’n Ge-Google kon nie aandui of daar ’n werklike plaasvervanger vir Insig is nie, met ander woorde, ’n tydskrif of selfs ’n webtuiste waar Afrikaners in Afrikaans kan lees oor presies wat in die wêreld aangaan nie.
Ons hoor immers dat die wêreld danksy die tegnologie by wyse van spreke “gekrimp” het. Wat in een deel van die wêreld aangaan, is blitsig op die TV-skerms en in die sitkamer van iemand aan die ander kant van die wêreld. E-pos word blitsig die wêreld vol gestuur.
Maar beteken dit dat die Afrikaner se horisonne verbreed word?
Kom ons neem ’n voorbeeld. Vanjaar is dit 100 jaar sedert die bekendste Noorse komponis, die wêreldberoemde Edvard Grieg, dood is. Dis presies 300 jaar sedert die geboorte van die wêreldbekende Sweedse botanikus, Carl Linné (Carolus Linnaeus). Linné het ’n groot invloed op die klassifikasie en identifikasie van die Kaapse flora gehad.
Dis vanjaar presies ’n duisend jaar sedert die eerste ernstige poging aangewend is om ’n Christen-nedersetting in die Amerikas te vestig.
En dis presies 10 jaar sedert prinses Diana verongeluk het.
Wat haal die Afrikaanse gedrukte media?
Die voorbeelde wat genoem is, is te uitsonderlik. Kom ons noem ’n paar ander.
Groot getalle veral jong Afrikaners bevind hulle nou in diaspora. Tipiese wêreldburgers, want hulle sien kans om met mense in hul eie lande te gaan meeding. Hulle is dus goed oor toestande, leiers, ens. in daardie lande ingelig. Reg?
Prik u gedagtes. Sedert Joop den Uyl, Juan de Peron, Salvador Allende of Pinochet, Oalf Palme, Idi Amin, Kenneth Kaunda, Leabua Jonathan, Hastings Banda, koning Mosjesj II en Julius Nyerere – wie is nou die staats- en regeringshoofde van hul betrokke lande?
As u al die huidiges ken, is u voorwaar net so raar soos iemand wat geweet het van al die besondere herdenkings wat in die inleiding genoem is.
Die ironie is dat die name wat wel onthou word, dateer uit die isolasiejare. Afgesien van die politieke en kulturele isolasie, was daar ook nie internet en selfs fakse nie. Sms’e het ook nog nie bestaan nie.
As u dink die voorbeelde hierbo genoem was om die verkeerde redes bekend – dink bietjie of u weet wie is nou in beheer in die lande van mense met name soos Bandenereika, Ramgoolan, Meir, Buthu en Ghandi?
Met die ontvoering van Suid-Afrikaners in Nigerië, hoeveel mense weet wat is die naam van die hoofstad van dié land? Dis terloops al baie lankal nie Lagos nie, as u gedink het u het darem een puntjie losgeslaan.
Of wie kan met sekerheid sê wat is die naam van Tanzanië se hoofstad? Toegegee, die meeste bronne dui Dar es Salaam aan, maar die land se eie bronne dui Dodoma aan – al van 1972 af.
As u nie geweet het nie, is u in goeie geselskap. In Suid-Afrika is daar ’n nasionale TV-nuusdiens wat nie weet wat die naam van Suid-Afrika se hoofstad is nie. Vir iemand wat op tegniese korrektheid ingestel is, steek die verkeerde naam wat gebruik word soos ’n ystervarkpen dwars in ’n mens se sluk, en ’n mens se wrewel teen dié uitsaaimedium groei by die dag.
Of kyk maar hoe u in ’n algemenekennistoets uit ’n tydskrif vaar as u nie in Hollywood, die Britse koningshuis, sepies en popmusiek belangstel nie. Beslis nie baie goed nie.
Ons het nou simptome van ’n aktualiteitskennisarme Afrikaner geïdentifiseer.
Die vraag is hoekom?
Het die maklike toegang tot inligting deur byvoorbeeld die internet ’n soortgelyke effek op ’n mens se vermoë om inligting te onthou as wat ’n sakrekenaar het op ’n mens se vermoë om somme te maak? Of het daar ’n blote vervlakking ingetree?
Meningspeilings het onlangs aangetoon dat ’n baie groot persentasie Suid-Afrikaners nie glo dat Vigs ’n siekte is nie en heelwat wat glo dat dit genees kan word. Net so het ’n baie groot deel aangedui dat hulle nie glo dat rook sleg vir ’n mens se gesondheid is nie. Dit lyk asof Afrikaners oor hierdie aspekte effe beter ingelig is as die gemiddelde Suid-Afrikaner, maar daar is tog rillerstories in omloop oor tot elfjarige kinders uit Afrikanergesinne wat Vigs weens ’n onverskillige houding opdoen – of uit onkunde.
Agter die skole se skietbane se mure is daar ook nie ’n tekort aan Afrikanerkinders wat dampies maak nie. Onkunde? Groepsdruk?
Die alarm het ’n paar dekades gelede vir my afgegaan. Destyds het die Volksblad ’n vakature vir ’n verslaggewer gevul. Die proffie in Kommunikasiekunde was ontstoke oor sy stermeestersgraadstudent oor die hoof gesien is ten koste van ’n dame wat ’n B.Iur (driejarige regsgraad) voltooi het. Die redakteur het verduidelik dat die Kommunikasiekundestudent nie van die hoogs emosionele tussenverkiesing wat destyds in Parys plaasgevind het, geweet het nie. Sy kon ook nie die politieke partye noem nie. Sy het, kortom, nie die Volksblad se aktualiteit gelees nie, maar wou tog daar gaan werk.
Later, toe as redakteur, is ek gereeld deur jong verslaggewers “aangevat” oor woorde en feite wat glo nie sou bestaan het nie. Almal het taalkunde geneem, en was briljant, maar sekere voor die hand liggende woorde het hulle gewoon nie geken nie en gestry dat dit nie bestaan nie tot dit in die woordeboek vir hulle gewys is.
Van die feite waarmee hulle gestry het, het hulle, volgens hulself, op universiteit geleer. Hulle was dus nie spontaan vatbaar vir die idee dat dit verkeerd kon wees nie.
Dan praat ’n mens nie oor sekere propaganda, romantiek of dergelike wat nou klakkeloos as feite aangebied word nie. Vra byvoorbeeld vir ’n jong Suid-Afrikaner (en dalk selfs al ’n ouer een) waaroor die Soweto-onluste gehandel het. Heel waarskynlik sal aangevoer word dat dit was omdat Afrikaansmediumonderrig afgedwing is – iets wat blote fabel is.
Sekere media is op ’n manier onder regeringsbeheer en daarom sal ’n mens byvoorbeeld nie sommer hoor dat die laaste apartheidswet al ’n hele ruk voor 1994 afgeskaf is nie, en dat daar nou baie meer rassewette is as wat daar in 1994 was. Dit, ten spyte daarvan dat die vreeslike sensitiwiteit om politiek korrek te probeer wees, nou al taamlik oudmodies is.
Maar dit lyk asof die skade reeds gedoen is. ’n Jong geslag Afrikaners gaan die toekoms in, reeds gebreinspoel met verkeerde feite wat hul samestelling onderspan. Dis natuurlik nie die eerste keer wat dit met Afrikaners gebeur nie. Lees van hul ouers se bronne oor die Afrikaner se geskiedenis, soos die Drie Eeue-reeks, en dan lees ’n mens van die swart en bruin mense wat in die Bloedrivierlaer was. In heelwat latere bronne het dié inligting ontbreek. So was baie Afrikaners verbaas om van die swart konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog te verneem, terwyl dit ’n paar dekades gelede wel deel van die skoolleerplanne was. Ouer bronne dui aan dat dit moontlik is dat Bloemfontein sy naam van ’n Koranna-kaptein, Jan Bloem, gekry het. Van hierdie bronne is ouer as die bronne wat dit aan blomme by die fontein wil toedig en baie oortuigend. Tog vermeld latere, “gesaghebbende” bronne, hierdie variant nie.
In ou bronne lees ons dat Columbus by die Yslanders van die bestaan van Amerika verneem het, en selfs hoe ver dit is, terwyl latere bronne om die dood gestry het dat die Noormanne ooit die Amerikas bereik het.
Die verskil is nou dat die werklike feite omtrent net so beskikbaar is as die verdraaiings. Veral die internet bied toegang tot amper enige inligting oor enige onderwerp, kaf ingesluit.
Om inligting by die gemeenskap te kry, is nie so maklik nie. Dit is wel dikwels moontlik om dit uitgesaai en gepubliseer te kry, maar dan beleef ’n mens die frustrasie dat dit nie inslag vind nie. ’n Paar jaar gelede was ek as Vrystaatse inligtingsbeampte betrokke by die bemarking van die komende nasionale sensus. In ’n stadium was dit onder meer al oor die TV uitgesaai, dit was op die grootste tweetalige kommersiële uitsaaier in die provinsie, dit was al in Volksblad. Maar bloedweinig Afrikaners het daarvan geweet. Dieselfde probleem is landswyd ervaar. Planne is toe gemaak om dit via een van die sepies bekend te stel – die sensus iewers in die teks in te werk.
“Gelukkig” bars die kondoombom toe. ’n Verslaggewer ontdek daar word ook kondome in die toerustingpakkies van die sensusopnemers geplaas. Hierdie debakel maak dat almal dadelik van die sensus weet.
Dit spreek vanself dat politieke partye ’n frustrasie sal ervaar as die kiesers ’n aktualiteitsonkunde beleef. Sommige van die groter partye kan wen hierdeur, want die mense weet darem in die algemeen van hulle. Weens die algemene onkunde kan mense vir partye stem wie se beleid maar min raakvlakke met hul eie oortuigings toon.
Die probleem sny egter in as dit kom by kleiner partye wat baie spesifieke doelstellings nastreef. Ek skryf dikwels onder my eie naam oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe. Heelwat word gepubliseer of uitgesaai. Tog sou ’n mens nie verwag dat iemand jou naam plaas, maar nog nooit van die ACDP gehoor het nie. Dit het al met my gebeur. Konstante bekendstelling is dus noodsaaklik, maar dit het ’n baie klein uitwerking per geleentheid, waarskynlik omdat die Afrikaner en ander kiesers se aktualiteitsbelangstellingsvelde so beperk is.
promote my instagramЛобановский