SOE-hoof wat Zuma kwytskeld, bedank

Die Presidensie het bevestig dat hy die hoof van die Spesiale Ondersoek-Eenheid, Vas Soni, se bedanking ontvang het.

Terwyl Soni aan die hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid was het die eenheid die President kwytgeskeld van oorbesteding by sy privaatwoning in Nklandla.

President Jacob Zuma sê in ‘n verklaring dat hy Soni se bedanking aanvaar, maar dat dit ‘n verlies is omdat Soni goeie werk gedoen het. Soni is in Augustus 2013 deur President Zuma aangestel.

Hy het Maandag aangekondig dat hy bedank om meer tyd saam met sy vrou, wat siek is, deur te bring. Zuma het Soni en sy vrou sterkte toegewens.

Volgens Zuma het Soni die Ondersoekeenheid verander in ‘n effektiewe instrument in die stryd teen wanadministrasie en korrupsie.

Soni het gesê sy werk was baie stresvol. “Ek dink dit was stresvol en dit is ‘n ernstige uitdaging … Ek het amper my hele loopbaan in die private sektor spandeer en het nie besef wat ‘n uitdaging dit is om in die openbare sektor te werk nie,” het hy in ‘n onderhoud met eNCA gesê.

Soni het aangedui dat hy weer in die private sektor sal werk. Hy het vroeër gesê korrupsie en wanadministrasie skep “groot probleme” in die land.

Verslag wys SABC korrupte nes

Oortrek van korrupsie
Oortrek van korrupsie

Politieke inmenging, wanadministrasie, suiweringsveldtogte teen personeel, baantjies vir boeties en selfverryking is algemeen by die SABC. Die Raad doen niks daaraan nie en in sommige gevalle neem hulle selfs deel.

Die korporasie se waarnemende hoofbestuurder, Hlaudi Motsoeneng het nie net gelieg oor sy kwalifikasies nie, maar het glo onreëlmatige aanstellings gemaak en homself verryk met drie salarisverhogings in een jaar.

Sy salaris het van R1.5 miljoen tot R2.4 miljoen gestyg.

Die Openbare beskermer, Thuli Madonsela het haar verdoemende bevindings in Pretoria blootgelê ná haar “komplekse” ondersoek na die SABC.

Die eertydse minister van Kommunikasie Dina Pule is vir die tweede keer vir onetiese gedrag uitgewys in die aanstelling van Gugu Duda as SABC hoof finansiële beampte .

Duda, het Madonsela bevind, is deur die ingryping van Motsoeneng en ander aangestel.

Volgens Madonsela het Motsoeneng sy matriekkwalifikasies vervals maar hy blameer dit op ‘n “mev Swanepoel” wat “hom die aansoekvorm laat invul het met enigiets om die werk te kry.”

Op die aansoekvorm het hy gelieg deur te sê dat hy in Qwaqwa in die Vrystaat sy matriekjaar in 1991 voltooi het.

Madonsela het ook bevind dat Motsoeneng kop in een mus was met die destydse voorsitter van die SABC-raad Ben Ngubane. Hy het glo aanbeveel dat die kwalifikasies vir die pos van hoofbedryfsbeampte “pasgemaak” word vir Motsoeneng se gebrek aan kwalifikasies.

In haar verslag Wanneer Regering en Etiek misluk, sê Madonsela Ngubane het sy mag misbruik.

Motsoeneng het die SABC se salarisrekening met ‘n ongelooflike R29 miljoen in een jaar opgestoot.

Alhoewel sy nie afdoende bewys van Pule se betrokkenheid by die onreëlmatige aanstelling van Duda in Februarie 2012 kon vind nie, sê Madonsela daar is bewyse dat “‘n onsigbare hand van haar [ Pule se ] rigting en dié van [ haar minnaar Phosane ] Mngqibisa teenwoordig was”.

Pule het geweier om kommentaar te lewer.

 

Bedrog, korrupsie, wanadministrasie in Molteno onthul

molteno‘n Forensiese ondersoek na die beleërde Kwanca plaaslike munisipaliteit by Molteno in die Oos-Kaap, het bedrog, korrupsie, nepotisme en wanadministrasie by die munisipaliteit onthul.

Die verslag, wat Donderdag by ‘n raadsvergadering ter tafel gelê is, het ook onthul dat Goliath Sigojo, die nuwe munisipale bestuurder, nie die vereiste kwalifikasies vir die pos het nie.

Die Oos-Kaapse LUR vir Plaaslike Regering, Mlibo Qoboshiyane het gevra vir die ondersoek na bewerings van ongerymdhede by die munisipaliteit.

Vroeër die week het inwoners en Sanco-leiers Molteno tot stilstand gebring deur paaie met klippe te versper en treinspore te vandaliseer.

Betogers het geëis dat die verslag bekend gemaak word.

Qoboshiyane sê sy departement sal die munisipaliteit bystaan om te verseker dat hy beter bestuur word. – RSG

Armes sien nie Loterygeld nie

gameDie Vryheidsfront Plus is wesenlik gekant teen ‘n nasionale lotery aangesien dit juis gevoed word deur die finansiële bydraes van armes en dit sodoende eerder bedra tot maatskaplike probleme.

In Suid-Afrika is die lotery egter ‘n gegewe wat nie weggewens kan word nie en daarom moet toegesien word dat dit wetlik reg bedryf word, sê adv. Anton Alberts, die Vryheidsfront Plus se parlementêre woordvoerder oor sosiale ontwikkeling.

Adv. Albert het vandag met die Tweede Lesingsdebat van die Wysigingswetsontwerp op Loterye gesê ‘n nasionale lotery is nie werklik nodig nie en die inkomste wat uit belasting gegenereer word sou voldoende wees indien dit sinvol aangewend word en die ekonomie beter bestuur word.

“Indien die jaarlikse vermorsing van staatsinkomste deur middel van vrugtelose uitgawes, wanadministrasie en korrupsie net gedeeltelik gekeer kan word, sal daar genoeg inkomste wees sodat die staat sy maatskaplike verantwoordelikhede kan uitvoer.

“Die Nasionale Lotery is egter ‘n gegewe.  Daarom is dit belangrik om toe te sien dit word wetlik reg bedryf in lyn met die Grondwet en die Wet op Nasionale Loterye,” sê adv. Alberts.

Hy sê dit is ook belangrik om toe te sien dat die wet volledig uitvoering gee aan die oorspronklike oogmerke daarvan en dat dit nie eindelik tot nadeel strek van die belastingbetalers en diegene wat daardeur bevoordeel moes word nie.

“Dit is ongelukkig wel die geval met die betrokke wet. Ek het self ondervind hoe inrigtings in Pretoria wat pasgebore babas versorg, vergeefs probeer het om geldelike hulp van die Nasionale Raad op Loterye te kry.

“Dit nieteenstaande die feit dat die meeste van die babas wat versorg word, swart is. In baie gevalle is die inrigtings nie eens geantwoord nadat aansoek gedoen is om hulp nie.

“Daarom is die veranderinge wat beoog word in die Lotery Wysigingswetsontwerp welkom. Veral die daarstelling van ‘n interne hersieningsliggaam om besluite van die Raad en verspreidingsagentskappe te hersien, is van groot belang.

“Ten minste het klein en onder-befondsde organisasies, wat nie geld het om regslui aan te stel nie, nou wel ‘n remedie indien hulle meen hul aansoeke is ongeregverdig afgekeur.

“Dit is ongelukkig so, en daar is ook ‘n sterk persepsie onder die publiek, dat die fondse nie uitkom waar dit die nodigste is nie. So byvoorbeeld het ‘n ryk skool steun ontvang vir kulturele aktiwiteite, terwyl babas nie kos het om te eet nie.

Daar is ook luukse wildplase wat ruim steun ontvang vir “bewaring” terwyl die ontvangers oor geen opleiding of kwalifikasie beskik as bewaringskenners nie. Die geld word eerder aangewend om ‘n ultra-luukse lewenstyl te onderhou.

“Indien die wanaanwending van loterygeld in die proses verhinder kan word en mense gehelp kan word waar dit regtig nodig is, is daar meriete aan die beoogde wysigings aan die wet. Die regering se pogings om self die lotery te beheer, kan egter nie toegelaat word nie.

“Die oogmerke van die wet sal net realiseer indien die stelsels, en die mense in beheer daarvan, effektief, onbevooroordeeld en met sterk morele oortuigings optree. Die voortdurende waaksaamheid van alle parlementslede is hiervoor nodig,” sê adv. Alberts.

Uitvoerende burgemeesters se uitvoerige blapse

Niemand, behalwe die soustreinryers self, sal probleme hê daarmee dat die ANC beplan om van die stelsel van uitvoerende burgemeesters ontslae te raak nie. Trouens, hoe gouer hoe beter, soos die TLU SA dit in effense ander woorde uitdruk.

Hierdie gedagte volg nie baie lank nie nadat die ANC nog kort-kort vlieërs opgestuur het oor die moontlikheid om die provinsiale bedeling af te skaf. Die gedagte was dan dat die vakuum minstens ten dele deur die munisipaliteite gevul sou word wat in nog groter monstrositeite omskep sou word.

Die grondwetlike beginsels waarop by Kemptonpark ooreengekom is, is egter oor hierdie sake baie duidelik. Punt XVI stel dat die regering op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak gestruktureer sal wees. Die volgende punt stel dit dat die verteenwoordiging op elkeen van hierdie vlakke demokraties verkose sal wees. Grondwetkenners verskil oor die bindendheid van hierdie beginsels.

Met die planne om van die provinsiale bedeling ontslae te raak was daar egter min erg aan die bepalings van die grondwetlike beginsels. Wat is die posisie egter met die stelsel van uitvoerende burgemeesters?

Kritiek op die stelsel is wyd-uiteenlopend. In wese kos dit te veel en tweedens gee dit aan die burgemeesters en hul uitvoerende rade magte wat kundigheid vereis wat nie beskikbaar is nie. Dit word vererger deurdat hierdie ampte as aflaaiplek vir politieke ontplooiing dien sodat uitgediendes nie die soustrein verpas nie.

Die gevolg is ‘n peperduur stelsel wat weens lae betaalkoerse nie bekostig kan word nie, en in elk geval nie werk nie soos die OG-verslae jaar vir jaar bewys.

Boonop is die politieke partye aan bewind nie altyd in voeling met hul partye se nasionale beleid nie, wat regeerbaarheid ernstig kortwiek. ‘n Voorbeeld was byvoorbeeld toe die DA in die Vrystaat vuur gespoeg het oor die pogings van ‘n paar Vrystaatse munisipaliteite om voortydig grondbelasting op landbougrond te probeer hef, terwyl die DA-raad van Cullinan (Nokeng) dit self geïmplementeer het en dié onregmatige heffings nou blykbaar terugbetaal moet word.

Dit was egter die lengte van die soustrein wat soms verstom het. ‘n Vorige uitvoerende burgemeester van Mangaung (Bloemfontein en omstreke) staan nou tereg op aanklagte van onder meer rampokkery en korrupsie. Dit is egter die titels van sommige van sy mede-aangeklaagdes wat die oë laat rek – mense soos politieke adviseurs. Kritici op die stelsel wys onder meer daarop dat dit hom tot nepotisme en korrupsie met tenders leen. In die Mangaung-geval word die burgemeester se vrou se spysenieringsonderneming juis geïmpliseer.

Nog ‘n verstommende verskynsel is dat ‘n bitter klein munisipaliteit in die Karoo, met bykans geen inkomste nie, se burgemeester, raadslede en topamptenare die een ekskursie na die ander oorsee wou onderneem en dan uiters suur raak omdat belastingbetalersverenigings dan dispute verklaar en aandring dat die geld vir iets soos dienste aangewend moet word. Met riool wat die strate afloop is die aankoop van ‘n peperduur burgemeesterskar hoër op die agenda. Dis juis hierdie vuurwaens wat al die oë laat rek het – motors met ingeboude drankkabinette, en in die geval van Rustenburg, selfs ‘n satelliet-navigasiestelsel sodat, soos dit verduidelik is, die burgemeester nie dalk verdwaal as hy sy gemeenskap besoek nie. Een van die swakste Vrystaatse munisipaliteite het in ‘n stadium koeëlvaste motors op bestelling gehad, en dan tog die brandweer ingespan om die burgemeester se dogter van die skool na die huis te neem. ‘n Raadslid is uit die Raad gejaag weens sy taalgebruik toe hy opgemerk het dat ‘n burgemeesterskar wat afgeskryf is, net so gou in  daardie toestand kon verval het as iemand dit deur sy agterent getrek het.

‘n Suid-Kaapse munisipaliteit het onder DA-beheer vir die onderburgemeester ‘n ampsmotor gehuur en voortgegaan om ‘n vervoertoelaag te betaal.

Die vraag is egter of daar nie op ander regeringsvlakke ook groot besparings moontlik is nie. Is pres. Zuma se vergrote Kabinet nie buitensporig nie? Is dit werklik nodig dat die kleiner provinsies se Uitvoerende rade uit ‘n premier en tien lede moet bestaan, terwyl die provinsiale departmentshoofde in elk geval veronderstel is om kundiges te wees?

Is dit werklik nodig dat Suid-Afrika naas die Menseregtekommissie ook ‘n Kommissie vir geslagsgelykheid moet hê? Is vroueregte dan nie menseregte nie? Het die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van Taal-, Godsdiens- en Kultuurregte in sy huidige gedaante en wetlike beperkings hoegenaamd nodig, en hoekom is Pansat deesdae so stil te midde van ooglopende vergrype teen taalregte by skole?

Die lakmoestoets bly egter: geskikte mense moet in ampte dien en in poste dien, anders gaan die gemors net so groot bly, maar darem teen ‘n laer tarief.

куклі барбиtopcargo отзывы сотрудников