Bodem 2: ‘Noem my Harpoen’

Deel op

vlamtoring´n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 1: ‘n Vuurtoring vol skel oranje vlamme

Die toring van vuur word dof en in die lig daarvan, vir ’n oomblik, kan die rollende bolle swart, olierige rook gesien word.

Daan-Dirk maak sy hand vol met die nat mou van sy seun se T-hemp.

“Kom!”

Hy stoot vir Brian in die rigting van die motors teen die helling af. Hulle trippel en gly teen die skuinste af.

“Wat was dit?” vra Brian, en selfs hy hyg nou.

“Ek weet nie!” sê Daan-Dirk uitasem. “Geen idee nie. Maar dis niks goeds nie.”

“Wat gaan ons doen? Teruggaan?”

“Nee! Nee. Kan nie teruggaan nie?”

“So wat?”

“So ons moet uitvind wat daar voor aangaan, dan kan ons besluit.”

“Hoe gaan ons uitvind? Ons sal nooit tot daar voor kan ry nie…”

“Oom JP.”

“Oom JP en sy bike?”

“Ja. Ja.”

Dié keer is Daan-Dirk nog slordiger, maar aansienlik vinniger oor die heining. Hy slingerdraf op die skouer van die pad langs ’n  paar treë agter Brian na die agterkant van hulle konvooi. So ver as wat hulle draf gaan passasierskantvensters oop, party met die woergeluid van elektriese motors, maar meeste geluidloos oopgedraai met goeie ou vensterslingers.

“Bly in julle motors! Bly in julle motors!” gebied Daan-Dirk en Brian neem die rympie op: “Bly in julle motors! Bly in julle motors! My pa sê bly in julle motors!”

Verskrikte uitroepe en vrae volg hulle tot by die stertvoertuig waar die atmosfeer heeltemal anders is.

Dié ryding is die veelgeroemde Ramkat, ’n  pypstellasie sonder dak of deure gebou op die onderstel van ’n  pre-97-Hilux-4×4 met ’n  ligte 3C-turbo Toyota-dieselenjin. Dis nie ’n  verkeersligrenmasjien nie, maar sonder oorhangvoor- of agterkant en lig soos wat dit is, het dit in die hande van die geskikte bestuurder verstommende veldryvermoë. JP Els is dáárdie drywer. Hy en sy boesemvriend van laerskool af, Jack Janse van Rensburg, het dit uit verveeldheid vir veldrenne gebou en was toe so suksesvol daarmee dat hulle vir twintig jaar nasionaal hulle klas oorheers het.

JP Els, permanente bier in die hand, soos altyd in denimkortbroek en  leerstewels, maar uit erkentlikheid teenoor die reën nou met ’n  donkerblou waterwerende poncho en breërandhoed, sit heel ontspanne agteroor teen die leuning van die pypkar, sy regterbeen gemoedelik gebuig en sy voet op die bokant van die lae buiteraam. Hy het ’n  alewige glimlag op ’n  gesig wat steeds aantreklik is met dik winkbroue en welige snor. JP het op sy dag gemaai onder die poppe van Germiston en kan nog steeds ’n  slag of twee slaan by langbeenmeisies  van die volgende geslag.

As JP iewers is, is die kanse dat Jack in die omgewing is en dit is nou die geval: In die passasiersitplek om presies te wees. Op die sitbank agter hulle is Joubert, JP se lang, bruingebrande seun en sy bruinhaarmeisie Jeanelle.

“Daantjie-Dirk,” sê Jack en onder sy poncho, soortgelyk aan JP s’n , stoot hy sy arm uit en hou ’n  bottel Sedgwick Old Brown Sherry uit,  “kry vir jou ’n  bietjie reënjas.”

“Nie nou nie!” hyg Daan-Dirk.

“Moerse slag nou net,” sê Jack. “Julle gehoor?” Hy is kort, gemoedelik dik met harige arms en onder sy deurdrenkte en verbleikte rooi pet, bles met ruie grys krulhare in ’n  soom langs die slape en agterom die skedel. Sy ware roeping in die lewe, sedert kindsbeen, was om die voortvarende JP te briek en om agterna te help om die gemors op te ruim.

Daan-Dirk gaan staan uitasem by die pypkar en hou die dik pyp van die rolstellasie vas en praat bo-oor Jack met JP.

“iets is aan die gang,” sê hy.

“Genuine Ouboet?” sê JP en Daan-Dirk weet hy word liggies geterg. “Net ’n  moerse slag, vlamme net waar jy kyk, karre wat stilstaan orals, en jy spin my iets is aan die gang.”

“Ja.”

“Nou sê my, hoe dink jy, wat donner wie nou rond daar voor?”

“Dis wat ek nie weet nie. Dis hoekom ek met julle kom praat het.”

“Niks op die radio nie, Ouboet, nie dat ons ’n  radio het nie, net ’n  kassetdek, en as ons ’n  radio gehad het, nie dat dit iets sou opvang nie, nie vandat die stront begin het nie.”

“Dit help nie jy vra ons nie,” dra Jack by. “Ons het nou net hier gekom. Sweer.”

“Dit was nie ons nie, Oom,” sê Joubert van die agtersitplek af, in die gees van die oomblik.

“Nee, niks op die radio nie,” sê Daan-Dirk. “Jy’s reg. Alle stasies is van die  lug af of dit is net propaganda. ‘Maak dood die kokkerotte’-goed.”

Luister,” en hy kyk vir JP deur die kantgordyn van reën. “Ons moet besluit wat om te doen.”

“Wat Ouboet?” vra Jack. “Omdraai?”

“Nee! Dis nie ’n  opsie nie.”

“Ek luister Ouboet,” sê JP en hou die blikkie Black Label teen sy lippe.

“Voor ons enige besluite kan maak, moet ons weet wat aangaan, moet ons inligting hê.”

“Ek hoor wat jy sê. Waar’s die recces as jy een nodig het.”

“Ek het gewonder of jy nie jou motorfiets wil vat en kyk of jy naby genoeg kan kom aan wat daar  voor aangaan en ons laat weet nie.”

“Op die thumper?”

“As jy dink jy kan dit maak.”

“Nie ek nie pappie,” sê JP.

“Hoe bedoel jy nie jy nie?”

“Nie nou  nie. Môre miskien?”

“Môre! Hoekom môre?”

“Nou te gesuip. Nie gehamer nie, net te dronk vir ’n  XT in die nag.”

“Nou kan ek die motorfiets vat?”

“Jissim nee! Jy sal jouself afskryf. En toerleiers is min. Jy sal ook my XT afskryf en vandat die Chaos begin het, dink ek nie ek gaan sommer weer een kry  nie.”

“Nou wat moet ek doen! Ons moet, ons móét uitvind wat daar voor is!”

“Vra die recce op die agtersitplek.”

“Joubert? Is hy nie ook gesuip nie?”

“Hy is. Maar hy’s jonk en gesuip. Dis orraait om ’n  XT in die donker in die reën te ry as jy jonk en gesuip is. Jy moet net nie moertoe en gesuip wees nie en ek is gesuip en moertoe. Moertoe soos jy.”

“Sal Joubert dit doen?”

“Vra hom,” stel JP voor. “Hy is hier naby.”

Daan-Dirk kners sy humeur vas, laat los die pypkar se rolstaaf en stap om na die anderkant van die voertuig.

Joubert, vroeg in sy twintigs en ’n  jonger, skraler en effe langer weergawe van sy pa in ’n  reënparka en deurdrenkte jeans kyk op na hom.

“Joubert,” sê Daan-Dirk, “sal jy gaan.”

“Noem my Harpoen,” sê die jongman.

Lees vervolgens Bodem 3: Die recce

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.