Volksgenote in diaspora

‘n Oppervlakkige analise van beduidende bevolkings in diaspora is dat hulle in die lande waarheen hulle of hul voorouers uitgewyk het, geneig is om radikaler te wees as hul volksgenote op die tuisfront.

Hierdie siening kan gevorm word aan die hand van die wapens en morele ondersteuning wat die Ierse Republikeinse Leër uit veral die VSA gekry het, die jongste verwikkelinge rondom Sri Lanka en die Tamils, en Armeniërs in diaspora ten opsigte van onder meer die bedrywighede in die 70’ger en 80’ger jare van ASALA.

Wat dan, met bykans ‘n miljoen Afrikaners in diaspora?

Maar alvorens ‘n mens hierdie verskynsel ontleed, is dit nodig om te kyk of dit altyd so geldig is.

Word na Israel en die Jode in diaspora gekyk, is die boodskap baie gemeng. Jode dra wel baie tot Israel se ontwikkeling by, en via hul stemkrag in onder meer die VSA, ook op regerings om minstens verdraagsamer teenoor die Israelse saak te staan.

‘n Gemengde boodskap kom uit die geledere van Palestyne in diaspora. Terwyl niemand kan betwis dat sogenaamde vlugtelingkampe in onder andere Libanon niks meer as Hamas-teelaardes is nie, is die Palestynse lobby in die VSA meer afgerond en beredeneerd.

Verskeie faktore bepaal die georganiseerde aard van volksgenote in diaspora, en nog te meer hoe radikaal hulle is.

Maar selfs dan verskil hulle. So het Suid-Afrikaners hulle in ‘n stadium om elke hoek en draai in winkelassitente en ander mense vasgeloop wat nie Afrikaans magtig is nie, en flink aanvoer: “I come from Rhodesia.” Hierdie Rhodesiërs in diaspora het hulle gou teen die hele politieke spektrum hier bevind, soos Clive Derby-Lewis in die KP en daarna die gevangenis, Cherryllyn Dudley in die ACDP as parlementslid, en Mary Metcalfe binne die ANC. Metcalfe se bande met Rhodesié staan ook meer in die dampkring van ‘n vlaag Zimbabwiese vlugtelinge.

Dit is moeilik om die dinamika te verstaan wat onderliggend was aan die Amerikaanse Iere se fiksasie met die IRL se stryd. In Ierland self was die IRL verbied, maar die Amerikaanse Iere het wapens, geld en ander hulp na dié organisasie en die meer radikale INLA aangestuur asof dit uit die mode raak.

Die Iere in die VSA is ook ongeveer vier keer meer as die Iere in Ierland self. (‘n Tikkie ironie in die lig van ou Keltiese verwysings na die mistieke land in die Weste as “groot Ierland.)”

In die VSA kon hierdie groep, as Rooms Katoliek in ‘n oorwegend Protestantse omgewing, hul identiteit betreklik goed behou. In Ierland, veral Noord-Ierland, is die “inheemse” Iere minderwaardig geag deur Protestantse immigrante uit veral Skotland. Dit is hierdie Skotse nasate wat op bande met Brittanje bly aandring het.

Die Armeniërs in ballingskap is hoofsaaklik afstammelinge van die kernbevolking wie se hartland in die huidige Turkye was. So volledig is hulle vroeg in die 20ste eeu deur die Turke uitgemoor dat min ensiklopedieë eens Armeens as ‘n taal noem wat in Turkye gepraat word. Die Armeniërs was die oudste Christenvolk in die wêreld, en het eeue lank as Christenbolwerk teen Mosleminvalle gedien. Hulle het in die proses dikwels erg die spit afgebyt.

Danksy noue bande tussen ‘n ‘n Armeense ekskalwe aan die Turks-Meditireense kus en die Franse koningshuis, het baie van hierdie Armeniërs na onderdrukking begin het hulle in Frankryk gevestig, maar ook elders in Europa en ‘n beduidende groep in die VSA. In hierdie lande moes hulle toesien hoe dié lande via NAVO in ‘n bondgenootskap met Turkye tree.

‘n Groep wat hulle in Libanon gevestig het, het ten spyte daarvan dat hulle aansluiting by die Libanese Christene gekry het, in noue aanraking met die radikale Palestynse groepe gekom en ASALA (Armenian Secret Army for the Liberation of Armenia) gevorm.

Om die Tamil Tiere se stryd in Sri Lanka in isolasie te sien, is ‘n fout. In Indië maak die Tamils met sowat 65 miljoen sprekers ‘n groot deel van die bevolking uit, en is ‘n belangrike komponent van die land se Drawadiese bevolking wat grootliks deur Indo-Germaanse taalgroepe oorheers word. Trouens, Indië se amptelike taal, Hindi, is ‘n Indo-Germaanse taal en bykans dieselfde as Oerdoe, die amptelike taal van Pakistan. Wêreldwyd is die getal Tamilsprekers sowat 70 miljoen, wat dit getallegewys bo van die wêreld se gerekende tale plaas. Dit het ‘n ou, opgetekende literêre geskiedenis waarop die Tamils baie trots is.

Maar In Sri Lanka is die Tamils ‘n minderheid, nie net in taal nie, maar ook in die Hindoe-godsdiens teenoor die meerderheid Singalese wat hoofsaaklik Boeddhisties is. Buite Sri Lanka en Indië is sowat ‘n miljoen Tamils in diaspora – met ander woorde Tamils wat in die lande waar hulle nou woon, steeds met die Tamilsaak in Sri Lanka identifiseer. Veel meer praat nog Tamil as oorblyfsel uit die koloniale tydperk toe hulle wêreldwyd “uitgevoer” is as arbeid op suikerplantasies soos in Suid-Afrika, Guyana en eilande in die Stille Oseaan.

Na raming het sowat $300 miljoen aan geld en wapens die Tamil Tiere jaarliks in hul 26 jaar lange stryd teen die Singalese bereik.

Van baie bevolkings in diaspora word bykans nooit gehoor nie. ‘n Interessante voorbeeld is die Assiriërs wat nie net in Sirië ‘n Christen-minderheid vorm nie, maar ook in Australië ‘n beduidende gemeenskap in stand hou.

Oor hoe die meerderheid Suid-Afrikaners in diaspora, die sogenaamde eksas, voel, is daar nie eenvormige duidelikheid nie. ‘n Groot groep het duidelik geëmigreer met die doel om burgers van hul nuwe vaderlande te word, ander werk tydelik daar met die idee om terug te keer, en ander bekyk die kat uit die boom.

Hierdie saak sal waarskynlik eers behoorlik onder die loep geneem kan word wanneer ‘n volgende algemene verkiesing gehou word. Met die vorige is op kort kennis via ‘n hofbevel magtiging verkry om te mag stem, maar tyd om die nodige dokumentasie te bekom en as kiesers te registreer was te min, en die logistiek om te stem was dikwels ontoereikend. Wat egter duidelik is, is dat die ANC weinig steun onder die “eksas” geniet. Wat dit betref, is die algemene “hulle” en “ons” karakter van Suid-Afrikaners in diaspora nie anders as ander gemeenskappe in diaspora nie.

монтаж трековых светильников на шинопроводе ценатопкарго кидалы

Uitvoerende burgemeesters se uitvoerige blapse

Niemand, behalwe die soustreinryers self, sal probleme hê daarmee dat die ANC beplan om van die stelsel van uitvoerende burgemeesters ontslae te raak nie. Trouens, hoe gouer hoe beter, soos die TLU SA dit in effense ander woorde uitdruk.

Hierdie gedagte volg nie baie lank nie nadat die ANC nog kort-kort vlieërs opgestuur het oor die moontlikheid om die provinsiale bedeling af te skaf. Die gedagte was dan dat die vakuum minstens ten dele deur die munisipaliteite gevul sou word wat in nog groter monstrositeite omskep sou word.

Die grondwetlike beginsels waarop by Kemptonpark ooreengekom is, is egter oor hierdie sake baie duidelik. Punt XVI stel dat die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak gestruktureer sal wees. Die volgende punt stel dit dat die verteenwoordiging op elkeen van hierdie vlakke demokraties verkose sal wees. Grondwetkenners verskil oor die bindendheid van hierdie beginsels.

Met die planne om van die provinsiale bedeling ontslae te raak was daar egter min erg aan die bepalings van die grondwetlike beginsels. Wat is die posisie egter met die stelsel van uitvoerende burgemeesters?

Kritiek op die stelsel is wyd-uiteenlopend. In wese kos dit te veel en tweedens gee dit aan die burgemeesters en hul uitvoerende rade magte wat kundigheid vereis wat nie beskikbaar is nie. Dit word vererger deurdat hierdie ampte as aflaaiplek vir politieke ontplooiing dien sodat uitgediendes nie die soustrein verpas nie.

Die gevolg is ‘n peperduur stelsel wat weens lae betaalkoerse nie bekostig kan word nie, en in elk geval nie werk nie soos die OG-verslae jaar vir jaar bewys.

Boonop is die politieke partye aan bewind nie altyd in voeling met hul partye se nasionale beleid nie, wat regeerbaarheid ernstig kortwiek. ‘n Voorbeeld was byvoorbeeld toe die DA in die Vrystaat vuur gespoeg het oor die pogings van ‘n paar Vrystaatse munisipaliteite om voortydig grondbelasting op landbougrond te probeer hef, terwyl die DA-raad van Cullinan (Nokeng) dit self geïmplementeer het en dié onregmatige heffings nou blykbaar terugbetaal moet word.

Dit was egter die lengte van die soustrein wat soms verstom het. ‘n Vorige uitvoerende burgemeester van Mangaung (Bloemfontein en omstreke) staan nou tereg op aanklagte van onder meer rampokkery en korrupsie. Dit is egter die titels van sommige van sy mede-aangeklaagdes wat die oë laat rek – mense soos politieke adviseurs. Kritici op die stelsel wys onder meer daarop dat dit hom tot nepotisme en korrupsie met tenders leen. In die Mangaung-geval word die burgemeester se vrou se spysenieringsonderneming juis geïmpliseer.

Nog ‘n verstommende verskynsel is dat ‘n bitter klein munisipaliteit in die Karoo, met bykans geen inkomste nie, se burgemeester, raadslede en topamptenare die een ekskursie na die ander oorsee wou onderneem en dan uiters suur raak omdat belastingbetalersverenigings dan dispute verklaar en aandring dat die geld vir iets soos dienste aangewend moet word. Met riool wat die strate afloop is die aankoop van ‘n peperduur burgemeesterskar hoër op die agenda. Dis juis hierdie vuurwaens wat al die oë laat rek het – motors met ingeboude drankkabinette, en in die geval van Rustenburg, selfs ‘n satelliet-navigasiestelsel sodat, soos dit verduidelik is, die burgemeester nie dalk verdwaal as hy sy gemeenskap besoek nie. Een van die swakste Vrystaatse munisipaliteite het in ‘n stadium koeëlvaste motors op bestelling gehad, en dan tog die brandweer ingespan om die burgemeester se dogter van die skool na die huis te neem. ‘n Raadslid is uit die Raad gejaag weens sy taalgebruik toe hy opgemerk het dat ‘n burgemeesterskar wat afgeskryf is, net so gou in  daardie toestand kon verval het as iemand dit deur sy agterent getrek het.

‘n Suid-Kaapse munisipaliteit het onder DA-beheer vir die onderburgemeester ‘n ampsmotor gehuur en voortgegaan om ‘n vervoertoelaag te betaal.

Die vraag is egter of daar nie op ander regeringsvlakke ook groot besparings moontlik is nie. Is pres. Zuma se vergrote Kabinet nie buitensporig nie? Is dit werklik nodig dat die kleiner provinsies se Uitvoerende rade uit ‘n premier en tien lede moet bestaan, terwyl die provinsiale departmentshoofde in elk geval veronderstel is om kundiges te wees?

Is dit werklik nodig dat Suid-Afrika naas die Menseregtekommissie ook ‘n Kommissie vir geslagsgelykheid moet hê? Is vroueregte dan nie menseregte nie? Het die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van Taal-, Godsdiens- en Kultuurregte in sy huidige gedaante en wetlike beperkings hoegenaamd nodig, en hoekom is Pansat deesdae so stil te midde van ooglopende vergrype teen taalregte by skole?

Die lakmoestoets bly egter: geskikte mense moet in ampte dien en in poste dien, anders gaan die gemors net so groot bly, maar darem teen ‘n laer tarief.

куклі барбиtopcargo отзывы сотрудников

Gaan Angus Buchan dié keer die groot sê spreek?

Tot dusver was die bekende aartappelboer – evangelis, Angus Buchan, versigtig om politiek te betrek by sy saamtrekke en in sy uitsprake.

Die gevolg was dat mense wat verskillende partye aanhang, saam by sy saamtrekke was en meegevoer is. Onder die “magtige manne” het verlede jaar onder meer die Springbokafrigter, Peter de Villiers, getel wat openlik verklaar het dat hy vir die ANC sou stem.

Nou verwag Buchan 400 000 mense by sy saamtrek, sowat ‘n 100 000 meer as die buitelandse besoekers wat die regering by Suid-Afrika se sokkerskouspel later vanjaar verwag. En die tema is Watchmen of the house. Buchan het aan Volksblad gesê dit beteken dat die man sy verantwoordelikhede in verskillende lewensfere moet opneem: die huis, die werk, die parlement…”

Dit sal interessant wees om te sien hoe Buchan dié keer neutraal of onverbonde uit politieke kantkiesery gaan tree, as hy na mans (en seker vroue ook) se Christelike verantwoordelikheid in die parlement (en seker ander regeerinstellings) gaan verwys.

In eenvoudige Afrikaans gestel: Kom ‘n Christen sy / haar plig na deur vir ‘n party te stem wat hom daarvoor beywer om aborsies op aanvraag te wettig, wat ernstig besin oor die wettiging van prostitusie, ‘n staatslotery bedryf…?

Dis juis die frustrasie waarmee partye in die Christen-demokratiese en Christen-Volkseie dampkring die afgelope dekade en ‘n half spook. Presies dieselfde mense wat Sondae in die kerk bely hierdie goed is (volgens hul kerkgenootskappe se formele standpunte) verkeerd, stem nie net vir partye wat die teenoorgestelde standpunte hieroor inneem nie, maar werk openlik vir daardie partye, staan as kandidate en dien as raadslede, parlementslede en vele meer.

‘n Skisofrenie van oortuigings dan?

Dikwels kom “die kerk” as instelling hieroor onder skoot, maar die persoon wat die belangrike amp van lidmaat opneem, word nie hieroor onder die vergrootglas geplaas nie. Sy vertwoordelikhede / standpunte word as’t ware na die dominee “gedelegeer” (soos die ouer sy opvoedingstaak na die skool “delegeer”), en solank die dominee / kerk oor hierdie diskrepansie swyg, so lank is my gewete skoon.

Of is daar so ‘n volledige skeiding van kerk en staat dat dié skisofrenie van oortuigings moontlik is?

Net soos iemand kan verklaar hy is ‘n Christen en selfs die titel van ere-pastoor van ‘n kerk dra, maar dan volgens sy kulturele tradisie veelwywery beoefen terwyl die Christen-Bybel, en in die besonder die Nuwe Testament, sê een man mag net een vrou hê?

Vanuit die liberale humanisme kom twee basiese verwere. Die eerste doodgewoon dat die godsdiensoortuigings vir die kerk gereserveer is, en politieke oortuigings vir die staat. Presies waar sake soos skoolbeheerliggame, sportorganisasies, kultuurorganisasies en ander inpas, is nie duidelik nie, of is die mens werklik in staat om ‘n dikwels teenstrydige beleid vir elke geleentheid op te dis?

Die tweede argument is dat die Bybel hom teen die oordeel en veroordeling uitspreek. Die kerk se mond is dan gesnoer as ek as landsburger ‘n prostituut besoek, buite die huwelik saamwoon of die Lotto speel. Want die Christen mag my nie oordeel nie. (Lees maar die tekste in hul volle konteks en kom praat dan weer).

Omtrent soos in die dae toe ons in die kerk darem bitter teen dans was, en Volkspele net-net die valbyl misgeloop het omdat dit “gespeel” en nie “gedans” word nie, maar by die dorp se Nuwejaarsdans is ons voor in die koor met ons passies. (Danksy twee linkervoete is ek hier onskuldig).

Of gaan die “Magtige manne”, Snorreman inkluis, dié keer hoor hul verantwoordelikheid as Christen teenoor die parlement, die provinsiale wetgewers, die munisipale rade sluit in dat hulle hul stemreg uitbring vir partye wat God, en nie die grondwet nie, as hoogste gesag stel en wat wetgewing voorstaan wat versoenbaar is met dit waaroor die Bybel duidelik is?

Of gaan die partye op die Christen-spektrum weer eens sien hoe só ‘n openlike verbintenis deur meesterlike wysgerigheid standpuntloos gelaat word? (Buchan is nie al wat hieroor swyg, of as hy hom dan sou uitlaat, dit nie die media haal nie).

Buchan doen volgens baie aanduidings groot werk om die sedeloosheid wat in die land posgevat het, om te keer. Daar is ‘n ongelooflike groot braakveld buite die politiek, en ‘n mens sou graag wou sien dat hierdie aksies maksimale stukrag kry – iets wat politieke kontaminasie kan inhibeer.

Maar as die geestelike leiers van statuur swyg oor die voorbeeld wat regeringsleiers, politieke partye en ander meningsvormers stel, wie moet dit dan doen? Terwyl ‘n regeringsleier homself ‘n Christen noem maar lynreg teen die Bybel optree, kry hy ‘n witbroodjie-spreekbeurt by sekere kerke, wat ander politieke leiers nie gegun word nie. Emiretus-Biskoppe swyg dawerend op ‘n streep. Die publiek word verwar.

Buchan hét die potensiaal om dit uit te wys, en hy sal die eerste wees wat sal erken dat hy self tot niks in staat is sonder dat hy krag van die Here ontvang om as instrument van die Here op te tree nie.

Die vis vrot van sy kop af. Is dit werklik die Here se wil dat Sy priesters en profete van die heuweltoppe af in al elf amptelike tale dawerend moet swyg, en in plaas van die ramshorings te blaas ‘n groot geraas met fufuzelas moet maak vir ‘n sokkerskouspel waar rituele slagtings ter ere van voorvadergeeste beplan word?

Gaan net ‘n Gideonsbende oorbly as Suid-Afrika se 75 % Christenbevolking die dag werklik voor keuses gestel word van betreklik suiwer Christelike waardes, en beddens op bakstene, voorvadergeeste wat oral “gevang” en in kartonbokse van nasionale monumente aangery word om met staatsfunksies weer vrygelaat word?

Of is ‘n “halwe Christen” darem beter as iemand wat volledig animisties leef, die bewese ongewenste newe-effekte van kultuur in transito ten spyte. Of kan ‘n halwe Christen maar lou ook wees?

Of gaan ek weer deur oom Sakkie van die Nuwe Hervormersfaam op sy webwerf die kop gewas word as die produk van Kovsies se wysbegeerte van ‘n paar geslagte gelede (waaraan ek net onregstreeks via Staatsleer en Privaatreg blootgestel is en in elk geval nie mee saamgestem het nie tot my dosente se ontsteltenis), of gaan ‘n liberalis weer ‘n brief in ‘n koerantbylaag plaas om my te kapittel oor ek so oordeel?

Of streef ek maar net na ‘n land waar morele waardes so sterk gesetel is dat misdaad daardeur gesmeer word?

Oom Angus. Wat lê die Here in jou hart? Of delegeer ons maar weer dat die klippe die uitroepwerk begin doen? Tot dusver was oom nie juis beskeie dat almal moet hou van wat oom sê nie, soos laas toe oom gesê het as oom tydens die ABO geleef het, sou oom aan die kant van die Boere geveg het.

сапфировая брекет системаалександр лобановский харьков

Wie weet niks?

Iets wat van tyd tot tyd op die tafel beland, is die ouer geslag se kommer oor die jonger geslag se ontstellende gebrek aan algemene kennis.

Ironies, spreek die jongelinge gereeld die mening uit dat die “ou mense weet niks.”

Toegegee, die dae dat bykans enige standerd 4-kind so uit die vuis die wêreld se hoofstede kan oprits, asook die meeste lande se leiers, is seker goed verby. Wie van ons, oud of jonk, weet so uit die vuis wie Lesotho en Nederland se Eerste Ministers is – in skrille kontras met die dae toe almal van Leabua Jonathan, Joop den Uyl, Olaf Palme, Mao Zedong, Tsjou en Lai (nee, dis nie Sjinees vir ontbyt in die kooi nie) geweet het?

Dit daargelaat. Vanoggend raak George Claassen in By egter aan ‘n verwante saak – die jong mense wat nie meer geleer word om te dink nie, met die gevolglike swak prestasies, wat skool-akademiese prestasies insluit.

Gedagtig aan sy onlangse uitsprake rondom gosdiensbeoefening op skool, was die uwe in die versoeking om by voorbaat die naam van sy rubriek, Kwakoskoop, verkeerd te spel (jôrs troelie het darem redelike erge disleksie waaragter geskuil kan word).

Na die lees van die rubriek, is daar egter soveel waarmee saamgestem moet word, dat dit bloot by versoeking bly.

Die vermoede dat George met sy verwysings na “bygeloof” eintlik ook die term “geloof” insluit, bly ‘n remmende uitwerking uitoefen.

Maar kom ons fokus vir ‘n oomblik op die saamstembare. Ten eerste, vanoggend se Volksblad se mashoof, Volksblad, word amper net so groot gevolg met “Sandra terug by Egoli.”

Dan móét eenvoudig met George saamgestem word. Ons mense onderbenut ons beskikbare breinbedrading erg, ons dink nie, want ons het nie genoeg feitelike agtergrond om teen te dink nie.

Daar is natuurlik mense met indrukwekkende algemene kennisse, en mense wat oor die vermoë beskik om hierdie kennis toe te pas, of sinvol te ontleed. Die gevaar kom is as ‘n mens begin ontleed sonder die mees basiese kennis.

As vertrekpunt. Hoeveel van die mense wat nou in die huidige debat so hul monde teen die volkstaatgedagte uitspoel, het werklik enige kennis hieroor om hul menings te kan uitspreek?

Dr. Pieter Mulder, in reaksie op ‘n vroeëre rubriek van Ferdi Greyling, wys opnuut daarop dat hierdie gedagte, saamgelees met volkeselfbeskikkingsreg, deur die moderne volkereg gerugsteun word. Iemand wat vanuit ‘n skynbaar akademiese hoek na die gedagte as verkramp en outyds verwys, se kennis laat hom doodeenvoudig in die steek.

Greyling het ‘n verbluffende algemene kennis, maar tog moes Mulder hom daarop wys dat groepregte, soos die volkereg dit erken, nie soos Greyling gemeen het, oor ras handel nie.

Pieter du Toit, wat waagmoedig sy mond oor die lesers se volkstaatkeuse uitgespoel het, was reeds verskeie kere op Orania, maar het hy enige van die Volkstaatsraad se verslae gelees sodat hy genoeg rugsteun gehad het om hom uit te spreek?

Die mens reageer ongelukkig op sy persepsie van die werklikheid in plaas van die werklikheid. Hoe skraler sy kennis, hoe verder verwyder is sy optrede van paslik.

Die regering probeer hard om Suid-Afrika as ‘n integrale deel van die kontinent, en in pas met gebruike en sienings eie aan die kontinent te bring. Toe die Togolese span in Cabinda aangeval word, en CNN die verband na Suid-Afrika se aanbieding van die Wêreldsokkerbeker trek, laat die regering en sokkerbase geen gras groei om ‘n nuwe persepsie van groot afstand en min in gemeen nie te skep.

Ongelukkig is George ook reg dat daar meer boeke oor sterrewiggelary as sterrekunde verkoop word. Tot onlangs is ‘n radio-advertensie wat onder meer sterrewiggelary bemark, Sondagaande in die godsdiensprogram (deesdae mos meditasie) uitgesaai. Boonop nog ‘n uiters irriterende een ook.

Koerante staan oor die algemeen meer ruimte af aan wat die “sterre” doen (bedoelende akteurs, sangers, vermaaklikheidsmense) as wetenskaplike navorsing, “groen” sake en wat in Wes-Europa (uitgesonderd Londen) gebeur. Teen vanoggend het Volksblad, so ver ek kon sien, nog niks oor die huidige volkstaatdebat gedra nie.

Daar is positiewe sake ook. RSG se Sterre en Planete is besonder gewild, en Sondagaande se “Kommentaar” blykbaar ook.

George moet egter waak daarteen om ooit te meen hy kom by die punt waar hy selfvoldaan die oordeel kan uitspreek: “Ek weet.” Want juis in die wetenskap is vandag se kennis môre dikwels op die ashoop. Dit ontwikkel baie vinnig.

By geleentheid van internasionale outismedag reik ek ‘n nuusverklaring oor hierdie toestand uit. Gewoonlik doen ek dit namens ‘n outismevereniging (gratis omdat my jongste self outisties is), maar dié dag toevallig namens ‘n Christen-demokratiese party. Sommer gou kry ek ‘n uittrap e-pos van een van George se dissipels, die wetenskapverslaggewer van ‘n groot Afrikaanse koerant. My vermoede is die verslaggewer se argwaan is ontlok oor die “Christen” in die naam van die instansie namens wie ek dit uitgereik het. Maar sy trap my van ‘n kant af uit oor “ek” sê outisme neem toe, en sy spreek haar baie breed oor die oorsake uit.

Soos die Namakwalandse spreekwoord lui: “As ‘n donkie sy bek oopmaak, val daar kaf uit.”

Presies hoeveel kaf tref dit my nou weer terwyl ek besig is om ‘n referaat vir ‘n internasionale outismekongres voor te berei.

Die feite is dat daar in 1991 ongeveer 6 outismegeboortes per 10 000 geboortes was, in 1998 was dit 12, in 2001 42 en staan nou in die orde van ‘n 100, met nog geen teken van afplatting nie. Die mees moderne navorsing herlei outisme steeds, soos destyds in die mediaverklaring, na genetiese mutasies, en die aantal gene waarmee dit in verband gebring word, word al hoe meer.

Gewoonlik word joernaliste eers die geleentheid tot rubriekskrywing gebied wanneer hulle bietjie lewenservaring en kennis het. En dan is dit ook nie almal wat die geleentheid kry nie.

Ek was dus bietjie meer as geamuseerd toe dieselfde wetenskapverslaggewer se Engels haar kort hierna in die steek laat en sy gaan skryf oor die voorwerp so groot soos die aarde wat op Jupiter gaan val het. Net so ‘n bietjie luister na Sterre en Planete sou reeds genoeg agtergrond verskaf het dat so iets hoogs onwaarskynlik sou wees. Die opslaan van die Engelse teks bring toe ook aan die lig dat dit ‘n voorwerp was wat ‘n tydelike letsel (Jupiter is ‘n gasplaneet) so groot soos die aarde gemaak het. Gaan gooi maar ‘n klippie in ‘n dam en kyk hoe groot is die “letsel” na ‘n ruk.

Gewoonlik doen verslaggewers verslag oor wat werklik gebeur het, en filosofeer nie rondom die onderwerp teen ‘n spektrum van gebrekkige kennis nie. Dit geld ook uitsprake oor die volkstaat en selfbeskikking, wat die produk van vakgebiede in eie reg (my eie kwalifikasies tussen hakies) soos die Politieke Wetenskap (Honneurs, 1977), Politieke Geografie (3, 1976), Politieke Sosiologie, Ekonomie (116, 1984) en Staatsreg (1, 1994) insluit, met die verstandhouding dat die Volkereg en Internasionale Reg via Politieke Wetenskap (Internasionale Verhoudings), Politieke Geografie en Staatsreg behoorlik inslag vind.

Presies hoeveel navorsingstukke teen die beginsel van outonomie en selfbeskikking het die monduitspoellers aan die Staatkundige Komitee van die Presidentsraad, aan Kodesa en die Volkstaatraad gelewer wat hulle so kenners maak? Ek het talle, in eie naam, maar ook namens DG’s, ‘n adjunk-minister en ‘n administrateur gedoen. Dit maak my lank nie die grootste kenner op die gebied nie, maar darem stellig ietwat beter ingelig as sommige van die “kenners” by wie die media toustaan om bydraes te kry.

As iemand wat in strategiese kommunikasie opgelei is, wil dit amper voorkom asof daar in iemand se kop die gedagte uitgebroei is dat die tyd nou ryp is om die volkstaatgedagte finaal dood te slaan.

En toe boemerang dit.

Ja George, voorlopig gaan ek jou rubriek, Kwakoskoop, nie anders spel nie. Maar spreek ook die kwakke onder jou eie dissipels aan.

play free online games without downloading nowАлександр Фильчаков

Gaan na die Armeniërs en word wys

In April vanjaar herdenk Armeniërs wêreldwyd ‘n gebeurtenis in hul antieke geskiedenis, wat ten nouste met die Christendom verweef is. Dit sal dan presies 95 jaar wees sedert meer as ‘n miljoen Armeniërs in een van die ergste volksmoorde aan die hand van Turkye omgekom het.

Wat die afgelope paar jaar se herdenkings meer opvallend maak as wat tevore die geval was is dat dit nou vir Turkye as verleentheid opduik in sy pogings om lid van die Europese Unie te word. Dit, terwyl Turkye die volksmoord amptelik ontken.

Die talle Armeniërs in diaspora het egter nié vergeet nie, en het met volgehoue pogings daarin geslaag om hierdie gebeurtenis uit die vergetelheid te herroep, en wêreldwyd ondersteuners verwerf, wat ook lustig per e-pos en op ander maniere meedoen om ‘n gebeurtenis waarvan die mensdom wou vergeet, lewend te hou.

Van vergeet en vergifnis is geen sprake nie, veral omdat Turkye steeds ontken dat dit ooit plaasgevind het. So volledig is die Armeense bevolking verdelg en verdryf uit hul oorspronklike kerngebiede, dat ensiklopedieë oor die algemeen nie eens verwys na Armeens as ‘n minderheidstaal in Turkye nie.

‘n Armeense staat het wel weer verrys met die ontbinding van die Soviet-Unie. Hierdie staatjie, vasgeknyp tussen Georgië, Turkye, Iran, Azerbadjan en die Russiese Federasie is ‘n arm en klein oorblyfsel van ‘n eens magtige staat wat lank voor die Oos-Romeinse Ryk (Bisantium) as bolwerk teen Moslem-indringing uit die Ooste gedien het. Afgesien van die Georgiërs (wat deur die Armeniërs gekersten is), is al die omringende lande Moslemstate, en veral Azerbadjan is Armenië besonder vyandiggesing. Die Tsjetsniese Republiek binne die Russiese Federasie grens boonop ook aan Armenië.

Die berg Ararat in dié landjie is moontlik meer bekend as die land self, en is vir baie van die toeriste verantwoordelik.

Kort na onafhanklikheidswording is die herrysende staat boonop deur ‘n verwoestende aarbewing geref, en sowat 30 000 mense het gesterf.

Afgesien van die ou Armeense koninkryk het ‘n tweede Armeense staat in vervloë dae tot stand gekom. Hierdie staat is gestig na ‘n lang trek deur ‘n prins en sy volgelinge, en die staat is aan die Middellandse See, ook binne die grense van die teenswoordige Turkye, gestig. Hierdie staat, wat dikwels op ou kaarte as die Kruisvaarder-koninkryk van Armenië aangedui word, het veral met Frankryk noue bande gehad. Toe dié staat verdwyn het, het baie van hierdie inwoners hul weg na Libanon gevind, en die Christenbevolking daar nie net in getalle versterk nie, maar ook met hul hoë opvoedingspeil gehelp om ‘n hoogs-ontwikkelde staat, wat eens as die Switserland van die Midde-Ooste genoem is, te vorm.

In Libanon het ‘n groepie met van die radikale Palestynse groepe deurmekaar geraak, en is die organisasie, Armenian Secret Army for the Liberation of Armenia, Asala, gevorm. Asala het die wêreld in die laat 70ger en vroeg 80ger jare deeglik van die Armeense lot aan die hand van die Turke laat kennis neem deur verskeie Turkse teikens soos ambassades en lugdiensbelange aan te val.

Hierna was die veldtog om erkenning en herstel vreedsaam.

Onlangs het ‘n bekende Turkse geskiedskrywer vir die eerste keer erken dat die volksmoord plaasgevind het. Dit word as belangrike deurbraak beskou, maar nie alle Turke is hiermee ingenome nie.

Die sand loop egter uit vir Turkye. Die gebeurtenis verkry internasionaal al hoe meer aansien, en in Nederland het die Tweede Kamer, op inisiatief van die ChristenUnie, die volksmoord amptelik erken. Turkye het al óm die gebeurtenis aan die voorvereistes vir deelwording van die EU begin voldoen. Die doodstraf is byvoorbeeld afgeskaf, wat beteken het dat Koerdiese opstandelinge nie meer die doodstraf opgelê kon word nie. Belangriker egter, het Turkye die amptelike onderdrukking van ander inheemse tale, byvoorbeeld juis Koerdies, opgehef. Vir die paar oorblywende Armeniërs – wat meesal ter wille van hul lewens verturks en Moslems geword het, bied dit egter min troos juis omdat hulle amptelik nie bestaan nie.

Indien Turkye meen die Armeense kwessie sal weggaan, misgis die land hom heeltemal. In Nederland en ander Wes-Europese lande kry die bewing om die ontkenning van volksmoorde ‘n strafbare misdryf te maak algaande momentum. Anders as wat ‘n mens sou verwag, handel dit nie soseer oor die uitwissing van Jode nie, aangesien dit, miskien met die uitsondering van die Iranse president na, nêrens amptelik geglo word nie. Met die Armeense volksmoord is dit anders. In Nederland moes verkose parlementslede van Turkse afkoms al van die opneem van hul setels afsien omdat hulle vas glo dat die volksmoord nooit plaasgevind het nie.

In die VSA is ‘n sterk Armeense lobby wat die Wit Huis sal herinner, deeglik herinner wanneer die 100-jarige herdenking oor vyf jaar aanbreek, of wanneer Amerika met te sagte hande teenoor die Turke begin optree. Verder woed ‘n inligtingsoorlog op die internet. Aan die een kant Armeniërs en simpatiseerders wat die stryd baie lewend hou, en aan die ander kant die Turke met teen-propaganda en verwysings na die “sogenaamde” volksmoord.

Turkye moet kennis neem – dwars oor die wêreld is daar mense met ‘n sagte plekkie vir minderhede, veral as hulle onderdruk word. Sulke minderhede het verbasende oorlewingsdrange, soos die groep Assiriese Christene wat hulle in Australië bevind, en noue bande met die Christen-Demokratiese Party aldaar handhaaf.

Dwars oor die wêreld is geskiedenisboeke taamlik rof met die Amerikaners oor hul hantering van die Rooihuid-kwessie, en word oor die algemeen ‘n beeld geskep van klein groepies mense wat in erbarmlike omstandighede in reservate krepeer.

Hoe om die Afrikaner se beeld in die buiteland ten beste te bemark kan moontlik ook een van hierdie volk se belangrikste voortbestaansmiddele wees. Daar kan nie maar agteroorgesit word en gereken word op die wêreld se heroïese herinneringe aan die Anglo-Boere-oorlog nie, en daar kan nie op gereken word dat Julius Malema en ander hier deurlopend en genoegsaam begrip vir Afrikaneronwilligheid om te assimileer sal skep nie.

Gaan na die Armeniërs en word wys.

 

платье для девочкиАлександр Фильчаков Васильевич

Eie norme, en basta met die wêreld

Te midde van ‘n resessie is Suid-Afrikaners deur verskeie vorme van belasting ingebind by die grootste sportskouspel wat die land waarskynlik in ‘n geruime tyd sal aanbied.

Die 2010- Fifa-wêreldbeker-eindtoernooi is veel, veel groter as die rugby- en krieketbekertoernooie saam wat Suid-Afrika reeds aangebied het. Dit beteken ook dat die w êreld se oë soos selde op Suid-Afrika gevestig sal wees. Die Suid-Afrikaanse regering verwag van honderde duisende mense om groot geld hier te kom spandeer, en baie van die voornemende besoekers verwag van Suid-Afrika om hulle in ‘n omgewing met aanvaarbare norme te ontvang. Die feit dat Suid-Afrika onlangs die status van die wêreld se moordhoofsetel by sy reeds verworwe status as verkragtinghoofsetel gevoeg het, tel nie onder die verwagtinge nie.

Groot beplanning word gedoen en talle maatreëls word getref. Of dit genoegsaam is om ‘n verrotte kultuur om te keer, is iets wat nog gesien moet word.

Die rissiepit, Rhoda Kadalie, klim egter onder die ANC in weens die skynbare sorgeloosheid waarmee die regering homself na die buiteland projekteer. In die mees onlangse Brandpunt in Media 24 skryf sy onder meer: “Nie pligsversuim, kleptomanie, internasionale verleentheid of menseslagting is ‘n diskwalifikasie vir ‘n staatsbegrafnis nie.”

In Volksblad se hoofartikel daarnaas vanoggend word in soortgelyke terme oor die Shaik-verleentheid berig. In hierdie geval lê hef aan met verleenthede skynbaar nog voor as die CDA reg is dat die ligte vingerraps wat Shaik weens parooloortredings gekry het, bloot ‘n voorspel tot volkome kwytskelding is. Die groot verleentheid is, volgens die CDA, daarin geleë dat Shaik se kwytskelding sal kom van dieselfde man wat volgens die hofuitspraak, in ‘n algemeen korrupte verhouding met hom betrokke was – pres. Jacob Zuma self. Die vraag word selfs gevra of so iets grondwetlik kan wees.

Baie gereeld word dié tipe vreemde optredes as deel van Afrikaan wees verduidelik. Die sogenaamde Afrika-kultuur, so lui die argument, regverdig die verleenthede, en basta met die res van die wêreld waar glo ander norme sou geld.

Volkekundiges, of te wel meer polities korrek, kulturele antropoloë, wys egter daarop dat dit wat as Afrikanisties opgedis word, karikature is van werklike tradisies en eerder dui op ‘n kultuur in transito waar die verswakte norme genoeg elemente van kulturele verval en selfs anti-kultuur oplewer.

Kadali neem bloot kortpad, en maak die eenvoudige stelling dat die ANC die kuns vervolmaak het van die goddelike reg om te regeer.

Of soos iemand anders dit gestel het: “Die ANC het nie korrupsie uitgedink nie, net vervolmaak.”  Te veel eietydse Mandaryne word deur die opposisie en media met hul lang vingers in die koekieblik uitgevang en straffeloos toegelaat om soos konings te leef om ‘n skeptiese publiek anders te oortuig.

Tog, al word nuwe norme geskep wat vir die res van die wêreld onaanvaarbaar of minstens onaptytlik is, en al word dit skaamteloos onder die Weste se neuse gevryf, word daar nie geskroom om bakhand af te sit Kopenhagen toe en dikbek met net ‘n half vol beursie terug te keer nie. Trouens, dit was bietjie meer as net bakhand – ‘n bietjie van as ons nie genoeg aalmoese kry nie sal ons voortgaan om die planeet te besoedel.

Trouens, Suid-Afrika behoort van beter te weet as om hom kolletief bakhand by Afrika as geheel te voeg. Suid-Afrika is terdeë bewus daarvan dat die buitewêreld, en in besonder die Europese Unie, sekere Afrikalande as korrupte of disfunksionele state geklassifiseer het en dat hulpfondse nie na daardie lande, soos Zimbabwe, se staatskas gekanaliseer word nie, maar na nie-regeringsorganisasies. En al pas Suid-Afrika sogenaamde Afrikanorme op lande soos Zimbabwe toe, die skenkerlande doen dit nie.

ручной пневмоинструментФильчаков Александр Васильевич

Fisiologie van versoening wat faal

Vroeg vanoggend, toe Pumba my vir ‘n wandeling neem, sit hulle ingeryg daar… die werksoekers wat in ‘n lang tou sit by Langenhovenpark se informele indiensnemingsburo.

Dis Versoeningsdag, maar belangriker vir die werksoekers, Geloftedag in een van die mees Afrikaanse woonbuurte in die land. Dit ruk aan my – hordes mense wat ‘n geldjie wat hulle nie het nie opdok aan taxigeld met die hoop om ‘n paar rand te verdien. Omdat dit Versoeningsdag is, loop die staatsgesubsidieerde busse nie. Vanaand, na ‘n dag in die son sonder krane en toilette, moet hulle weer op ‘n manier by hul huise in Botshabelo en ThabaNchu kom…

Hulle – of ten minste die oorgrote meerderheid van hulle – verstaan nie dat hulle die geld wat hulle nie het nie gemors het. Ander vakansiedae is mense immers tuis en baie spring in hul tuine in. Dan kry baie werk.

Wat is vandag anders?

Vroegoggend is die radio op die SABC se aktualiteitsprogram aan. Dis Versoeningsdag voor, en Versoeningsdag agter.

Die gemeenskappe leef by mekaar verby, kennis van mekaar verdwyn, meningspeiling na meningspeiling dui daarop dat die meeste mense meen rasseverhoudinge gaan die kreeftegang.

Tot ongeveer 1988 het Suid-Afrika ‘n amptelike Verhoudingsaksie gehad. Dié aksie was hopeloos te laag gegradeer (die hoogste rang waarvoor voorsiening gemaak is was Assistent-direkteur) en met hopeloos te min personeel om ‘n beduidende indruk te maak. Om die probleem van te min mense te oorkom is hoofsaaklik gefokus op die klein groep dinamika en is hordes Verhoudingskomitees landswyd in die lewe geroep.

Sonder om in te veel detail is te gaan – die stelsel het in ‘n stramheid vasgeval met baie lede wat nie werklik verstaan het wat die funksie van die komitees, of die aksie self nie. Stelsels soos die klein groep stelsels het ‘n sikliese neiging, en daarom is daar tye waar omtrent alle energie in die instandhouding van die stelsel ingaan, en daar in wese geen uitset is nie.

Die regering se destydse desentralisasieaksie het in wese die doodsklok vir die aksie ingelui. ‘n Handjievol relatief junior amptenare het in provinsiale administrasies beland wat die aksie nie altyd goedgesind was nie, soms vyandiggesind, geen begrip van die aksie gehad het nie, dit onderskat het weens die lae gradering, of soos in die geval van die NPA botweg geweier het om die aksie te implementeer.

‘n Interessante waarneming was egter hoe verskillende mense die saak verskillend beskou het. Die TPA het sterk stem gemaak dat “alles sal regkom” as die sosio-ekonomiese gaping tussen wit en swart verdwyn het. Die Kaapprovinsie het hul stelsel van Verhoudingskomitees ten alle koste in stand gehou, en dié komitees het dikwels op infrastrukturele knelpunte gefokus en oorhoofs die standpunt ingeneem dat “alles sal regkom” as apartheid verwyder is.

In die Vrystaat is op ‘n holistiese benadering geskoei op nie-paternalistiese horisontale kommunikasie gefokus. Pretdrawwe, kultuurkonserte en vele projekte is uitgevoer met die fokus op respek vir die mooie in mekaar se kulture.

Met die voordeel van terugskoue kan maklik fout gevind word.

Die FW de Klerk-bewind het ‘n ondersoek waarmee die Maatskaplike Komitee van die Presidentsraad besig was, opgeskort. (Dit help nie om te probeer uitvind hoekom, juis op daardie kritieke tydstip nie – ek het probeer uitvind en het net ‘n skrobbering op die lyf geloop).

Weer eens, met die voordeel van terugskoue, wil dit voorkom asof nog ‘n enkel-dimensionele benadering “oorgeneem” het: Die geloof dat alles met ‘n behoorlike staatkundige model opgelos sal word. Iets wat herinner aan Kwame Nkruma se stelling, met Ghana se onafhanklikheidsaanvaarding: “Ontvang hiermee jul politieke vryheid en alles sal vir julle daarby toegevoeg word.”

‘n Opmerking jare gelede van ‘n skoolseun by die KJA het konstant by my opgekom: “Skaf net apartheid af, dan kom alles reg.” Hy het uiteindelik ‘n aktivistiese predikant van die VGK geword – op die voorpunt van die regstryd teen die NG Kerk in Afrika.

Kort hierna is die Verhoudingsaksie afgeskaf, en ‘n ruk hierna, in totale onafhanklikheid daarvan en sonder om ‘n greintjie kundigheid oor te neem, het die stelsel van Vredeskomitees beslag gekry.

Net ‘n tussenwerpsel: Die Verhoudingsaksie in die Vrystaat het nie politieke standpunt ingeneem nie, en die standpunt gehuldig dat die uiteindelike grondwetlike model die “spontane” produk van ‘n omgewing sal wees waar mense mekaar vertrou – ongeag of dit ‘n konfederale, konsosiatiewe, eenheids- of welke model ook al oplewer. Hierdie standpunt het ook nie in die lug gehang nie. Die destydse president van die RGN, dr. Tjaart van der Walt, het dit immers onverbeterlik gestel met woorde tot die effek dat geen staatkundige model, nie eens die beste grondwet in die wêreld, sal werk as die mense mekaar nie verstaan en vertrou nie.

In kort, die grondwet is die gevolg van versoening, nie die meganisme tot versoening nie.

Selfs wanneer dit op interstaatlikheid uitloop, bly goeie verhoudinge belangrik. Dit klink vreemd om dié les by die man van bloed en yster, Otto von Bismarck te leer. Bismarck se filosofie was om die vyand na ‘n oorlog nie met die vredesoperasies te verneder nie, om so ‘n meer blywende kans op Vrede te verseker. In latere jare het die keiser sy ore aan ander adviseurs uitgeleen, en is die Franse in die grond verneder deur die keiser in die troonsaal van Versailes te kroon. Hierna, by die geringste, het die Franse en hul bondgenote oorlog teen Duitsland gevoer en is Duitsland waarskynlik vir altyd die Elsas en Lotharinge kwyt.

Om die fisiologie van versoening te verstaan, is dit handig om die proses in die vorm van ‘n behaviourialistiese stelselmodel te verduidelik. In kort behels dit om die doelwit, om versoening te bereik, by die input in te voer, en dit deur verskeie prosesse te neem wat uiteindelik ‘n uitset lewer. Die lys faktore in die model genoem is nie noodwendig volledig nie, dit word bloot as voorbeeld gebruik.

Geloof:

In hierdie model word die aardse neerslag, naamlik godsdiens bedoel. Voorbeelde van godsdiensspanning is wêreldwyd maklik te vinde. Die verdeling van Brits-Indië tussen die Moslem Pakistan, Hindoe Indië en vir alle praktiese doeleindes, Boeddhistiese Sri Lanka is voor die hand liggend. Die Noord-Ierse voorbeeld word teensinnig genoem, omdat ander faktore hier meer bepalend was. Rusland het onlangs weer ‘n groot terreuraanval op ‘n trein beleef weens die optrede van Moslem-terroriste.

In Suid-Afrika word graag opgegee oor hoe ‘n verre oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners hulsel as Christene beskou. Tog is sake teologies baie uiteenlopend, soos die voorneme om rituale beesslagtings by die 2010-sokkerstadions te doen. Vir baie Christene, wat glo Jesus het aan die kruis die finale offer gebring, is dit ‘n gruwel.

Juridiese:

Hoewel, in beginsel, die grondwetlike model die uiteinde van ‘n versoengsproses moet wees, kan swakhede in die bestaande grondwetlike model ook verhoudinge versuur. ETA se terreur teen Spanje het nie volkome opgedroog na die Baskiese provinsies ‘n redelike vlak van outonomie gekry het nie.

In Suid-Afrika is die lomp grondwetlike beskrywing en die nog lomper wyse waarop die kwessie van regstellende aksie hanteer word, stellig een van die grootste faktore wat versoening in die land beduiwel.

Taal:

Milnerisme het ‘n historiese wond op die Afrikaner se gemoed gelaat. Wêreldwyd het taaldiskriminasie ernstige gevolge. Franco en die Turkse regering het eerder probleme geskep as opgelos deur ‘n verbod op onderskeidelik Baskies en Koerdies geplaas.

Etiek en moraliteit:

Indien eerlikheid in die proses ontbreek, gaan die proses nêrens heen nie. Met die amptelike versoeningsproses by Kovsies word uiters akademiese woorde gebruik, reuse teorieë voorgehou … wat in die lug hang en op sand gebou word. Etiek en moraliteit kan nie los van die ander elemente staan nie, en is ironies juis oneerlik as die uiteinde eers bepaal word, naamlik integrasie (hul woord) en die metodiek dan enkeldimensioneel ontwerp word om daarby uit te kom.

Kultuur:

Baie van die kwessies wat as godsdiens en taal voorgehou word, is in wese kultuuraspekte. Die jarelange stryd om Noord-Ierland het histories meer te make met die vestiging van Skotse setlaars (Protestants) wat op die inheemse Iere neergesien het. Oor tyd het die sosio-ekonomiese onderskeid vervaag.

Rituele slagtings word dikwels genoem as van die vernaamste redes waarom godsdiens- en kultuurassimilasie in Suid-Afrika nie voorsien word nie.

Histories:

Wanneer verskillende gemeenskappe verskillende en dikwels konflikterende historiese persepsies het, is daar dikwels ingeboude spanning. ‘n Tipiese gevolg is wanneer een gemeenskap berou van ‘n ander opeis, terwyl daardie gemeenskap se historiese persepsie dit nie begryp nie, of selfs voel die skoen sit aan die ander voet.

Getalle:

Internasionaal word in grondwette en die volkereg minderheidsregte erken, en daar is goeie redes hiervoor. Die Hutu – Tutsi – massamoorde is maar een manifestasie.

Ruimtelik:

Ruimtelike ordening as meganisme om spanning te verlig is ‘n wêreldwye verskynsel. Nigerië het na die Biafraanse oorlog sy binnelandse grense herskik om meer met die etniese verspreiding ooreen te stem. Pas het Indië sy voorneme bekend gemaak om ‘n nuwe, etniese deelstaat te vorm, of die Ghurkas begin ook agiteer vir ‘n eie deelstaat. Die Israels-Palestynse kwessie is ‘n teksboekmodel.

Dit slaan egter ook op die mikrovlak neer, soos wanneer twee bure se gebruike wedersyds onversoenbaar is. Die een sal ‘n bees ritueel in sy agterplaas slag, en die ander sal die DBV, die munisipaliteit se gesondheidsafdeling en ander wetstoepassers op hom probeer loslaat.

Opsommend, dit is duidelik dat al hierdie faktore nie net ‘n rol speel nie, maar baie selde nie onderling deur mekaar beïnvloed word nie.

Gebreke in die model van sosio-ekonomiese deprivasie

Hierdie model teer op die konsep dat spanning, selfs ‘n rewolusionêre klimaat, ontstaan wanneer die gaping tussen verwagtinge en die werklikheid te groot word.

Die vernaamste probleem met dié model is dat dit skematies slegs geldig uitgedruk kan word wanneer dit op ‘n grootliks homogene gemeenskap uitgedruk word.

Wanneer meer as een gemeenskap gemeet word, kan dit gebeur dat die verwagtinge van twee of meer gemeenskappe weerskante van die werklikheid kan wees. Die spanningsvlak kan dan nie gemeet word tussen verwagtinge en die werklikheid nie, maar tussen die persepsies van verwagtinge van die verskillende gemeenskappe.

Verder te dit nie net op die sosio-ekonomiese betrekking nie, maar op weer eens elke denkbare moontlike terrein. Een gemeenskap mag moontlik pres. Jacob Zuma steun is sy siening dat die nasionale Vervolgingsgesag ondergeskik aan die uitvoerende gesag moet wees, terwyl ‘n ander deel weer nog meer juridies-verwante sake los van die beheer van die uitvoerende gesag wil maak en by die onafhanklike juridiese gesag wil voeg.

Die een groep wil moontlik sterk fokus op moedertaalonderrig, terwyl dit spanning skep met diegene wat om welke rede ook al graag hul onderrig in Engels wil ontvang.

In plaas van om dié kompleksiteit op ‘n plat vlak uit te druk, is ‘n beter model dalk iets soos die vooraansig van ‘n dik kommunikasiekabel wat deurgesny is, met ‘n horde geïnsuleerde draadjies waarvan sommige so ver as wat binne die kabeldikte moontlik is.

Slot

Sonder ‘n holistiese benadering waar mense van verskillende dissiplines op gelyke voet saamwerk nie, gaan die hantering van versoening in die land gebrekkig en gefragmenteerd bly.

Het die afskaffing van apartheid alle probleme opgelos?

Toe nou nie – die meningspeilings wys anders. Die Malemas dryf skynbaar doelbewus die wig dieper in. Pansat het lank reeds bevind die owerheid self is die grootste skender van taalregte (wat in die grondwet verskans word).

Dikwels kry die media die skuld – soms verdiend maar al te dikwels as die draer van slegte tyding.

Die werksoekers hierbo genoem verstaan nie hoekom hulle vandag in die son bly sit nie. Die gaping in begrip vir mekaar is ligjare verwyder van destyds toe die regering kort-kort as die pawpaw die fên geslaan het vir oom Wymie ingeroep het. Oom Wymie op wie akademies neergesien is maar wat sonder geleerde woorde en akademiese lesings die “kenners” se brouwerk kon kom regmaak omdat hy verstaan het. Ons is weer terug met spanne institute en sentrums wat die jargon en kommerwekkende syfers uitspoeg, maar die oom Wymies wat iets daaraan kan doen het nie ‘n plek in die reusagtige kabinet of belangrike adviseurstoel nie.

Herman Toerien was die laaste hoof van die Verhoudingsaksie in die Vrystaat. Hy het afgesien van ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap ook universiteitskwalifikasies in ekonomie en Staatsreg.


справка 086 у купитьалександр лобановский супермаркет класс

Feloftegees, ekskuus, Geloftefees sonder weerga

Pa Jan is lankal nie meer daar om gevra te kan word dat hy op sy Namakwalandse manier opklaar watter storie by watter storie bymekaar hoort nie. Toe Pa Jan ons ontval het was die uwe maar nog baie jonk en dan luister ‘n man mos nie altyd met die nodige aandag nie.

Om seker te maak niks word weggelaat nie, word alles maar bymekaar gehark en in een storie ingeklits.

Toe dominees Hofmeyr sy emeritaat neem en met mev. Dominees see toe versit, was dit eintlik vanselfsprekend dat oom Skjeuns Terblans die nuwe voorsitter van die Buskruitbultgeloftefeeskomitee sou word. Oom Skjeuns is immers die baas van die plaas Skuinskraal waar die Geloftefees elke jaar gehou word.

Alles gaan goed met die reëlings, maar om ‘n gerekende spreker te kry was nou nie al te maklik nie. Maar oom Dwerg Botha se vrou se suster is met ‘n proffie getroud, en ‘n proffie is ‘n proffie en hy moet deug.

So gebeur dit dat ‘n telegram gestuur word, en ‘n telegram terugkom, waarin prof. Josias de V. Koekemoer laat weet hy neem die uitnodiging met nederigheid aan, en sal die komitee hom oor die reis- en hotelreëlings inlig?

Die komitee is nogal uit die veld geslaan. Almal het aanvaar die prof en sy eggenote sal op eie stoom daar kom, en by die familie tuisgaan. Maar niemand weet wat die protokol eintlik is nie, want ou dominees het altoos die reëlings self getref.

Die uiteinde is die proffie kom met die trein, en dat plek vir hom in Buskruitbult se enigste hotel, die Grand Hotel, bespreek is.

“Verbeel jou, watter gerespekteerde mens loop bly nou in daai hotel? Dit raas tot laataand by die buiteverbruik, en daarna uit die kroeg… so het ek verneem. Ta’ Sarie se losieshuis is ‘n veel fatsoenliker plek.”

Toe die trein stoom-stoom Buskruitbult se stasie inkom, wag die hele Geloftefeeskomitee op die perron. Twee passasiers klim af – oom Piet de Necker wat by familie in die stad gaan kuier het, en die prof.

Die prof word ontvang soos ‘n president op staatsbesoek in die buiteland. Oom Piet, ‘n regte platjie en baie gewild, word ook gul gegroet maar dis al of die prof so veel as moontlik mense en afstand tussen hom en oom Piet wil inkry, tot oom Piet saam met tant Hettie daar weg is.

Elkeen stap met ‘n stuk bagasie in die hand, oor die straat na die Grand Hotel. Hier word gou ‘n teetjie saam met die prof in die lounge genuttig.

“Is julle nie bang om aan oom Piet se hand te vat nie?” wil die prof weet.

“Nou hoekom dan?” vra dr. Cornelissen.

“Ek weet min van siektes, maar dit klink my erg as iemand nou net uit die sanatorium kom waar hy vir aansteeklike cactoblastis behandel is.”

Op slag weet almal oom Piet wou seker die kompartement vir homself gehad het vir ‘n privaatheid, en dat hy toe die arme prof die vreeslike klomp bol wol in die kop in loop praat het.

Toe word die prof ‘n rustige nag toegewens, en die Geloftefeeskomitee verkas want daar is nou baie werk om gedoen te word.

Die portier besorg die prof en sy bagasie by sy kamer op die boonste verdieping en in die verste hoek van die kroeg af.

Bedagsame mense, dié Geloftefeeskomitee.

Die volgende dag, toe die Gelofftefeeskomitee die prof by die hotel gaan groet en na die saligheid van sy nagrus verneem, moes hulle tot hul ontsteltenis verneem die prof het dou voor dag uitgeboek, en is sommer so met die melktrein vort. Die portier brom iets van dringende familiesake, maar dit maak g’n niks sin nie, want as ‘n man dringend in die stad wou kom, wag ‘n man vir die Trans Karoo wat tienuur deur Buskruitbult ry, en la-a-a-a-nk voor die melktrein in die stad aankom.

Agterna het die storie wel stuk-stuk uitgekom, en toe alles aanmekaar gelas is, klink dit so:

Die proffie het hom in die basin gewas en tussen die lakens ingeskuif, toe hy skielik grootoog word. Daardie jare was ‘n en suite-badkamer ‘n rariteit, en nog te meer op Buskruitbult. Hy trek sy japon aan, en is gang op, en gang af op soek na die vertrek met die prentjie van die mannetjie op. Maar kry niks.

Dis toe dat hy die klokkie vir die portier lui, en toe dié dikbek opdaag (die proffie het gemeen die fooitjie vir die tasse dra is ook vir die Geloftefeeskomitee se rekening) toe is die portier nie links nie. Of dalk juis links, soos met vandag se politiek.

Dalk, vir al mens weet, nog verlangs aangetroude familie van oorle Dingaan ook nog, dié dat hy nie so ooghare vir die proffie het wat oor Bloedrivier kom praat nie. Dus help hy nie die proffie reg en wys hom die regte deur waar die mannetjie al vervloë afgeval, en niemand gebodder het om dit weer terug te sit nie. In hotelle met sulke reputasies is dit gewoonlik nie nodig nie, omdat almal mos sal onthou.

Maar die portier neem die proffie na die prof se kamer se venster, trek die gordyn effens oop en beduie na die gemakkie wat doer agter in die agterplaas tussen die kerkhof se sipresse skuins in die yl maanverligte nag sy staan gekry het.

Die proffie bedank die porier fooitjieloos, en staan lank na die gedoentejie doer in die agterplaas en tuur.

Toe besluit hy, dit moet maar vir ligdag wag.

Maar skaars het die prof die lakens opgetrek, of hy is weer grootoog, en kort daarna staan hy weer voor die venster.

Seker so met die vierde opslag, tref dit die prof hy gaan mos nie weer die sokkies wat hy die dag op die trein aangehad het weer tydens die ekskursie nodig kry nie, en hy kry ‘n briljante idee.

Kort hierna is die ligte in die kamer uit, en ‘n ruk later die venster opgeskuif, en eers een, en toe nog een, vlieg die kouse by die venster uit in ‘n kakiebosbegroeide bedding in.

En toe hét die prof heerlik geslaap, kon die portier die Geloftefeekomitee met ‘n skoon gewete inlig.

Wat hy versuim het om te vermeld, was dat die proffie die volgende oggend, toe die sonnetjie die kamer helder verlig begin warm bak, nie wakker geword het nie, maar hom wawyd wakker geskrik het. Die een kous, so sien hy dadelik, het ‘n gaatjie by die toon gehad en toe hy dit so in die rondte geslinger het om dit by die venster uit te lanseer, het dit gelol… so sien hy toe dadelik.

Hy smokkel die portier behoorlik die kamer in.

“Kyk, ek gee jou tien pond as jy dit silwerskoon was en vir niemand sê nie.”

Die portier se mond hang oop terwyl hy die nuwerwetse kunswerke teen die muur betrag.

“Mastah, ek gee vir mastah daai tien pond terug en nog tien pond as mastah vir my sê hoe mastah dit reggekry het.”

En dis glo net hier waar die proffie se dringende gesinsake aandag moes geniet.

Die Geloftefeeskomitee sit toe in die pekel. Buskruitbult kon nog nie ‘n nuwe dominees kry wat die beroep aanvaar nie, en vandat die skoolhoof by mev. Pretorius betrap is, sal hy g’n deug as hoofspreker by die Geloftefees nie.

“Oom Skjeuns sal moet instaan,” verklaar Brand van Schalkwyk, die ondervoorsitter en tesourier.

Hiermee het almal konsensus, ook oom Skjeuns wat besef daar is nie tyd vir dwars trek nie, en ook heimlik geëerd voel.

Vandag kry Buskruitbult en omstreke ‘n Geloftefees sonder weerga, besluit oom Skjeuns heimlik, min wetende dat hy profetiese denke had.

Knap voor die verrigtinge moes begin, tref die grootheid van die okkasie vir oom Skeuns. Die oop skuur is volgepak. Die gehoor sit op enige soort sitding wat hulle kon saambring, van riempiesstoele tot kombuisstoele. Ook die skousaal se opslaanstoele wat so ses-ses aanmekaar vas is wat oom Skjeuns geleen en aangery het, is volgepak van mense wat te min sitgoed vir die groot gesinne gebring het.

Buiteom is ‘n groot verskeidenheid treppies en ander rygoed getrek waarin en waarop mense sit vir wie daar nie in die “saal” plek was nie. Oom Skjeuns besef hy sal hard moet praat, en juis toe oorval ‘n benoudheid hom, en sy keel raak droog.

Oom Skjeuns sit om kombuis toe om ‘n watertjie te gaan haal, en kom juis net daar aan toe die bo-deur oopvlieg en die huishulp die skottelgoedwater uitskiet. Oom Skjeuns kry ‘n voltreffer. Hy staan nog bedremmeld toe tannie Skjeuns op hom afkom: “Nee Skjeuns, almal is so ernstig en jy maak nog grappies!”

Kort hierna kan oom Skjeuns egter droog aangetrek agter die baal wat as kateder dien instap.

“Broeders en susters, verleen my ‘n oomblik om namens my gesin u algar hier op Skjeunskraal te verwelkom.

“Namens die skoukomitee, net ‘n ernstige versoek vooraf. Die skoukomitee versoek dat u, as u aan die baklei sou raak, u tog nie die skoustoele moet gebruik om mekaar mee te moker soos wanneer ons Sap- en Natvergaderings hou nie. Die skoukomitee wys daarop dat die heel rye begin min raak.”

En toe val oom Skjeuns weg met ‘n Geloftefeesrede soos nog nie tevore op Buskruitbult of omstreke gehoor is nie.

Oom Skjeuns wy uit oor die volk se hoogtepunte, en laagtepunte deur die geskiedenis. Met elke hoogtepunt, spring oom Skjeuns so ‘n flink sprongetjie die lug in, en die gehoor se koppe knik na bo.

Met elke laagtepunt, sak oom Skjeuns so agter die baal weg, en bly ‘n rukkie daar.

Dan sit die gehoor eerbiedig met geboë hoofde.

Dis tog al so asof oom Skjeuns in die begin so ‘n bietjie senuagtig was, maar later is hy so driftig, hy klink soos die orakel homsigselwers.

Trouens, so geesdriftig – hoewel effe skeef die lug in – is ‘n hoogtepuntsprong, dat die gehoor besonder geesdriftig hul koppe die lug inruk, hul bolywe ruk eintlik agteroor.

Ook twee lywige tantes wat op ‘n treppie gesit het, ruk agteroor – en daar wip die disselboom gat oor kop!

Pa Jan vertel dit was te aardig – die ene niekerbokkers, toe rol die twee tantes deur die stof.

Niemand trek ‘n bek nie, en ‘n klomp jong manne draf nader, help die twee tantes op, stof af, tip die treppie weer reg, en pak ‘n paar swaar plaasimplemente op die disselboom, en die twee tantes kry weer hul sit.

Oom Skjeuns het intussen ‘n liederlike laagtepunt beleef, en die heel tyd agter die baal verkeer. Toe hy hervat, is sy spronge met heelwat minder veerkrag en al skuinser die lug in. Sy laagtepunte agter die baal is ook langer.

Toe bars ‘n jong man in die “saal” kliphard los: “Nou kan julle my skiet, maar nou gaan ek eers lag!”

Toe dawer dit, soos die mense wat die tantes se petalje kon sien, uitbars van die lag.

Oom Skjeuns beleef egter vir die duurte van die lagbui weer ‘n laagtepunt.

Toe sake weer stigtelik is, en oom Skjeuns meen om homself van agter die baal uit te lanseer, lanseer hy hom te skjeuns uit, en slaan lankuit op die stoor se vloer neer. En hy kom nie weer op nie.

‘n Ondersoek ter plaatse deur die lid vir Gesondheid van die Geloftefeeskomitee kondig aan: “Hy is flou, ek dink ons verdaag.” Dr. Cornelissen was nog nooit ‘n man vir lang vergaderings nie, en as hy ‘n kans soos hierdie kry om sake kort te knip, dan benut hy dit.

Een van die jong manne het agter die baal gaan ondersoek instel. In die somers neig giftige slange mos om in bale te gaan skuil, en as mens so raas, kan ‘n giftige slang mos heel befoeterd raak en naderhand iemand pik.

Sy graafwerk in die baal lewer egter ‘n heel ander buit.

“Kyk net hier!” brul hy. “Oom Skjeuns het met elke laagtepunt bietjie versterking kom neem!” en hy lig sy buit – ‘n amper leë brandewynbottel, omhoog.

дитячі іграшки інтернет-магазинДанильченко Юрий Брониславович компромат

Elkeen se Boetman-ervarings

‘n Ruk gelede was daar ‘n artikel oor navorsing oor die spesiale soort trauma waaraan baie Suid-Afrikaners ly – viktomonologie – post-traumatiese woede wat nie weggaan nie. Ek het self by hieroor geskryf.

By my het hierdie verklaring op vrugbare grond geval. Ek en ‘n destydse kollega het in ‘n stadium gevoel dis nie reg dat ons kontemporêre digters dit wat die Afrikaners / Afrikaanses se wese so ingrypend tref soos plaasaanvalle en plaasmoorde, ignoreer tot die mate dat dit nie deel van die Suid-Afrikaanse poësie uitmaak nie. Vorige ingrepe soos die Groot Trek, Bloukansmoorde en die Anglo-Boere-oorlog is immers poëties verewig.

Maar ons kon geen erkende digter kry om iets daaroor te skryf nie, en probeer toe maar op ons lomp manier self die wiele aan die rol sit. Dié projek het die Kerkblad gehaal, en toe ‘n dubbelblad in die Farmers Weekly (ja, in Engels).’n Paar van die “gedigte” is ook gepubliseer.

Maar toe, na die farmers Weekly-artikel, begin die mense bel. Familie van die slagoffers. Ontstellende verhale, skokkend ontstellend, en ek word bewus van en ontleed die saak – hier is met ‘n eiesoortige soort trauma te make. Die oorlewende slagoffers gaan na sielkundiges en psigiaters wat ewe-eens bel en sê: “Hier is iets diepers, iets anders …daar moet gespesialiseerde mense wees om hierdie aspek aan te spreek.”

Ons elkeen het sy eie Boetman-verhaal. Myne miskien dat ek reeds vroeg die slagoffer was toe ek moes plek maak vir ‘n Afrikaanse, wit manlike klerk op adjunk-direkteursvlak wat nou ‘n bekende en luidrugtige ANC-politkus is, terwyl my saak na omtrent 14 jaar “onafgehandel” by die Openbare Beskermer is. Na ‘n positiewe tussentydse verslag nou ook al ‘n hele klompie jare gelede is die “Openbare” Beskermer ‘n “Toe Beskermer” soos ‘n toegeklapte skulp, en kan skynbaar niks die verslag “loskry” nie. Nie eens Zuma se trieng-trieng nie, en die VN se Mensregteraad hanteer dit ook op ‘n wyse dat ‘n mens dit nie kan agterkom nie.

Intussen het die saak in sy maai in verjaar, en gaan dit net om daai dingetjie, “closure,” kry.

Want ‘n handves van menseregte werk nie baie lekker vir ‘n gestremde kind as sy pa nie kan werk kry nie.

Maar dan is daar nog mense, soos Mirida Fitzpatrick, wat sê wit mense kla met die brood onder die arm.

Spiek fôr jôrself, niggie.

Viktomonologie word nie net materieel gemeet nie. Verliese word ook aan waardigheid, byvoorbeeld, gemeet. Ontneem ‘n man sy vermoë om vir sy gesin te sorg, en dra vir hom geld en kospakkies aan, en kyk wat bly van sy waardigheid oor. Of gee vir hom ‘n slaappilletjie as hy nie raad weet oor waar om die geldjie te kry vir sy gestremde kind se broodnodige terapie nie. Of studiegeld vir sy ongestremde kind se studies in ‘n rigting wat hom minder blootstel as sy pa.

Want sy pa het ook loop luister na grootbek-politici wat gesê het van sekere dinge wat “nooit” gaan gebeur nie. Gaan studeer Politieke Wetenskap en sulke rigtings, want ons het mense soos julle so bitter nodig.

Wat my persoonlik verskriklik die bliksem in maak is dat die Kemptonparkers, met stywe pensioene, steeds kan ontken dat hulle ore aangesit is, dat hulle bitter baie mense uitverkoop het, en dat Roelf en Pik boonop nog openlik sê hulle stem vir die ANC.

Ja, mense, ek het buitemuurs in 1994 – dus in die nuwe grondwetlike bedeling, Staatsreg ook gaan swot, en moenie vir my kom wolhaarstories aandra dat ons nou die “beste grondwet in die wêreld het” nie en dat die kollektief van individuele regte “modern” is en die beste minderheidswaarborge bied.

En moenie vir my kom vertel ons grondwet is op die Indiese geskoei sonder om by te voeg dat dit wat die Indiese grondwet ingebou het om minderheidsregte te beskerm, in die Suid-Afrikaanse weggelaat is nie. In kort, moenie brouwerk met *&^stories probeer regverdig nie.

Want dit is onwaar. Indië se interne staatsgrense is aangepas – soos die Nigeriese, om met geografiese modelle beter beskerming aan groepe te gee. En ‘n paar setels op nasionale vlak is vir die pre-Indiese inboorlingbevolking gereserveer.

En gaan lees maar oor die regte – ook soos in kontemporêre regspraak neerslag vind, hoe die Amerikaners regte aan hul Indiaanse bevolking verskans. En ag ja, as julle moeite het om iets te vind, veral in Afrikaans, soek maar net op die uwe se blog.

Sê dit nie iets as die naïewer of gelaaide “regverdigings” vir die behandeling wat die Boetmans te beurt val van vroue kom nie – Ilse Bigalge, Zelda Jongbloed en nou Marida Fitzpatric.

Ja, ‘n jaar gelede het die uwe ‘n arbeidsregkursus met onderskeiding voltooi, en wat vreeslik vassteek en moeilik met die Staatsreg wat vroeër verwerf is afgaan, is dat almal vir regstellende aksie kwalifiseer, maar dat ongestremde, wit mans met wetgewing spesifiek uitgesluit word.

Wat beteken dit? Dat vroue wat dit wil regverdig nie kwalifiseer om menings te lug nie, want hulle is nie aan die ontvangkant daarvan nie.

Solank die Roelfs en die Pikke onboetvaardig is, so lank gaan Tim du Plessis preek dat dit nie help om die “blaming game” met daardie “onderhandelaars” te speel nie. Tim is reg dat dit nie help nie, en Tim is reg dat mens moet kyk hoe om dit ten beste aan te spreek. Dit neem egter nie die trauma van verlies weg nie, veral as ‘n mens weer en weer bloedneus kry nie.

En intussen moet jy ‘n fort in stand hou, en ‘n gewapende reaksiemag betaal om jou gesin te beveilig. ‘n Gesin wat jy geskep het toe sekere dinge “nooit” sou gebeur nie.

En om dan nog op ‘n mens se gevoel te speel oor “kyk net na die plakkerkampe” (weet Marida en kie hoeveel wit mense woon al daar?) laat my dink aan die laaste diens wat ek by ‘n vorige predikant bygewoon het.

Dié dag preek hy oor “stres” wat so verkeerd is want ‘n mens moet al jou vertroue in die Here stel. Maar iewers raak hy deurmekaar en al die “stres-simptome” wat hy noem is eintlik suiwer depressie. En gaan vertel nou vir iemand met depressie hy is eintlik besig om te sondig deur depressie te hê…

Dan gaan nog mense soos Boetman dit nie maak nie.

 

оборудование для обслуживанияДанильченко

Herrie se kerrie: Soek die silwer randjie

{jathumbnail off}

Dit is amper Kersfees, of soos Herrie verkies om dit te noem, die Christusfees, maar van ‘n gees van vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae is daar by die bewoners van die ondermaanse hier te lande nog weinig tekens.

Al is die landswye resessie amptelik verby, wat tradisioneel beteken dat die gestroopte Vrystaat seker oor so drie tot ses maande ook uit die resessie sal beweeg.

Herrie ken ‘n paar mense wat nie meer die koerant koop nie, of selfs nie eens gratis koerante meer wil neem nie, want “alles is negatief.” Herrie is nou nie ‘n gereelde besoeker in 7de Laan nie, maar kan nie dink dat dit daar al te jollie gaan met al Jaansberg se misdaad nie. Tog is dit waarheen mense die werklikheid ontsnap.

Maar Herrie het regtig die laaste ruk hard gedink om ‘n lysie van die positiewe te maak. Aanvanklik kon Herrie nie veel verder kom met positiewe dinge nie soos oom Bran de Wijn wat in sy noppies is dat ys in hierdie hitte sy drankie koud hou, dat Suid-Afrika se sportbeeld mooi in stand gehou word deur oud-Suid-Afrikaners wat so goed vir die Engelse krieketspan vaar, dat juts Sjlôpie nie die pyp gerook het nie, dat Julius Malema nou so – aldus Kovsies se rektor – slim geword het…

En so met al die kafpratery het Herrie se worsie op die kole tot houtskool verbrand, maar gelukkig hou Herrie van houtskool.

Herrie weet egter daar is nog ‘n paar silwer randjies, en die belangrikste is dat ons land nog godsdiensvryheid geniet. Ons kan dus die Christusfees onbevange vier soos dit hoort. Die donker wolk is egter dat ons die Christusfees self sloop en daarvan “happy holidays” maak, ons onsself in bankrotskap in koop, ‘n klomp mense hul vuurwaens met Bachus se hulp om lamppale gaan vou, en Pumba met die klapperskietery in bevangenheid vrees injaag sodat sy, yslike boerboel, pens en pootjies al bibberend tussen Herrie en mev. Herrie in die katelkooi kom inkruip.

Maar dan, eintlik moet elke dag ‘n Christusfees wees, en ‘n versoeningsdag, en ‘n vrouedag, en ‘n dag wat kinders nie mishandel of verwaarloos word nie, elke dag ‘n dag om aan die mense met gestremdhede en honger te dink…

 

free blackjack gamestopcargo отзывы сотрудников

Time se Zuma-artikel en werklikheidskoors

In die jongste uitgawe van Time is ‘n breedvoerige artikel oor pres. Jacob Zuma wat net sowel deur ‘n uiters knap beeldpoetser geskryf kon wees. Dit skep ‘n oorheersend positiewe indruk terwyl genoegsaam op die bedenkinge gewys word om die artikel geloofwaardigheid te verleen, veral aan lesers in lande wat nie daagliks op die Suid-Afrikaanse kontakvlak van dienslewering en regeringsbesluite leef nie.

Die positiewe eienskappe van Zuma word veral gebou rondom die feit dat Zuma, veel meer as sy voorganger wat periodieke blits-ampsbesoeke aan Suid-Afrika gebring het, die voetsoolvlak hard slaan, en dat Zuma foute erken en onderneem om dit aan te spreek.

Daar is inderdaad ‘n gees van werklikheidskoors in die ANC-alliansie vaardig, soos wat Volksblad vanoggend in ‘n hoofartikel skryf. Word egter na aktualiteitsprogramme geluister of gekyk, is kundiges dit bykans eens in hul skeptisisme of die ANC-regering oor die vermoë of wil beskik om daad by die woord te voeg en vrot appels uit te smyt. Trouens, die vroeë fases van die Zuma-bewind is eerder gekenmerk deur die hersirkulering van comrades wat na ‘n lang gespook iewers die trekpas gekry het, maar dan net weer elders op dieselfde of selfs hoër vlak aangewend word.

Die artikel is ook geskryf voor Collins Chabane se aanwysing om die stryd teen korrupsie te koördineer en dit aan die lig gekom het dat hy self sy amptelike kredietkaart misbruik het, of alternatiewelik het Time hierdie feit geïgnoreer. Dit is egter duidelik geskryf voor die aanstelling van adv. Menzi Simelane as direkteur van Openbare Vervolger wat eerder op hardnekkige volstruispolitiek as werklikheidskoors dui..

Trouens, die rimpelings wat die Simelane-kwessie internasionaal maak, kan saam met ‘n horde negatiewe beriggewing wêreldwyd die Time-artikel in Suid-Afrika se gesig laat ontplof.

Suid-Afrika is danksy die internet en ander tegnologie nie ‘n nuus-eiland nie. Ter demonstrasie: Twee van die kleiner partye hier, die Vryhjeidsfront Plus en die Christen-Demokratiese Alliansie striem dié week adjunk-president Kgalema Motlanthe nadat hy boere se optrede teenoor plaaswerkers die skuld vir plaasmoorde gegee het. Anders as gewoonlik het dit dié keer nie prominensie in die Afrikaanse dagbladpers gekry nie en is selfs grootliks geïgnoreer, maar die SAUK dra dit in verskeie nuus- en aktualiteitsberigte, en dit word deur verskeie elektroniese nuusvoorsieners soos SAPA, IOL , iAfrica en News 24 die wêreld ingestuur sodat Google vanoggend reeds meer as 3 500 trefslae oplewer, waarvan ‘n groot deel op dié spesifieke nuusgebeure betrekking het. In baie word die grusame statistieke oor plaasaanvalle weer aan die groot klok gehang.

Suid-Afrika moet vrede maak dat dié land in die aanloop tot die Fifa-toernooi, die oë van die wêreld op hom vasgevang sal hou, en dat die goeie én slegte die nuus sal haal.

Beeldpoetsers kan ook nét soveel vermag – die werklikheid sorg vir die res van die persepsie wat die wêreld oor ‘n land en sy leiers koester. Hoe meer geploeter en verbrou word, hoe harder word aan die negatiewe persepsie gebou.

Die werklikheidskoors is belangrik, maar die doen van wat nodig is om dit aan te spreek is soveel belangriker.

 

casino registerФільчаков прокурор

Die terreur van plaasmoorde

Die stelling van die ondervoorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA), ds. Theunis Botha, dat plaasmoorde niks anders as terreur is om boere van hul plase te intimideer nie, is nie ‘n nuutjie nie. Sy reaksie kom nadat adjunkpresident Kgalema Motlanthe opnuut boere vir die plaasaanvalle geblameer het.

Die syfers na alle kante dui daarop dat mense wat meen plaasmoorde is terreur ‘n punt beet het. Suid-Afrika se amptelike moordkoers is in die omgewing van 40 per 100 000 per jaar teenoor die wêreldgemiddeld van 5, terwyl die syfer onder boere en hul gesinslede by tye in die omgewing van 130 per 100 000 per jaar is. Saam met normale landbouverwante ongevalle, maak dit boer wees in Suid-Afrika ‘n gevaarliker beroep as om ‘n Chinese steenkoolmynwerker te wees.

Daar is nog ‘n manier van hierna kyk. In die ooreenstemmende tyd is ongeveer dubbel soveel mense deur plaasmoorde in Suid-Afrika afgemaai as wat Britse soldate in die oorloggeteisterde Afganistan omgekom het.

Veel is al geskryf oor die wreedheid waarmee plaasaanvalle gepaard gaan.

Dit beteken nie die regering het gaan sit en ‘n beleid geformuleer dat boere deur plaasmoorde van hul plase af geïntimideer moet word nie. Dat die regering egter dade en uitsprake stilswyend gekondoneer het wat ongeveer dieselfde impak het, is egter ook so. Dit het byvoorbeeld ‘n appèl teen ‘n bevinding van die Menseregtekommissie gekos om die slagkreet “Kill the Boer, kill the farmer” tot haatspraak verklaar te kry.

‘n Vorige minister van Landbou, Lulu Xinwana, was deurlopend by boere in onguns oor uitsprake. Haar Kerkplein-uitbarsting teen boere wat hul plaaswerkers sou mishandel was gebaseer op ‘n verslag van ‘n enkele voorval in die Wes-Kaap. Hierdie insident het boonop geblyk die gevolg van fabrikasie van ‘n Nie-regeringsorganisasie te wees wat ‘n vroulike plaaswerker voorgesê het. Sy het later tot bekering gekom, en erken dit was vals en die boer om vergifnis gevra.

Nog later het dit geblyk dat die Onafhanklike Klagtedirektoraat dié beweerde voorval ondersoek het, en dit as vals bevind het, en dat die regering reeds sewe maande in besit van hierdie OKD se verslag was toe die minister haar opmerkings gemaak het. Ook die langdienende adjunk-minister van Landbou en Grondsake, wyle Dirk du Toit, was bekend vir sy gelaaide uitsprake.

Nou het Motlanthe ook die skuld vir plaasaanvalle op die boere self gepak. Sy stellings oor hoe boere hul werkers sou behandel is nie net grof veralgemeend nie, dit is al deur verskeie amptelike ondersoeke onder die loep geneem, en as ‘n vals aanname bevestig. Een so ‘n ondersoek was ‘n gesamentlike poging van Agri Wes-Kaap en die destydse ANC-beheerde provinsiale departement van Landbou, en die ander ‘n peperduur ondersoek deur die destydse Vrystaatse Premier, Winkie Direko wat onder meer behels het dat getuies op staatskostes van heinde en verre aangery is.

Die Wes-Kaapse ondersoek was skaars afgehandel of ‘n string NRO’s en politici uit die Wes-Kaap gaan eenvoudig voort met die aantygings tydens ‘n nasionale grondberaad. Die waarheid word gewoon te maklik vir politieke munt opgeoffer.

Statistieke SA het pas weer syfers bekend gemaak oor hoe die aantal kommersiële boerdery-eenhede in Suid-Afrika deurgaans verminder. Verskeie faktore speel ‘n rol, maar dat baie mense nie meer kans sien vir die blootgestelde lewe op plase nie, is ook waar. Die ironie is dat verskeie boere wat vir hul veiligheid op die dorp gaan woon het – waaronder ‘n vroueboer van Boshof en ‘n boer van Paul Roux, kort na mekaar in hul dorpshuise vermoor is.

Grusame aanvalle soos hierdie kan as niks anders nie as terreur beskryf word, selfs al sou dit nie spesifiek of deurgaans politieke terreur wees nie – is die kommandostelsel ontbind.

торшеры интернет магазинtopcargo отзыв

Eufemisme van die dekade

‘n Stelling wat gereeld gemaak word is dat die regering ‘n beheptheid met middelmatigheid het.

Om die vlakke van dienslewering, en in die besonder munisipale dienslewering, as middelmatig te beskryf word nie deur die werklikheid gereflekteer nie.

Dis swak.

Die verslae van die ouditeur-generaal oor die stand van sake in munisipaliteite is reeds genoeg bewys dat die woord “middelmatigheid” hier ‘n erge eufemisme is.

Tog verklaar die Vrystaatse premier dat die vlakke van dienslewering in dié provinsie goed is, en dat die inwoners tevrede is daarmee.

Sy woorde is skaars geuiter of sy eie tuisdorp, Parys, se munisipaliteit, moet in die hof in Heilbron redes aanvoer waarom ‘n bestraffende kostebevel nie teen ampsdraers van dié munisipaliteit gemaak moet word nie, na die munisipaliteit bloedneus ‘n rondte in die hof gekry het. Dié hofsaak, wat deur die Heilbron-belastingbetalersvereniging aanhangig gemaak is, het beslis nie uit tevredenheid met dienslewering gevloei nie.

Die munisipale onluste in onder meer Harrismith, Boshof en Jagersfontein ook nie. Trouens, volgens Municipal IQ was daar vanjaar landswyd ‘n skerp toename in onrus oor munisipale dienslewering, met die Vrystaat wat persentasiegewys meer as sy deel van die onluste beleef het.

Boonop verskyn amptenare en oud-amptenare van die provinsie se naasgrootste stad, Welkom, op kriminele aanklagte in die hof wat weens die Matjabeng-munisipaliteit se hantering van die stad en omgewing se rioolwerke. In ander munisipaliteite is siviele hofbevele hieroor teen Vrystaatse munisipaliteite verkry.

Die Vrystaatse bloudruppel-status word op enkele uitsonderings as skrikwekkend beskryf.

In die Vrystaatse hoofstad gaan dit nie beter nie. Ter demonstrasie, die geval van ‘n stormwater-inlaat se deksel wat deur ‘n swaar voertuig op ‘n sypaadjie stukkend getrap is. Dit is deur ‘n lid van die munisipale wykskomitee behoorlik gerapporteer, en gerapporteer en gerapporteer. Na meer as ‘n jaar het die meegaande foto in ‘n koerant verskyn, en na nog meer as ‘n jaar gaap die gat steeds op die sypaadjie. In hierdie tydperk het die Mangaung-munisipaliuteit ‘n hofsaak verloor na ‘n vrou in ‘n oop mangat op ‘n sypaadjie geval het na die deksel vir skrootyster gesteel is.

Magashule se opmerking plaas nuwe betekenis aan sy woorde by ‘n Salga-kongres dat onbevoegde en korrupte munisipale bestuurders en burgemeester die trekpas gaan kry. Hy is destyds uitgelag.

Hy het hierna laat blyk dat sy LUR’e wat nie die mas opkom nie, ook die trekpas gaan kry, en die getal van drie is selfs genoem, sodat die media bespiegel het watter drie hierdie lot te beurt gaan val.

Uiteindelik, so lyk dit, is vlakke van dienslewering wat Magashule as bevredigend beskou, nie juis teksboekvoorbeelde van bevredigend nie. Trouens, om hierdie vlakke van dienslewering aan ‘n beheptheid met middelmatigheid te beskryf, kom op politieke korrektheid in die oortreffende trap neer.

Dit sal Suid-Afrika loon om die oog op die telbord te hou. Die debakel rondom Collins Chabane se aanwending van sy amptelike kredietkaart word veral geaksentueer deur die feit dat hy die staat se beoogde optrede teen korrupsie moet orkestreer.

Julius Malema het weer gesorg dat die kollig op hom val deur te verklaar landbougrond is van swart mense gesteel.

Brittanje het intussen ‘n amptelike waarskuwing aan sy burgers uitgereik dat hulle tydens hul Fifa-besoek in Suid-Afrika gekaap kan word.

Fifa hou in Desember ‘n buitengewone vergadering.

 

tiaras for saleпрокурор Фильчаков

Die Christen-demokratiese boodskap uit Europa

Die Suid-Afrikaanse media het, moontlik voorspelbaar, die verkiesing van Herman van Rompuy as eerste vaste voorsitter, of te wel, president, van die Europese Raad grootliks verswyg.

Dit is egter iets wat nie ‘n nietige verwikkeling is nie.

Ironies, enkele jare gelede het Suid-Afrikaanse sendelinge in België gaan sendingwerk doen, synde geoordeel is dat België saam met verskeie ander Wes-Europese lande tot die post-Christelike era behoort.

Ironies,want Herman van Rompuy is nie net ‘n Christen-Demokraat nie, sy party, die Christen-Demokrate en Vlaandere (CD & V), is die dominante party van die Vlaamse en Belgiese koalisieregerings. Ook in lande soos Nederland en Duitsland oorheers die Christen-demokrate die koalisieregerings.

Van Rompuy se mees onlangse hoofteenstander vir die presidentskap was Jan-Peter Balkenende, die Nederlandse Premier en leier van die CD & V se susterparty, die Christen-Demokratiese Appèl.

Hulle het die hoof-aanspraakmakers geword – Balkenende teësinnig – nadat dit duidelik geword het die Christen-Demokrate van Wes-Europa gaan iemand uit hul eie geledere in die amp instem, en ‘n vroeë gunsteling, Tony Blair van Brittanje, se aansprake so in die stof gebyt het.

Kortom: Hoe gebeur dit dat Christen-demokrasie in Europa so sterk is, maar in Suid-Afrika in ‘n ooreenstemmende gedaante ontbreek?

En dit wat wel hier bestaan, is nietig klein, soos die ACDP en die Christen-Demokratiese Alliansie wat op sy beurt uit vier partye bestaan. Hierdie partye staan in ideologie en styl veel nader aan ‘n tweede, kleiner, beweging in Europa, die Europese Christen-Partyebeweging wat onder sy Engelse afkorting, ECPM, bekend staan. Die grootste van sy deelnemende partye is die Nederlandse ChristenUnie, wat uit die ou Gereformeerd Verbond gebore is. Die Christen-Unie vorm saam met die CDA en die PvdA die regerende koalisie, en is die kleinste, maar groeiende party in die koalisie.

Hoekom daar ‘n vakuum in Suid-Afrika bestaan, al het invloedryke mense soos FW de Klerk hulle al vir die vorming van so ‘n party uitgespreek het, is kompleks.

Ten eerste maak Suid-Afrika vanuit sy laaste koloniale afdruk wat partypolitieke rangskikking betref, deel uit van die Engelse wêreld, en na 1994, ook versnit met iets uit die ou Oosblok. In Brittanje ontbreek ‘n werklike sigbare Christen-demokratiese “vennoot,” en so ook in sy eertydse kolonies soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada en Suid-Afrika. In hierdie lande is die CDP’s klein. In Kanada het ‘n meningsopname enkele jare gelede aan die lig gebring dat baie kiesers onbewus was van die bestaan van die Christian Heritage Party. In Nieu-Seeland het die CFP besluit om te ontbind.

In die VSA, met sy de facto tweepartybedeling, word die Christen-demokratise belange deur lobbies soos die Christian Coalition of America bedryf. Hierdie 4 miljoen ingeskrewe en opbetaalde lobby het ‘n volledige beleid en is bykans identies met dié van die CDP’s, soos sterk voorspraak vir gesinswaardes, ‘n sterk pro-lewestandpunt (dus om gekant te wees teen aborsie op aanvraag), ‘n handves van menseregte gerig op ontwikkeling en minderheidsregte eerder as ‘n oorheersende fokus op individuele regte en die subsidiariteitsbeginsel, dit wil sê die plasing van gesag op die laagste moontlike vlak, met inbegrepe dat verskillende lewensfere soos skoolbeheerliggame die grootste moontlike outonomie sal hê.

Die Suid-Afrikaanse media verwys dikwels na die party van Angela Merkel as ‘n konserwatiewe party, eerder as Christen-demokratiese party. Is dit korrek?

Volgens ‘n onlangse denkrigting in Europa is dit oudmodies om partye van links na regs, of van liberaal na konserwatief op ‘n reguit lyn te beoordeel. Die gedagte is dat volwasse partye dele van hul beleid uit ‘n linkse sfeer en ander dele uit ‘n regse sfeer neem, en dat ‘n party se posisie eerder as iewers in ‘n ronde bal as op ‘n reguit lyn uitgebeeld moet word. (Toegegee, die opkoms van werklike regse partye in Europa plaas hierdie nuwe denkrigting onder druk, en die versterkte Merkel-regering na die afgelope Duitse verkiesing is in Trouw aangekondig as: “Duitsland slaan na regs af.” Dood is die reguit lyn, maar lank lewe regs en links).

Verder het die klem die afgelope paar jaar sterk begin val op die verskerping van moraliteit in die politiek en sommer ook die media. Die wêreld-ekonomiese krisis en die rol wat bloedsuiers gespeel het, het partye die geleentheid gegee om in hul beleidsvoorstelle vir ekonomiese herstel, sterk elemente van moraliteit in te bou, en dit het niks met “regs” of “links” te make nie. Van Rompuy se party was juis een wat in sy heropboubloudruk breedvoerig hieroor uitgebrei het. In sommige kringe is na 2009 as die jaar vir geestelike higiëne verwys.

Die feit dat ‘n duidelike Christen-demokrasie in die Nuwe Wêreldlande van die eertydse Britse Dominium eerder die Britse as die vastelandse Europa navolg, beteken uiteraard nie dat dit so moet wees nie.

Net ‘n blitsige tussenwerpsel oor die Amerikaanse model: Daar kán ‘n lobby die funksie verrig omdat partykoukus nie bestaan soos hier nie. Die DA probeer wel die ruimte laat deur ‘n keusevryheid aan lede te gee oor tipiese Christen-politieke beginsels soos die doodstraf, gay huwelike en aborsie. Dit kan ooglopend net werk so lank ‘n party beoog om ‘n opposisieparty, en nie regerende party te wees nie. Hoe moeilik Christen-demokrasie en liberale demokrasie meng, blyk uit ‘n mediaverklaring deur Diane Kohler-Barnard om voorstelle vir die wettiging van prostitusie namens die DA te steun, en ‘n verklaring later dieselfde dag deur Athol Trollip, destyds Oos-Kaapse leier van die DA, waarin die voorstelle onomwonde verwerp word.

In Suid-Afrika is die huidige situasie waar die groot rolspelers in ‘n oorvol humanistiese deel van die politieke poel saambondel, sterk histories beïnvloed. Suid-Afrika was immers nie vry van variasies van wat breedweg as Christelike politiek beskou kan word nie. Die Nasionale Party het hom lank as Christelik-nasionale party beskryf, en op die ander kant van die politieke spektrum was die “bevrydingsteoloë” erg sigbaar en aktief. Beide het ‘n impak gelaat op die aansien van Christelike politiek, en ‘n ongunstige klimaat vir die posvat van Christen-demokrasie geskep. ‘n Verdere variasie, die Christelik-volkseie, plaas selfverduidelikende beperkings op sy groeipotensiaal.

Terminologie is boonop opportunisties wanaangewend. Met die samesmelting van die DP en die NP is gewag gemaak van hoe identies hul beleid is. Toe die huwelik op ‘n egskeiding uitloop, is gemotiveer dat die DP/ DA sy wortels in die liberale demokrasie vind, en die NP in die Christelik-nasionale. Marthinus van Schalkwyk is selfs aangehaal as sou die NP / NNP Christelik-demokraties wees.

Tog was dit toe weer “identies” genoeg om by die sosiaal-demokratiese ANC in te skakel.

Die ontstaan en ontplooiing van Cope demonstreer waarskynlik die dilemma van Christen-demokrasie hier te lande ten beste.

In wese moes Cope kies tussen waar ‘n vakuum in beleid bestaan, naamlik die Christen-demokratiese, of waar die kiesers was (binne die ANC). Bedoeld of onbedoeld, dit het in ‘n “mini me” ANC ontwikkel, soos ook die UDM.

Die kiesers is wel binne die ANC, maar is een uit tien, of een uit dertig weens beleids- en ideologiese redes in die ANC?

Die speelveld van die Christen-demokrasie bly dus effektief onaangeraak.

Natuurlik kry die media dikwels die skuld hiervoor. Die vorige leier van die Kanadese CHP het graag aangehaal uit ‘n Amerikaanse studie wat bevind het die gemiddelde Amerikaanse joernalis is links van die gemiddelde Amerikaner. Dan word geïmpliseer dieselfde geld in ‘n grotere of mindere mate elders, en daarom word die Christen-demokrasie buite Wes-Europa deur die media grootliks verswyg.

Daar is ‘n ander siening, naamlik dat die Suid-Afrikaanse bevolking, media inkluis, ideologies ver agter Europa is en nou eers in die era van die 70’s van die vorige eeu verkeer, waar Europa tot op die randjie beweeg het tot waar ongebreidelde liberalisme lande kan voer – en ‘n teenreaksie ontstaan het.

In Nederland is byvoorbeeld baie gemaak van Calvyn se 500ste herdenking, en het ‘n studie aangetoon die gemiddelde jong Nederlander is meer Calvinisties as hul ouers.

Te veel klink dit of Suid-Afrika se negrofiliste en Cape Liberals – geoordeel aan die histerie in hul geskrewe kommentare – bevange is oor ‘n moontlike omkeer en hul idee dat vooruitgang ‘n reguit liberale lyn behels onderweg na ‘n nog liberaler omgewing. In hierdie histerie word selfs voormalige Dakargangers as “neo-konserwatiewes” uitgeskel, terwyl hulle self steeds erg konserwatief klou aan die reguit lyn opvatting. ‘n Tipese “sonde” van ‘n “neo-konserwatief sou wees om dit te durf waag om hom oor ‘n mate van die behoud van Afrikaans by Maties uit te druk.

Kritiek op die kerk hier bly ook nie uit nie. Simplisties gestel, Sondae is Suid-Afrikaners lid van ‘n kerk wat gekant is teen aborsie op aanvraag, dobbel en gay huwelike, maar in die week behoort hulle aan partye wat dit juis weer voorstaan – en die kerke swyg oor hierdie teenstellings as sou dit in die haak wees om die Here Sondae na die kerkdienste in die kerk toe te sluit, en eers weer volgende Sondag oop te sluit. Kerke se wegskram hiervan wentel om argumente soos soewereiniteit in eie kring, maar hel (geen woordspeling bedoel) dan oor dan die negering van universaliteit in eie kring.

Die kerk “verskoon” of regverdig sy optrede deur akademies te kyk na die kerk wat as “gefokus op Jesus” eerder as “gefokus op die kerk as instelling” moet funksioneer. Ja, maar dan leen verskeie kerke hulle tot politieke uitbuiting soos die voorkeur-preekgeleenthede wat pres. Jacob Zuma kry.

Vir die Christen-demokraat is Jesus geen party se instrument nie – ook nie die instrument van die Christen-demokratiese partye nie, maar is Christene die instrument van God – in die kerk, in die party, in die staat, in die huwelik, in die gesin, in die skoolbeheerliggaam… Dan kan hulle maar baie soewerein in eie kring wees, want hulle word immers deur dieselfde mense met (Christelike) waardes bestuur.

Tog – die klein bestaande Christen-demokratiese rolspelers kan gerus ook die hand in eie boesem steek. Onder die kritiek hier te lande is dat van dié partye hulle sterk in uitdrukkings en dampkring van die fundamentalistiese charisma bevind. Iemand sal sommer gou verstaan laat word hy is nie ‘n Christen nie en dus nie welkom nie omdat hy nie glo die aarde is net 6 000 jaar oud nie. So word lidmate van die groot susterkerke in effek uitgesluit.

Veral een party het ‘n erg verskanste diktatoriale leierskap ontwikkel wat dit onmoontlik maak vir meer gematigdes om toe te tree, en die party van die ekstreme weg te voer. Lank voor gebalanseerde Christene hulself kan posisioneer is hulle as “vrot kolle” geïdentifiseer en uitgewerk.

Lees verder hieroor.

price instagram adstopcargo