praag.co.za

Sonder vervaardiging stuur SA op ramp af

Written by

in

Die arbeidsmark bars uit sy nate vanweë die miljoene onwettige immigrante, vanaf Zimbabwe tot sover as die Kongo, wat bloot oor ons grense instroom. Die tegnologie wat hulle saambring, behels meestal die maak van beeldjies en vleg van mandjies, stoele en ander artikels waarsonder enige Westerling vir die volgende duisend jaar kan leef. Wonder hoeveel van hulle toi-toi tans saam vir voordele vanaf die staat aangesien hulle lustig dans en brandsteek vir behuising en ander voordele.

In 1975 het sowat 63% van ons totale uitvoer alleenlik goud beslaan. Wat toe nog iets werd was en waarvan die prys nie op wêreldmarkte vasgevang was nie. Met die koms van perestroika, die Russiese vloekwoord vir ekonomiese oplewing en die afsweer van die nie-presterende kommunistiese stelsel, het ons rooi vriende die mark vir die edelmetaal totaal oorvoorsien. Hierna was goud nooit weer die kommoditeit van die sestiger- en sewentigerjare nie. Wat het vir ons oorgebly, behalwe so te sê niks? Indien ons olie in dié landjie van ons gehad het, sou ons kon uitvoer en die vreugdesvure kon laat brand. Ongelukkig is ons nou oorgelaat aan tendense in die internasionale markte en moet ons dans na gelang van hulle nukke en giere. Kry Amerika prysgriep, loop ons vir weke met ’n snotneus en traanoë. Dit laat mens maar net besef hoe weerloos ons ekonomie eintlik staan teenoor die sogenaamde Eerste Wêreld-ekonomieë. Ook dat Trevor maar net ’n kortgat met ’n houding is, sirkusbaas met ’n lang sweep, en saam met die groot manne probeer lat swaai. Ons ekonomie is eintlik maar ’n oorgewig- opgeblaasde brulpadda wat relatief staties in die markte is en enige oomblik wind mag verloor. Die bietjie skopkrag tans kom maar grotendeels vanaf ons toerisme maar andersins is daar nie veel om die lyf nie.

Hoekom? Eenvoudig. Ons is nie ’n werklik vervaardigende land nie en kan derhalwe nie werklik kompeteer in enige mededingende mark nie. Ons het tans ’n invoerekonomie wat met ’n rooi handelsbalans van bykans R7 miljard verlede jaar in Desember getoon het. Alles word ingevoer en ten koste van wie? Niemand anders as die verbruiker nie, want soos ons geldstelsel swakker en swakker word teen die dollar en pond, betaal die verbruiker al hoe meer. Die dae toe ons selfonderhoudend was, ook genoop deur handelssanksies, was ons by verre beter af. Tans is ons soos ’n mot in die kerslig. Alles lyk mooi en snoesig warm totdat ons deur die vlamme verswelg word. Ek is van kleintyd af vertel dat Suid-Afrika die broodblik van Afrika is, altans was. Ons was landboukundig fenomenaal en ons graansilo’s is tot oorvol toe gepak. Ons het vir jare met oorskotte in mielies, koring, vrugte en so meer gesit wat ons Afrika ingestuur het na mense wat toe ook nie vir hulleself kon voorsien nie. Vandag voer ons al hoe meer belangerike stapelvoedsel soos vleis in. Blykbaar gebeur dit omdat ons droogtes het, wat ver van die werklikheid af verwyder is. Die boeregemeenskap in die land krimp daagliks en die gemiddelde ouderdom van die boer in SA is seer sekerlik maklik 55 jaar. Hoekom? Baie min van hulle kinders wil boer vanweë blote belangstelling. Wie wil boer as die regering absoluut niks vir die boer in die land doen behalwe om hulle plase in entiteite te wil opdeel nie en wil oorhandig aan mense wat eerstens nie wil boer nie en tweedens nie kán boer nie. Met die hoeveelheid moorde op boere is dit ook nie snaaks dat belangstelling in dié wesentlike industrie kwyn nie.

So die prentjie lyk al hoe donkerder as mens na die verswakking van die rand tesame met ons invoere begin kyk. Nou is dit dan ook net logies dat, sou ons al hoe meer nie-selfonderhoudend ten opsigte van die basiese stapelvoedsel word en ons geliefde rand se waarde krimp saam, ons ’n ramp in die gesig staar. Dan lyk Sanlam se gogga-maak-vir-baba-bang-advertensie, waar hulle verbruikersgoedere se pryse vanuit 2000 projekteer en ’n brood R975 kos, na realiteit. Die euro wat ’n paar jaar gelede die lig gesien het, word sterker by die dag en bal sy spiere tans teen so ’n tempo dat dit binnekort die tienrandmerk gaan verby steek. Net die dollar trek tans swaar maar wat kan mens verwag met ’n oorlog wat daagliks miljoene kos. Die dag as die VSA uit Irak trek, gaan ons ’n ramp in ons ekonomie beleef wat menige handelaar in absolute verstomming gaan laat.

Waarin lê ons heil? Hoe gaan ons die ekonomie regruk? Deur ’n absolute hardegatarrogansie, deur dinge eerstens vir onsself weer te begin doen. Die Engelse stel dit so mooi: charity starts at home. Kyk ons nie na onsself nie, gaan ons nie na ander kan uitreik nie. My donder, wat is nou so moeilik om hiervan te verstaan? Ons maak nie eers ons eie speelgoed nie en voer miljoene rande se gemors vanaf die Ooste jaarliks in om vir ons kinders te gee. Nou as ons nie eers ’n speelding kan maak nie, hoe kan ons iets van werklike waarde aan ons mededingers daarbuite gee? Die vorige regering het ten minste die waarde van die beskerming van eie nywerhede besef en nie alles net oorboord gegooi as gevolg van internasionale druk nie. Die tekstielbedryf was een en ons het vir ons eie mense klere gemaak. As ons die grondstowwe vir produkte het, hoekom moet ons dit uitvoer en dan weer in verwerkte vorm terug invoer? Met staatsinisiatief kan invoerbelasting op sulke ingevoerde tipe artikels verhoog word en ’n eie industrie geskep word wat nie net werk kan voorsien nie, maar ook ons handelsbalans ’n blaaskans sal gee. Maar dié wat weet sal eenvoudig sê dat dit nie kan werk nie. Dis nie die geval nie, eerder een van: hulle wil nie werk nie. Dis baie makliker om in te voer en as die dinge verkeerd loop dan dreig hulle om die verbruiker van sy luukses te stroop. Die banke moedig mense aan om te koop deur goedkoop krediet en dan kom hulle grootbaas Mboweni en dreig weer oor wat gekoop is. Belaglik.

Een van die grootste redes hoekom die betalingsbalans so sleg daar uitsien, is onder andere weens motorverkope. Menigte vervaardigers wat absoluut niks bydra tot die groei van ons ekonomie nie, bring duisende voertuie in wat weereens verraad teen Volkswagen, Mercedes-Benz, Toyota en Delta verteenwoordig. Maatskappye wat deur dik en dun gestaan het en nou voor die swyne gewerp word met sogenaamde laer geprysde produkte waarvan baie maar eintlik minderwaardig is. Maar steeds verkoop Volkswagen en Toyota maandeliks die meeste voertuie. As Volvo, Kia, Renault en ander nie fabrieke hier wil oprig nie, hoekom word hierdie maatskappye nie deur invoerbelasting op hul plek gesit nie? Kry iemand dalk weer geld deur die tafel deur om die klampe los te maak? Die top twee moes lankal hierdie regering se gat geskop het en gedreig het met toemaak as hulle nie daadwerklik iets doen om hulle belange te beskerm nie. Dit is charity starts at home, waarvan hierdie leiers van ons salig onbewus is.

Nee wat, ons het ’n afsetplek vir allerhande gemors geword. ’n Onlangse landbouberaad oor invoere het skipbreuk gely toe ons verteenwoordigers vir die arrogante uitlanders ’n koue skouer gegee het en uitgestap het. Weereens is verwag dat ons die knie moet buig. Om te kon uitvoer na sekere markte moes ons om en by dubbel invoer. Ons het meer sulke aksies nodig en ook verbruikersboikotte teen sekere produkte. Dan sal ons dalk genoop wees om weer self te begin vervaardig en ons boere, soos die melkboere, vir hulle produkte te vergoed wat baie beter en goedkoper is. Tans word ons soos lammers ter slagting gelei.

pearl hair combДанильченко Юрий Харьков

Comments

Leave a Reply