Bodem 1: ‘n Vuurtoring vol skel oranje vlamme

Deel op

vlamtoring‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Later die aand, met die gloed van ‘n deel van die Oos-Rand wat in vlamme agter hulle staan, is die snelweg voor hulle vol stilstaande motors en die briekligte is soos die rye skubbe van ’n gloeiende slang wat kilometers voor hulle kronkel en uiteindelik buite sig oor ‘n hoogtetjie verdwyn.

“Wat nou?” vra Edna Möller en druk met haar vingerpunte teen die voorste paneelwerk aan die passasierskant van die ou Land Cruiser-stasiewa. “Hoekom beweeg die karre nie?”

“Ek sal nie kan sê nie,” sê haar man Daan-Dirk en sy woorde kom tussen tande wat bo teen mekaar druk, deur. Dis hoe hy op sy tande kners as daar iets is wat hy dringend begeer om te sê, maar wat hy weet niks sal doen om die situasie te verbeter nie. Wat hy wil sê is: “Hoe de moer wil jy hê moet ek weet? Dink jy ek het x-straal- en teleskopiese visie sodat ek vir kilometers ver om draaie kan kyk?”

Wat hy doen, is om vinnig na haar te kyk sonder om sy kop te draai. Edna se profiel is afgeteken deur die glans van die rooi remligte van die groot BMW voor haar. Sy is ‘n mooi vrou op ‘n streng en planmatige manier soos ‘n produk wat goed beplan en presies uitgevoer is, met ontwerpersblonde hare wat netjies in puntige veertjies staan en ‘n reguit neus en spits ken. Sy het een van daardie gesigte wat beter in haar vroeë veertigerjare lyk as wat dit twintig jaar jonger was. Die laaste ruk was Daan-Dirk al hoe meer bewus van hoe vreemde en bekende mans haar uitmeet en goedkeur. Dit het hom laat goed voel, maar Daan-Dirk begin nou wonder of sy die meganismes het om die eise van die korttermyn voor hulle te oorleef.

“Moet ‘n ongeluk wees,” sê Brian met die outoriteit van ‘n vyftienjarige vanaf die agtersitplek.

“Moet ‘n moerse een wees as albei bane gesluit is,” sê Manu, sy jonger boetie.

“Wat my pla, is…” sê Daan-Dirk asof hy nie sy seun se kru taal gehoor het nie, “die oorkant van die pad is leeg.”

“Noudat jy dit sê,” prewel Edna, “dis vreemd. Hoekom sou dit wees?”

“Padblokkade van een of ander aard.”

“Polisie? Verkeries?”

“Hulle sal die karre nie keer om verder te ry nie. Hulle sal hulle net stop, ondervra, miskien ‘n paar deursoek en dan laat gaan. Nee, hier is iets anders aan die gang.”

Hy skakel die motor af en eers as dit nie rammel nie is dit vir hom duidelik hoe raserig die primitiewe enjin van die Series 80 Land Cruiser is. Hy knyp ‘n sekonde af om homself te verwens dat hy hulle nie weggevoer het met sy nuwe VX Cruiser nie; dié het ‘n gesofistikeerde dieselkragbron wat soos ‘n Switserse klitser in gesmelte roomkaas loop. Maar Harry Duval het gesê oorlewing kan besmoontlik van die regte voertuig afhang en in die omstandighede is ‘n betroubare dieselenjin van ou tegnologiese oorsprong nodig. Vandaar die HJ80 met sy 4,2-liter- dieseldonkie-enjin.

“Ek gaan kyk,” sê hy. Hy maak die bestuurdersdeur oop en ‘n fris windjie jaag die ligte reën soos koue spoegdruppels in die stasiewa in.

“Vat jou baadjie,” sê Edna vinnig.

Dit irriteer hom, maar hy besef sy het dit nodig om besorg te wees. Sy moet haar ondersteuning aan hom bevestig want, gedug of tengerig, is hy die enigste skans wat vir haar en die kinders oorbly.
Daan-Dirk wriemel sy arms in die moue van die donkergroen reënbaadjie in. Met ‘n matige uitdrukking van verleentheid reik hy onder die bestuurdersitplek in en bring die kantige dofswart Glock te voorskyn. Tye en gewoontes het verander, dit weet hulle albei, maar dit voel nog vreemd, miskien ‘n tikkie absurd, om ‘n pistool te dra. Hy trek sy skouers effe op en druk die pistool se loopkant onder sy broekband aan die linkerkant in en trek die baadjie daaroor.

“Jy gaan seker nie tot voor loop nie?” vra sy vrou.

“Net tot hier bo op die koppie en kyk wat ek kan sien.”

Hy maak die deur toe en kom voor om die Cruiser gestap, breed en dik in die skouer en swaar van kop met grys hare wat teruggekam is en ‘n gesig van iemand wat gemoedelik is solank hy sy sin kry. Die aandreën verf hom met korrelrige druppels, maar hy is oënskynlik onbewus daarvan. Hy kyk heen en weer, nie op ’n rustige manier nie, maar skerp links, dan skerp regs, skerp vorentoe. Dit irriteer haar, maar sy het die afgelope maande so gewoond geraak daaraan om deur hom geïrriteer te word dat sy nie die emosie vertroetel nie. Buitendien is sy ook, onrusbarend, nuuskierig om te weet wat die oponthoud voor hulle veroorsaak het.

“Ek gaan ook kyk,” sê Brian skielik en maak die links-agterste passasiersdeur oop.

“Brian!” sê Edna. “Nee! Bly in die kar…”

“Ek kan niks sien as ek in die kar is nie,” sê Brian soos wat ’n tienerseun meermale doen, asof hy iets geheel en al logies aan iemand wat nie kan dink nie moet verduidelik.

“Ek gaan ook,” sê Marnu.

“Nee!” sê Edna, vies oor haar verlies van beheer oor Brian.

“Wag vir my!” dring Marnu aan, maar Edna, vasberade om nie alle gesag in te boet nie, wriemel om in haar sitplek en trek die deur agter Brian toe.

“Julle kan nie almal buite gaan rondkarring nie!” sê sy. “Sê nou jou pa wil skielik ry. Hy het nie nog tyd om ons te tel nie.”

“Maar Brian…”

“Maar Brian niks! Maak toe die deur.”

Marnu sug die sug van ’n tiener verontreg en sak terug in sy sitplek wat ’n stywe pomp in die ribbes uitlok, komende van Tienie, sy negejarige sussie wat in die hoek tussen motor en sitplek ingekrul is.

“Is jy orraait, skatjie?” vra Edna vir haar.

“Nee. Ek is nie orraait nie. Ek sal nooit weer orraait wees nie.” Welke verklaring afgemete en sonder infleksie voorgedra word. “Ek haat hom. Ek sal hom altyd haat.”

“Altyd is ’n baie lang tyd,” sê Edna, maar sy wonder tog of haar dogter vir Daan-Dirk sal vergewe omdat hy vir Kriesel, die hond wat sy van geboorte af gehad het, geskiet het voor hulle by die huis weggery het. Op grond van die beskikbare getuienis, twyfel sy. Daan-Dirk. Daan-Dirk het baie om te verduidelik.

“En jy is hier, hoekom?” vra Daan-Dirk vir sy oudste seun toe Brian by hom op die skouer van die pad aansluit.

“Ek kom saam met Pa.”

“Ja?”

“Ek wil ook sien.”

Brian, in ’n moulose rooi T-hemp en baie lang kortbroek soos wat die jongmense dit dra, peuter met ’n kopliggie wat ’n rangskikking van LED-gloeilampies bevat, skakel dit aan en trek die breë rek om sy kop sodat die lig soos ’n verhelderde vinger vanaf sy voorkop in die donker insteek.

“Sit dit af,” gelas Daan-Dirk.

“Hoekom?”

“Hoekom? Jy wil weet hoekom? Kom ek vertel jou hoekom. Omdat ek gesê het jy moet, dis hoekom.”

“Goed, maar…”

“Ons wil nie onnodig aandag trek nie.”

“Dis nie asof ons nie aandag trek nie. Pa is nie onsigbaar nie, Pa weet…”

“Ons wil nie meer aandag trek as wat nodig is nie.”

“Sal die rooiliggie werk?”

Brian peuter weer met die liggie en skakel die rooi gloeilampies aan wat baie minder opsigtelike lig maak.

“Goed. Dit sal seker.”

Daan-Dirk loop deur die afvoervoor waarin water enkeldiepte vloei en in die kuithoogte taai gras in en kom by ’n doringdraadheining tot stilstand. Brian skuur by hom verby en buig en rek sy lyf soepel tot aan die anderkant van die draad. Daan-Dirk het min tyd om te besluit of hy tussen die drade deur of bó-oor sal gaan. Hy gryp die boonste draad met albei palms en pers dit onder toe, slinger een been oor en huppel onelegant oor die heining. Hy strompel agter Brian aan wat met lang treë op oefenskoene met dik, gegote sole die grond onder hom met die minste sigbare moeite agteruithark.

Dit vat langer as wat Daan-Dirk verwag het om teen die hoogte uit te kom. Die helling lyk so egalig maar dit is vol klippe, vlak skeure en nat, langvingerige gras wat ’n gemaklike loopgang belemmer. Sy bors brand en sy swak regterknie pyn, maar uiteindelik is hulle op die hoogtetjie en die groot man en sy skraal tienerseun staan en tuur met langs die N3-snelweg rigting Harrismith af.

Die voertuieslang kronkel om wye draaie en oor rondekophoogtetjies tot ver voor hulle, en nog verder, buite sig.

Daan-Dirk draai om en kyk in die ander rigting. Agter sy motor is die klein konvooi wat saam met hulle gekom het. Elf voertuie alles tesame, op sy inisiatief en elke insittende met die klaarblyklike vertroue dat Daan-Dirk Möller weet wat hy doen. Agter hierdie voertuie het motors reeds opgedam en nog vier rye ligte – dié keer die helderwit van motorkoplampe – strek reeds buite sig op die snelweg terug.

“Pa!” sê Brian. “Pa!”

Voor Daan-Dirk kan omdraai bereik die knal hom, ’n basgeklop van ver af, en as hy omdraai, ver voor hulle, heelwat kilometers van hulle af, van iewers op die pad, stoot ’n vuurtoring vol skel oranje vlamme, hoog in die lug in.

“Liewe Jesus!” sê Daan-Dirk. “Liewe Here, help!”

Dit reën nou harder, ’n warm somersreën wat op hulle koppe versamel en hulle hare plat teen hulle kopvelle laat klou en stroompies loop met die kontoere van hulle gesigte langs af en val in plasse waar hulle staan.

Lees vervolgens Bodem 2: ‘Noem my Harpoen’

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.