Volgens Karim het Taylor geen vertroue in die hof nie. Hy beskou homself steeds as onskuldig, maar glo nie dat hy ’n regverdige verhoor sal hê nie, aangesien sy regspan “nie groot genoeg is en ook nie oor genoeg middele beskik nie.“ Hy beweer verder dat hy nie genoeg tyd gehad het om die hoeveelheid dokumentasie wat teen hom opgestel is, te bestudeer nie. Hy het voorts besluit om Karim in die pad te steek en self sy verdediging te hanteer. Volgens die aanklaer het Taylor 2 miljoen dollar tot sy beskikking om op sy regsaak te spandeer.
Ten spyte van regter Sebutinde se versoek dat Kahn ten minste vir die dag sy kliënt se belange verteenwoordig, het hy geweier en die hofsaal 40 minute ná die aanvang van die saak verlaat.
Die hofsaak het egter voortgegaan. Die sewe aanklagte teen Taylor is in besonderhede beskryf. Dit wissel van plundery, gedwonge arbeid, seksuele slawerny, verminkings en die gebruik van kindersoldate tydens die burgeroorlog wat tussen 1996 en 2002 in Sierra Leone gewoed het.
Taylor word onder andere daarvan beskuldig dat hy die Liberiese konflik na Sierra Leone uitgebrei het. Hy wou van Sierra Leone sy basis maak. Hy was aktief betrokke by steun aan die United Revolutionary Front wat ’n terreurveldtog in Sierra Leone gevoer het. Taylor, wat homself al met Jesus Christus vergelyk het, het sy soldate met alkohol en dwelms in zombies verander wat daarin gespesialiseer het om mense se oë uit te steek en hulle met kapmesse te amputeer.
Die vraag het nou ontstaan of Taylor gedwing kan word om die hofverrigtinge by te woon. Volgens regsgeleerdes is dit ’n sterk moontlikheid. Vanaf 25 Junie gaan 139 getuies teen hom begin getuig. Daar word verwag dat die hofsaak agtien maande gaan duur.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.