‘n Stelling wat gereeld gemaak word is dat die regering ‘n beheptheid met middelmatigheid het.
Om die vlakke van dienslewering, en in die besonder munisipale dienslewering, as middelmatig te beskryf word nie deur die werklikheid gereflekteer nie.
Dis swak.
Die verslae van die ouditeur-generaal oor die stand van sake in munisipaliteite is reeds genoeg bewys dat die woord “middelmatigheid” hier ‘n erge eufemisme is.
Tog verklaar die Vrystaatse premier dat die vlakke van dienslewering in dié provinsie goed is, en dat die inwoners tevrede is daarmee.
Sy woorde is skaars geuiter of sy eie tuisdorp, Parys, se munisipaliteit, moet in die hof in Heilbron redes aanvoer waarom ‘n bestraffende kostebevel nie teen ampsdraers van dié munisipaliteit gemaak moet word nie, na die munisipaliteit bloedneus ‘n rondte in die hof gekry het. Dié hofsaak, wat deur die Heilbron-belastingbetalersvereniging aanhangig gemaak is, het beslis nie uit tevredenheid met dienslewering gevloei nie.
Die munisipale onluste in onder meer Harrismith, Boshof en Jagersfontein ook nie. Trouens, volgens Municipal IQ was daar vanjaar landswyd ‘n skerp toename in onrus oor munisipale dienslewering, met die Vrystaat wat persentasiegewys meer as sy deel van die onluste beleef het.
Boonop verskyn amptenare en oud-amptenare van die provinsie se naasgrootste stad, Welkom, op kriminele aanklagte in die hof wat weens die Matjabeng-munisipaliteit se hantering van die stad en omgewing se rioolwerke. In ander munisipaliteite is siviele hofbevele hieroor teen Vrystaatse munisipaliteite verkry.
Die Vrystaatse bloudruppel-status word op enkele uitsonderings as skrikwekkend beskryf.
In die Vrystaatse hoofstad gaan dit nie beter nie. Ter demonstrasie, die geval van ‘n stormwater-inlaat se deksel wat deur ‘n swaar voertuig op ‘n sypaadjie stukkend getrap is. Dit is deur ‘n lid van die munisipale wykskomitee behoorlik gerapporteer, en gerapporteer en gerapporteer. Na meer as ‘n jaar het die meegaande foto in ‘n koerant verskyn, en na nog meer as ‘n jaar gaap die gat steeds op die sypaadjie. In hierdie tydperk het die Mangaung-munisipaliuteit ‘n hofsaak verloor na ‘n vrou in ‘n oop mangat op ‘n sypaadjie geval het na die deksel vir skrootyster gesteel is.
Magashule se opmerking plaas nuwe betekenis aan sy woorde by ‘n Salga-kongres dat onbevoegde en korrupte munisipale bestuurders en burgemeester die trekpas gaan kry. Hy is destyds uitgelag.
Hy het hierna laat blyk dat sy LUR’e wat nie die mas opkom nie, ook die trekpas gaan kry, en die getal van drie is selfs genoem, sodat die media bespiegel het watter drie hierdie lot te beurt gaan val.
Uiteindelik, so lyk dit, is vlakke van dienslewering wat Magashule as bevredigend beskou, nie juis teksboekvoorbeelde van bevredigend nie. Trouens, om hierdie vlakke van dienslewering aan ‘n beheptheid met middelmatigheid te beskryf, kom op politieke korrektheid in die oortreffende trap neer.
Dit sal Suid-Afrika loon om die oog op die telbord te hou. Die debakel rondom Collins Chabane se aanwending van sy amptelike kredietkaart word veral geaksentueer deur die feit dat hy die staat se beoogde optrede teen korrupsie moet orkestreer.
Julius Malema het weer gesorg dat die kollig op hom val deur te verklaar landbougrond is van swart mense gesteel.
Brittanje het intussen ‘n amptelike waarskuwing aan sy burgers uitgereik dat hulle tydens hul Fifa-besoek in Suid-Afrika gekaap kan word.
Fifa hou in Desember ‘n buitengewone vergadering.
