Bodem 3: Die recce

Deel op

vlamtoring‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 2: ‘Noem my Harpoen’ en alle vorige episodes

Bodem 2: ‘Noem my Harpoen’

Daan-Dirk moes nie gevra het nie, en eintlik het hy dit besef, maar toe vra hy buitendien: “Harpoen? Hoekom sal ek jou Harpoen noem?”

“Dis my nom de guerre Oom.”

“Nom-se-watse-wat?”

“Nôm-de-ghwêr, Oom. Dis ’n oorlogsnaam.”

“Ek weet wat ’n nom de guerre is, Joubert.”

“Dis goed Oom, want ek het nou een. En die naam is Harpoen. Nie Joubert Els nie. Net Harpoen. Joubert Els bestaan nie meer nie. Joubert Els behoort aan ’n tyd wat verby is.”

“Ons het almal nom de guerres,” vul Jack aan. “Ek is Domkrag.”

“Firestone,” sê JP.

“Domkrag is maar net die Afrikaans vir jack,” sê Jack. “Deel van die misleidingsplan.”

“Stiletto,” sê Jeanelle. “Stiee-LET-houuu.”

Die wêreld vergaan en hulle ruim tyd in om hom te terg? Daan-Dirk voel hoe sy dringendheidsgevoel en frustrasie soos seestrome teen mekaar vas druis en in hom opstoot. Hy hou sy groot, nat kop agteroor vir ’n  oomblik en hy suig asem diep in sy longe in. Sy kop kantel terug en hy probeer weer.

“Joubert. Harpoen. Kan jy help?”

“Sê maar, Oom.”

Dit behoort nie so moeilik te wees om iets vir iemand midde-in ’n krisissituasie – wel nóg  nie ’n krisis nie, maar ‘n potensiële – te verduidelik nie, maar Daan-Dirk Viljoen vind gou uit dat dit kan wees. Dis nie dat Joubert Els klipsteenonnosel is nie, dit weet Daan-Dirk. Daar is niks fout met die masjinerie tussen die jongman se ore nie, dis net dat hy blykbaar ’n patologiese onvermoë het om enige iets ernstig op te neem, en selfs dáárvoor kan jy hom nie kwalik neem nie: hy is JP Els se seun en JP Els is… wel, JP Els is JP Els.

“Joubert, asseblief Joubert, ry en kyk wat daar voor gebeur en rapporteer terug sodat ons ’n ingeligte besluit kan neem.”

“Sorry, Oom.”

“Hoe bedoel jy? Bedoel jy jy kán nie? Want luister, Joubert, dit is donker en dit is nat, maar as jy stadig ry…”

“Dis nie dat ek nie kan nie, Oom…”

“Nou wat?”

“… dis dat ek nie mag nie.”

“Jy mag nie? Jou pa het gesê jy mag!”

“Joubert Els, toe hy nog bestaan het, het ’n pa gehad. Harpoen het nie ’n pa nie. Harpoen het net een nag in ’n bliksemse swaar donderstorm verskyn, van waar weet niemand en waarheen hy op pad heen donner, weet ook niemand.”

“Hoe bedoel jy dan jy mag nie?”

“Ek is nie ’n recce nie, Oom,” sê Joubert en trek die kappie van sy poncho terug. “Ek is ’n tiffie.”

Op sy kop het hy ’n ou swart weermagbaret met ’n blink embleem van ’n steierende perd teen ’n  weerligstraal in die agtergrond. Daan-Dirk onthou dat JP en Jack in die Tegniese Dienskorps van die SAW was.

“So..?”

“Dis die recces, Oom. Hulle hou nie daarvan as tiffies recce-werk doen nie. En ’n mens koer nie die recces se moer nie, Oom, nie as jy ’n tiffie is nie.”

Daan-Dirk gaan heel redelik voort om sy humeur te verloor.

“Jou moer! Jou absolute moer! Ek het nie tyd nie, net geheel en al en glad nie tyd vir jou stories nie! Ek weet nie of jy dit besef nie, maar ons is in ’n situasie, ’n gevaarlike, ’n lewensgevaarlike situasie, ’n dodelike situasie! Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles en hierdie is nie die tyd nie, hierdie is nie die plek nie, hierdie is nie die situasie vir jou blerrie donnerse storietjies nie! So sê of jy gaan ry en gaan kyk en of jy nie gaan ry en kyk nie want as jy nie gaan ry en kyk nie moet ek ’n ander plan maak!”

Sy uitbarsting laat hom vinnig praat, in ’n staccato-ritme en hy hou maat deur die pypkar op elke klem te wieg met albei sy groot hande op die rolstaaf.

“Jy kan hom ’n recce maak,” sê Jack bedaard terwyl hy op die voorste sitplek ronddobber saam met die wiegende voertuig.

“Hoe!de!moer!maak!ek!hom!’n!recce?!”

“Jy is die hoofgeneraal van die konvooi en ’n konvooi se hoofgeneraal kan vir iemand ’n  slagveldbevordering gee. Al wat jy moet doen, is om te sê hy is ’n recce, dan ís hy ’n recce. Jy kan die papierwerk môre doen.”

Daan-Dirk staan ’n  halftree terug, skop venynig teen die agterwiel van die pypkar, maak ’n  pirouette, skop die wiel weer, gooi sy hande in die lug, brul soos ’n  Brahmaan-bul wat koei geruik het, skop die agterwiel weer… maar wat kan hy doen?

Diep-diep asem.

“Harpoen,” sê hy terwyl hy soos ’n  geprikte strandbal blaas, “jy… is ’n  recce!”

“Moer! Dankie Oom!”

Joubert draai op die sitplek na Jeanelle, trek haar teen hom vas en soen haar met swier en passie.

“PVR vir my Masterchef,” sê hy. “Ek moet nou eers ry. Recce-dinge. Want ek is mos nou, jy weet, ’n  recce.”

Jeanelle giggel.

Die motorfiets is ’n tagtigsmodel-Yamaha XT 500, dofswart geverf en met knoppiesbande. Die voorwiel is in ’n stellasie geheg sodat dit agter die pypkar gesleep kan word. Jack, papgereënde sigaret wat op die onderlip wip, sonder om aangesê te word, help vir Joubert om die voorwiel uit die stellasie los te maak.

Joubert staan vir ’n  oomblik langs die fiets en swaai dan sy been bo-oor. Hy draai die skopslinger met sy voet in posisie, aarsel ’n oomblik en skop dit af. Die eensilinder-, tweeslagenjin klap en kletter aan die gang. Joubert gee die versneller ’n stewige draai of twee en die motorfiets brul uitbundig.

JP gaan staan by hom.

“Het jy jou stuk?”

Joubert maak seker die motorfiets is in neutraalrat en trek sy poncho weg. Daar is ’n lang rewolwer in ’n  toeknipskede aan sy sy. Daan-Dirk weet dit is ’n Ruger Blackhawk .357-enkelaksierewolwer. Onprakties, na sy mening. Ses skote maksimum en stadig om te herlaai. Maar JP het die grootboet van dié model, ’n  Super Blackhawk in .44 Magnum. Niks sal vir Joubert van sy Ruger laat afsien nie. En dit is baie akkuraat met brutale slaankrag en daar is nie omstandighede op die planeet wat dit sal weerhou om te vuur nie.

Daan-Dirk vroetel in sy baadjie se sak en hou ’n SinoCraft KX-4001-handradio na Joubert toe uit. Elke voertuig het minstens een só ’n stel.

“Vat,” sê hy. “Ek sal luister op die Cruiser se radio. In hierdie weer en met hierdie terrein reken ek dit het so 10 klieks reikafstand. Ek gaan, net om seker te maak, vir Brian op die hoogtetjie sit. As hy jou kan hoor en ons nie, sal hy die boodskappe herlei.”

“Waarvoor moet ek kyk?” vra Joubert, die planeet se nuutste recce.

“Kyk of jy sien wat gebeur het, wat aan die gang is, of ons kan ry. As daar mense in uniform is, probeer tel hoeveel, hoeveel voertuie, wat hulle doen…”

“Moet ek ’n  gevangene bring!”

“Hè?”

“Dis wat recces doen, Oom. Hulle sluip in, gryp ’n arme donnerse perd wat in sy tent sit en vir sy ma ’n briefie skryf, sleep hom terug en moer hom tot hy sê wat hulle wil weet.”

“Is jy nooit ernstig nie?”

“Altyd ernstig, Oom,” sê Joubert, klik die motorfiets in rat, draai die versneller en ry langs die streep motors die reënnag in.

Lees vervolgens Bodem 4: Konvooi

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.