Beskerming van inligting en mediavryheid

Met Gwede Mantashe en Blade Nzimande, twee kommuniste in die ANC-topkader, se woorde oor ‘n beoogde mediatribunaal skaars koud, maak ‘n wetsontwerp opspraak.

In alle state is daar wetgewing wat sensitiewe staatsinligting weerhou van die publiek. Trouens, in Italië het die grootste gros joernaliste die afgelope week ‘n nuusboikot gehou teen wetgewing wat skielik ingestel is na die premier se sekskapades onthul is.

Kritici teen die nuwe voorgestelde wetgewing om inligting te beskerm meen dit sal onder meer ondersoekende joernalistiek in die wiele ry. Korrupsie, ook korrupsie waarby regeringslui betrokke mag wees, sal toegesmeer kan word.

Die land sit steeds onvergenoegd oor presies wat met die Wapenskandaal gebeur het. Nog strenger wetgewing lyk dus op die oog af na ‘n onding.

Die beoogde wetgewing val ook saam met onthulling op onthulling dat soustreinryers, wat dikwels hopeloos onbekwaam is, die land met astronomiese salarisse en bonusse – wat ironies prestasiebonusse genoem word – leegsuig.

So belangrik het ‘n vrye media geword dat dit al gereeld die vierde been van die demokrasie genoem is – weliswaar ‘n nie-amptelike been.

Dit handel nie net oor ‘n bydrae tot skoon regering nie, dit handel oor die voorsiening van gediversifiseerde inligting aan die kiesers wat ‘n veelparty-demokrasie onderlê.

Suid-Afrika se jongste posisie op Verslaggewers Sonder Grense se persvryheidsindeks, 33ste, is baie swakker as Suid-Afrika se beste posisie van 21ste in 2003, maar beter as die swakste posisie van 44ste in 2006. In 2003 was Suid-Afrika die mees persvrye land in Afrika, maar sedertdien nie, met veral Ghana wat sedertdien goed presteer. En raai watter Afrikaland was die eerste wat deur pres. Barack Obama besoek is na hy tot president verkies is?

Die jongste verslae oor Suid-Afrika op Verslaggewers Sonder Grense se webwerf dateer uit 2006, toe wetgewing oor sensuur ter sprake was, en mnr. Jacob Zuma ‘n brief van dié organisasies gekry het oor lastersake wat hy teen koerante aanhangig gemaak het. Dit was dieselfde jaar waarin Suid-Afrika die laaste posisie beklee het.

Sedertdien lyk dit nie of Verslaggewers Sonder Grense werklik die verwikkelinge in Suid-Afrika monitor nie, vandaar die geleidelike verbetering op die indeks. Nou lyk dit of die regering op die beeldkapitaal van die afgelope sokkertoernooi wil teer om wetgewing op die wetboek te kry wat die land voorheen erg op die indeks laat tuimel het.

‘n Vergelyking met ander indekse dui daarop dat daar breedweg ooreenkomste is tussen state se posisie op die persvryheidsindeks en ander indekse soos die korrupsiepersepsie-indeks en beleggersvertroue-indeks. ‘n Onversigtige omgaan met persvryheid – Suid-Afrika is een van die lande wie se grondwet naas uitdrukkingsvryheid ook persvryheid by die naam noem – is dus nie net slegte nuus vir die stand van demokrasie en grondwetlikheid nie, maar kan die land se beeldwins uit die sokker vinnig nek omdraai.

Gelukkig vir Suid-Afrika lyk dit nie of Verslaggewers Sonder Grense hulle veel steur aan lande se vriendskappe met ander lande wat baie swak op die indeks vaar nie. Sou Suid-Afrika se vriendskappe ‘n impak op sy eie posisie gehad het, sou dit bedroewend met die land gegaan het. Suid-Afrika se vriende soos Kuba, China, die Palestynse owerheid, Libië, Tunisië en die DRK is gevaarlik na-aan die onderpunt van persvryheid. Zimbabwe, op 136de uit 175 vaar eintlik verbasend goed.

медицинскую справкуАлександр Фильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae