‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter
Lees eers Bodem 5 en alle vorige episodes.
Vir ʼn oomblik kom dit voor of niemand iets kan of wíl sê nie, ʼn oomblik van sprakeloosheid terwyl die reënvingers op die seildak trommel. Miskien is dit asof nie een geweet het wat hy of sy aan die situasie kon doen nie, of miskien het hulle net nie geweet wat hulle wou doen nie. En tog was daar een wat op daardie oomblik in die lig van duisendkerskragsekerheid geweet het wat hy nie wou gehad het nie. Barry Hackett wou nie daar onder die afdak, langs die Unimog op die snelweg wees nie. En ewe seker het hy geweet waar hy wou wees.
“Ek gaan huis toe,” sê hy en vir ʼn oomblik is hy die middelpunt van die res se aandag.
Hackett is ietwat geset, met sy slap bruin hare onder ʼn nat reënhoed, met ʼn donkergroen Dri-mac-alleweerbaadjie aan en dik bene wat onder ʼn knielengte, donkerblou kortbroek uitsteek en in wit Nike hardloopskoene met hoë, dik walle verdwyn. Hy is normaalweg ʼn inskiklike, selfs gemoedelike man van 35, altyd op die rimpels van die GPF se bedrywighede en tog ywerig daarin; ʼn man met ʼn aangename geaardheid wat hom goed toegerus het vir ʼn bestendige loopbaan as verteenwoordiger van ʼn chemiese maatskappy wat industriële skoonmaakmiddels verskaf.
Die lewe se alledaagse besluite kon hom tot dadeloosheid verstrengel, wat nog te meer die allergrootste besluit om huis en haard te verlaat vir ʼn halsoorkoplike jaagtog na moontlike veiligheid? Hy het uiteindelik sy X-Trail gelaai, sy vrou Thelma en twee seuns Roger (7) en Lyall (4) laat inklim en toe die konvooi vertrek, het hy ingeval, geïntimideer deur die Chaos maar onseker of hy die regte ding doen. Nou is hy seker wat reg is. Reg is om by sy drieslaapkamer-, klinkersteenhuis in Dawnview Park te wees en om homself en sy gesin dáár op die genade van die noodlot te werp.
“Dis te laat, Barry,” sê Daan-Dirk.
“Nou wat doen ons?” vra Chris Lourens, die jong korporatiewe monster van Edenvale.
“Ja,” sê Deon Stetner wat vreemd genoeg aangetree het met ʼn Engelse langboog en ʼn koker vol pyle. “Wat doen ons?”
“Ons bly by die plan,” sê Daan-Dirk. “Die plan was nog altyd ons bly op die pad totdat ons nie meer kan nie, dan laat vat ons vir die veld. Dis hoekom ons nog altyd vier-by-viers gespesifiseer het. Dis wat die plan vereis.”
“Miskien moet ons net hier bly,” sê Fred Bakkes. “Staan vas en trek nie aandag nie.”
“Ons ry!” sê Daan-Dirk. “Ek ry! Elkeen van julle besluit of julle saamry of bly of wat ook al. Maar ek ry. Dié van julle wat saamry, bly in gelid agter my. As ons eers in die veld is, kan ons besluit wat volgende.”
“Daan-Dirk!” sê Barry Hackett en wanneer die groot man na hom kyk, smeek hy met sy glimlag. “Ek is jammer!”
“Barry! Moenie… Luister vir my, jy sal dit nie terug maak tot by die huis nie. Dit wat agter ons is… is verby. Ek weet nie wat voor ons is nie, maar ons sal dit uitwerk. Ons moet bymekaar bly, almal van ons. Dis ons beste kans.”
“Totsiens my vriend. Ek hoop julle kom uit waar julle moet.”
Daan-Dirk byt op sy tande.
“Gaan dan. Maak net vinnig. Julle ander, as julle ry, maak reg, ons ry soos in dadelik. Julle wat karre ry met free wheeling hubs, onthou om hulle vas te maak voor julle inklim. Ons gaan vier-by-vier nodig hê. Kom ons beweeg!”
Hy kry die radio teen sy lippe: “Brian, so vinnig as wat jy kan, kar toe! Joubert, sluit by ons aan wanneer jy kan! Ons ry!”
Die groepie fladder uitmekaar. Bart Kolver begin om vir Holtzschuh te help om die afdakkie terug te rol, maar die Duitser keer hom.
“Gaan na jou trok toe, vriend,” sê hy. “Ek doen dit.”
Edna Möller sit skuins in haar sitplek en staar na die bestuurdersdeur wanneer dit oopgaan en haar sopnat man inklim en die Land Cruiser na sy kant toe laat oorwieg.
“Wat nou?” vra sy. “Skat, wat gebeur?”
“Moeilikheid,” sê hy. “Daar is trokke zombies daar voor. Hulle versper die pad. Het ʼn tenkwa met ʼn vuurpyl geskiet. Nou is hulle op pad hierheen.”
“Wat gaan ons doen?”
“Ons gaan aftrek in die veld in en uit hulle pad uit kom.”
“En dan?”
“Dan sien ons.”
“Dan sien ons? Dan sien ons! Dis nie tyd om te ‘dan sien ons nie!’ Dis tyd om te weet wat om te doen, Daan-Dirk, dis tyd dat jy wéét wat jy doen!”
“Ek doen my bes, maar ons kan nie hier sit nie; nie hier nie! Ons moet uit hulle pad kom, ons moet eenvoudig net. Dán het ons opsies.”
“Wat sê die ander?”
“Die ander ry saam.”
“Almal?”
“Ja. Nee. Ek dink die Engelsman gaan omdraai en probeer om die huis te haal.”
“Barry Hackett?”
“Ja. Hy maak ʼn fout, maar wat kan ek doen?”
“Hy is reg! Sien jy dit nie? Hy is reg.”
“Hy’s ʼn blerrie gek.”
‘Daan-Dirk, nee! My man, ons het alles gedoen wat jy gevra het, maak nie saak wát nie, al het dit ons wat gekos. Ons het ons huis opgegee en nie een van ons weet wat daarvan gaan word nie. Ons het ons lewens stopgesit, omdat jy hierdie idee het, omdat jý so sê. Magtag! Jy het jou dogtertjie se hond geskiet omdat jy hierdie idee het!”
Daan-Dirk se verweerde geduld raak daar en dan op: “My moer! Het jy nie televisie gekyk, toe ons nog televisie gehad het nie? Het jy nie berigte op die internet gelees nie? Het jy nie gesien wat in Bethal, in Randfontein, in Delmas, in Potties gebeur het nie? Het jy nie gesien hoe die huise afgebrand en die mense aan hulle hare in die strate gesleep is nie? Ek weet jy het gesien hoe die mense in Brits in die straat doodgekap is. Het jy dit nou vergeet?”
“Maar dis anders by ons? Ons staan saam! Ons weet wat om te verwag!”
“Jy is reg! Ons weet! Ek weet! Dis hoekom ons ry!”
“Wel! Ek! Wil! Nie! Ry! Nie!”
In ʼn blitsstroom van bewegings is Daan-Dirk se deur oop en storm hy om die motor en ruk hy Edna se deur oop. Hy stop die Land Cruiser se sleutels in haar hand.
“Nou bliksemswel ry! Gaan terug huis toe! Gaan wag daar vir een of ander diklipgedrog om jou in die straat uit te sleep en jou klere af te skeur! Ek sal by iemand anders inval, by Bart of by JP of iemand. Gaan! Toe nou! Jy wil teruggaan, gaan nou!”
Edna sit versteen, haar onderkake slap na onder, haar oë groot.
“Nou wat?” skree Daan-Dirk. “Wil jy ry? Jy wil mos ry! Terug soontoe! Jy karring en karring en karring aan my vandat ons gery het, van vóór ons gery het, so vat die donnerse kar en moer terug!”
“Daan-Dirk,” sê Edna bewerig. “Daan-Dirk, nee…”
“Nee? Nee! Jy wil nie terugry nie?”
“Nee.” Sy huil nou, asof die wasser van ʼn kraan meteens meegegee het en die soutvog uit haar ooghoeke laat loop.
“Nou as jy nie wil terugdonner nie, ry jy dan saam met my?”
“Ja. Ja.”
Sy groot regterhand kom vinnig op na haar kop en sy dink verbysterd dat hy haar gaan klap, maar hy gryp haar agter die kop en pluk dit in sy rigting en druk sy gesig na aan hare.
“Nou luister, want ek het nie tyd om dit weer te sê nie: As jy saam ry, ry jy saam omdat dit jou besluit is. Ek vra nie dat jy my ondersteun nie, want vandag se vrouens weet nie wat dit is om by hulle mans te staan nie. Maar moet nie weer nie, moet nooit weer nie, nie eers een keer, aan my karring nie. Nie een keer nie!”
Edna kan haarself nie sover kry om iets anders te doen as om verskrik te huil en haar kop te knik nie.
Daan-Dirk gluur vir ʼn lang hartklop na haar en sy is te benoud om haar oë te knip. Hy verslap sy greep agter haar kop skielik, staan terug, gryp die sleutels uit haar hand wat nog oop, palm na bo, uitgehou is. Hy slaan die deur van die stasiewa met volle geweld toe en die trillings daarvan rimpel na voor en agter uit. Hy stap met lang treë om die voertuig en wanneer hy sy deur oopmaak, trek die geluide van ʼn vinnige voetval hom. Dit is Brian wat uit die veld genael kom.
“Wat doen ons?” vra die seun, blinkoog van opwinding.
“Ons ry,” sê Daan-Dirk Möller, klim in die Land Cruiser, trek sy deur toe en laat die dieselenjin oorswaai.
Die voertuig grom en hulle is reg om te ry.
(Lees vevolgens Bodem 7.)
















