voorheen erg op die indeks laat tuimel het.

‘n Vergelyking met ander indekse dui daarop dat daar breedweg ooreenkomste is tussen state se posisie op die persvryheidsindeks en ander indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks en beleggersvertroue-indeks. ‘n Onversigtige omgaan met persvryheid – Suid-Afrika is een van die lande wie se grondwet naas uitdrukkingsvryheid ook persvryheid by die naam noem – is dus nie net slegte nuus vir die stand van demokrasie en grondwetlikheid nie, maar kan die land se beeldwins uit die sokker vinnig nek omdraai.

Gelukkig vir Suid-Afrika lyk dit nie of Verslaggewers Sonder Grense hulle veel steur aan lande se vriendskappe met ander lande wat baie swak op die indeks vaar nie. Sou Suid-Afrika se vriendskappe ‘n impak op sy eie posisie gehad het, sou dit bedroewend met die land gegaan het. Suid-Afrika se vriende soos Kuba, China, die Palestynse owerheid, Libië, Tunisië en die DRK is gevaarlik na-aan die onderpunt van persvryheid. Zimbabwe, op 136de uit 175 vaar eintlik verbasend goed.

медицинскую справкуАлександр Фильчаков прокурор

Kloutjie by die oor

Pas is wysigings aan uitkomsgebaseerde onderrig aangekondig, of 19 skole in Noordwes word weens betogings oor dienslewering gesluit. Dit volg nadat van ‘n vyfde skool in enkele weke in dié provinsie vuurgemaak is.

Op aktualiteitsprogramme meld dosente gereeld dat Suid-Afrikaanse studente ‘n agterstand het teen studente wat uit lande soos Zimbabwe en Namibië kom. Reuse-oorbruggingsprogramme verhinder nie grootskaalse druipelinge nie.

Dat wysigings, en selfs die skrapping van uitkomsgerigte onderrig nodig was, is waarskynlik so, maar ‘n groot deel van die kern van die probleem bly skynbaar werksetiek. Daar is goeie en toegewyde onderwysers, maar daar is ander wat skynbaar meen om onderrig te gee behels basies net om elke maand salaris te ontvang.

Die wyse waarop protes aangeteken word, skep egter ‘n bose kringloop. Met volgende jaar se landswye plaaslike regeringsverkiesings onderweg, is daar ‘n traagheid tot ferm optrede, met moontlik die uitsondering gedurende die afgelope wêreldbekertoernooi, skynbaar onder bykans diktatoriale druk van Fifa. Hierdie eietydse besetting is nou iets van die verlede, en die regering moet self sake bestuur.

Presies hoe groot dié uitdaging is, blyk uit die bykans R4 miljard wat dienstegebruikers in die Vrystaat aan hul munisipaliteite skuld. Dié nuus kom te midde van die onthullings dat verskeie Vrystaatse munisipaliteite finale aanmanings van Eskom ontvang het om hul rekenings aan dié kragvoorsiener te betaal.

Dit is voorspelbaar buite die kwessie dat hierdie munisipaliteite basies op die vooraand van die landswye verkiesings nou wanbetalers vir die uitstaande rekenings sal wurg. Wurg sal waarskynlik min oplewer, omdat armoede en die hoë werkloosheidskoers eenvoudig nie sulke bedrae kan oplewer nie.

Die vraag is dus hoe dit moontlik is dat sulke agterstande in die eerste plek kon ontstaan nie. Munisipaliteite word immers uit die staatskas vergoed vir gratis dienste wat aan armlastiges voorsien word. Dit lyk dus of die agterstande ontstaan uit die geledere van mense wat wel die nodige inkomste verdien om te kan betaal. Baie mense maak reeds van voorafbetaalde koepons gebruik. En inwoners wat bloot vergeet om betyds te betaal, sit die volgende dag reeds sonder krag…

Is daar dan ‘n begunstiging? Dat sommige gemeenskappe nie met sanksie getref word nie?

Boonop ruk elektrisiteitsdiefstal deur onder meer onwettige aansluitings veral in Soweto ‘n groot gat in begrotings.

Dit lyk egter of minstens ‘n deel van die probleem aan grypsug toegeskryf kan word. Vanoggend berig Volksblad ook dat die 50 topamptenare van die Mangaung-munisipaliteit saam R50 miljoen aan salarisse verdien. Mangaung word volgende jaar ‘n metro, en dan word die Motheo-distriksmunisipaliteit met sy eie stel hoogsbesoldigde amptenare en amspdraers ingesluit. Boonop was die einste munisipaliteit in die nuus vir rojale kaartjie-aankope vir die pas-afgelope sokker, en ‘n nou reeds berugte ekskursie van senior amptenare na die halfeindstryde en die eindstryd. Dat die sokkerverwante fiasko slegs ‘n druppel aan die emmer teen die groter omvang van die probleem is, is kwalik ter sprake.

Hierdie rojale omgaan met andermansgeld word deur almal, ook die armes wat nie kan betaal nie, asook die wat betaaltraag is of moet boomskraap om op te dok, gesien, en dit stel ‘n baie slegte voorbeeld.

веревка для корабельных снастейлобановский депутат

Weer ontkenningspolitiek?

Pas is berig dat pres. Jacob Zuma meen xenofobiese geweld is steeds net gerugte, en dat hy nie seker is of daar dreigemente was nie.

Op dieselfde dag is onder meer berig dat ‘n Bangladesji van Bloemfontein se winkel afgebrand is deur mense wat in geen onduidelike taal nie dit aan xenofobie toegeskryf het. Die geskarrel onder buitelanders in die Wes-Kaap is ook al ‘n paar dae in die nuus.

Pres. Zuma se vertroue blyk op ‘n kabinetskommissie gevestig te wees wat xenofobie moet hanteer.

Dit kan ook aanvaar word dat pres. Zuma, as regeringshoof, deur die land se intelligensiedienste behoorlik en objektief oor die gevaar ingelig sal word. Dié inligting is immers vrylik beskikbaar, en buitelandse koerante het reeds voor die wêreldbekersokkertoernooi onderhoude gepubliseer wat met mense gevoer is wat openlik met xenofobiese geweld gedreig het.

Alles is goed en wel indien die regering oor beter inligting tot die teendeel beskik.

Dit sou egter jammer wees indien dit sou blyk dat die slotsom waartoe pres. Zuma kom nie op die feite ter hand gebaseer is nie, maar op ‘n euforiese konsep dat die toernooi Afrika-solidariteit so aangewakker het dat die hand nie teen mede-Afrikane gelig sal word nie.

Selfs waarskynlik Afrika se bekendste ontkenner, oud-pres. Thabo Mbeki, het by geleentheid uitgewys dat die land soos ‘n huis met twee verdiepings is – een vol armoede en die ander met rykdom gelaai – met geen verbindingstrap nie. Dat hy, getrou aan sy aard, ras ingesleep het tersyde, bly die feit dat ‘n klas eietydse Mandaryne ontstaan het wat hulself so in rykdom verweef het dat hulle geen voeling met die dag tot dag stryd van die armes het om liggaam en siel aanmekaar te hou nie.

‘n Arm, werklose persoon kan probeer om sy kinders euforie te voer om hulle te voed, maar hulle wil dit nie eet nie, en selfs al sou hulle, sou dit nie leë magies volmaak nie. Dan is daar nou ook geen verskil met Mbeki se ontkenning eens dat daar armoede is nie, omdat hy dit dan nie sien nie.

Politieke sosioloë en ander politieke waarnemers is dus nie so seker dat die klimaat vir xenofobiese geweld afwesig is nie.

Ongelukkig het ontkenningspolitiek tot gevolg dat die publiek ook skepties raak oor ander aspekte waaroor versekerings uitgedeel word. Dit is nou reeds ou nuus, maar die uitsprake van vername kommuniste in die ANC oor ‘n mediatribunaal besweer nie die persepsie dat die regering daarop uit is om ‘n uptopia te skets waar wanklanke dan as ‘n skok kom nie.

производители светильниковлобановский харьков класс

Mediavryheid

Terwyl regeringslui en baie ander meen Suid-Afrika het as land baie gebaat by die wêreldbekertoernooi wat gisteraand met die eindstryd tussen Nederland en Spanje afgeloop het, was dit amper voorspelbaar dat iemand uit die ANC-dampkring dié wins in die voet sou kom skiet.

Die sneller was dat die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, en ander ANC-sprekers, asof georkestreer, die kwessie van ‘n moontlike mediatribunaal geopper het. Uiters gevaarlike taal wat aan Stalinistiese ideëimperialisme herinner, is gebruik. Dit is beswaarlik die tipe taal wat gehoor moet word terwyl die oë van die wêreld op Suid-Afrika gerig is.

Die media was aanvanklik ietwat traag uit die blokke hieroor, maar die afgelope week het Tim du Plessis van Beeld wel sy mond uitgespoel, en vandag plaas Rapport ‘n snydende kommentaar op sy voorblad. Rapport beskryf dit as ongrondwetlik.

Die Sunday Times berig egter oor ‘n kwessie wat dikwels uit die oog verloor word – die beheer wat die staat in wese reeds oor die lugweë uitoefen. Volgens dié berig neem die SABC se waarnemende nuushoof, Phil Molefe, sy opdragte oor wie op die lug gehoor mag word, en wie nie, regstreeks vanuit Lethuli-huis. Dit is ‘n baie ernstige aanklag oor ‘n instelling wat veronderstel is om ‘n openbare uitsaaier te wees. Dit is ondertussen kategories deur die SABC ontken.

In Suid-Afrika word die lugweë streng beheer deur die OKOSA, wat veronderstel is om ‘n onafhanklike beheerliggaam te wees, maar wat wel deur die regering aangestel word. Enigeen wat al met ‘n radiostasie se lisensie-aansoek te make gehad het sal weet hoeveel inhoudelike en tegniese voorskrifte ter sprake is, en tussenin is daar nog die Onafhanklike Klagtekommissie wat in die oog gehou moet word. Verskeie radiostasies, veral Christelike stasies, is reeds gesluit.

Rapport se aanspraak dat die voorgestelde mediatribunaal ongrondwetlik is, hou water. Die toets, sou planne om so ‘n tribunaal in die lewe te roep, lyf begin kry, is om die grondwetlikheid daarvan te toets voor dit wetlike reeds bestaan en begin funksioneer het.

Word te lank gesloer, ontwikkel ‘n situasie soortgelyk as dit wat nou om Cope se kop afspeel. Cope is kort-kort in die hof, maar die hof, in wese, besluit bloot of optredes wat betwis word, kragtens die party se eie grondwet geskied het. Of die party se grondwet self die gees van die grondwet adem, is kwalik ter sprake.

Sou ‘n radiostasie wat sy lisensie verloor sy saak in die howe betwis, is dit veel moeiliker om nou IKOSA se bestaan of samestelling grondwetlik te betwis op grond daarvan dat die blote bestaan van IKOSA mense of groepe hul grondwetlike reg ontneem.

Normaalweg word IKOSA se optrede as prosedureel onbillik aangedurf. In die geval van Radio Hoogland was dié aansoek teen die destydse Onafhanklike Uitsaaiowerheid geslaag, maar die hof het slegs ‘n maand-tot-maand lisensie toegeken en die uiteindelike aansoek sou weer voor dieselfde OUO dien. Die afloop sou heel voorspelbaar kon wees, en die eienaars, Vrystaat Landbou, het die handdoek ingewerp.

Radio Pretoria is in ‘n jarelange regstryd gewikkel.

Die gedrukte media sal noodwendig die ore op die grond moet hou, en nou reeds afgestem wees op ‘n hofgeding om die voorgestelde mediatribunaal as ongrondwetlik in die howe om te keer. Hoewel ‘n reuse taak, is dit ‘n vulletjie in vergeleke met agterna met wetlike lapwerk die skade ongedaan te probeer maak.

Dit sal beteken dat die noot hoog ingesit moet word oor die bedreiging wat dié regeringsplanne vir demokrasie inhou, selfs al beteken dit dat dit die aandag trek van die media wie se fokus nou op Suid-Afrika is. In alle billikheid sal die mediahuise dan ook die voorsitter van Naspers, Koos Bekker, duidelik moet repudieer vir sy gerapporteerde uitlatings wat ook op ideëimperialisme deur die hoof-mediagroepe neerkom.

вихревой насос дляпрокурор харьковской области

Ander sy van afname in misdaad

Ongeveer ‘n week na die polisie in Bloemfontein aanspraak gemaak het daarop dat misdaad vir die duur van die wêreldbeker-sokkertoernooi skerp gedaal het, is soortgelyke aansprake vir Johannesburg en Pretoria gemaak.

Die interessante is dat dit nou ‘n veiligheidsmaatskappy is wat hierdie jongste aansprake maak. Misdaad is veiligheidsmaatskappye se brood en botter.

In elke geval is die verskerpte polisieoptrede gedurende die toernooi as die hoofrede aangetoon oor waarom daar ‘n daling aangemeld word.

Ongelukkig lyk dit of hierdie munt ‘n ander sy het.

Op dieselfde dag as wat oor die laer misdaad in Bloemfontein berig is, is ook berig van ‘n bankroof kort voor die toernooi wat weens die toernooi verswyg is.

Huishulpe maak daarop aansprake dat hul woongebiede swaar onder misdaad deurgeloop het terwyl die sokker aan die gang was. Tekens van xenefobie steek weer kop uit.

Ongelukkig het die regering oor jare nie juis ‘n reputasie opgebou van in alle gevalle besonder akkuraat met die waarheid omgaan nie. Daarom word inligting nou dikwels met ‘n knippie sout geneem.

Sou dit egter blyk dat misdaad wel afgedwing is, is die ongelukkige werklikheid dat die Instituut vir Sekerheidstudies meen die vlakke van polisie-optrede is nie volhoubaar nie.

Vanuit regeringskringe kom ook net te veel losbekkigheid voor wat as aanhitsend tot geweldsmisdaad beskou kan word. Die regeringsgekoesterde Julius Malema het juis ’n klag van aanhitsing tot volksmoord in die Internasionale Strafhof op die lyf geloop.

Om laer vlakke van misdaad te bewerkstellig verg nie net ‘n hoër vlak van polisiëring nie, dit verg ‘n meer onomwonde standpunt-inname deur die regering.

En die voorbeeld moet ook daar gestel word. Die persoon wat om den brode steel, sal nie juis geïnspireer word om dit te staak as die ringkoppe in die regering mildelik skep en daarmee wegkom nie.

насосного оборудованияФильчаков прокуратура харьков

Weer praatjies oor mediatribunaal

Gedagtes oor ‘n mediatribunaal wat vanuit ANC-geledere geopper word, is nie nuut nie. Die jongste uitsprake het egter ‘n krapperigheid by wat nie geïgnoreer kan word nie.

Ten eerste kom dit van ‘n sterk man in die ANC, sy sekretaris-generaal, Gwede Mantashe. Dit kom verder kort na dit bekend geword het dat mense met noue ANC-bande, waaronder Essop Pahad, beplan om ‘n nuwe koerant te begin.

Dit is egter die inhoudelike van Mantashe se gesprek wat die harerigste is.

Hy meld ter aanvang van beter waghou oor etiese beriggewing, maar dan verstrengel hy hom suiwer in die politiek. In wese kom dit daarop neer dat die media gereeld ‘n prentjie skets dat sake onder die ANC-bewind beroerd gaan, terwyl die ANC meen sake gaan voor die wind, meen hy.

Hy meen, soos ook baie ander, dat die Persombudsman getoon het dat die media nie in staat is om waghond oor homself te wees nie.

Daar kom gereeld onetiese en swak beriggewing voor wat ‘n redelike ingeligte leser die mure uitdryf. Die internet en ander gemeenskapsinstellings soos Twitter dra eenvoudig nuus wat die konvensionele media nie wil dra nie, by die media verby na die publiek.

‘n Mediatribunaal gaan dus waarskynlik meer doen om die konvensionele media na die ANC se pype te laat dans as wat dit daartoe gaan bydra dat die publiek minder slaggate gaan raaksien, minder van korrupsie bewus gaan wees, en minder plakkergebiede raaksien. Amper elke selfoon het ‘n digitale kamera en selfs ‘n video-opneemvermoë, en dit kan sekondes later aan die anderkant van die wêreld wees. Dit kan hierdie Hansie-my-kneg-media, vrywillig of onder dwang, ernstige skade berokken.

Statistiese ontledings dui ook daarop dat daar ‘n regstreekse verband is tussen die plekke wat lande op die persvryheidsindeks beklee, en ander indekse soos die korrupsie-indeks, die beleggersvertroue-indeks en vele meer.

Dit was immers nie die media wat voor die wêreldbekertoernooi Suid-Afrika as misdaadparadys voorgesit het nie, maar die misdadigers. Die media het nie die wrede plaasmoorde uit hul duim gesuig nie – inteendeel – van die media onderweg terug van Eugene Terre’Blanche se begrafnis het by nog ‘n plaasaanval oorgekom om die betrokke geval te verswyg.

Die misdaad, soos die marteldood van ‘n Belg, en nie die beriggewing daaroor nie, het veroorsaak dat minder mense die toernooi in Suid-Afrika kom bywoon het as wat die regering aanvanklik verwag het.

Die regering het reeds ‘n geweldige voorsprong op ander partye om hul saak te stel, soos die regering se kommunikasieddiens. Dié het juis enkele jare gelede groot gewag gemaak van Suid-Afrika se goeie posisie op die persvryheidsindeks. Toe die land die kreeftegang op daardie indeks begin gaan, was die diens tjoepstil.

Mantashe is wel in beginsel reg as hy bekommerd is oor hoe die enkele groot mediahuise in staat sou wees om die boodskap te beïnvloed wat die publiek kry, en wat daardie media pas. Groter diversifikasie is nodig, en dan behoort die voorskriftelike regulering van die lugweë meer in ooreenstemming met die grondwetlike spraakvryheid te kom.

Meer, eerder as minder, stemme moet gehoor word.

интернет магазины детских игрушек киевФильчаков прокурор харьков

Kenia wys hoe om dinge nie te doen nie

Enkele jare gelede is die skikking na ‘n gekookte presidentsverkiesing in Kenia as model voorgehou, en is dié model in ‘n afgewaterde vorm in Zimbabwe toegepas.

Pas het verskeie Afrikalande dikbek gereageer oor die toe beursies van die G-20, maar veral die G-8, of Kenia se parlement gaan keur ‘n salarisverhoging van 40 % aan sy eie lede toe.

Om sake in perspektief te stel: ‘n Amerikaanse kongreslid verdien $174 000 per jaar, maar Kenia se parlementslede wil elk $175 000 per jaar uit die ekonomie wurg. Pres. Barack Obama se salaris is $400 000 per jaar. Die voorgestelde nuwe salaris vir premier Raila Odinga is $486 000 per jaar. Daarby het Kenia nog ‘n semi-uitvoerende president ook.

In alle billikheid, Odinga het die salarisverhoging van die hand gewys.

Die gemiddelde inkomste per persoon in Kenia is in die orde van $1 600 per jaar, teenoor die VSA se bykans $50 000 per jaar in 2006. Boonop het die dollar in Kenya veel meer koopkrag as in die VSA.

Die totale salarisrekening vir die parlement sal nou $8,8 miljoen per jaar beloop, ‘n bedrag wat die minister van Finansies, Uhuru Kenyatta, sê hy nie in sy begroting het nie.

Dié vorm grypsug herinner aan die twee Bloemfonteinse munisipaliteite, beide bankrot en op die Ouditeur-generaal se rooi tapyt, wie se munisipale bestuurders hoër salarisse as die minister van Finansies verdien.

Die ontsteltenis wat Kenya se wetmakers internasionaal veroorsaak, sal bykans verseker dat donateurlande se hande maar aan die toe kant bly.

Juis hierom is dit noodsaaklik dat semi-staatsinstellings in Suid-Afrika ernstig kennis neem van presies hoe sleg dit in donateurs se gemoedere afgaan as bakhand gestaan word terwyl die ringkoppe se sakke bult. Omdat Afrika dikwels as ‘n eenheid beskou word – ook deur die kontinent se eie toedoen – kan dit so maklik veroorsaak dat dié misplaaste solidariteit ook lande wat wel verantwoordelik ontwikkelingebegrotings in stand probeer hou, onder dieselfde kam geskeer en benadeel word.

детские строительные инструменты купитьДанильченко

Toernooi-afname in misdaad

Volgens die Vrystaatse polisie was daar gedurende die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Bloemfontein minder misdaad, en die stelling word selfs gemaak van geen ernstige misdaad nie.

Uit mediaberigte is dieselfde indruk gelaat, hoewel die sektorpolisiërings-nuusbriewe nie werklik op ‘n afname dui nie. Na die Konfed het dit byvoorbeeld uit buitelandse bronne en latere onthullings geblyk dat die misdadasituasie nie heeltemal was wat voorgegee is dat dit was nie. Boonop beweer huishulpe dat swart woongebiede tydens plaaslike wedstryde rot en kaal besteel is.

Indien dit egter korrek is dat daar ‘n afname in misdaad was, is daar nietemin belangrike lesse te leer.

Ten eerste, dat daar ‘n saak uit te maak is vir behoorlike polisiëring. Die Vrystaatse polisie oorweeg juis om die veiligheidstrukture na die toernooi te behou omdat dit so goed gewerk het.

Die tweede les is dat duidelike regeringstandpunt-inname skynbaar wel na die bevolking deursypel. Die eerste opspraakwekkende misdaadvoorval na die aanvang van die toernooi is dan ook deur onwettige immigrante gepleeg.

Dit laat die vraag ontstaan: Sou daar nie dalk ‘n paar minder plaasaanvalle kon wees as die regering deurlopend en konsekwent, en voor die voet plaasaanvalle veroordeel het nie? Het, deur meestal in al elf amptelike tale dawerend te swyg nie bygedra daartoe dat veel minder buitelanders die toernooi kom bywoon as wat aanvanklik verwag is nie?

Was dit nou werklik nodig dat, terwyl die sogenaamde gewone misdadigers nou hul plek geken het, staats- en semi-staatsorganisasies met openbare fondse gaan sokkerkaartjies koop het. Volgens die jongste syfers is meer as ‘n R100 miljoen se kaartjies so aangeskaf, en daar is sprake dat die uiteindelike syfer dubbel soveel kan wees.

Die Vrystaatse polisie wys daarop dat misdaad en die sosio-ekonomiese toestande hand aan hand loop. Dit geld egter selde witrboordjiemisdade en sekere soorte geweldsmisdade soos motorkapings. Iemand roof immers nie ‘n luukse motor of geldwa om vir sy verhongerde gesin kos op die tafel te plaas nie. Maar hoeveel van ‘n voorbeeld kry die misdadiger wat om den brode steel, as die superrykes andermansgeld gebruik om miljoene rande se sokkerkaartjies aan te skaf?

Terwyl dit koste-gewys en logisties dalk moeilik sal wees om die vlakke van wetstoepassing vol te hou, is dit geen koste of moeite om misdaad verbaal die stryd aan te sê nie. Die regering moet eenvoudig die regte voorbeeld stel, en aanhou stel, om te keer dat die land kort voor lank die misdaadhool is wat soveel buitelanders afgeskrik het. Dit sluit natuurlik in dat ministers en ander hoëlui ‘n silwerskoon voorbeeld moet stel. ‘n Vis vrot immers van sy kop af.

In plaas hiervan word iemand nou as ambassadeur in ‘n belangrike land ontplooi, oor wie se kop ‘n storm losgebars het. Die Departement van Internasionale Betrekkinge het bevind dat die beëdigde verklaring van ‘n joernalis en ander aanduidings nie op enige bewyslas neerkom wat die ontplooiing in gedrang behoort te bring nie. Dieselfde departement wat ‘n ongelukkige geskiedenis met ‘n sekspes gehad het wat uiteindelik eers in die hof uitgepluis is, en wat oud-komm. Jackie Selebi voortgebring het.

Al die eendjies om ‘n verbeterde beeld te skep is nog nie in ‘n ry nie.

детектор лжи программалобановский александр харьков

Parasitiese staat

Wanneer die ekonoom, prof. Sampie Terblanche, in ‘n artikel die term parasitiese staat gebruik wanneer Suid-Afrika onder bespreking is, is dit iets waarvan kennis geneem kan word.

Die bejaarde prof. Terblanche het gereeld weerlig getrek oor redelike blatante sosialistiese uitsprake wanneer hy sy ideaal van sosiale geregtigheid in Suid-Afrika bepleit het. Hy het nie maklik krities teenoor die post-94-bedeling geword soos ander wat ‘n nuwe bedeling bepleit het nie, waaronder Breyten Breytenbach.

Weens die toepassing van regstellende aksie – of eerder affirmative action wat iets heel anders kan wees en in wese is – en swart ekonomiese bemagtiging word ‘n stewige rookskerm gewerp waaronder die parasitiese staat kan nesskop en gedy. Juis hierom vind ons dat een van die hoof-slagspreuke van SANCO in die aanloop na1994, deursigtigheid, dikwels in die stof byt. Vra maar vir Minister Lindiwe Sisulu. Vra maar bykans enige munisipaliteit watter raadslede se munisipale rekenings is in die rooi.

Pas het dit aan die lig gekom dat Eskom se topbestuur ook aan hulself verhogings van gemiddeld 83 % toegeken het, en toe erg stram was om meer as ‘n tiende van hierdie verhogings aan die werkers te betaal. Trouens, Eskom se bestuur het blatant die wêreldsokkerbekertoernooi gebruik om sterk sentimente teen die werkers se stakingsplanne te kweek – tot hulle met hul hande so diep in die heuningpotte betrap is.

Hierdie parasitisme sny wyd, en is onder meer duidelik op munisipale vlak waar sommige kaders ongeveer 40 keer meer as werkers met bykans dieselfde kwalifikasies verdien. Die verskil is dat die een in ‘n lugverkoelde kantoor sit, dikwels met nie die vaagste benul oor hoe, en / of belangstelling om sy werk te doen nie, en dat die ander vullissakke of nagemmers bymekaar moet maak.

Hierdie vorm van parasitisme kom algemeen in Afrika voor. Dit kan net volhoubaar wees as daar ‘n konstante stroom buitelandse hulp instroom, of natuurlik die hande op iets soos bloeddiamante gelê kan word.

Pas het pres. Thabo Mbeki in ‘n artikel, Turning a blid eye to Africa, opgelet dat Afrika met die onlangse G-8 en G-20-berade na die kantlyn verskuif is.

Volksblad wys vanoggend in ‘n hoofartikel daarop dat 40 Afrikalande van buitelandse hulp afhanklik is om hul begrotings te laat klop. Afrika het ‘n beeld van ‘n bodemlose put, en skenkerlande, wat nou noustrop trek, ly aan “donor fatigue.”

Mbeki kan sy lot bekla, maar as die wêreld geteikende sanksies teen Mugabe en sy bende instel, het hy baie simpatie verloor deur via die Suid-Afrikaanse begroting R300 miljoen na Zimbabwe te kanaliseer.

En nou knyp sake tuis en hy verwyt die skenkerlande.

Die Europese Unie tref juis ‘n skerp onderskeid tussen lande aan wie die hulp na die formele begrotings van daardie lande gekanaliseer word, en lande waar die hulp uit die hande van die staat gehou en regstreeks na die nie-regeringsorganisasies gekanaliseer word. Mugabe is juis bekend vir sy galbrakery teenoor NRO’s.

As prof. Terblanche die term parasitiese staat begin gebruik, is dit reeds laat in die dag.

как обмануть полиграф фсбпрокурор Фильчаков