Op dieselfde dag is onder meer berig dat ‘n Bangladesji van Bloemfontein se winkel afgebrand is deur mense wat in geen onduidelike taal nie dit aan xenofobie toegeskryf het. Die geskarrel onder buitelanders in die Wes-Kaap is ook al ‘n paar dae in die nuus.
Pres. Zuma se vertroue blyk op ‘n kabinetskommissie gevestig te wees wat xenofobie moet hanteer.
Dit kan ook aanvaar word dat pres. Zuma, as regeringshoof, deur die land se intelligensiedienste behoorlik en objektief oor die gevaar ingelig sal word. Dié inligting is immers vrylik beskikbaar, en buitelandse koerante het reeds voor die wêreldbekersokkertoernooi onderhoude gepubliseer wat met mense gevoer is wat openlik met xenofobiese geweld gedreig het.
Alles is goed en wel indien die regering oor beter inligting tot die teendeel beskik.
Dit sou egter jammer wees indien dit sou blyk dat die slotsom waartoe pres. Zuma kom nie op die feite ter hand gebaseer is nie, maar op ‘n euforiese konsep dat die toernooi Afrika-solidariteit so aangewakker het dat die hand nie teen mede-Afrikane gelig sal word nie.
Selfs waarskynlik Afrika se bekendste ontkenner, oud-pres. Thabo Mbeki, het by geleentheid uitgewys dat die land soos ‘n huis met twee verdiepings is – een vol armoede en die ander met rykdom gelaai – met geen verbindingstrap nie. Dat hy, getrou aan sy aard, ras ingesleep het tersyde, bly die feit dat ‘n klas eietydse Mandaryne ontstaan het wat hulself so in rykdom verweef het dat hulle geen voeling met die dag tot dag stryd van die armes het om liggaam en siel aanmekaar te hou nie.
‘n Arm, werklose persoon kan probeer om sy kinders euforie te voer om hulle te voed, maar hulle wil dit nie eet nie, en selfs al sou hulle, sou dit nie leë magies volmaak nie. Dan is daar nou ook geen verskil met Mbeki se ontkenning eens dat daar armoede is nie, omdat hy dit dan nie sien nie.
Politieke sosioloë en ander politieke waarnemers is dus nie so seker dat die klimaat vir xenofobiese geweld afwesig is nie.
Ongelukkig het ontkenningspolitiek tot gevolg dat die publiek ook skepties raak oor ander aspekte waaroor versekerings uitgedeel word. Dit is nou reeds ou nuus, maar die uitsprake van vername kommuniste in die ANC oor ‘n mediatribunaal besweer nie die persepsie dat die regering daarop uit is om ‘n uptopia te skets waar wanklanke dan as ‘n skok kom nie.
