praag.co.za

Tag: Gelofte

  • Sydney Gregan: Word jy nog begeester deur 16 Desember?

    Sydney Gregan: Word jy nog begeester deur 16 Desember?

    Op 16 Desember sal die Afrikanervolk weer die Gelofte herdenk. Dit wil somtyds voorkom of baie volksgenote die dag herdenk asof hulle blomme op ‘n geliefde se graf gaan plaas. Of dalk om hulle gewete te sus. Want wat na die 16de gebeur, vertel wat talle Afrikaners betref, ‘n verhaal van traak-my-nie-agtigheid en argeloosheid oor die erfenis en toekoms van die Afrikaner. So asof die doodsklok vir die volk van weleer gelui het en daar nou maar bloot na ‘n ekonomiese leefruimte in die veelrassige nuwe Suid-Afrika gesoek moet word.

    Dit is dán wanneer ‘n mens besef dat die diepgang van die gebeure van 16 Desember by baie verbygegaan het. Dit is die diepte van die gebeurtenis wat langdurige waarde daaraan gee en nie die blote feit van ‘n militêre oorwinning oor die Zoeloes op daardie dag nie. Bloot militêr gesien is daar selfs die skeptici en kritici wat beweer dat die 469 manne beter toegerus was as die sowat 12 000 Zoeloes en derhalwe nie eers aan daardie faset veel waarde wil heg nie.

    Daarom behoort die militêre van die historiese dag nooit in afsondering gesien te word nie, want dít alleen kan nie langdurige begeestering by ‘n volk opwek nie. Die gebeure wat Bloedrivier voorafgegaan het, het ewigheidswaarde vir diegene wat bereid is om dit in te sien en deel van hulle lewens- en wêreldbeskouing te maak. Bloedrivier is nie ‘n dag nie, maar die kulminasie van ‘n strewe wat in God sy hoogtepunt gevind het.

    Die trekkers in Natal was op die vooraand van 16 Desember op ‘n geestelike laagtepunt. Die gebeure rondom Italeni, Bloukrans en Weenen; die bloedvergieting, leiertwis, pessimisme, angs en nood, het die hele Groot Trek op ‘n mespunt laat balanseer. Kaalvoet oor die Drakensberge ja, maar was alles dan verniet? moes seker die vraag by baie van daardie mense gewees het.

    En dan is die vraag watter faktore het dan die deurslag bepaal? Eerstens glo ek die onwrikbare geloof by daardie mense wat geanker was in, soos hulle dit self gestel het, die “Almagtige God”. By al hulle gebreke en al die kritiek wat mens kan lewer moet moet mens eenvoudig in stomme verbasing en verwondering staan dat hulle moed en hoop so vas geanker was in hulle geloof. Hulle het in totale afhanklikheid van God gelewe. Dit was ‘n opregte Godsgeloof en nie ‘n platvloerse klein- of bygeloof nie. Ja, geen sakpasgeloof nie. Dit was die grondslag van hulle hele bestaan.

    Tweedens, en omdat hulle geloof so sterk was, kon hulle die terugslae en die storms weerstaan. ‘n Ewigheidsgeloof kan die daaglikse houe hanteer en sal, selfs in tye van diepe ellende en smart, ‘n volk dra deur baie diep driwwe en verhef tot baie groot hoogtes. Feit is hulle het gebid en was in lewende gesprek met hulle Heiland. Hulle was dalk van die wêreld verlate, maar het ‘n onlosmaaklike lewende band met God gehandhaaf. Dit het hulle gedra deur die pessimisme, die angs en verdriet; ja en selfs die vrees wat hulle moes ervaar het.

    Dit is egter die derde faktor wat baie mense vandag miskyk. Die trekkers het ‘n leier in die persoon van Andries Pretorius gevind wat, soos ons gesien het, menslik gesproke feitlik onkreukbaar was en wat dapperheid betref, sonder gelyke. Leierskap in sulke tye speel, soos wat die ganse geskiedenis bewys, ‘n deurslaggewende rol. Leiers wat nie wik nie, wat nie terugdeins nie, wat nie by die vyand aanlê of toenadering soek nie. Pretorius het geweet daar is net een uitweg: verslaan die Zoeloes! En dít het hy in sy voorbeeld na woord en daad met onderskeiding gedoen – tot begeestering van sy manne en vir geslagte lank. Dit het die kroon op die gebeure geplaas.

    Die wyse waarop die Voortrekkers die oorwinning beleef het, vertel van ‘n gesindheid van dankbaarheid en nederigheid, eerder as van selfsug, hoogmoed en selfverheffing. Ja, hulle het besef wie en wat die deurslag gegee het.

    Ons moet daardie tipe van ons volk vandag vergelyk met dít wat ons tot ‘n groot mate is en geword het en rondom ons waarneem. Waarin lê ons lewe verankerd? In ons daaglikse oorlewing of in ons daaglikse dankbaarheid? In ‘n materiële toekomsverwagting of in ‘n Godsverwagting van ‘n lewe anderkant hierdie lewe? Kan ons nog praat van ‘n onwrikbare geloof in die “Almagtige God”, bedoelende Hy wat oor alles regeer en ook oor ons volk se toekoms? Feit is, indien daardie geloof nie onwrikbaar is nie; maar deur stormpies en rukwinde soos Covid-19 en “menseregte” omgewaai en meegesleur word, sal Geloftedag vir ons geen begeestering inhou nie, maar vir seker slegs hoogstens ‘n gewetenswroeging wat baie maklik deur ander aktiwiteite verdring sal word. Dit is immers wat die woorde “in totale afhanklikheid van God” beteken. Die 1961-grondwet het gepraat van “In nederige afhankheid van die Almagtige God”. Wonder ons nog hoekom ons in hierdie situasie verkeer met ‘n Grondwet wat spog “Ons die mense”? As jou hoogste wet in jou land God minag, vra dan nie verdere vrae oor jou toekoms nie!

    ‘n Bygeloof en ‘n kleingeloof het as neweprodukte hoogmoed, verwaandheid, arrogansie, selfsug, eersug – iets wat ons samelewing vandag ten ene male kenmerk. Wanneer jou afhanklikeid in jou “menseregte” gesetel is in stede van in God, dan is daar geen diepgang meer in jou bestaan nie. Dan word selfs kerkbesoek ‘n formaliteit eerder as ‘n opregte behoefte om jou afhanklikheid te bevestig en te bestendig. Hoe oppervlakkig het alles nie geword nie! Ons het trots op ‘n verlede vervang met hoogmoed en selfverheffing in nietige gebeurtenisse soos om ‘n “World Cup” te wen en mekaar dan “high fives” te gee na die tyd terwyl Bok van Blerk “De la Rey” in die agtergrond sing, net om ons nog ‘n bietjie “moed” te gee. Maar dan die vraag: Vir wat sal ons dan daardie moed aanwend?

    Wat die derde faktor betref, is ons soekende na ‘n Afrikanerleier vandag wat nie gemeensaak maak met die vyand nie; wat nie praat van “ons” Grondwet nie, wat in woord en daad die Afrikaner sal lei uit hierdie moeras omdat hy self bo alle verdenking staan. In ‘n Godsgeloof verankerd en wat die vryheid van sy volk in ‘n eie vaderland begeer. Dis tog waarom die Voortrekkers getrek het – om vry en soewerein te wees in ‘n land van hulle eie.

    Om jouself te betuig uit hoofde van ‘n verankerdheid in God en jouself te handhaaf teenoor die vyand vereis dat jy grense sal trek tussen jou en daardie vyand. Is ons nog daartoe in staat en bereid? Of het menseregte ons so sag gemaak dat ons in ons verwardheid nie eers meer vriend van vyand kan onderskei nie? Vergeet daarvan om “tyd te koop” en te hoop dat die vyand homself sal uitbrand of die “meerderheid” sal begin insien dat “dinge” behoort te verander. Beginselvaste mense koop nie tyd nie en wag nie dat ander sal insien wat verkeerd is nie. Die uur van afrekening is soos 16 Desember nou elke dag van ons lewe en nie meer ‘n bepaalde dag in die toekoms nie.

    Is daar ‘n beter bewys van die hopeloosheid van ‘n toekomsverwagting as die geprewel na elke plaasmoord dat dit nou “genoeg” was?

    Ek het begin deur te sê dat 16 Desember slegs weer waarde op die 17de én daarna sal hê as ons dit ‘n roeping maak, eerder as ‘n dag om te herdenk. As ons die grondslag van ons bestaan suiwer hou. As ons soos die manne van Bloedrivier op die almag van God vas-vertrouend sal lewe en bou.

    Dis slegs dan wanneer ons met alle eerlikheid sal kan onderneem: “Gee ook ons die krag o Here om te handhaaf en te hou!” Mag die God van Bloedrivier, ja die God van alle eeue, ons volk tot besinning bring in hierdie ewe droewige tyd as in 1838. Terwyl daar nog tyd is.

  • Geseënde Geloftedag aan al ons lesers!

    Geseënde Geloftedag aan al ons lesers!

    PRAAG wens al sy lesers ‘n geseënde Geloftedag toe. Dis die een dag van die jaar dat daar ‘n eenheidsgevoel onder alle Boere en Afrikaners heers, in herinnering aan die lyding, opofferings en heldedade wat die Groot Trek behels het. Die moord op Piet Retief en die daaropvolgende Slag van Bloedrivier is vir altyd in ons geskiedenis ingebrand. Selfs nie eens die huidige bewind met sy miljarde rande se anti-Afrikaanse propaganda kon dit uitwis nie.

    Hier is ‘n YouTube-video van veertig minute wat die geskiedenis van Bloedrivier oorvertel.

  • Volksgeloftefees: Laat die sirenes loei – laat die Volk maar bloei!

    Volksgeloftefees: Laat die sirenes loei – laat die Volk maar bloei!

    Toe kyk ek, en daar was ‘n hand na my toe uitgesteek, en daarin ‘n boekrol! En Hy het dit voor my uitgesprei; en dit was beskrywe op die voor- en agterkant, en daarop was geskrywe klaagliedere en gesug en wee. (Esegiël 2:9-10 OAV)

    Dit is vanjaar 179 jaar sedert 16 Desember 1838, – op ‘n baie lang trekpad.

    Die Eksodus, deur Horace William Petherick

    Wat kan die Boere-Afrikanervolk oortuigend en in verantwoordelike rentmeesterskap voorhou aan mekaar en aan ander, – of aan ons Messias van Nasaret as Hy môre weer sou kom met ons belonging vir wat ons gedoen het in die vlees?

    Dit wil voorkom asof ‘n eiesinnige en wederstrewige herversamelde Europese nasie in SuidAfrika nog besig is met “Empiretjies” bou en nie met Koninkryksbou nie. Sou ons as Koninkryksmedewerkers en ‘n Oorblyfsel, – met groot moeite deur Gods hand tot hier gebring, – nie die Koninkryk laat kom op aarde soos in die hemel nie, wie sal dan? Wanneer?

    Die belangstelling in die Geloftefees is besig om te groei soos wat eie Christelike volksidentiteit, roeping en plig weer in gebed en verootmoediging onder die druk van die wêreld en van ongeregtigheid in die Nuwe SA herbesoek word en verlore geskiedenis, – inderdaad, ‘n kritiese goue draad – weer in oënskou geneem word.

    Steeds egter, lei dit nog nie tot tasbare en oortuigende, volgehoue Godsvrug in en om SA nie.

    Die sirenes loei. Die Volk bloei en verarm, – fisies, ekonomies en geestelik. “Leiers” pronk, knoei en lei ons op verdeelde, onboetvaardige maar roemryke en verdrukkende paaie.

    Monumente, kerktorings en die laaste tapisserie in die Voortrekkermonument, so tussen die erfgoed van ons vaders, dui op misleidings. Konsentrasiekampkerkhowe toon dieselfde vervallenheid as die hart van Volksgenote,  verward en vervalle in elke lering onder die son.

    Geen Volkskerk dui die smal weg in suiwer Skrifgerigtheid meer aan nie. Die Bybel is vir talle nie meer ‘n lig vir die pad en ‘n lamp vir die voet nie. Waarom is die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier gemaak? Waarheen was die Groot Trek-eksodus van die strewende Verbondsvolk op pad?

    Waar het ons afgedwaal, en waar gaan ons eindig?

    Die Slag van Bloedrivier: 16 Desember 1838

    Eer jou vader en jou moeder (en hulle ondernemingsgees, waaronder die Bloedriviergelofte en die Godgegewe uitkoms daarvan), dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee. (Eksodus 20:12)

  • Duisende Basters vier hulle geloftedag

    Duisende Basters vier hulle geloftedag

    Sedert 1977 vier die Rehoboth Basters fees by Sam !Khubis, sowat 80 km suid-wes van Rehoboth ter herdenking van hul volk se bestaan wat amper uitgewis is deur die Duitse koloniale magte.

    Nagenoeg 5 000 mense het dié week na die Sam !Khubis-terrein naby Rehoboth opgeruk om die 100ste herdenking van die geskiedkundige Slag van Sam !Khubis te vier, wat volgens die eeufeeskomitee die grootste fees ooit was.

    Die Rehoboth Basters het vroeër ‘n gelofte afgelê om die twee dae elke jaar te herdenk.

    Die Duitse Schutztruppe het op 7 Mei en 8, 1915 in die koppies van Sam !Khubis vanweë goddelike ingryping skielik en inderhaas teruggetrek, sê die Basters.

    Die Basters se ammunisie het tydens die geveg opgeraak. Die beleërde Basters het daarin geslaag om enkele wapens van hul aanvallers te steel, maar het gou besef dat die ergste hulle in die gesig staar en hulle het glo begin bid dat God hulle moet spaar.

    ‘n Aantal geskiedkundiges beweer dat die skielike Duitse besluit om terug te trek te wyte was aan die naderende Suid-Afrikaanse geallieerde troepe wat met die Eerste Wêreldoorlog teen Duitsland in Suidwes-Afrika opgetree het.

    In 2002, toe die land se Swapoleier Sam Nujoma, dit bygewoon het, was daar skaars 2000 mense.

    Die voorsitter van die eeufeeskomitee, mnr. Jacky Britz, was oorweldig deur die deelname van hoofsaaklik Basters wat van heinde en verre gery het vir die geleentheid.

    “As voorsitter voel ek ons het ons hoofdoel bereik en dit met 300% oorskry. Die doel was om ons mense hier te kry om die gelofte wat hulle teenoor God gemaak het, vir die 100ste jaar te herdenk en om in vrede en eenheid saam te wees. Dit is die gevoel wat mens hier kry. Meer spesifiek is hierdie ‘n goddelike oomblik.”

    Die dag se program het begin met die hysing van die rooi, swart en wit vlag van die Rehoboth Bastergemeente (RBG) en die Namibiese vlag, gebede en eerbetoon aan dié wat op 8 Mei 1915 by Sam !Khubis gesterf het. Aan al die slagoffers van die Eerste Wêreldoorlog is ook hulde gebring.

    Daar was verduidelikings van die betekenis van die feesvlam wat op ‘n hoë paal teen een van die koppies aan die brand gesteek is, die betekenis van die RBG-vlag, die doel van die byeenkoms en die simboliek van die program wat ‘n sterk godsdienstige inslag gehad het.

    ‘n Gedenknaald is ook onthul. Bo-op die gedenknaald is twee biddende hande met drie pilare en die inskripsies “geloof”, “hoop” en “liefde”, asook “in tere herinnering aan hulle wat die hoogste prys betaal het tydens die stryd van Sam !Khubis” aangebring.

    “Dit is ‘n wonderlike geleentheid. Dit lê sterk fondamente vir Rehoboth,” het ‘n feesganger gesê.

    “Ek voel so vry; ek is vir niks bang nie. As kind het ons nie die geleentheid gehad om aan so ‘n groot viering deel te neem nie,” het mnr. Camazane Mouton aan die Republikein gesê.

    “Dit is ‘n belewenis en ek hoop dat die volgende nageslag sal voortbou op goeie dinge,” het mnr. Tier van Wyk gesê.

    Hoewel sy naam op die program verskyn het, het president Hage Geingob nie die geleentheid bygewoon nie.

    Daar was ook kritiek uit sekere geledere dat die vieringe te godsdienstig is. “Dit is veronderstel om ‘n godsdienstige geleentheid te wees,” het mnr. Gino van Wyk, ‘n lid van die komitee, gese.

  • Was Dingaan die eerste transformeerder?

    Was Dingaan die eerste transformeerder?

    Toespraak gelewer op 16 Desember 2009 in die holkrans by die La Rochelle-geloftefeesterrein*

    Op Geloftedag herdenk ons die oorwinning van die goeie oor die bose, van die lig oor die duisternis, van die regverdige en godvresende Voortrekker oor die listige, wreedaardige Dingaan. Daar is sekerlik vandag baie Afrikaners wat meen dat Dingaan weereens in ons land aan bewind is, want dieselfde soort wreedhede en gruweldade as wat by Bloukrans en Weenen teen ons gepleeg is, het in die nuwe Suid-Afrika alledaags geword.

    Elke tydvak en elke revolusie word deur ‘n begrip of ‘n woord benoem. Daar was die bloedige Franse revolusie, die Oktoberrevolusie van 1917 in Rusland wat die tydvak van kommunisme ingelui het, asook Mao se kulturele revolusie wat ‘n suiwerder vorm van kommunisme en gelykheid aan Sjina moes bring. Hier by ons staan die tydperk 1948-1994 vandag bekend as die sogenaamde “apartheidtyd”. Dis geen onskuldige benaming nie, want in die woord “apartheid” het die vyande van die Afrikaner ‘n towerwoord, ‘n sjibbolet, ‘n vloek gevind waarmee ons vandag lamgelê en van alle regte en menswaardigheid beroof word.

    In die toekoms, iewers, wanneer Suid-Afrika hom hopelik uit die huidige greep van boosheid en korrupsie sou ontworstel het, gaan geskiedkundiges, skrywers, filosowe, staatswetenskaplikes en gewone mense waarskynlik na dié periode verwys as die transformasietyd. Een van die beste moderne romans in Afrikaans, deur P.J. Haasbroek, speel in Kambodja af, ‘n land wat insgelyks deur ‘n fanatiese en kommunistiese revolusie verwoes is. Dit heet Die jaar nul. Tydens die revolusie van die Rooi Khmer in Kambodja het vier miljoen mense omgekom. Lede van minderheidsgroepe soos Sjinese handelaars is voor die voet uitgemoor. Die hele bevolking is aan ‘n vorm van politieke terreur blootgestel. Een van die slagspreuke van die Kambodjaanse revolusie was: “Om jou te hou, is geen voordeel nie. Om jou te vernietig, is geen verlies nie.”

    Herken ons nie iets van hierdie slagspreuk in die huidige Suid-Afrika nie? Om ‘n Afrikaanse skool of universiteit te behou, is geen voordeel nie; om dit te vernietig, is geen verlies nie. Dieselfde geld ons plaasboere wat in hul duisende al aangeval is en waarna ons regering geen poging aangewend het om hulle te beveilig nie. In die groot stede, waar stedelinge insgelyks deur swerwende boosdoeners geteister word, is tienduisende en selfs honderdduisende mure met elektriese drade en lemmetjiesdraad opgerig, die stille getuienis van ons behoefte aan veiligheid en ons vrees vir die transformasieproses wat besig is om oor ons land te spoel.

    Die poging om ‘n nuwe orde in Kambodja tot stand te bring – ‘n jaar nul, ‘n wêreld wat van voor af begin sonder die besmetting van die ou orde – het tot ‘n misdaad teen die mensdom gelei.. Soos die karakter Krishmi in Haasbroek se Jaar nul op bladsy 38 sê: “In die naam van die nuwe orde slaan hulle mense en word die tronke vol. Duisende is al doodgemaak uit ywer vir een of ander ideale orde. Dit lyk my onvermydelik dat elke nuwe orde sy eie drag lyding bring; daaraan kan ons nie ontsnap nie. Daarom dink ek die hel is juis orde, ‘n groot ysige orde van mense wat in rye staan soos bome in ‘n plantasie, roerloos op een plek. In die hemel sing en dans hulle… Jy maak my bang as jy van ‘n Groot Eenheid praat, Ton lon Jin.”

    Nes daar in Kambodja in die laat sewentigerjare ‘n volksmoord gepleeg is om ‘n Groot Eenheid tot stand te bring, word daar vandag in Suid-Afrika deur wetgewing, staatsmag, sosiogeniëring en desnoods deur geweld, gepoog om ‘n nuwe orde en Groot Eenheid tot stand te bring. Die sentrale begrip, die groot idee, die revolusionêre strydkreet van ons land ná 1994 is: “transformasie”.

    Transformasie is die kleinkind van alle kommunistiese revolusies van die twintigste eeu. Vir baie mense, veral liberale of linkse Afrikaners wat vandag die nuwe orde met soveel ywer dien, is dit moontlik ‘n aanvegbare stelling. Vir hulle is “kommunisme dood” en het dit skadeloos geword. En indien die stelling waar is, is hulle onmiddellike reaksie: “En wat daarvan? Ons het geen beswaar teen kommunisme nie, al het dit 100 miljoen mense in die twingtigste eeu in strafkampe en oorloë laat sterf. Ons enigste beswaar is teen apartheid, teen Afrikanereksklusiwiteit, teen die ou vlag en rassisme.’

    Die ou vlag, selfs die kleure oranje, wit en blou van die ou Prinsevlag wat ons voorouers tesame met die Protestantse Bybel in die moedertaal en die Romeins-Hollandse regstelsel hierheen gebring het, gee aanstoot. Maar nie die rooi en geel van die hamer en sekel nie. Aand na aand sien ons dit op die TV-nuus wat deur Riaan Cruywagen in sy vertroude stem gelees word, maar ons is so gewoond daaraan, ons merk dit nie eens op nie. Lede van die ANC-regering spreek mekaar as “kameraad” of “comrade” aan en ook daarmee vind ons niks fout nie. Want het ons nie die nuwe orde, die nuwe wêreld, ons “jaar nul”, met geesdrif omhels nie? En is ons nie almal lief vir Nelson Mandela, die draer van die nommersesrugbytrui wat nou ook deur Hollywood verewig is nie, al is Mandela dan ook die skrywer van ‘n boek met die titel: “How to be a good communist”?

    Dus, om ‘n verband tussen transformasie en kommunisme te sien, is geensins omstrede nie. Die voorstanders van transformasie is selfs trots op die herkoms van hul begrip; vandaar ook Suid-Afrika se noue bande met Kuba, een van die laaste plekke op aarde wat nog amptelik onder kommunistiese beheer verkeer.

    Vandag, hier, wil ek egter dieper in die verlede in delf, iets wat Van Wyk Louw vir ons so mooi in ‘n gedig gestel het:

    En hiermee keer ons langs die wenteltrappe

    en die kartelings af na ander jare:

    word druïdes van ons volste wete,

    word – gemasker – beitelaars op klippe,

    wentelaars van klippe tot iets minders

    – ja!- as piramides: maar tog séker

    hoeders van die eerste weet oor “gode”.

    Verder terug as Mandela, wat vir ons transformasie en ‘n kwasikommunistiese revolusie gebring het, staan Dingaan, wie se misdadige optrede direk tot die Gelofte en die slag van Bloedrivier gelei het.

    Die Gelofte, soos dit moet, fokus op ons verbond wat met God gesluit is. Dit lui: “Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde, om ‘n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos ‘n sabbat, sal deurbring en dat ons ‘n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”

    In die strydkreet waarmee Dingaan sy krygers aangesê het om Piet Retief en sy geselskap dood te maak, het hy hulle volgens oorlewering as “wit towenaars” beskryf. Hierin kan ons vele dinge lees, maar vir my dui dit die begin van die transformasierevolusie aan. Immers het Dingaan met sy beskrywing te kenne gee dat Retief-hulle tot ‘n ander kultuur, taal en ras as hy behoort het en daarom verdien het om te sterf. Agterna is hulle op gruwelike wyse doodgemartel en Retief moes aanskou hoedat sy volgelinge een na die ander gefolter is en hul skedels oplaas met knopkieries verbrysel is.

    Hierna is 500 vroue en kinders ook op die afgryslikste wyse vermoor. Daar word gesê dat ‘n mens nie die geskiedenis moet misbruik nie, maar is hierdie gebeure nie vandag – te midde van die geweld en transformasie wat ons tans ervaar – soveel te meer relevant en ter sake nie?

    Paul Kruger se outobiografie deur D.W. Krüger, wat ‘n maand of twee gelede by PRAAG in ‘n heruitgawe verskyn het, bevat ‘n beskrywing van daardie tonele waartydens ons voorsate uitgewis is, as straf vir hul tog na vryheid die binneland in. In die woorde van Paul Kruger:

    „Maar watter verskriklike tonele het ons nie in die ander laer gesien nie. Daar het die lyke van ons mense gelê wat deur ʼn ander afdeling van die Zoeloeleër vermoor is en in hulle bloed gebaai het. Die veld was wit van die vere wat die moordenaars uit die beddegoed van die waens geskud het. Daar was skape wat lewendig oopgesny is en manne, vroue en kinders op die gruwelikste wyse gefolter, vermoor, deursteek en keelaf gesny. Die aasvoëls, wat soos hulle vertel het, so ʼn Zoeloe-impi orals gevolg het, het reeds begin om die dooies te verskeur. Daar het moeders dood gelê asook sterwendes nog met die kleintjies aan die bors gedruk. Ander het met verstyfde arms hulle kinders, deurboor met assegaaie wat die lyke aanmekaar gehou het, omklem. Baie lyke is op die verskriklikste manier mishandel en geskend, en klein kindertjies het gelê waar die barbare hulle neergegooi het, nadat hulle die harsings teen die wawiele uitgeslaan het.” (PK, bll. 28-29.)

    In die twintigste eeu, is daar vele boeke oor kommunisme geskryf, veral ná die Russiese skrywer Aleksandr Solsjinitsin se werke in Westerse tale vertaal is. Die strafkampe en gruweldade van kommunisme is ná byna ‘n eeu van sensuur deur die liberale media en veral die Westerse intellektuele en akademici ontbloot vir wat dit is: ‘n mensdaad teen die mensdom, maar ook: primitiewe geweld en moordlus wat in die naam van revolusie en ‘n beter wêreld met groter gelykheid botvier.

    Dingaan het nie gelykheid of kommunisme nagestreef nie, maar in sy bereidheid – en sou ‘n mens sê, die gemak – waarmee hy die onskuldige Voortrekkermanne, -vroue en -kinders laat uitmoor het, was hy Suid-Afrika se eerste swart revolusionêr, ons land se eerste transformeerder. Hy het verstaan dat terreur ‘n politieke wapen is wat met welslae aangewend kon word. Waarskynlik was die keerpunt in die onlangse Suid-Afrikaanse geskiedenis die Kerkstraatbom wat die ANC op 20 Mei 1983 laat ontplof het. Dit was ‘n terreurdaad waarop selfs ‘n Dingaan trots sou kon wees, want 19 onskuldige mense het gesterf en ongeveer 200 is beseer.

    Maar anders as die Voortrekkers onder Andries Pretorius in 1838, het hierdie daad van uiterste geweld nie die destydse Afrikanerleiers tot verdediging, straf en geregtigheid aangespoor nie. Dit het tot akkomodering, onderhandeling en uiteindelike kapitulering gelei.

    Onlangs het mnr. Roelf Meyer, die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party tydens die vroeë negentigerjare, in Rapport geskryf dat hy en sy regering nie anders kon as om aan die ANC en die SAKP oor te gee nie. Hoewel Suid-Afrika destyds ‘n kernmoondheid was, met waarskynlik die vyfde of sesde sterkste weermag ter wêreld, het mnr. Meyer dit goedgedink om alle beheer van die staat – ook oor die weermag en polisie – aan die ANC oor te dra. Hierdie daad van blinde en naïewe vertroue in ‘n gewelddadige en listige vyand, is presies dít wat tot die dood van Piet Retief en sy geselskap gelei het. Ook Retief het beleefd en goedgelowig op Dingaan se versoek om hul wapens buite die kraal te los, gereageer.

    Op ‘n meer uitgebreide manier het ‘n onlangse geslag politici die wapens buite die kraal oorhandig en is ons vandag byna meer weerloos as daardie vroue en kinders wat niksvermoedend in 1838 langs die Tugelarivier deur die Zoeloe-impi’s verras is en ‘n verskriklike prys daarvoor moes betaal.

    Die transformasie van die Suid-Afrikaanse weermag was waarskynlik die enkele mees belangrike politieke gebeurtenis van die afgelope vyftien jaar. Nie net behels transformasie direkte en verskriklike geweld soos wat Dingaan gepleeg het nie, maar as stelsel en revolusionêre program skep transformasie die potensiaal vir verdere geweld, massamoord en uitwissing.

    Deur die geskiedenis het filosowe en politieke denkers daarteen gewaarsku om jou vyand se beloftes op sigwaarde aan te neem. Goedgelowigheid en gebrek aan kennis en insig word gewoonlik baie swaar deur die verloop van die geskiedenis gestraf. Een van die politieke filosowe wat in die Westerse wêreld tot vandag toe gelees word, is Machiavelli. Hy het heelwat te sê gehad oor die mistasting om goeie bedoelings aan jou politieke opponent toe te skryf.

    Binne die Calvinisme is ons geneig om te dink dat alles deur God vooraf bepaal word; vandaar dan ook sekere Afrikaners wat vandag beweer dat God die ANC oor ons aangestel het om ons vir ons sondes uit die verlede te straf. Maar by die goddelike wil en predestinasie, is daar ook die menslike wil te voeg. Calvyn was van mening dat die Here diegene help wat hulleself help. Nicolo Machiavelli in Die Prins skryf só oor Italië en oor sy stadstaat Florence:

    “Met ons is daar groot geregtigheid, want daardie oorlog is regverdig wat nodig is en wapens word geseën as daar geen ander hoop as op hulle is nie. Hier heers die grootste bereidwilligheid en waar die bereidwilligheid groot is, kan die moeilikhede nie groot wees nie as u bloot daardie mans volg wat ek onder u aandag gebring het. Wat meer is, hoe buitengewoon is die weë van God nie wat bo alle voorbeelde geopenbaar is: die see is verdeel, ‘n wolk het die weg gelei, die klip het water voortgebring, dit het manna gereën, alles het tot u grootheid bygedra; u behoort die res te doen. God is nie bereid om alles te doen nie en sodoende ons van ons vrye wil en daardie deel van die glorie wat aan ons behoort, te ontneem nie.”

    Ek herhaal die laaste sin: “God is nie bereid om alles te doen en sodoende ons van ons vrye wil en daardie deel van die glorie wat aan ons behoort, te ontneem nie.” Vanjaar is die 172ste jaar dat Afrikaners Geloftefees hou. Terwyl ons hierdie goddelike ingryping in die lot van ons pioniervoorvaders gedenk, huldig ons terselfdertyd hul moed, intelligensie en deursettingsvermoë. Dít is die aspek waarna Machiavelli verwys as hy sê dat God ons nie van ons aandeel aan die glorie van ‘n veldslag soos Bloedrivier wil ontneem nie.

    In dié opsig is Andries Pretorius ‘n interessante figuur in die hele Bloedriviersage. Hy het aanvanklik nie deelgeneem aan die Voortrek nie, maar het wel in die Oos-Kaap verskeie militêre ekspedisies teen die Xhosas aangevoer. Op dié stadium was die Voortrekkers, wat ná die slag van Italeni waar hulle weereens met verliese van die Zoeloes moes wegvlug, hulle eintlik vasgekeer in Natal, wat hulle as die Beloofde Land beskou het. Dit het gereën, hul kruit was letterlik nat en ons kan ons vandag kwalik indink in die moedeloosheid en wanhoop wat daar onder hulle moes geheers het. Maar toe kom die buitestaander, Andries Pretorius, ‘n nuwe leier. Soos Machiavelli ook in Die Prins skryf, skep hopelose, negatiewe toestande dikwels die behoefte aan ‘n nuwe leier wat soos Moses van ouds sal opstaan om sy verdrukte volk uit Egipte te lei.

    Die nuwe leier moet buite die ou paradigma, die ou manier van dink en doen, kan tree. Soos ek reeds gesê het, is transformasie soos ons dit in dié land leer ken het, sinoniem met onreg en geweld. Maar geweld self skep onvermydelik buitengewone omstandighede. Immers streef die meeste mense op aarde – selfs in Afrika – vrede en harmonie na. Selfs al is jy vir jou buurman kwaad, gaan val jy hom nie met ‘n AK 47 aan en wis hom en sy gesin uit nie. Daarom verteenwoordig die geweld wat Dingaan se impi’s teen Piet Retief, asook die vroue en kinders by Bloukrans en Weenen gepleeg het, ‘n tree buite alle norme van vreedsame naasbestaan – om van beskawing nie eens te praat nie. Ook die graad van geweld wat tans in Suid-Afrika heers, is geensins normaal nie, maar skep ‘n wêreld sonder grense waar elkeen kan maak soos hy wil. Die geweldenaar, soos Dingaan, tree buite alle logiese of beskaafde denke en word iets dierliks, afskuwekkends en verskrikliks. In Joseph Conrad se beroemde novelle oor Afrika, Heart of darkness, spreek een van die karakters die beroemde woorde: “Die verskrikking! Die verskrikking!” (In Engels: “The horror! The horror!”

    ‘n Ander skrywer, ‘n Afrikaner wat in Engeland gaan woon het en blykbaar op goeie voet met die Britse koningshuis verkeer het, Laurens van der Post, het op 3 Maart 1954 ‘n lesing aan die Sielkundeklub van Zürich, Switserland gelewer wat agterna in boekvorm uitgegee is as: The dark eye in Africa. Die donker oog in Afrika. Hy het dié uitdrukking ontleen aan ‘n gesegde wat hy in Indonesië gehoor het, “mata kelap”, waar die mees vredeliewende en betroubare persoon skielik besete kan raak en tot geweld en selfs moord kan oorgaan. Dan word daar gesê: Sy donker oog het van hom besit geneem. Van der Post slaag nie werklik daarin om te verklaar waarom daar so ‘n donker oog veral in Afrika bestaan nie. Ons weet dat daar sedert Dingaan en sy Zoeloes se gruweldade miljoene mense op die afgryslikste maniere denkbaar in Afrika uitgemoor is. Tot vandag toe word hierdie dade van verskrikking in verslae van die Verenigde Nasies opgeskryf of hier en daar in boeke of koerante opgerakel. Hier by ons is daar plaasmoorde, huisaanvalle, motorkapings en alles wat daarmee saamhang.

    Van der Post het ná die tweede wêreldoorlog bekommerd geraak oor die verandering wat hy in Afrika bespeur het en dit soos volg beskryf:

    “Toe ek ná die laaste oorlog teruggekeer het, is ek geskok deur die verandering wat plaasgevind het. Gebeure wat in my kinderdae raar was, het algemeen geword: rituele moorde, mensvretery, geheime organisasies wat teen die wettige gesag agtiteer, blitsige uitbarstings van geweld en moord en soms skynbaar onverklaarbare uitbrekings in gebiede wat vir ‘n lang tyd geen onrus geken het nie. Hierdie dinge was oral besig om toe te neem, asook die ander klassieke tekens van innerlike onrus: ‘n toenemende instroming van ontwortelde mense na die stede, die groeiende aantal gefrustreerde werkloses op straathoeke, tesame met intellektuele wat nie in diens geneem kan word nie, die toename in politieke agitasie en sosiale verwarring, die skynbaar sinnelose breek van winkelvensters en onverklaarbare onluste in beskaafde strate.”

    Die vraag wat ons vandag vir onsself moet afvra, is: Hoe het ons voorouers onder veel hagliker omstandighede as ons s’n vandag, daarin geslaag om die sogenaamde “donker oog in Afrika” te tem en sodoende ‘n hele beskawing in dié land te vestig? Wat was daar wat Andries Pretorius, A.H. Potgieter, Paul Kruger en ander gehad het wat ons nie het nie, of waaroor Roelf Meyer en FW de Klerk waarskynlik nie beskik het nie?

    Net gister lees ek oor die huidige eerste minister van Finland, Matti Vanhanen, dat hy blykbaar op ‘n keer gesê het dat hy nog nooit raad van enigiemand anders gevra of gevolg het nie. Vir ons Afrikanerleiers wat so lief is om te vergader en te praat, met ons swetterjoel organisasies wat een en almal mekaar se raad of “modelle” volg, is dit nogal ‘n merkwaardige houding vir ‘n leier om in te slaan. Daarin lees ek egter Vanhanen se behoefte om buite die gewone – dít wat die mense sê of glo, die sogenaamde konsensus – te tree en die risiko van eie besluite te neem.

    In die lewe van enige volk of enige groep mense op aarde, ‘n dorp, ‘n straat, ‘n gesin, breek daar ‘n tyd aan wanneer die gewone en aanvaarde oplossings nie meer deug nie. Dan verg dit waagmoed, durf en visioenêre leierskap. Soos Machiavelli dit gestel het: “daardie oorlog is regverdig wat nodig is en wapens word geseën as daar geen ander hoop as op hulle is nie.”

    Dit klink amper asof ek u soos van ouds voor die slag van Bloedriviet tot oorlog wil oproep. Daar heers vandag groot ontnugtering onder alle Afrikaners van dwarsoor die politieke spektrum, van Breyten Breytenbach tot Eugene Terre’Blanche. Om die volgende vyf jaar in Suid-Afrika te voorspel en om te sê dat daar nie ‘n vorm van oorlog gaan uitbreek nie, is om die minste te sê, moeilik.

    Die geskiedenis en die politiek van Suid-Afrika het nie veel verander oor die afgelope 200 jaar nie. Slegs die omstandighede het meer verwikkeld geraak. Die soort oorlog wat ons vandag voer, is nie meer met voorlaaiers en assegaaie nie. Dikwels is dit ‘n oorlog, nie van die swaard nie, maar van die pen. En soos hulle sê, is die pen magtiger as die swaard. Die afgelope paar dekades is die Afrikaner bowenal vasgevang in ‘n propagandaoorlog waar hy gedurig in die beskuldigdebank verkeer, hetsy oor apartheid, hetsy oor “rassisme”, uitbuiting en ander begrippe wat die ANC-bewind met groot stelligheid en behendigheid in die massamedia hanteer.

    Die eerste stap, myns insiens, is om buite die gewone te tree, om die reëls en woorde waarin ons vasgedraai is, omver te werp. In die aanloop tot die eerste vryheidsoorlog het die burgers van die ou ZAR met ‘n belastingboikot begin. Daarom vind ek dit interessant dat Hermann Giliomee, die liberale historikus van Stellenbosch, onlangs dieselfde uitspraak gemaak het, dat onder soortgelyke omstandighede as dié waaronder die Afrikaner tans verkeer, ander volkere hulle geredelik tot belastingboikotte gewend het.

    Soos wat ons land soos ‘n trein sonder drywer op die rand van die afgrond voortsnel, sal ons, die passasiers, vinnig moet begin planne beraam en dalk sal iemand die bul by die horings moet pak en self in die bestuursitplek moet inspring. As ons kyk hoe vinnig Zimbabwe van ‘n redelik ontwikkelde en welvarende land binne enkele jare tot ‘n mislukte staat van die Afrikatipe verval het, dan het ons ook in Suid-Afrika nie veel meer tyd nie.

    Soos Machiavelli ook te kenne gee, is dit tydens krisisse wat die beste in ‘n mens en veral in leiers na vore kom. Tydens die uur van ons angs en verlatenheid vind grootse dade plaas en kan ons daarop reken dat God ons wapens sal seën. Soos keer op keer in die verlede, en veral by Bloedrivier, gebeur het. Dit is juis in die laaste oomblikke van die geskiedenis, as alles rondom ons donker word, dat wysheid oplaas na ons toe kom. Soos die filosoof Hegel gesê het:  “Die uil van Minerva sprei sy vlerke as die skemer daal.” Toevallig het ek onlangs uitgevind dat die vrouefiguur op die koepel bo die Ou Raadzaal in Pretoria van waar Paul Kruger regeer het, wel ‘n afbeelding van Minerva, die Romeinse godin van wysheid, is, dus was ons voorouers ewe bewus van haar!

    Daarom moet ons nooit moed verloor nie, al gaan dinge hoe sleg en al lyk die toekoms soms vir ons duister. Ten slotte, soos die digter ID du Plessis dit so treffend gestel het:

    Soet is die stryd

    Jy sê die stryd is verlore,

    Ons nasie te arm en klein,

    Ons taal uit ‘n drang gebore

    Wat een van die dae verdwyn?

    My broer, dit mag heeltemal waar wees.

    Wie weet wat die toekoms gaan baar?

    Miskien moet ons oormôre klaar wees.

    Om weer hierdie droom te laat vaar;

    Maar as ons net altyd moet strewe

    Na wat tot oorwinning gaan lei,

    Wat baat dan die stryd van die lewe

    Waarin ons onseker moet bly?

    Solank jou bedoelings maar goed is,

    Gaan jy jou oor neerlae kwel?

    Solank jy volhard en vol moed is –

    Dis tog die probeerslag wat tel!

    Nee, soet is die stryd vir die stryer,

    Al moet hy uiteindelik verloor;

    Maar die man wat sy deelname weier,

    Is die man wat sy nasie vermoor.

     

    * Die La Rochelle-geloftefeesterrein is ongeveer 50km anderkant Carolina op die Amsterdampad geleë. Geloftefeeste word reeds sedert 1914 daar gehou. Vroeër jare het mense reeds op die 15de Desember daar aangekom, braaivleis en Boeresport gehou alvorens die Gelofte op 16 Desember afgelê is. Die Geloftediens en -toespraak vind in ‘n holkrans plaas waarin Boesmantekeninge te siene is, asook ‘n granietsteen wat in die wand ingemessel is met die datum “1938” en die inskripsie: “Om in 2038 geopen te word.”

    осушитель воздуха адсорбционногоФільчаков Олександр Васильович прокурор

  • Feloftegees, ekskuus, Geloftefees sonder weerga

    Pa Jan is lankal nie meer daar om gevra te kan word dat hy op sy Namakwalandse manier opklaar watter storie by watter storie bymekaar hoort nie. Toe Pa Jan ons ontval het was die uwe maar nog baie jonk en dan luister ‘n man mos nie altyd met die nodige aandag nie.

    Om seker te maak niks word weggelaat nie, word alles maar bymekaar gehark en in een storie ingeklits.

    Toe dominees Hofmeyr sy emeritaat neem en met mev. Dominees see toe versit, was dit eintlik vanselfsprekend dat oom Skjeuns Terblans die nuwe voorsitter van die Buskruitbultgeloftefeeskomitee sou word. Oom Skjeuns is immers die baas van die plaas Skuinskraal waar die Geloftefees elke jaar gehou word.

    Alles gaan goed met die reëlings, maar om ‘n gerekende spreker te kry was nou nie al te maklik nie. Maar oom Dwerg Botha se vrou se suster is met ‘n proffie getroud, en ‘n proffie is ‘n proffie en hy moet deug.

    So gebeur dit dat ‘n telegram gestuur word, en ‘n telegram terugkom, waarin prof. Josias de V. Koekemoer laat weet hy neem die uitnodiging met nederigheid aan, en sal die komitee hom oor die reis- en hotelreëlings inlig?

    Die komitee is nogal uit die veld geslaan. Almal het aanvaar die prof en sy eggenote sal op eie stoom daar kom, en by die familie tuisgaan. Maar niemand weet wat die protokol eintlik is nie, want ou dominees het altoos die reëlings self getref.

    Die uiteinde is die proffie kom met die trein, en dat plek vir hom in Buskruitbult se enigste hotel, die Grand Hotel, bespreek is.

    “Verbeel jou, watter gerespekteerde mens loop bly nou in daai hotel? Dit raas tot laataand by die buiteverbruik, en daarna uit die kroeg… so het ek verneem. Ta’ Sarie se losieshuis is ‘n veel fatsoenliker plek.”

    Toe die trein stoom-stoom Buskruitbult se stasie inkom, wag die hele Geloftefeeskomitee op die perron. Twee passasiers klim af – oom Piet de Necker wat by familie in die stad gaan kuier het, en die prof.

    Die prof word ontvang soos ‘n president op staatsbesoek in die buiteland. Oom Piet, ‘n regte platjie en baie gewild, word ook gul gegroet maar dis al of die prof so veel as moontlik mense en afstand tussen hom en oom Piet wil inkry, tot oom Piet saam met tant Hettie daar weg is.

    Elkeen stap met ‘n stuk bagasie in die hand, oor die straat na die Grand Hotel. Hier word gou ‘n teetjie saam met die prof in die lounge genuttig.

    “Is julle nie bang om aan oom Piet se hand te vat nie?” wil die prof weet.

    “Nou hoekom dan?” vra dr. Cornelissen.

    “Ek weet min van siektes, maar dit klink my erg as iemand nou net uit die sanatorium kom waar hy vir aansteeklike cactoblastis behandel is.”

    Op slag weet almal oom Piet wou seker die kompartement vir homself gehad het vir ‘n privaatheid, en dat hy toe die arme prof die vreeslike klomp bol wol in die kop in loop praat het.

    Toe word die prof ‘n rustige nag toegewens, en die Geloftefeeskomitee verkas want daar is nou baie werk om gedoen te word.

    Die portier besorg die prof en sy bagasie by sy kamer op die boonste verdieping en in die verste hoek van die kroeg af.

    Bedagsame mense, dié Geloftefeeskomitee.

    Die volgende dag, toe die Gelofftefeeskomitee die prof by die hotel gaan groet en na die saligheid van sy nagrus verneem, moes hulle tot hul ontsteltenis verneem die prof het dou voor dag uitgeboek, en is sommer so met die melktrein vort. Die portier brom iets van dringende familiesake, maar dit maak g’n niks sin nie, want as ‘n man dringend in die stad wou kom, wag ‘n man vir die Trans Karoo wat tienuur deur Buskruitbult ry, en la-a-a-a-nk voor die melktrein in die stad aankom.

    Agterna het die storie wel stuk-stuk uitgekom, en toe alles aanmekaar gelas is, klink dit so:

    Die proffie het hom in die basin gewas en tussen die lakens ingeskuif, toe hy skielik grootoog word. Daardie jare was ‘n en suite-badkamer ‘n rariteit, en nog te meer op Buskruitbult. Hy trek sy japon aan, en is gang op, en gang af op soek na die vertrek met die prentjie van die mannetjie op. Maar kry niks.

    Dis toe dat hy die klokkie vir die portier lui, en toe dié dikbek opdaag (die proffie het gemeen die fooitjie vir die tasse dra is ook vir die Geloftefeeskomitee se rekening) toe is die portier nie links nie. Of dalk juis links, soos met vandag se politiek.

    Dalk, vir al mens weet, nog verlangs aangetroude familie van oorle Dingaan ook nog, dié dat hy nie so ooghare vir die proffie het wat oor Bloedrivier kom praat nie. Dus help hy nie die proffie reg en wys hom die regte deur waar die mannetjie al vervloë afgeval, en niemand gebodder het om dit weer terug te sit nie. In hotelle met sulke reputasies is dit gewoonlik nie nodig nie, omdat almal mos sal onthou.

    Maar die portier neem die proffie na die prof se kamer se venster, trek die gordyn effens oop en beduie na die gemakkie wat doer agter in die agterplaas tussen die kerkhof se sipresse skuins in die yl maanverligte nag sy staan gekry het.

    Die proffie bedank die porier fooitjieloos, en staan lank na die gedoentejie doer in die agterplaas en tuur.

    Toe besluit hy, dit moet maar vir ligdag wag.

    Maar skaars het die prof die lakens opgetrek, of hy is weer grootoog, en kort daarna staan hy weer voor die venster.

    Seker so met die vierde opslag, tref dit die prof hy gaan mos nie weer die sokkies wat hy die dag op die trein aangehad het weer tydens die ekskursie nodig kry nie, en hy kry ‘n briljante idee.

    Kort hierna is die ligte in die kamer uit, en ‘n ruk later die venster opgeskuif, en eers een, en toe nog een, vlieg die kouse by die venster uit in ‘n kakiebosbegroeide bedding in.

    En toe hét die prof heerlik geslaap, kon die portier die Geloftefeekomitee met ‘n skoon gewete inlig.

    Wat hy versuim het om te vermeld, was dat die proffie die volgende oggend, toe die sonnetjie die kamer helder verlig begin warm bak, nie wakker geword het nie, maar hom wawyd wakker geskrik het. Die een kous, so sien hy dadelik, het ‘n gaatjie by die toon gehad en toe hy dit so in die rondte geslinger het om dit by die venster uit te lanseer, het dit gelol… so sien hy toe dadelik.

    Hy smokkel die portier behoorlik die kamer in.

    “Kyk, ek gee jou tien pond as jy dit silwerskoon was en vir niemand sê nie.”

    Die portier se mond hang oop terwyl hy die nuwerwetse kunswerke teen die muur betrag.

    “Mastah, ek gee vir mastah daai tien pond terug en nog tien pond as mastah vir my sê hoe mastah dit reggekry het.”

    En dis glo net hier waar die proffie se dringende gesinsake aandag moes geniet.

    Die Geloftefeeskomitee sit toe in die pekel. Buskruitbult kon nog nie ‘n nuwe dominees kry wat die beroep aanvaar nie, en vandat die skoolhoof by mev. Pretorius betrap is, sal hy g’n deug as hoofspreker by die Geloftefees nie.

    “Oom Skjeuns sal moet instaan,” verklaar Brand van Schalkwyk, die ondervoorsitter en tesourier.

    Hiermee het almal konsensus, ook oom Skjeuns wat besef daar is nie tyd vir dwars trek nie, en ook heimlik geëerd voel.

    Vandag kry Buskruitbult en omstreke ‘n Geloftefees sonder weerga, besluit oom Skjeuns heimlik, min wetende dat hy profetiese denke had.

    Knap voor die verrigtinge moes begin, tref die grootheid van die okkasie vir oom Skeuns. Die oop skuur is volgepak. Die gehoor sit op enige soort sitding wat hulle kon saambring, van riempiesstoele tot kombuisstoele. Ook die skousaal se opslaanstoele wat so ses-ses aanmekaar vas is wat oom Skjeuns geleen en aangery het, is volgepak van mense wat te min sitgoed vir die groot gesinne gebring het.

    Buiteom is ‘n groot verskeidenheid treppies en ander rygoed getrek waarin en waarop mense sit vir wie daar nie in die “saal” plek was nie. Oom Skjeuns besef hy sal hard moet praat, en juis toe oorval ‘n benoudheid hom, en sy keel raak droog.

    Oom Skjeuns sit om kombuis toe om ‘n watertjie te gaan haal, en kom juis net daar aan toe die bo-deur oopvlieg en die huishulp die skottelgoedwater uitskiet. Oom Skjeuns kry ‘n voltreffer. Hy staan nog bedremmeld toe tannie Skjeuns op hom afkom: “Nee Skjeuns, almal is so ernstig en jy maak nog grappies!”

    Kort hierna kan oom Skjeuns egter droog aangetrek agter die baal wat as kateder dien instap.

    “Broeders en susters, verleen my ‘n oomblik om namens my gesin u algar hier op Skjeunskraal te verwelkom.

    “Namens die skoukomitee, net ‘n ernstige versoek vooraf. Die skoukomitee versoek dat u, as u aan die baklei sou raak, u tog nie die skoustoele moet gebruik om mekaar mee te moker soos wanneer ons Sap- en Natvergaderings hou nie. Die skoukomitee wys daarop dat die heel rye begin min raak.”

    En toe val oom Skjeuns weg met ‘n Geloftefeesrede soos nog nie tevore op Buskruitbult of omstreke gehoor is nie.

    Oom Skjeuns wy uit oor die volk se hoogtepunte, en laagtepunte deur die geskiedenis. Met elke hoogtepunt, spring oom Skjeuns so ‘n flink sprongetjie die lug in, en die gehoor se koppe knik na bo.

    Met elke laagtepunt, sak oom Skjeuns so agter die baal weg, en bly ‘n rukkie daar.

    Dan sit die gehoor eerbiedig met geboë hoofde.

    Dis tog al so asof oom Skjeuns in die begin so ‘n bietjie senuagtig was, maar later is hy so driftig, hy klink soos die orakel homsigselwers.

    Trouens, so geesdriftig – hoewel effe skeef die lug in – is ‘n hoogtepuntsprong, dat die gehoor besonder geesdriftig hul koppe die lug inruk, hul bolywe ruk eintlik agteroor.

    Ook twee lywige tantes wat op ‘n treppie gesit het, ruk agteroor – en daar wip die disselboom gat oor kop!

    Pa Jan vertel dit was te aardig – die ene niekerbokkers, toe rol die twee tantes deur die stof.

    Niemand trek ‘n bek nie, en ‘n klomp jong manne draf nader, help die twee tantes op, stof af, tip die treppie weer reg, en pak ‘n paar swaar plaasimplemente op die disselboom, en die twee tantes kry weer hul sit.

    Oom Skjeuns het intussen ‘n liederlike laagtepunt beleef, en die heel tyd agter die baal verkeer. Toe hy hervat, is sy spronge met heelwat minder veerkrag en al skuinser die lug in. Sy laagtepunte agter die baal is ook langer.

    Toe bars ‘n jong man in die “saal” kliphard los: “Nou kan julle my skiet, maar nou gaan ek eers lag!”

    Toe dawer dit, soos die mense wat die tantes se petalje kon sien, uitbars van die lag.

    Oom Skjeuns beleef egter vir die duurte van die lagbui weer ‘n laagtepunt.

    Toe sake weer stigtelik is, en oom Skjeuns meen om homself van agter die baal uit te lanseer, lanseer hy hom te skjeuns uit, en slaan lankuit op die stoor se vloer neer. En hy kom nie weer op nie.

    ‘n Ondersoek ter plaatse deur die lid vir Gesondheid van die Geloftefeeskomitee kondig aan: “Hy is flou, ek dink ons verdaag.” Dr. Cornelissen was nog nooit ‘n man vir lang vergaderings nie, en as hy ‘n kans soos hierdie kry om sake kort te knip, dan benut hy dit.

    Een van die jong manne het agter die baal gaan ondersoek instel. In die somers neig giftige slange mos om in bale te gaan skuil, en as mens so raas, kan ‘n giftige slang mos heel befoeterd raak en naderhand iemand pik.

    Sy graafwerk in die baal lewer egter ‘n heel ander buit.

    “Kyk net hier!” brul hy. “Oom Skjeuns het met elke laagtepunt bietjie versterking kom neem!” en hy lig sy buit – ‘n amper leë brandewynbottel, omhoog.

    дитячі іграшки інтернет-магазинДанильченко Юрий Брониславович компромат