Die foto het destyds die wêreld se verbeelding aangegryp omdat die kind daarop, ’n slagoffer van die Ethiopiese hongersnood, blykbaar aankruip na ’n VN-vlugtelingkamp wat slegs ’n kilometer van die toneel geleë is. Byskrifte by Carter se foto lui gewoonlik soos volg: “Die aasvoël wag vir die kind om te sterf sodat hy hom kan eet. Hierdie foto het die hele wêreld geskok. Niemand weet wat van die kind geword het nie, Kevin Carter inkluis wat die plek verlaat het net na die foto geneem is. Drie maande later het hy weens depressie selfmoord gepleeg.”
Volgens Fordyce, wat ’n persoonlike vriend is van die Suid-Afrikaanse voëlkundige, Ian Sinclair, verteenwoordig die foto, “sonder dat mens die verskriklike invloed van armoede in Afrika wil ignoreer”, egter “een van die grootste leuens van fotojoernalistiek. Moontlik is dit waarom Carter homself doodgemaak het. Alle ornitoloë sal verduidelik dat die voël agter die kind ’n monnikaasvoël is. Dié aasvoëls, wat die kleinste en swakste van alle aasvoëls is, vreet nie gewoonlik aas nie. Hul gewone voedsel is diere-ontlasting en in dorpe en stede in Ethiopië, menslike ontlasting. Hul bekke is soos ’n graaf gevorm om “poefies” op te tel. Die kind op die foto is besig om gewoon te ontlas en die aasvoël wag vir hom om klaar te maak.”
Fordyce vertel verder dat hy en Ian Sinclair, skrywer van verskeie studies en gidse oor Afrika-voëls, enkele jare gelede saam op ’n voëlekspedisie in Ethiopië was. As ’n grap het hulle op hul hurke gaan sit en binne sekondes sou monnikaasvoëls rondom hulle versamel in die hoop dat daar “voedsel” sou wees. “Ons het ons gebreek van die lag,” sê Fordyce.
