Bodem 7: Die swenk

Deel op

vlamtoring

‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 6 en alle vorige episodes.

Fred Bakkes, bekwaam as tegniese-tekeninge-onderwyser, onlangs departementshoof by ʼn laerskool in  Alberton, met ʼn lewensingesteldheid, houding en kleredrag afgetrek op die leerkragte van die sewentigs toe hy op hoërskool was, eggenoot van Lucille, twaalf jaar jonger as hy en adjunkhoof by ʼn vooraanstaande hoërskool in Randburg, is ʼn man van lysies. Hy is ʼn kompulsiewe neerskrywer en bewaarder van lyste selfopdragte, voornemens, begrotings, inventarisse en instruksies. Hy het elke lesing wat Harry Duval vir die lede van die GPF aangebied het, bygewoon en bondige, presiese aantekeninge in sy A6-grootte notaboekie met ʼn HB-kloupotlood gehou, en tog het hy nooit werklik met die man se bevindinge of aanbevelings saamgestem nie. Nietemin het hy die instruksies uitgevoer, waarskynlik omdat hy onwillig was om verkeerd bewys te word.

Die eerste en belangrikste item op Duval se lys van oorlewingsmiddele was ʼn ou-tegnologiese, dieselaangedrewe viertrekvoertuig. Ná vele konsultasies, ure se internetnavorsing en onderhoude, alles helder neergepen in genommerde kolomme, het hy sy getroue 2002 Toyota Corolla – met volledige diensrekord en brandstoflogboeke – verkwansel en ʼn 1997 Land Rover Tdi-stasiewa gekoop. Vir die Land Cruiser-manne het dit hulle vertroue in lysies ondermyn. Daarna het hy bykans die aankoopprys van die stasiewa herhaal om dit meganies in orde te kry en met langafstandtenks en ʼn dubbelbatterystelsel toe te rus, soos per instruksies.

Hy was nog in die proses om lysies op te stel vir die aankoop van ʼn haelgeweer en ʼn koeëlgeweer toe die Chaos die proses van die baan geskrap het. Die Bakkes-arsenaal is noodwendig beperk tot die Beretta Model 92F wat hy as student gekoop het en Lucille se vyfskoot-Astra Cadix-kortsnoetrewolwer. En ʼn CZ 200S PCP-windbuks. Dit behoort nie aan Fred nie, maar aan sy seun, Frederik Hermanus Alarus Bakkes, by ieder en elk bekend as “Frekie”, ʼn vyftienjarige boontjierank van ʼn seun met ʼn kleredragsin wat blykbaar in solidariteit met sy pa sʼn ontstaan het, sodat hy altoos aangetrek is in langmou-oopknoophemp, moulose truitjie, grys of donkerbruin langbroek wat ʼn halwe handbreedte bo sy Grasshopper-skoene – bruin of grys – eindig.

Die windbuks is nie aangeskaf vir oorlewing nie, maar omdat die knaap – wat net een gesigsuitdrukking het: algehele verbasing – ʼn lid is (was) van die Sentraal-Gauteng-skyfskietspan.

Lucille Bakkes – kort, bruin van haar en mollig met ʼn middellyf gevorm asof van ringtennisringe wat opgestapel is – weet van beter as om haar man se oorspronklike besluit om die uittog mee te maak, te bevraagteken. Die heilige lysies het gepraat en kan nie in twyfel getrek word nie. Tog wil sy weet wat volgende gebeur.

“Daar is besluit om in die veld in te beweeg,” sê Fred terwyl hy die sleutel draai om die Land Rover aan die gang te kry.

“En stem jy saam daarmee, Fred?”

“Daar was nie genoeg tyd om die situasie te ontleed nie.” Bedoelende dat hy nie ʼn tweekolomlysie met voor- en nadele kon opstel nie. “Daar is ongerymdhede voor in die pad. Dit lyk asof rebelle die roete blokkeer en voertuie plunder. As ons in die veld is, het ons seker meer opsies.”

Voor en agter hulle ontstaan ʼn onharmonieuse gerammel wanneer die lede van die konvooi hulle voertuie aanskakel. Een of twee se hoofligte kom aan.

“Charlie Papa aan alle stasies,” sê Daan-Dirk oor die radio, “skakel julle hoofligte af tot verdere kennisgewing. Ons wil so min aandag trek as moontlik.”

Die konvooi se vertrek het van meet af ʼn belemmering: Hulle is agter mekaar in die linkerbaan en wil oor die regterbaan beweeg en van daar oor die leë teenoorgestelde roete van die snelweg. Maar die regterbaan is ook buffer-teen-buffer vol voertuie. Langs die Möllers se Land Cruiser is ʼn X5 BMW en die ruimte tussen hom en die Hyundai H1-bussie is te skraal om die konvooi deur te laat.

Die Bakkes-gesin sien hoe Daan-Dirk die bonkige Toyota laat vorentoe kruip en dan na regs beweeg om aan te dui dat hy ʼn deurweg soek. Dis aan die voertuiglyftaal duidelik dat hy wil hê die X5 moet terugstoot dat hy kan deurry. Die ooglopende versoek word begroet met ʼn geflits van die BMW se ligte en ʼn Indiër-bestuurder wat nogal oorleun om met ʼn stywe middelvinger te beduie.

“Wat het hy gedink?” vra Fred.

“Koelies?” vra Frekie wat voor op sy sitplek sit en, hande weerskante op die rugleunings van die voorste sitplekke tussen sy pa en ma hang, sy jong Jack Russell-teef, Passer, opgekrul op sy skoot.

“BMW,” sê Fred. “Dis ʼn bewese biologiese feit dat as ʼn man in ʼn BMW klim daal sy IK met 30 punte en sy peester krimp met vier duim.”

“Fred!” sê Lucille.

Hy weet self nie hoekom hy dit gesê het nie. Hy het dit lank terug in die personeelkamer gehoor en nooit deur al die jare gedink hy sal dit hardop herhaal nie. Die druk van die situasie het vreemde gevolge.

“Jammer,” sê hy. “Dis nie juis nie. Ek het bedoel om te sê vyf duim.”

“Wat gaan Daan-Dirk doen?” vra Lucille gespanne.

“Moeilik om te spekuleer, maar wat dit ook al is, dit gaan nie aangenaam wees nie.”

Fred se toonhoogte is normaalweg ingestem op A onderkant Middel C, en gaan een noot af as hy diep sake praat en een noot op as hy opgewonde is. Dis nou op D-kruis. Maar sy voorspelling hou water.

Daan-Dirk stoot die Land Cruiser terug en swaai die stertkant uit na die skouer van die pad. Daar is ʼn oomblik se verposing terwyl hy vermoedelik skakel na 4 x 4-laestrek. En dan rammel die stasiewa vorentoe, loodreg op die gaping tussen Hyundai en BMW en wanneer die swaar, wye botsingstellasie wat hy voor aan die Land Cruiser aangebring het die twee voertuie tref is dit met die geluid van ʼn groot koekblik wat met simbale geslaan word, gevolg deur die fluitgil van rubberbuitebande wat oor die teeroppervlakte gesleep word. Die Hyundai en die BMW vou weg soos kroegdeure wat oopgemaak word en die Land Cruiser is deur die gaping, deur die ongesnoeide struike op die middelmannetjie met ʼn geplof van takke en blare.

Fred kan in die swak lig sien hoe die bestuurder van die BMW sy arms wild swaai en in gebaretaal – en vermoedelik per mond – refleksie werp op Daan-Dirk se vroulike voorsate.

“Hou vas!” sê Fred bedaard en stuur die Land Rover in die gaping in. Die stasiewa pas maklik in die gaping en tog kry hy dit reg om die  passasierskant teen die hoek van die Hyundai se agterste buffer te krap. Die Defender skommel en bons oor die middelmannetjie en hulle breek deur die heiningstruik wanneer die Möllers se Land Cruiser reeds oor die pad is en skuins deur die hoekige betonafvoersloot waggel.

Fred volg tot agter Daan-Dirk. Die Toyota se een agterdeur is oop en Brian staan by die sewekoorddoringdraadheining en is besig om dit met ʼn draadtang af te knip. Hy nael terug na die motor, spring in en klap die deur toe. Die Land Cruiser beweeg oor die drade wat slap lê en draai links.

Hulle is in ʼn groot veld, voorheen weiding vir ʼn kudde beeste en die gras staan kniehoogte. Daan-Dirk maak seker dat daar genoeg ruimte agter hom is, draai regs sodat die voertuig die veld in wys en kom tot stilstand. Fred bestuur agter hom aan en draai langs hom aan sy regterkant in en parkeer die Defender.

Die volgende vier voertuie – die ML Benz van Costa Karedes, die Land Cruiser van Andreas Vermeulen, die Defender 90 van Chris Lourens en die Chevrolet K20 van Bart Kolver volg maklik genoeg in die gaping tussen die bussie en die X5, maar dan kom die Holtzschuh’e se Unimog aan en dit is hoër, en meer tersaaklik, wyer as die ander voertuie. Die Duitser, sy arms soos beeshorings om die stuurwiel van die ‘Mog geslaan, ʼn uitdrukking op sy gesig asof hy gereed is om sy voorkop deur ʼn baksteenmuur te kap, trap die versneller weg en die groot voertuig kom snorkend en met hewige momentum aan en vee die Hyundai en BMW weg voor sodat hulle nou soos dwarsbalke teenoor die voertuie agter hulle staan; die H1 se snoet na Noord en die X5 sʼn na Suid.

Die twee Patrols geloods deur die “medievalist” Stetner en die skoolseun Degenaar vaar sonder teenspoed deur die gaping, oor die middelmannetjie, oor die snelweg, oor die skouer en in die veld in, waar hulle een na die ander, skouer teen skouer, langs mekaar parkeer. Nou nog net die Hacketts se X-Trail en die Ramkat van JP Els.

“Nou wat nou!” wil Jack weet wanneer JP die pypkar se snoet tussen die Hyundai en BMW deur druk. Een oomblik was Barry Hackett se Nissan voor hom en die volgende oomblik, in plaas van om die res oor die pad te volg, swenk dit regs in die snelweg af en versnel in die rigting van die Oos-Rand.

“En hier, hier en nou,” sê Jack, “kom die kak.”

Links van hulle slaan die wit skynsel van aankomende verkeer agter die hoogtetjie uit en die volgende oomblik kom twee swart BMW-sedans met skokspoed oor die bult gejaag. Die pad voor hulle is leeg – behalwe vir die Hacketts se X-Trail.

“Vat hulle,” sê Jack. “Jy kan hulle vat.”

En vir ʼn oomblik is dit waar. As die pypkar net meters vorentoe beweeg en een van die BMW’s net die geringste stootjie gee, sal die onbeheerste snelheid waarteen die motor trek dit in die veld in laat wegtol. Dan is die twee motors verby, so vinnig dat die pypkar in hulle sleurstroom wieg.

“Sal nie,” sê JP. “Sal net stront oor my kar kry.”

Die ander luister nie na hom nie want hulle staar droëmond na regs waar die BMW’s die afstand tussen die Nissan en hulle verslind. Wanneer die voorste een by die stasiewa kom, pluk die bestuurder die sedan na links, vol aggressie, reg oor die boeg van die X-Trail in.

Die remligte van die Nissan kom aan en die neus pluk na links. Momentum neem oor en die voertuig skuur sykant na voor in die rigting van die BMW. Dan word dit oorrompel deur die weerspannige kinetiese kragte wat daarin gestoor is. Die Nissan tol regs, kap na links, herstel effens na regs en dryf dan links van die snelweg af en wanneer die linkervoor- en agterwiel die betonafvoersloot tref, word dit onder die nutsvoertuig uitgepluk. Die Nissan tref die oorkantste wal op die sy, maar die impetuskragte is nog nie uitgewoed nie en die kar bons terug van die graswal af en kom wiegend op sy wiele tot stilstand.

Oombliklik is die tweede BMW by. Die deure skiet oop en vyf swartmans, in los hemde en wapperende broeke, elkeen met ʼn geweer, krioel uit en bestorm die Nissan. Die voorste BMW maak ʼn paar kringe op rokende en fluitende bande en jaag tot teenaan die Hacketts se kar. Nog vier gewapende swartes verskyn met skielikheid en geweld in hulle houding.

Die deure van die Nissan word oopgeruk en twee van die aanvallers kry ʼn greep op Barry en begin hom uit die voertuig sleep. Hulle poging word vertraag, vermoedelik omdat sy veiligheidsgordel nog vas is, en na ʼn geruk, gille, ʼn gebulder en ʼn kort sarsie skote hemelwaarts uit ʼn AK, kom Hackett uit die kar, reguit grond toe, waar hy omsingel word deur vier rampokkers wat hom uitbundig, met die los, bytende, vloeiende voetbewegings eie aan die swarte, skop terwyl hy soos ʼn wurm op die grond wriemel, arms oor sy kop gevou om die ergste skade te verhoed.

Die ander insittendes, Thelma en die seuns Roger en Lyall kom van die ander kant van die voertuig af gehardloop, agtervolg deur ʼn drietal jubelende swartmans wat allerhande los voorwerpe – skoene, bottels, klippe – agter hulle aanwerp.

Een van die aanvallers gee ʼn instruksie en Barry se folteraars hou op om hom te skop. Hy kom orent tot handeviervoet en begin skarrel agter sy vrou en kinders aan. Een van die swartes steek vas en gooi ʼn skoen, ʼn lemmetjiegroen Croc, agter hom aan en dit woer-woer, woer-woer in die nat aand en, tot groot vermaak van die swartes, tref dit hom teen die agterkop sodat sy kop vorentoe knik.

Een van hulle maak ʼn voertsekgebaar met sy een hand. Die res lag en slinger uitroepe agter die roggelende Barry aan.

In die Ramkat sit JP-hulle vasgenael.

Jack kyk links. Die gloed van ligte verskyn agter die bult.

“Hier kom die Hilux’e!” sê hy skerp. “Kom ons gaan kry hulle!”

JP laat los die pypkar se koppelaar en skop die versneller ten diepste in. Hy swaai na regs in die rigting van die Hackett-gesin wat struikelend en gillend in hulle rigting beweeg.

(Lees vervolgens Bodem 8.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.