‘n Amptelike klag gaan glo binnekort by die Internasionale Krieketraad téén Krieket Suid-Afrika ingedien word, het RSG berig.
Dit volg nadat voorskrifte oor die rassesamestelling na bewering deur die Protea-bestuur neergelê is in die wêreldbekerhalfeindstryd teen Nieu-Seeland.
Die KSA hoof, Haroon Lorgat het na bewering ‘n teksboodskap aan die afrigter, Russell Domingo gestuur en gesê hy moet vier spelers van kleur in die span insluit.
Suid-Afrika het daarna die wedstryd verloor.
Volgens die reëls van die Internasionale Krieketraad word enige vorm van rasse-diskriminasie en politieke inmenging uitdruklik verbied.
Politieke inmenging, wanadministrasie, suiweringsveldtogte teen personeel, baantjies vir boeties en selfverryking is algemeen by die SABC. Die Raad doen niks daaraan nie en in sommige gevalle neem hulle selfs deel.
Die korporasie se waarnemende hoofbestuurder, Hlaudi Motsoeneng het nie net gelieg oor sy kwalifikasies nie, maar het glo onreëlmatige aanstellings gemaak en homself verryk met drie salarisverhogings in een jaar.
Sy salaris het van R1.5 miljoen tot R2.4 miljoen gestyg.
Die Openbare beskermer, Thuli Madonsela het haar verdoemende bevindings in Pretoria blootgelê ná haar “komplekse” ondersoek na die SABC.
Die eertydse minister van Kommunikasie Dina Pule is vir die tweede keer vir onetiese gedrag uitgewys in die aanstelling van Gugu Duda as SABC hoof finansiële beampte .
Duda, het Madonsela bevind, is deur die ingryping van Motsoeneng en ander aangestel.
Volgens Madonsela het Motsoeneng sy matriekkwalifikasies vervals maar hy blameer dit op ‘n “mev Swanepoel” wat “hom die aansoekvorm laat invul het met enigiets om die werk te kry.”
Op die aansoekvorm het hy gelieg deur te sê dat hy in Qwaqwa in die Vrystaat sy matriekjaar in 1991 voltooi het.
Madonsela het ook bevind dat Motsoeneng kop in een mus was met die destydse voorsitter van die SABC-raad Ben Ngubane. Hy het glo aanbeveel dat die kwalifikasies vir die pos van hoofbedryfsbeampte “pasgemaak” word vir Motsoeneng se gebrek aan kwalifikasies.
In haar verslag Wanneer Regering en Etiek misluk, sê Madonsela Ngubane het sy mag misbruik.
Motsoeneng het die SABC se salarisrekening met ‘n ongelooflike R29 miljoen in een jaar opgestoot.
Alhoewel sy nie afdoende bewys van Pule se betrokkenheid by die onreëlmatige aanstelling van Duda in Februarie 2012 kon vind nie, sê Madonsela daar is bewyse dat “‘n onsigbare hand van haar [ Pule se ] rigting en dié van [ haar minnaar Phosane ] Mngqibisa teenwoordig was”.