Borgtog is Woensdag in die landdroshof in Ventersdorp aan een van Eugène Terre’Blanche se vermeende moordenaars toegestaan.
Landdros Magaola Foso het borgtog van R5000 aan mnr. Chris Mahlangu toegestaan. Die sewe-en-twintigjarige Mahlangu moet voortaan twee keer per dag by die polisiekantoor in Mabopane naby Pretoria aanmeld.
Familielede en vriende van die AWB-leier was hoorbaar geskok deur die aankondiging.
Terre’Blanche se ouer broer, Andries, het aan Die Burger gesê die familie is oortuig Mahlangu is ‘n Zimbabwiër en dat hy binnekort landuit sal vlug. “As hy weghardloop – en hy gáán – gaan ons ‘n moerse ding teen die staat maak. ‘n Man is wreed vermoor en pap geslaan, maar sy moordenaar kry borgtog om weg te hardloop.”
Foso het gesê die staat kon nie bewys dat Mahlangu ‘n onwettige Zimbabwiese immigrant is nie.
“Daar is geen bewyse dat hy nie in Suid-Afrika gebore is nie.”
Mnr. Puna Moroko, Mahlangu se regsverteenwoordiger, sê baie mense het reeds aangebied om te help om die aangeklaagde se borgtoggeld te betaal.
Mahlangu het geen identifiserende dokumente soos ‘n ID of paspoort nie. Daar is ook geen rekord van hom op die bevolkingsregister nie.
Mahlangu word saam met ‘n minderjarige, wat nie om borgtog aansoek gedoen het nie, van die moord op 3 April vanjaar op Terre’Blanche aangekla.
Mahlangu beweer hy het Terre’Blanche uit selfverdediging doodgemaak tydens ‘n loongeskil.
Die staat voer aan dat Terre’Blanche se skedel verbrysel is terwyl hy geslaap het en dat hy nie op ‘n aanval bedag was nie.
Die verhoor sal op 22 November in die rondgaande hof op Ventersdorp begin.
