Rentekoersverhogings verwag

Die Reserwebank sal na verwagting vanmiddag ‘n verhoging in die rentekoers aankondig ná die bank se monetêre beleidskomitee-vergadering, het RSG berig.

Volgens ekonome sal die bank ook grootskaalse afwaartse aanpassings in die groei-beramings vir die Bruto Binnelandse Produk bekend maak.

Die komitee se taak word bemoeilik deur die verswakte inflasie-verwagting, die voortslepende droogte, die swakker rand en die verhoogde kragtariewe.

Die meeste ekonome verwag dat ‘n verhoging van 50 basispunte aangekondig sal word, hoewel ander meen dit kan slegs 25 basispunte wees.

Amerikaanse markte het intussen laer gesluit na die aankondiging van die Amerikaanse reserwebank dat rentekoerse in die land nie verhoog gaan word nie.

Die bank sê die besluit is geneem in die lig van wêreldwye ekonomiese en finansiële ontwikkelings. Die Dow Jones het na die aankondiging met 0,39 persent gedaal en die Nasdaq met 0,92 persent.

Dlamini-Zuma oorweeg uittrede as AU-voorsitter

Suid-Afrika se Nkosazana Dlamini-Zuma oorweeg glo om uit te tree uit haar posisie as voorsitter van die Afrika-Unie Kommissie as haar eerste termyn in Julie vanjaar ten einde loop.

Op die vooraand van die naweek se beraad is Algerië minister van buitelandse sake Ramtane Lamamra, ‘n voormalige AU-veiligheidskommissaris, die gunsteling om haar op te volg.

Ontleders sê Lamamra is reeds met steunwerwing besig, maar daar is geen tekens dat Dlamini-Zuma dieselfde doen nie.

Lamamra het Woensdag geweier om te bevestig of ontken dat hy homself in Julie sal beskikbaar stel toe hy genader is oor die gerugte by die AU se hoofkantoor.

“Die aanduidings is dat sy sal bedank, deels omdat daar geen waarborge vir haar herverkiesing is nie en deels as gevolg van haar politieke ambisies in Suid-Afrika,” het ‘n ontleder van die ISS gesê.

Die ontleder het verwys na hardnekkige gerugte dat Dlamini-Zuma beoog om haarself as ‘n kandidaat voor te stel om haar gewese man, President Jacob Zuma op te volg as president van die ANC by die party se verkiesingskonferensie volgende jaar.

Maar die ISS ontleder, wat anoniem wou bly, het erken dat daar nog heelwat onsekerheid heers oor Dlamini-Zuma se bedoelings.

Sy het tot Julie vanjaar om te besluit, want dit is wanneer haar termyn by die AU verstryk, het hy gesê.

Swart verkeershoof weer voor vir bedrog

Die swart hoofverkeersbeampte van die Maquassi Hills munisipaliteit op Wolmaransstad in Noordwes, wat tereg staan op verskeie aanklagte van bedrog, verskyn na verwagting vandag weer in die hof.

Judas Mahlangu is aanvanklik in Julie in hegtenis geneem nadat hy na bewering die munisipaliteit uit meer as R540 000 bedrieg het.

Hy is toe weer in September aangekeer nadat dit aan die lig gekom het dat hy by nog misdrywe in Mpumalanga betrokke is.

Mahlangu is toe op R5 000 borgtog vrygelaat, maar het nie opgedaag vir sy verskyning in September nie.

Hy word sedertdien by die Kgosi Mampuru gevangenis in Pretoria aangehou.

Honderde mynwerkers in Noord-Kaap gaan werke verloor

Honderde mynwerkers in die Noord-Kaap gaan hul werk verloor nadat drie myne besluit het om werkers af te dank.

Die myne in die Kathu-omgewing het hul werknemers in kennis gestel het dat hulle binnekort herstrukturering en moontlike afleggings oorweeg.

Adele Nel van Tau Mining het bevestig dat Aveng Moolmans, Tau Mining en die Khumani-ysterertsmyn vakbonde kennis gegee het van die voorgenome proses.

Sy sê hulle gaan ongeveer 175 werkers aflê.

PSG aandelemakelaar en portefeulje-bestuurder, Amelia Morgenrood, het in ‘n onderhoud met OFM-nuus gesê dat die internasionale daling in oliepryse verreikende gevolge vir die mynbedryf en die regering inhou.

Arbeidsontleders sê dié afleggings sal die sosio-ekonomiese welstand van inwoners van die Noord-Kaap ten nadele beïnvloed.

Parysaanvallers in ISIS-video

Nege mense wat verbind word met die terreuraanvalle in November in Parys, Frankryk, verskyn glo in ’n video wat die Islamitiese Staat (ISIS) Sondag uitgereik het.

Die nuusagentskap Reuters kon nog nie egtheid van die video bevestig nie.

Die ISIS-lede maak anti-Westerse uitsprake en dreig met ’n aanval op Brittanje.

Ontleders wat militante groepe se bedrywighede op sosiale media monitor, sê die video voldoen aan die kriteria van ‘n amptelike ISIS-verklaring.

Die video is op ISIS se amptelike kanaal op die sosiale medium, Telegram, geplaas.

Die aanvallers in kamoefleer­uniforms word in ’n woestyngebied getoon voordat die Parys-aanvalle uitgevoer is. Verskeie van hulle gyselaars word in die video onthoof.

“Dit is die laaste bood­skappe van die nege leeus van die kalifaat wat uit hul lêplekke gemobiliseer is om ’n hele land, Frank­ryk, op sy knieë te dwing,” verklaar die verteller.

Nege mans in drie groepe het op 13 November verlede jaar ’n sport­stadion, restaurante en ’n konsertsaal in Parys aangeval.

Dene stem dat asielsoekers moet opdok

Die Deense parlement het oorweldigende steun aan ‘n voorstel toegesê ingevolge waarvan asielsoekers se waardevolle items afgeneem kan word om vir hul onderhoud te betaal.

Denemarke sê die beleid stel migrante gelyk aan werklose Dene, wat van hul bates van die hand moet sit voordat hulle toelaes kan eis.

Die parlement het ook planne goedgekeur wat tot die uitstel van gesinsasiel kan lei, het RSG berig.

Die wetsontwerp is deur menseregtegroepe gekritiseer.

Mededingingskommissie ondersoek valuta-samespanning

Die mededingingskommissie het ‘n ondersoek geloods na samespanning deur sekere valutahandelaars, maar het ontken dat die daling van die rand ondersoek word.

‘n Woordvoerder van die kommissie, Themba Mathebula het bevestig dat ‘n ondersoek na valutahandelaars van stapel gestuur is.

Hy het gesê bankinstellings waaronder BNP Paribas, Citigroup, Barclays, JP Morgan Chase, Investec en Standard Chartered is tans onder die vergrootglas.

Mathebula sê sommige handelaars het na bewering pryse vasgestel.

Die rand het verlede jaar met 25 persent teenoor ‘n mandjie van geldeenhede gedaal en verhandel nou na aan R16,50 teenoor die dollar.

Die kredietgraderingsmaatskappy Standard en Poor het vroeër weer gewaarsku dat Suid-Afrika tot rommelstatus afgegradeer sal word.

Die agentskap het gesê dat swak ekonomiese groei en die regering se finansiële hulp aan staatsentiteite, binnekort daartoe kan lei dat die land rommelstatus bereik.

Standard en Poor sê in ‘n verslag Suid-Afrika loop die gevaar om nie sy fiskale teikens te haal nie.

Volgens aanduidings wil die Reserwebank sy vooruitsigte vir ekonomiese groei verlaag tot sowat 1%.

Die Tesourie moes miljarde rand se waarborge lewer asook lenings toestaan aan maatskappye in staatsbesit soos Eskom en SAL om hulle in bedryf te hou.

DA ruk op na Johannesburgse middestad

Duisende DA-kiesers sal Woensdagoggend opruk na die Johannesburgse middestad om te betoog oor die gebrek aan werksgeleenthede.

Motoriste word intussen afgeraai om vanaf tienuur vanoggend na die middestad te reis.

‘n Woordvoerder van die party, Mabine Seabe sê die optog sal by die Westgate-vervoerpunt begin.

Die DA-leier, Mmusi Maimane het in ‘n verklaring gesê byna tweemiljoen meer Suid-Afrikaners is sedert 2009 werkloos.

‘n Woordvoerder van die Johannesburgse Metropolisie, Edna Mamonyane sê van die paaie wat geraak word sluit in Marshallstraat, Rissikstraat, Jeppestraat en Sauerstraat.

Volgens Mamonyane sal die optog na verwagting teen twee-uur vanmiddag verby wees.

ISIS beplan aanvalle op EU ‘sagte teikens’ vanuit asielkampe

Die Islamitiese Staat beplan glo spesiale terreuroperasies op “sagte teikens” in Europa in die vlugtelingkampe op Europese bodem en Frankryk is die land wat die grootste risiko loop, het die misdaadagentskap van die Europese Unie gesê.

Die model is die gelyktydige skietery by verskeie plekke in Parys in November waar 130 mense omgekom het, met die meeste van die bloedvergieting in ‘n konsertsaal in die ooste van Parys, het ​​Europol verklaar.

Dit is moontlik dat soortgelyke operasies “tans beplan en voorberei word,” het Europol gesê in ‘n verslag wat vrygestel is Maandag tydens ‘n vergadering van EU-ministers in Amsterdam.

“Die wye verskeidenheid van moontlike teikens in kombinasie met ‘n opportunistiese benadering van plaaslik gebaseerde groepe skep ‘n groot verskeidenheid van moontlike scenario’s vir toekomstige terroristebedrywighede.”

Terwyl Sirië die middelpunt bly, het die Islamitiese Staat “kleiner skaal” oefenkampe in die EU se 28 lidlande en in die Balkan vir groter taktiese vryheid geskep, sê Europol.

Frankryk het geen bewyse van terreurindoktrinasiekampe op sy grondgebied nie, het die minister van Binnelandse Sake Bernard Cazeneuve aan verslaggewers gesê.

Terwyl die bedreigingsvlak “hoog” in Europa bly en “uiters hoog” in Frankryk, het hy gesê die Europol-assessering voeg niks by tot wat Frankryk reeds bekend gemaak het nie.

“Die probleem is nie nasionaal nie, dis Europees, dit is globaal,” sê Cazeneuve. Hy word gerugsteun deur inisiatiewe om wapenhandel, paspoortbeheer van alle reisigers na Europa en kriminele databasisse strenger te beheer.

Die “sagte teikens” sluit infrastruktuur soos elektriese verbindings, kernkragsentrales of vervoernetwerke in, het Europol gesê.

Trekker in diep modder maak boer se hart bly

‘n Mielieboer van Bultfontein in die Vrystaat is so dankbaar oor die welkome reën vandeesweek dat hy Maandag met blydskap in sy hart en ‘n hup in sy stap sy trekker, wat in sy nat landerye vasgeval het, uitgetrek het.

Michris Janse van Rensburg het daarna op sy Facebook-blad ‘n foto geplaas waar hy en een van sy plaaswerkers spook om die trekker uit die modder te kry, het OFM berig.

Hy sê dit was ‘n droë seisoen waarin hy nie betyds mielies kon aanplant nie. Sedert September verlede jaar tot Woensdag het dit slegs 20mm gereën.

Janse van Rensburg het verlede week ná ‘n bui reën van sowat 12mm ‘n kans gewaag en 60ha mielies geplant, al was dit té laat daarvoor. Na die bui van 40mm was daar weer hoop. Hy sê al het sy trekker vasgeval, was dié gesukkel die moeite werd.

“ ’n Mens is amper in trane, want gewoonlik as ‘n trekker vasval, beteken dit moeilikheid.”

Hy het egter nie omgegee om te sukkel nie en het met ‘n glimlag die foto van sy gesukkel met sy trekker geneem. “Dit gaan oor daai gevoel van blydskap, want nou kan ons die oorlog aanpak.”

Hy sê voor die goeie bui reën gister was hy op moedverloor se vlakte. Hy het ‘n kans gewaag en mielies geplant, maar diep in sy hart het hy geweet hy maak ‘n fout. Dit gaan egter om geloof, sê hy.

Janse van Rensburg vertel selfs die plaaswerker wat die trekker bestuur het, was skoon verskrik oor die nat toestande, omdat hulle nie meer gewoond aan reën is nie.

Hulle het later die trekker met ‘n ander trekker uitgetrek. Janse van Rensburg gaan nou sonneblom aanplant.