As u die nuus en kommentaar op die praag-webwerwe volg, sal u sien dat ons lank reeds voorspel dat Suid-Afrika op ‘n breekspul afstuur. Die spanning by ons is gekoppel aan die internasionale konflik tussen die VSA en ander moondhede, in Afganistan, Sirië en elders.
So pas het Julius Malema sy hofbevel oortree en die liedjie “Skiet die Boer” gesing. Hy dreig openlik met ‘n Zimbabwe: grondbesettings en dergelike meer.
Ek het ook al male sonder tal gesê dat as die De Klerk-gesinde Naspersmedia se oghe eendag oopgaan, dan sal dit al amper te laat wees. Vanoggend praat hul noordelike Kruiperkaner-mondstuk, Beeld, van ‘n “gevaarlike baba” wat met Malema se party gebore word.
De Klerk en Naspers het ons hierdie Oemghoenghoendloewoe ingelei en die generaals is lankal afgedank. Mense het ook tou gestaan om hul eie wapens by polisiestasies te gaan inhandig.
Ons word met ons broeke op die knieë gevang.
Maar dis nog nie te laat nie. Die jongste gebeure bewys dat praag se ontledings nog altyd korrek, realisties en versiende was.
Die NP het nie die stryd teen die ANC weens ‘n gebrek aan middele verloor nie, maar weens ‘n gebrek aan insig. Hy het nie die vyand, sy denke of sy oogmerke verstaan nie. De Klerk was ‘n plattelandse prokureur wat op Potch gestudeer het in die dae toe studente nie mog dans nie. Sy kennis van geskiedenis, linkse ideologie en internasionale politiek is hoogs verdag.
Die situasie is nou omgekeer: ons het die insig, maar nie die middele nie.
praag is ‘n gemeenskapsmedianetwerk vir Afrikaners en geen weerstandsbeweging nie. Die stryd wat tans woed, gaan egter in ‘n groot mate oor ons wíl om te oorleef en om ons oorblywende bates soos plase, huise, spaargeld, beleggings, ens., te behou. Die vyand poog om ons wil af te breek tot op die vlak waar hy, in ‘n herhaling van die ’94-fiasko, alles net kan vat sonder om ‘n skoot te skiet.
Net vanoggend kontak ‘n dame elders in die land my en skryf die volgende:
Ek is al die afgelope paar jaar baie bekommerd. Tot so ‘n mate dat ek nie eers wil kinders hê nie, want ek is te bang oor wat moontlik met hulle kan gebeur. Wens baie keer ek is in ‘n ander tyd gebore. Weet ek moet hierdie in die gesig staar, maar ai…ek wil net eintlik ‘n vreedsame bestaan voer.
Ongelukkig is Pandora se doos in 1994 geopen en die revolusie begin nou eers spoed optel.
praag en mnr. Jaap Kelder het twee jaar gelede, teen baie teenkanting in, ‘n vergadering van alle Afrikaanse organisasies gehou, waaruit die Strategiese Komitee gebore is en wat steeds maandeliks vergader. Ongelukkig vorder daardie komitee te stadig, terwyl Malema en ander met rasse skrede (woordspel bedoel) besig is om hul bose planne ten uitvoer te bring.
Ons sal voortgaan om Afrikaners te probeer saamsnoer, maar ons het ‘n voorhoede van wakker mense nodig wat ons kan help met bewusmaking en organisasie, waar nodig. Plaas dus asseblief u naam op ons lys van vrywilligers deur die volgende vormpie in te vul:
Word ‘n praag-vrywilliger (klik)
Ons vir jou!
Dr. Dan Roodt


Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.