Hoewel waarskynlik nie verbandhoudend nie, het die SAKP pas sy steun aan ‘n voorgestelde mediatribunaal toegesê na dit aan die lig gekom het dat sy eie leier en minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, ‘n peperduur hotelverblyf agter die blad het. Op die belastingbetalers se rekening.
Terwyl dit gons oor die aangekondigde groenskrif oor grondhervorming, wat gister aan die parlement voorgelê sou wees maar geherskeduler is, is daar ‘n storm aan die broei oor of die DG van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Thozi Gwanya bedank het of nie. Volgens verskeie bronne het Gwanya bedank toe die OG ‘n spesiale verslag voltooi het. Nou word dié bedanking ontken, en die OG-verslag se inhoud is nie bekend gemaak nie.
Dié insident herinner sterk aan die Maroga-Eskom- en Gama-Transnet-sages.
Terselfdertyd is berig dat die minister van landbou, Tina Joemat-Pettersson, ‘n brief aan Onderstepoort Biologiese Produkte geskryf het om die skorsing van dié staatsinstelling se hoof, Andile Dyasi, tersyde te stel. Soos in die Maroga-geval, weier die raad skynbaar om kop te gee. Dyasi het geweier om vir sy dissiplinêre verhoor op byna ‘n dosyn ernstige aanklagte op te daag.
Joemat-Pettersson is trouens besig om ‘n redelike reputasie op te bou. Sy ontken wel enige verkeerde handeling in haar optrede, toe nog as Noord-Kaapse LUR, met die invoer van wild uit Zambië, maar ander optredes is moeiliker om onder die mat in te vee. Hieronder tel haar versuim om vir ‘n afspraak met TLU-SA op te daag en waarvoor groot kostes aangegaan is, ‘n artikel in Rapport waarin sy erg foutiewe syfers oor grondhervorming – wat nie haar portefeulje is nie – verskaf het, en oplaas haar gedagte oor 40 % bemagtigde aandeleskap in landbougrond.
Terwyl die sokkereuforie op sy hoogste was, het die vrye media – weliswaar nie almal nie – stories gedra oor hoe die ANC dié euforie gebruik het om gediskrediteerde kaders bloot in soortgelyke poste of selfs hoër te hersirkuleer.
Die werklikheid, so lyk dit, adem die gees wat deur Gwede Mantashe en genl. Nysnda in verskillende fases oor die Gama-fiasko geuiter is – dat Gama steeds hul steun het.
Tim du Plessis, redakteur van Beeld, het onlangs in ‘n rubriek na nog ‘n problematiese faset verwys – dat die hoë bome meen as hulle iets sê, dan is dit gedoen. Dit beteken in wese dat Zuma en sy eietydse Mandaryne voor die media en op sake-ontbyte die mooiste woorde kan uiter, maar dat weinig hiervan in die praktyk neerslag vind.
Trouens, die teenoorgestelde gebeur eintlik daagliks. En dan is daar nog kroonprins Malema ook.
So sal die regering kort voor lank agterkom dat die beeldkapitaal wat met die sokker opgebou is, verteer is. Die gans wat die goue eiers lê is geslag.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.