Bodem 4: Konvooi

Deel op

vlamtoring

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 2: ‘Noem my Harpoen’

– See more at: http://praag.co.za/?p=20898#sthash.qV2VRUaY.dpuf

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 3: Die recce en alle vorige episodes

Daan-Dirk staar vir ’n oomblik na die kersierooi agterlig van die Yamaha wat op die skouer van die snelweg langs die streep karre verbyry en dan kyk hy na die voertuie wat buffer teen buffer staan sover as die oog kan sien. Dis ’n groot verskeidenheid rygoed, verteenwoordigend van omtrent elke voertuigklassifikasie op Suid-Afrikaanse paaie. Die een ding wat hulle in gemeen het – die sedans, stasiewaens, nutsvoertuie, enkel- en dubbelkajuitbakkies, vier-by-viers en selfs ’n paar mediumswaar vragmotors en ’n bus of twee – is dat hulle volgeprop en hoog gelaai is met besittings. Daan-Dirk weet waarna hy kyk: ’n eksodus.

Die voertuie was anders, maar dis hoe die Franse paaie in 1940 gelyk het toe die stede se bevolkings uitgewyk het voor die aankomende, onstuitbare Duitse Wehrmacht. Dis mense op vlug en hy weet dat in die meeste gevalle is dít wat in en op die voertuie is, die enigste stoflike goed wat die voortvlugtendes oor het. Die Chaos het niemand oorgesien nie en bitter min was voorbereid.

“Hou julle radio’s aan,” sê hy vir Jack en JP en begin in die rigting van die Cruiser heel voor aan hulle eie konvooi aanstrompel.

Brian val langs hom in, die ene ritteltits van opgewondenheid.

“Ek dog Pa gaan hom dres, so uitgerek was Pa,” babbel hy.

“Napoleon moes nooit met sulke stront opgeskeep sit nie,” mompel Daan-Dirk. Voor Brian iets kan sê, gaan hy voort: “Hardloop na die Cruiser. Kry jou ma se radio. Gaan terug waar ek en jy was. As Joubert rapporteer en ons kan nie hier onder die boodskap kry nie, vertel wat hy vir my sê.”

“Goedgoedgoed.”

“Brian!”

“Ja Pa?”

“Ek wil radiodissipline hê. Niks se geklets of snaakse stories nie. Jy sê vir my wat hy sê, elke woord net so en geen stertjies of jou eie idees by nie. Nè?”

“Pa, ja Pa. Kan ek ’n stuk saamvat?”

Daan-Dirk dink vir ’n oomblik. Benewens sy Glock het hulle in die Land Cruiser nog ’n 9-millimeter Astra Model 100 kompakte pistool wat Edna by haar hou, ’n Mossberg 500 pompaksiehaelgeweer en ’n Voere AM180 .22 karabyn.

“Vra jou ma vir die Astra.”

“Ek het gedog die Voere.”

“Nie nou nie. Jy weet hoe voel Marnu daaroor.”

Sy jongste seun het die afgelope paar maande ’n affiniteit vir dié eienaardige geweer ontwikkel en sedert hulle by hulle huis – die huis wat hulle gehad het – weggetrek het, het hy dit by hom vasgeklem.

“Astra. Het dit.”

Brian slaan oor na ’n stywe drafpas in die rigting van die stasiewa.

Daan-Dirk stap langs die ry voertuie in hulle konvooi verby en begin, vir die soveelste keer, om ’n bestekopname te maak. Hy het vereistes gestel om by die konvooi aan te sluit: Genoeg brandstof vir ’n duisend kilometer, kos vir twee weke, die nodige kamptoerusting en soveel vuurwapens as wat elkeen kon saambring. En ’n vier-by-vier-voertuig. Dít was die hoofvereiste. Hy, in oorleg met Harry Duval, was van mening dat hulle soms alle paaie sou moes vermy en die vermoë moes hê om deur die veld te ry. Natuurlik is daar ’n verskil in interpretasie oor watter voertuie vir ruwe terrein geskik sou wees en natuurlik het hy te maklik ingegee, veral ten opsigte van die voertuig net voor JP se Ramkat in die ry.

Dit is ’n goudkleurige Nissan X-Trail, volgens alle verslae ’n skaflike padmotor maar volgens dieselfde verslae, al is dit ’n vier-by-vier, redelik tot volslae hopeloos in die veld. ’n Regte sawweryer as daar ooit een was. Maar daar is dit nou, sy verantwoordelikheid, bestuur deur ‘n rou soutie, Barry Hackett, met vrou en twee laerskoolseuns met een, enkele Ruger Merk 2 .22-skyfskietpistool om die hordes mee aan te durf.

Voor hulle is twee identiese voertuie wat meer gesag afdwing. Daan-Dirk stap by die 1996 Nissan Patrol verby. Dis ’n goeie, ouskoolstasiewa met ’n 4,2-liter-dieselenjin. Dis ’n voertuig wat allerweë in veldrykringe gesag afdwing. Die enigste haakplek is dat dit deur ’n 17-jarige seun, Gielie Degenaar, bestuur word. Die aanvullende bemanning is Tannie Alba Verhoef, 74, en haar skoondogter, dokter Jana Verhoef. En die malteser, Caruso. Daar is darem, weet Daan-Dirk, ’n oudtydse Walther P38-pistool wat aan Oom Attie Verhoef behoort het, ’n Walther PPK, ’n Browning semi-outomatiese 12-boor haelgeweer en ’n .308 Ruger Nommer 1 ook in die kar.

Voor hulle is ’n identiese Patrol. Dit het eers ’n petrolenjin gehad, maar met die uitbreek van die Chaos het Bart Kolver dit een aand met min oënskynlike moeite uitgepluk en ’n dieselkragpak geïnstalleer. Daar is twee insittendes van die Boheemse soort: Deon en Atta Stetner, kunstenaars, handkunsvervaardigers en smouse. Hulle wapens van keuse is, en Daan-Dirk sukkel steeds om dit te glo, ’n paar messe, ten minste vier swaarde, ’n Middeleeuse bal-en-kettingknuppel, ’n oorloghamer en ’n versameling langboë. Deon Stetner is, volgens die visitekaartjie op varkleer wat hy vir almal uitdeel, ’n “medievalist”.

Daan-Dirk kom nou by die voertuig wat sy hart die blyste maak. Dis ’n bonkige Unimog wat as ’n huiswa uitgerus is, die eiendom van ’n Andreas Holtzschuh wat sy geld met ’n ingenieursaak gemaak het, vergesel deur sy Engels Suid-Afrikaanse vrou, Alice, en hulle drie hoërskoolkinders, Dieter, Dalene en Ellen. Dit is die voertuig om die berge van Afrika mee plat te maak en die valleie mee op te vul. Behalwe vir die majestueuse onderstel en hoëladingaste, die onvernietigbare ratkas en die magtige sessilinderdieselenjin, is dit swierig toegerus met elke troeteltoestel wat die bedorwe reisiger kan nodig kry. Aan boord is ’n Sig-Sauer 9-millimeter, ’n manjifieke dubbelloop-Krieghoff in 9,3 x 62 mm en ’n .22 Mauser.

Die oudste voertuig in die versameling is ’n verbleikte ou Chevrolet K20-bakkie. Die eienaar/bestuurder is Bart Kolver, ’n immerlaggende werktuigkundige wat nooit in iets anders as ’n stukkende T-hemp en ’n kortbroek van die soort wat vir safaripakke gemaak is, te siene is nie. Hy ry alleen en daar was, om eerlik te wees, geen vrywilligers om die tog saam met hom aan te pak nie. Bart kan die morsigste, mees vulgêre mens wees wat Daan-Dirk ooit ontmoet het. Dis nie dat hy Boxer-twak rook, pruim of snuif nie – hy doen al drie, soms gelyktydig en hy punktueer sy gesprekke dikwels deur ’n swaar boud eenkant toe te draai en ’n rammelende buikwind te los. Hy het ’n vrou, Alie, maar sy was in die Kaap toe die Chaos in hulle omgewing begin het, en hy het haar aangesê om daar te bly totdat hy haar kan herwin. Bart Kolver was ook die eerste persoon wat Daan-Dirk gewerf het om by die konvooi aan te sluit. Kru soos wat hy is, het hy die verstommendste hande wat blykbaar enige iets kan maak of regmaak. En agter op die Chev is ’n groot kappie, deur Bart self van plaatmetaal gemaak en daarin het hy genoeg gereedskap en toerusting om ’n vliegdekskip oor te doen. In Alie se afwesigheid word hy vergesel deur ’n Chihuahua-hondjie met die naam Omo en ’n buierige rifrug, Vicegrip.

Chris en Sandy Lourens se Land Rover Defender 90, TD5 is die vyfde voertuig van voor af. Sy besit ’n klein klerewinkel en hy is ’n middelvlakbestuurder in ’n kitskoskettinggroep se hoofkantoor. Hulle is bewapen met ’n geërfde .303 Lee Enfield Mk 4.

Die voertuig met die mees komplekse personeelaanvulling is die olyfgroen 1990 HJ75 Land Cruiser-bakkie. Styf saamgepers op die enkel ry sitplekke is Andreas Vermeulen, wildlewefotograaf en beroepsjagter, sy vervreemde vrou Lilian en haar minnaar Don van der Merwe, prokureur. Andreas het sy getroue CZ75-pistool in ’n skede aan sy sy en agter die sitplek ’n deeglik gebruikte .375 BRNO-geweer, ’n Beretta-dubbelloophaelgeweer en ’n semi-outomatiese .22 Remington. Van der Merwe het ’n 10-mm-Glock by hom. Agter op die bak, in ’n holte tussen al hulle bagasie en toerusting, skuil Andreas se groot, rooi Dobermann Pinscher, Rattus.

Die volgende voertuig is so onvanpas vir die doel van die konvooi as wat Daan-Dirk ooit in ’n nagmerrie kon droom. Dit is ’n peperduur, dofswart Mercedes-Benz ML 6,3 AMG met gebeitste vensters; laag op wye laeprofielbande rondom allooivellings. Daan-Dirk sou geweier het dat so ’n voertuig saamry, maar dit het by hulle ingeval toe hulle vertrek het, geloods deur Costa Karedes, ’n Siprioot wat ’n fortuin met ’n plastiekfabriek gemaak het, sy vrou Ragel en hulle tweelingtienerdogters, Kelly en Cara, albei reeds gesogte tydskrifmodelle. Costa was een van die stigterslede van hulle buurt se Gemeenskapspolisiëringsforum, die orgaan waar meeste van Daan-Dirk se konvooilede gewerf is. Hy is ’n joviale, gerespekteerde, hardwerkende en baie gewilde lid van die Forum – maar ai, daardie uitspattige motor, daardie skakersmagneet. Sy handwapen is net so uitspattig – ’n .44 Magnum Desert Eagle-pistool. Die enigste sinvolle ding aan boord is sy AR15-stormgeweer wat hy op een of ander manier ingevoer het.

Die laaste voertuig voor Daan-Dirk by sy Land Cruiser kom, is darem meer konvensioneel, ’n ivoorkleurige Land Rover Defender 110 Tdi, wat hy as skaflik sou beskou het as hy ’n goeie opinie van ’n Land Rover gehad het, wat hy nie het nie. Hy is ’n Toyota-man, ná alles.

Daan-Dirk kom by sy voertuig, draai om en tuur in die nat donkerte in na die tien waens agter hom. 36 siele, en hy, hy is verantwoordelik vir hulle almal.

Lees vervolgens Bodem 5: Die berig
(Lees môre die volgende episode van Bodem)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.