Prestasiebonusse is uitgedeel in die nasionale jeugontwikkelingsagentskap (Nyda) terwyl die agentskap self erken dat hulle nie projekte uitvoer nie.
Die afgelope boekjaar het dié bonusse die belastingbetaler byna R8 miljoen gekos, het Die Burger berig.
Nyda het vroeër in die parlement erken dat hy reeds in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar net 14 van 27 projekte kon aanpak.
Dié wanprestasie het egter nie verhoed dat ‘n verdere R7,7 miljoen in huidige boekjaar opsy gesit is vir prestasiebonusse nie. Ten minste 250 studente sou voordeel kon trek uit die beurstoekenning van gemiddeld R30 000 per student.
Nóg die voorsitter nóg die Nyda-woordvoerder het navrae gereageer.
Collins Chabane, minister van prestasiemonitering en evaluering, het gesê die bonusse is uitbetaal uit “erkenning vir prestasies in die boekjaar 2011-’12”.
Vier swart mans sal vandag in die hof verskyn in verband met die wrede moord op ‘n apteker van Oranjeville.
Thabang Motloung, Tsietso Motloung, Teboho Mofokeng en Sthembiso Mnune sal na verwagting om borg aansoek doen, het OFM berig.
Die vier staan tereg op aanklagte van moord, roof en brandstigting nadat hulle Vivien Ponté verlede maand in haar huis vermoor en haar kamer aan die brand gesteek het.
Die polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Peter Kareli, het gesê die vier vermeende aanvallers het dieselfde aand ook na bewering by ‘n nabygeleë laerskool ingebreek, waar hulle kos en geld gesteel het.
Sewe-en-twintig-duisend lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is aktiewe direkteure in privaatmaatskappye wat moontlik nie hulle belange verklaar het nie.
Dit het aan die lig gekom in die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse verslag vir April tot September verlede jaar. Die verslag is deur die Komitee oor Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling in die parlement ter tafel gelê.
In die verslag word beweer dat 99 maatskappye verbind word met werknemers in die polisie en dat sake met die polisiediens ten bedrae van R21 miljoen gedoen is.
Drie-en-sewentig werknemers van die polisie, wat geregistreer is as verskaffers op die polisie se databasis, het na bewering nie hulle belange verklaar nie.
Die Ondersoekeenheid se verslag oor die polisie volg op talle ondersoeke wat gedoen is ná bewerings van ongerymdhede in die polisiediens tussen 2009 en 2011. – RSG
Die huidige proporsionele kiesstelsel is die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika het Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunk-minister van landbou, bosbou en visserye verklaar. Omdat dit die beste kiesstelsel vir Suid-Afrika is, behoort dit behou te word en nie verander te word nie. Dit is die bevinding van ’n navorsingstudie oor kiesstelsels wat vir ’n doktorsgraad aan die Noordwes Universiteit gedoen is.
Die Vryheidsfront Plus se parlementêre leier, Pieter Groenewald, het hierdie week sy doktorsgraad in Politieke Studies by die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit ontvang met hierdie studie. Die titel van sy proefskrif is: “Die Suid-Afrikaanse nasionale kiesstelsel – ’n kritiese ontleding en alternatiewe.” Die studie is gedoen onder leiding van prof. Andre Duvenage van die Noordwes-universiteit.
Die doel van sy studie was om te bepaal of die bestaande geslotelys- proporsionele verteenwoordigende kiesstelsel die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika is. In sy studie het dr. Groenewald twaalf verskillende kiesstelsels se voor- en nadele ontleed. Dit is gedoen aan die hand van ’n evalueringsmodel wat hy ontwikkel het. Die evalueringsmodel bestaan uit verskillende kriteria waarteen elk van die twaalf kiesstelsels gemeet is. Sy bevinding was dat die huidige geslotelys- proporsioneel verteenwoordigende kiesstelsel, die geskikste kiesstelsel vir Suid-Afrika is, en ook behou moet word.
Die kritiek teen die huidige kiesstelsel is dat dit te veel mag aan party strukture gee en nie die verantwoording van verteenwoordigers verseker nie. Dr. Groenewald het bevind dat kiesstelsels nie die mate van verantwoording van verteenwoordigers verseker nie. Dit word verseker deur die interne reëls en dissipline van die verteenwoordigers se politieke partye. Dit is ook nie kiesstelsels wat kandidate in ʼn verkiesing aanwys nie, maar die onderskeie politieke partye. In enige aanwysing van kandidate sal die leierskap en partyburokrasie ʼn bepaalde rol speel, ongeag die tipe kiesstelsel.
Die VF Plus se verteenwoordigers in die parlement is tans die hoogs gekwalifiseerde span in die parlement met drie doktorsgrade en ’n advokaat in hulle midde.
Die Oos-Kaapse departement van gesondheid het ‘n verslag deur die Oos-Kaapse Gesondheidskrisis-koalisie ontken waarin beweer word dat die provinsie se gesondheidsdienste besig is om in duie te stort.
‘n Woordvoerder van die departement – Sizwe Kupelo – het die verslag as oordrewe bestempel en sê dat baie sedert 1994 verander het toe die ANC aan bewind gekom het.
Hy sê primêre gesondheidsdienste het toe nie in die oostelike dele van die provinsie bestaan nie, maar dat meer as ‘n duisend klinieke sedertdien in die Oos-Kaap gebou is.
Meer as 200 klinieke is volgens hom tot dusver vanjaar opgeknap.
Hy het ontken dat daar ‘n gesondheidsorgkrisis in die provinsie is.
Die Oos-Kaapse Gesondheidsoalisie, sluit groepe soosSection 27,dieTreatment ActionCampaignendie LandelikeDoktersAssosiasievan Suid-Afrika in. – RSG/praag
Die verkeer in Bloemfontein sal na verwagting vandag ontwrig word wanneer honderde lede van die vakbond Numsa ‘n optog hou en ‘n memorandum met eise aan die Kleinhandelmotorbedryf oorhandig.
Veiligheidsmaatreëls sal met die oog op die optog verskerp word. Werkers in die voertuigonderdele- en brandstofbedrywe wat sedert Maandag staak, eis ‘n verhoging van 30 rand per uur.
Hulle eis ook ‘n nagskoftoelae van 20 persent meer as die standaardtarief.
Numsa sê hulle gaan voort met die optog ondanks die onderhandelings wat in Johannesburg voortgesit word. – RSG
Meer as 100 mense is Woensdag in hegtenis geneem weens openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in die Protea-gebied, sê die polisie in Soweto.
Ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, sê die mense is in hegtenis geneem tydens ‘n betoging oor dienslewering wat in die vroeë oggendure buite Randfontein begin het.
Impalaweg in die rigting van Krugersdorp en die N12 van Potchefstroom af is intussen weer oopgestel vir verkeer.
Makhubela sê chaos het uitgebreek toe honderde inwoners van die Waterworks-lokasie polisiebeamptes aangeval het.
Die inwoners wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Westonaria-landdroshof verskyn. – Sapa
‘n Senior Suid-Afrikaanse amptenaar het die trekpas gekry omdat hy glo dronk was by die Chelsea-blommeskou in Londen.
Tami Sokutu, raadsvoorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi), is afgedank, sê Edna Molewa, minister van waterwese en omgewingsake.
Volgens Molewa se kantoor het sy eers onlangs van die voorval in Mei vanjaar uitgevind.
“Nadat die bewerings met mnr. Tami Sokutu, voorsitter van die raad, bespreek is, het die minister en mnr. Sokutu ooreengekom dat hy van sy pligte as voorsitter van die raad onthef moet word.”
Molewa het ook in ag geneem dat Sokuto onlangs met sabbatsverlof was, wat “moontlik daartoe gelei het dat hy nie sy pligte doeltreffend kon vervul nie”.
Die minister het Sokuto bedank vir sy leierskap die afgelope ses jaar.
Nana Magomola sal waarneem totdat ‘n nuwe voorsitter aangestel is. – Sapa