praag.co.za

Time se Zuma-artikel en werklikheidskoors

Written by

in

In die jongste uitgawe van Time is ‘n breedvoerige artikel oor pres. Jacob Zuma wat net sowel deur ‘n uiters knap beeldpoetser geskryf kon wees. Dit skep ‘n oorheersend positiewe indruk terwyl genoegsaam op die bedenkinge gewys word om die artikel geloofwaardigheid te verleen, veral aan lesers in lande wat nie daagliks op die Suid-Afrikaanse kontakvlak van dienslewering en regeringsbesluite leef nie.

Die positiewe eienskappe van Zuma word veral gebou rondom die feit dat Zuma, veel meer as sy voorganger wat periodieke blits-ampsbesoeke aan Suid-Afrika gebring het, die voetsoolvlak hard slaan, en dat Zuma foute erken en onderneem om dit aan te spreek.

Daar is inderdaad ‘n gees van werklikheidskoors in die ANC-alliansie vaardig, soos wat Volksblad vanoggend in ‘n hoofartikel skryf. Word egter na aktualiteitsprogramme geluister of gekyk, is kundiges dit bykans eens in hul skeptisisme of die ANC-regering oor die vermoë of wil beskik om daad by die woord te voeg en vrot appels uit te smyt. Trouens, die vroeë fases van die Zuma-bewind is eerder gekenmerk deur die hersirkulering van comrades wat na ‘n lang gespook iewers die trekpas gekry het, maar dan net weer elders op dieselfde of selfs hoër vlak aangewend word.

Die artikel is ook geskryf voor Collins Chabane se aanwysing om die stryd teen korrupsie te koördineer en dit aan die lig gekom het dat hy self sy amptelike kredietkaart misbruik het, of alternatiewelik het Time hierdie feit geïgnoreer. Dit is egter duidelik geskryf voor die aanstelling van adv. Menzi Simelane as direkteur van Openbare Vervolger wat eerder op hardnekkige volstruispolitiek as werklikheidskoors dui..

Trouens, die rimpelings wat die Simelane-kwessie internasionaal maak, kan saam met ‘n horde negatiewe beriggewing wêreldwyd die Time-artikel in Suid-Afrika se gesig laat ontplof.

Suid-Afrika is danksy die internet en ander tegnologie nie ‘n nuus-eiland nie. Ter demonstrasie: Twee van die kleiner partye hier, die Vryhjeidsfront Plus en die Christen-Demokratiese Alliansie striem dié week adjunk-president Kgalema Motlanthe nadat hy boere se optrede teenoor plaaswerkers die skuld vir plaasmoorde gegee het. Anders as gewoonlik het dit dié keer nie prominensie in die Afrikaanse dagbladpers gekry nie en is selfs grootliks geïgnoreer, maar die SAUK dra dit in verskeie nuus- en aktualiteitsberigte, en dit word deur verskeie elektroniese nuusvoorsieners soos SAPA, IOL , iAfrica en News 24 die wêreld ingestuur sodat Google vanoggend reeds meer as 3 500 trefslae oplewer, waarvan ‘n groot deel op dié spesifieke nuusgebeure betrekking het. In baie word die grusame statistieke oor plaasaanvalle weer aan die groot klok gehang.

Suid-Afrika moet vrede maak dat dié land in die aanloop tot die Fifa-toernooi, die oë van die wêreld op hom vasgevang sal hou, en dat die goeie én slegte die nuus sal haal.

Beeldpoetsers kan ook nét soveel vermag – die werklikheid sorg vir die res van die persepsie wat die wêreld oor ‘n land en sy leiers koester. Hoe meer geploeter en verbrou word, hoe harder word aan die negatiewe persepsie gebou.

Die werklikheidskoors is belangrik, maar die doen van wat nodig is om dit aan te spreek is soveel belangriker.

 

casino registerФільчаков прокурор

Comments

Leave a Reply