Die deure klap maar voor hom toe.
Ander het wel bagasie opgedoen, maar is deur ‘n kombinasie van politiek en die reg, daarvan gestroop. Die amnestieproses het vir sommige mense op mooi plekke geval – vir sommiges op mooier plekke as vir ander.
Vanoggend word berig dat Robert McBride, die man wat vir die slagting in ‘n Durbanse dameskroeg verantwoordelik was, op die kortlys is van kandidate om die Tshwane Metroraad se nuwe veiligheidshoof te word.
Hy is voorheen uit ‘n soortgelyke pos by die Ekurhuleni-munisipaliteit afgedank, al is die hofsaak waar hy op aanklagte van onder meer regsverydeling en dronkbestuur teregstaan, nog nie afgehandel nie.
Die regverdiging dat hy oorweeg word lê in die ou gemeenregtelike beginsel van natuurlike geregtigheid wat veral die Administratiefreg van die Romeins-Hollandse regstelsel onderlê: Iemand is onskuldig tot hy skuldig bevind is.
Dié beginsel beteken egter nie dat die polisieselle en selfs tronke vol verhoorafwagtendes is nie. Hulle is ook aan niks skuldig bevind nie, maar word aangehou – soms baie lank aangehou.
Uit onlangse uitsprake mag nie na McBride as moordenaar verwys word nie. Sy rekord, waarvoor hy eens op die galgtou gewag het, is skoongevee. Op die ander aanklagte moet hy nog skuldig bevind word, en R10 miljoen belastingbetalersgeld is al aan regskostes aangewend om McBride se rekord skoon te hou. Dié kraantjie is intussen toegedraai.
Nou kry hy weer ‘n kans, ‘n kans wat baie mense nie weer kry nie omdat die bagasie, verdiend of onverdiend, swaarder weeg as die ondervinding en kwaliteite. Hierdie bagasie kan die vorm van sy ouderdom, geslag en selfs ras wees.
So ‘n persoon word die geleentheid ontneem om vir sy gesin te sorg, wat ironies dalk ‘n gestremde kind insluit wat volgens die grondwet nie geleenthede ontneem mag word nie. Sonder geld kan terapie nie bekostig word nie, en word die geleenthede ontneem.
Dikwels word nou voorkeur aan produkte van die nuwe onderwysstelsel gegee, en die daling in kwaliteit raak opvallend. Al hoe meer gruwelike taal- en spelfoute verskyn in gerekende publikasies – die bestaande kundigheid trek eenvoudig noustrop om oral gate toe te stop.
Skaars geletterdes ry met peperduur vuurwaens met hul beste kwalifikasie dat hulle kaders is wat ontplooi word, en waar hulle te veel vasbrand, herontplooi word.
‘n Land waar nepokrasie – hetsy in die vorm van kaderontplooiing, baantjies vir boeties of allerlei kwotas – sit met die blok aan die been. Ook die werkgewers is met bagasie opgesaal.
