Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Wim Moet Weg #WMW

Deel op

Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl is op 10 Oktober 1975 ingewy. Die hoogte van die hoofsuil is 57 meter. Die argitek, Johan Carel (Jan) van Wijk (1926-2005), beskryf wat tydens die oprigting gebeur het: “Op ‘n dag, toe die bopunt van die hoofsuil bereik is, en daar met die finale afwerking daarvan begin sou word, het ek in ‘n tierende suid-oostewind besoek afgelê by die monument. Gedagtig aan die ossillering van die ‘vliegtuigvlerk’ in hoë winde, moes ek net eenvoudig na bo om die fenomeen van bewegende of swaaiende beton persoonlik te gaan ervaar. Die strukturele ingenieurs het immers die suil ontwerp om te kan beweeg, te kan ossilleer. Saam met Victor Hugo, die voorman, is ek met die oop hysbak na bo – tot by die toppunt. Staande op die steierwerkplatform rondom die punt, en met my hande daarop, ervaar ek die sirkelvormige beweging, omtrent 200mm na alle kante toe. Met my uitlating van ‘Magtig Vic, maar die ding beweeg seker te veel!’ staar hy my verbysterd aan en sê: ‘Meneer, dis nie die monument wat beweeg nie, maar die steierwerk!’ Wat ‘n verligting – en ‘n dankie aan die struktuurmanne! Die taal sal staan, ondanks hoë winde” (Jan van Wijk, Taalmonument, Tokai: Historical Media, 2014, p 55-56). (‘n Bespreking van die boek is op Praag, 31.08.2014, gepubliseer.)

Van Wijk het sy lewe vir Afrikaans gewaag. Hy het sekerlik nie voorsien dat “hoë winde” Afrikaans 40 jaar later minder as 30 kilometers van die Paarl op Stellenbosch sou tref nie. Die argitek van die wrewel teen Afrikaans is die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Wim de Villiers. Na aanleiding van sy akademiese prestasie as student is De Villiers Slim Wim genoem. Maar ‘n slim mens is slim in sekere opsigte en nie in ander nie.

Dit het standaardpraktyk geword om genialiteit met Albert Einstein (1879-1955) te assosieer. Walter Isaacson skryf: “Extraordinary brilliance made his face a symbol and his name a synonym of genius” (Einstein: his life and universe, New York: Simon & Schuster, 2007, p 2). Hy noem Einstein “science’s preeminent poster boy” (5). Einstein was ‘n briljante fisikus maar het gebrekkige wiskundige vermoëns gehad (216). Sy eerste vrou, Mileva Marić, het hom met wiskunde gehelp (3). “She solves all the mathematical problems for me” (136). “I treat my wife as an employee whom I cannot fire” (183). Marcel Grossmann (xx, 36, 159), Michele Angelo Besso (xix, 136) en Walther Mayer (363) het Einstein ook met veral wiskundige probleme gehelp. Aan die einde van sy lewe het Einstein gesê: “If only I had more mathematics” (542).

Later het Einstein tog van Mileva geskei, hoewel dit nie maklik was nie: “I am curious what will last longer, the world war or our divorce proceedings” (236). In 1919 het hy met sy tweede vrou, Elsa, getrou. Sy het hom met vertaling in en uit Frans en Engels gehelp omdat hy net Duits goed magtig was (246). “Einstein tended to become impractical once outside the scientific field” (378). Hy kon nie swem (435) of motorbestuur nie. “‘The professor does not drive,’ Elsa often said. ‘It’s too complicated for him'” (438). Hy was ook “naïve in the field of international politics” (493). “Genius in science is no guarantee of sagacity in political affairs … Einstein has come down from the stars to dabble in ideological politics, with lamentable results … It is always astonishing to find that a man of great intellectual power in some directions is a simpleton or even a jackass in others” (528). Maar Einstein se sêgoed, bv vergelykings, getuig van sy briljantheid. “He had discovered something faster than the speed of light, he said: ‘The speed with which a woman arriving in Paris goes shopping'” (465). Sy nuwe vaderland, Amerika, het hy raak gekarakteriseer: “Everything – even lunacy – is mass produced here” (537).

Ek wil Wim de Villiers nie met Einstein gelykstel nie. Al wat ek probeer aantoon, is dat ‘n slim mens net in sekere opsigte slim is en in ander opsigte ernstige beperkings kan hê. Die uitlating van Einstein wat De Villiers die meeste ter harte moet neem, is: “One can be an internationalist without being indifferent to members of one’s tribe … I am glad that there should be a little patch of earth on which our kindred brethren are not considered aliens” (282). Die Jood Einstein het na Israel verwys. In die konteks van hierdie skrywe verwys die aanhaling na Afrikaners, Afrikaans en die US.

In Afrikaans is daar ‘n uitdrukking: “Slim vang sy baas.” Dit beteken “lis slaag nie altyd nie; ‘n mens kan te slim probeer wees en dan daarom misluk” (HAT). Dit is wat myns insiens die afgelope tyd met die US-baas gebeur het. Vorentoe gaan Afrikaans moeilik van die US-gebeure herstel, maar dit geld ook vir De Villiers. Afrikaans en De Villiers kan nie saam aan die US voortbestaan nie. Afrikaans moet verkieslik die enigste of niks minder nie as die hooftaal aan die US wees. De Villiers moet gaan. Dit geld ook sy viserektor vir transformasie, Nico Koopman.

De Villiers se voorstel vir die verengelsing van die US het as ‘n groot skok gekom. Tog is Praag-lesers beter daarop voorberei as ander mense. Die kreeftegang van Afrikaans aan die US, veral sedert 2002 toe Chris Brink die rektor geword het, is deur Pieter Kapp in die boek, Maties en Afrikaans (2013), gedokumenteer. Die boek is op Praag (6.04.14) bespreek, bv “Primêre, vertrek-, verstek-, ankeltaal, ens, is terme wat onnodiglik hulle intrede gemaak het omdat afgewyk is van die gesonde historiese vanselfsprekendheid dat Afrikaans die enigste US-onderrigtaal is.”

Op 1 Desember 2014 is De Villiers se aanstelling as US-rektor bekend gemaak. Op dieselfde US-raadsvergadering is besluit dat Afrikaans en Engels voortaan gelyke status aan die US sou hê. Eintlik is dit ‘n doelbewus misleidende leuen, want net voorgraads sou die twee tale amptelik gelyke status hê. Nagraadse onderrig sou, indien nie uitsluitlik nie, by voorkeur in Engels geskied. Voorgraads is daar ook geen werklike taalgelykheid nie, want gesamentlike klasse ontaard in hoofsaaklik Engelse onderrig, terwyl hulle amptelik as 50-50% gereken word. Tolking geskied uit Afrikaans in Engels, maar nie (noodwendig) andersom nie, want, so word daar geredeneer, Afrikaanssprekendes verstaan mos Engels. Wat hier gesê word, geld net die hoofkampus.

Die Militêre Akademie op Saldanha is in elk geval eentalig Engels. In Bellville is die US-sakeskool oorweldigend Engels, al word daar in advertensies valslik beweer dat dit nog moontlik is om ‘n magistergraad in Afrikaans te voltooi. Hier kan daar geskuil word agter die argument dat die US se nagraadse onderrig mos in Engels is. En voorgraadse MBChB-onderrig in die mediese fakulteit? Daar is verswarting en dus verengelsing aan die orde van die dag. Hoekom dit so is, kan afgelei word uit die rasgebaseerde toelatingsbeleid. Van blanke matrieks word vir moontlike toelating ‘n gemiddelde van 92% vereis, van bruines en Indiërs 60% en van swartes 50% (Die Burger, 24 deser, p 18).* Russel Botman het sodanige hemelskreiende rassediskriminasie eufemisties “belyning” genoem. Geen akademikus met akademiese integriteit sal so ‘n opset aanvaar of goedpraat nie. Desnieteenstaande beweer Nico Koopman dat die US gelyke geleenthede aan almal bied (US-webwerf 7 Augustus). Om van beurtafrikaans by die Militêre Akademie, die US-sakeskool en die US se mediese fakulteit te praat sou ‘n ernstige oordrywing wees.

[* ‘n US-amptenaar beweer hierdie inligting is onakkuraat en verwys na riglyne (nie voorskrifte nie) wat op die internet beskikbaar is (Die Burger, 27 deser, p 18). Daarvolgens word ‘n gemiddelde matriekpunt van minstens 70% van alle MBChB-studente vereis. 25% van die keuringsfaktor word deur nie-akademiese meriete bepaal. Die geslagsprofiel van aansoekers word ook in ag geneem. Die eerste 100 plekke word nie-rassisties toegeken. Die volgende 150 plekke gaan aan bruines, Indiërs en swartes. ‘n Verdere 20 plekke gaan spesifiek aan swartes. Die US-rektor kan 2 plekke na sy goeddunke vul. As daar hierna plekke oor is, mag hulle aan Indiërs en blankes toegeken word. Daar is ook ‘n verlengde MBChB-program met 40 plekke uitsluitlik vir bruines, Indiërs en swartes. Die rol wat transformasie, inklusiwiteit en diversiteit in hierdie keuringsproses speel, word erken. Dit is vir my duidelik dat akademies begaafde blanke aansoekers om nie-akademiese redes erg benadeel word.]

Kort na sy aanstelling as rektor maar voor diensaanvaarding het De Villiers gesê: “Afrikaans as akademiese taal moet ondersteun en uitgebrei word.” Maar hy het ook gesê: “Ek is entoesiasties oor die koers waarop prof Russel Botman die US geplaas het,” wat die drastiese afskaling van Afrikaans ingesluit het. Reeds toe het ek geskryf: “Dit is juis De Villiers se opmerkings oor Afrikaans wat glad nie gerusstellend is nie.” “Vir De Villiers is Afrikaans blykbaar nie werklik ‘n hartsaak nie, bloot ‘n (lastige) verskynsel wat, soos Botman dit so graag gestel het, ‘bestuur’ moet word.” “De Villiers ondersteun die nuwe taalbeleid in die waan dat dit tot die ‘uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal’ sal lei.” “Soos Chris Brink kan hy anders wees as wat hy aanvanklik voorgegee het.” In daardie vroeë stadium is voorspel “dat daar tydens die rektorskap van De Villiers klemverskuiwings gaan wees, maar van ‘n daadwerklike ommekeer van die situasie, dus van ‘n welkome terugkeer van die US na ‘n egte Afrikaanse universiteit, is daar geen sprake nie” (Praag 13.12.2014).

Op 1 April het De Villiers diens as US-rektor aanvaar. Op 29 April het hy sy intreerede gelewer. Hy het beklemtoon dat die US nie ‘n Afrikaanse universiteit is nie en dat die taalbeleid (eintlik Afrikaans) deur sommige (eintlik swartes) as uitsluitend ervaar word. Inklusiwiteit was die wagwoord: ‘n US “where everyone feels welcome” en “a University that works for all of us.” Maar dan kondig hy eksklusiewe nuwe studiebeurse vir bruin studente aan. Ook dat die Verwoerd-plaket verwyder gaan word, wat sommige mense verheug maar ander aanstoot gee. Internasionalisering was sy ideaal: “The challenge for us is to be locally relevant, yet globally competitive,” wat pro-Engelsgevolge inhou; des te meer omdat die teiken is om teen 2018, die US se eeufeesjaar, ‘n meerderheid swart studente en personeel/dosente te hê (Praag 10 Mei). Blankes en Afrikaans word om politieke, dus nie-akademiese, redes toenemend uit die US gedruk. Daar is geen sprake meer van ‘n US wat ooreenkomstig die stigtingsvoorwaarde van Jannie Marais verseker dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels beklee nie. Daarom behoort Afrikanerdonateurs net so ywerig hulle steun te onttrek. Wat sou Jannie Marais gedink het van daardie groep uitgenooide gaste wat op 30 Mei in sy huis op Coetzenberg byeen was? Hoeveel van hulle is taalbulle wat bereid is om vir ‘n Afrikaanse US te veg? Hoeveel is taalboewe wat Wim de Villiers se verengelsing steun?

Op 12 deser het De Villiers sy taalplan bekend gemaak: Dat Engels met ingang volgende jaar “die primêre taal van kommunikasie en administrasie” aan die US moet word. Die openbare reaksie daarteen was so oorweldigend dat die uitvoerende komitee van die US-raad op 15 deser vergader het. Daarna is aangekondig dat die taalbeleid vir 2016 bly soos dit is en dat Afrikaans nie “verwater” sal word nie. Ook dat De Villiers se pro-Engelsversugting ‘n besprekings- en nie ‘n beleidsdokument is nie; dus ydele wensdenkery. Ook dat De Villiers wyer moet konsulteer as Open Stellenbosch, die ANC se SASCO en die US-studenteraad deur ook insette van Afrikaanse studente-organisasies en die US-konvokasie te verkry en in ag te neem. Ook dat die korrekte prosedure met die taalvoorstelle gevolg moet word, dus die standaardroete via die fakulteite en senaat voordat die saak aan die US-raad voorgelê word. Dit kom neer op niks minder nie as ‘n repudiëring van die opportunistiese De Villiers.

Maar dit lyk asof De Villiers vasbeslote is om sy sin ten koste van Afrikaans te kry. Daarom ontken hy dat die vlieër wat hy opgestuur het, teruggetrek is. Dit lyk asof hy ‘n stryd met die US-raad wil aanknoop, want hy weet dat sy voorstelle in die volle raad (met sy bv Blade Nzimande-verteenwoordigers) ‘n beter kans op aanvaarding as in die raad se uitvoerende komitee het. Dit lyk ook asof hy die skuld vir die onrus en vandalisme wat sedertdien op die kampus voorgekom het, wil afwentel op die uitvoerende komitee van die raad, wat nie genoeë geneem het met De Villiers se oorgawe aan die eise van Open Stellenbosch nie. Hy word in sy kwaad gesterk deur 226 persone, veral dosente, wat hulle steun aan sy Engelse taalplan toegesê het. Daarom skryf De Villiers: “Dit is ‘n moeilike tyd vir almal van ons, maar kom ons hou by ons visie om ‘n meer inklusiewe, innoverende en toekomsgerigte instelling te word wat kennis in diens van almal bevorder” (US-webwerf 17 deser). Daardie inklusiwiteit sluit Afrikaans grootliks uit en daardie “almal” het nie wittes nie maar swartes op die oog. Dalk ly De Villiers aan swartsig: Op die kampus sien hy by voorkeur swartes raak maar hoogstens die swart skaduwees van wittes. Dit lei tot sy illusie van homogeniteit en inklusiwiteit onder die dekmantel van Engels. Die voorttierende onrus moet aan De Villiers se ruggraatloosheid gewyt word. Hy wend geen daadwerklike poging aan om bv Open Stellenbosch kort te vat nie. Hou in gedagte dat ‘n universiteit veronderstel is om ‘n opvoedkundige inrigting te wees, met die rektor in die rol van hoofopvoedkundige.

‘Afrikaners het grondige redes om die erodering van hulle taal, kultuur, skole en universiteite heftig teen te staan’

Onder die 226 persone wat De Villiers se verengelsingsvoorstel steun, is daar Afrikaanssprekende Moslems soos Mohammad Karaan (Die Burger, 19 deser, p 1) en Aslam Fataar (Eikestadnuus, 26 deser, p 4), wat ‘n leidende rol gespeel het om ondertekenaars te werf. Wat hier gebeur, is soortgelyk aan Open Stellenbosch: ‘n Klein groepie luidrugtiges probeer voorgee dat hulle die meerderheidsmening verteenwoordig. Onder die 226 ondertekenaars is daar iemand soos Nico C Gey van Pittius wat op sy Boere-voorgeslag roem. Hy is ‘n mens wat soos De Villiers in die mediese enklawe van die akademie opgelei is en glad nie kultuur, ideologie en propaganda verstaan nie. Na analogie van die Engels wat hy met Duitse vriende moet praat, vind hy dit noodsaaklik dat die US moet verengels (Netwerk24, 19 deser). Hy is dermate gebreinspoel dat hy die belange van die ander vooropstel en die belange van sy eie mense versaak. Hy besef blykbaar nie dat die meeste universiteite in die wêreld nie Engels as voertaal het nie; dat die US die reg het om Afrikaans te wees en kragtens sy stigting sodanig moet wees. Daar is by Gey van Pittius geen begrip vir die gevoelige en onnodige verliese wat Afrikaners sedert 1990 gely het nie. Afrikaners het grondige redes om die erodering van hulle taal, kultuur, skole en universiteite heftig teen te staan.

Op dieselfde dag wat De Villiers met sy Afrikaansverraad gekom het, het hy die aand van die 12de ‘n permanente uitstalling van bruin mense se eertydse woongebied, Die Vlakte, geopen. Die US se gebou vir die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe (voorheen die BJ Vorster-gebou) is op grond gebou wat ingevolge die groepsgebiedewet onteien is. Die US het destyds die skynbaar onvergeefbare flater begaan om die grond sonder verskoning te aanvaar pleks van dit te weier. Hiervoor kan Wim de Villiers en Johan Hattingh, die dekaan by wie die blink idee van die uitstalling ontstaan het, nie genoeg verskoning vra nie. Die naïewe Hattingh het reeds in 1992 beweer dat Afrikaans geen beskerming nodig het nie (Kapp, p 62). De Villiers is gaande oor die nuwe uitstalling; nie net omdat dit ‘n hou teen blankes inkry nie, maar ook omdat dit hom help in sy pogings om sy linkse voorganger, Botman, nie net na te doen nie, maar te oortref. Ek verwys hier na Botman se uitstalling van die Slag van Andringastraat (1940) in die RW Hilcocks-gebou (Praag 25.08.2013), ‘n gebeurtenis wat De Villiers na 25 jaar herdenk het (Praag 13 September). Maar De Villiers sal nie Jannie Marais na ‘n eeu huldig nie.

Sowel die pasgenoemde Botman- as die Hattingh/De Villiers-uitstalling dui op eksklusiwiteit; dus die manier waarop daar deesdae met die veelgeroemde begrip inklusiwiteit omgegaan word. Aansluitend hierby word daar tans geadverteer vir aansoeke om vyf studiebeurse wat deur De Villiers eksklusief vir bruines, vorige inwoners en afstammelinge van Andringastraat/Die Vlakte, ingestel is (Die Burger, 18 deser, p 3). De Villiers se voorgestelde uitsluiting van Afrikaans as voertaal word ironies ook as ‘n poging tot groter inklusiwiteit aangebied.

Op Stellenbosch is Hattingh eintlik die arm man se Anton van Niekerk. Hy het na Van Niekerk dekaan geword en hy probeer om net so oorverlig te wees. Hy spog daarmee dat hy reeds op 13 Mei ‘n fakulteitsvergadering volledig in Engels gefasiliteer het. Die rede daarvoor was dat van die dosente sou uitloop as hy dit nie gedoen het nie. Onder druk swig hy dus net so knap soos De Villiers. Hattingh besef nie dat studente dieselfde laai gaan uithaal as daar in Afrikaans gedoseer word nie. Taalboewe, of hulle nou dosente of studente is, moet tot hulle eie skade eerder vryelik toegelaat word om weg te bly. Hattingh glo sonder meer die louter twak, afkomstig van Amerika, dat swart Engelssprekendes “twee keer so hard vir die helfte van die punte moet werk” (Die Burger, 26 deser, p 23). Hy steun De Villiers se verengelsingsvoorstel met ‘n ontwyking van sy verantwoordelikheid: Daar is glo “geen ander keuse nie.” As Afrikaans aan die US tot die vlak van Xhosa neergehaal word, sal dit glo “nuwe geleenthede na vore” bring. Die resultaat sal wees dat Afrikaans met talle “uitdagings” geseënd gaan wees.

Polities korrek het die US onlangs aangekondig dat ‘n eredoktorsgraad aan Adam Small toegeken gaan word. Hy word gewoonlik beskryf as ‘n Afrikaanse digter en dramaturg. Ingevolge hierdie betiteling het ek gedink dat Small, weens die anti-Afrikaansvlaag wat De Villiers ontketen het, die ontvangs van hierdie akademies waardelose sertifikaat sou weier. Die teenoorgestelde het gebeur. In Die Burger ontvang Small deurgaans net die hoogste lof. Hy het egter besluit om eerder ‘n brief in die Cape Times te publiseer waarin hy De Villiers gelukwens met sy inisiatief om Afrikaans nek om te draai. De Villiers se anti-Afrikaansingesteld hou volgens Small “geen bedreiging” vir Afrikaans in nie. “Inteendeel, Afrikaans word bevorder” (Die Burger, 25 deser, p 11). Sulke brutale onnoselheid laat nie my hart soos ‘n besie sing nie (Ingrid Jonker).

Small bevestig my vermoede dat daar feitlik geen ontwikkelde bruine is wat met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie. Waar is die reaksie van bv Henry Jeffreys, Hein Willemse, Christo van der Rheede en Danny Titus; mense wat graag baie oor Afrikaans te sê het? Hulle is klaarblyklik nie sterk teen De Villiers se taalplan gekant nie; eerder, soos Michael le Cordeur, ten gunste daarvan. Titus het wel oor die US-gebeure geskryf en ‘n pleidooi ter bevoordeling van bruines gelewer, maar nie ‘n woord ten gunste van Afrikaans nie (Netwerk24, 26 deser). Is dit hoe die ATKV-kultuurhoof veronderstel is om te reageer? Die enigste bruine (waarvan ek weet) wat De Villiers teengespreek het, is die oudpolitikus, Peter Marais: “Die gerieflikheidswaarde van Engels as kommunikasietaal, in uitsonderlike gevalle, moet nooit gebruik word as ‘n strategie om Afrikaans te lei na kulturele selfmoord nie … Waarom nie ‘n uitsluitlik Afrikaanse universiteit vir ons ook nie?” (Eikestadnuus, 19 deser, p 6; ‘n berig wat doelbewus nie deur Die Burger oorgeneem is nie).

Soos die US het Die Burger danksy Jannie Marais se vrygewigheid ontstaan en is hy veronderstel om die belange van Afrikaans en Afrikaners te bevorder. In hierdie sage vervul Die Burger, soos De Villiers, ‘n skandalige rol. Die uitsprake van anti-Afrikaanselemente, soos Max du Preez en Amanda Gouws, geniet prominensie. Die studenteraadslid James de Villiers se betoog ten gunste van verengelsing word gepubliseer (Die Burger, 19 deser, p 15), maar nie die uitstekende pleidooi ten behoewe van Afrikaans deur Frederik Rudolph van Dyk van die Adam Tas-vereniging nie (LitNet 16 deser). ‘n Hele bladsy word afgestaan aan ‘n US-betoger, Ntina Lentsa, wat nie in Afrikaans klas wil loop nie maar Frans leer (Die Burger, By, 21 deser, p 13). Dit is soortgelyk aan die swartes wat Spaans leer om in Kuba medies te studeer maar plaaslik om die dood nie Afrikaans wil leer nie. ‘n Duidelike aanduiding dat Die Burger se simpatie by De Villiers se taaltransformasie lê, is gegee toe Joan Hambidge se pro-Afrikaansstandpunt met ‘n duim wat afwaarts wys en Stan du Plessis se vertrapping van Afrikaans met ‘n duim wat opwaarts wys, geïllustreer is (Die Burger, 19 deser, p 9). Dierselfde laai is uitgehaal toe Hattingh se anti-Afrikaansstandpunt (duim op) naas Ebbe Dommisse se pro-Afrikaansstandpunt (duim af) gepubliseer is (Die Burger, 26 deser, p 23). Afgesien van Die Burger se ontstaansgeskiedenis kan ‘n mens nie glo dat die redaksie van ‘n Afrikaanse koerant die verengelsingsproses aan die US kan steun nie. Bun Booyens jr is die redakteur. Sy pa, Bun Booyens sr, was ‘n egte Afrikaner wat jare lank voortreflike akademiese werk ten bate van Afrikanerkultuur aan die US gedoen het. Rapport en Volksblad steun Afrikaans en nou selfs ook Beeld (sonder Adriaan Basson).

Ten slotte plaas ek die kersie op die koek. Chris Brink het die US-rektor geword deur die aanstellingskomitee gewetenloos te belieg oor sy houding jeens Afrikaans (Praag 15 deser, 1ste paragraaf). Reeds op 13 Desember (kyk hier bo) het ek die moontlikheid geopper dat De Villiers dalk dieselfde gedoen het. Onder die opskrif “Et tu, Brute?” staan daar in Eikestadnuus (19 deser, p 1) die volgende oor Wim de Villiers: “Prof Christo Viljoen, president van die US-konvokasie, sê hy voel mislei deur De Villiers en die besprekingsdokument weerspreek wat hy met sy keuringsproses beloof het. ‘Ek was lid van die keuringskomitee vir die keuring van kandidate vir die pos van rektor en visekanselier. Hy het daartydens die versekering gegee dat Afrikaans se posisie ononderhandelbaar is. Hy was trouens verbaas dat daar enige twyfel bestaan dat Afrikaans nie sou voortbestaan as onderrig- en kommunikasietaal aan die US nie. Nou het hy, sewe maande ná sy bewindsaanvaarding geswig’.” Dit lyk asof De Villiers ‘n volledig toegeruste swakkeling is. Die US-raad behoort sy gedrag as kontrakbreuk te beskou. Net soos Die Burger doelbewus nie berig het oor die damesstudente wat die boewe se gemors by Jannie Marais se standbeeld opgeruim het nie, het die koerant hierdie belangrike inligting oor De Villiers nie gepubliseer nie. Dít terwyl Eikestadnuus ook ‘n Naspers/Media24-publikasie is en Die Burger dikwels berigte daaruit oorneem.

Die US-raad vergader Maandag, 30 deser. Dan neem die US moontlik afskeid van óf Afrikaans (en Jannie Marais) óf Wim de Villiers (en Nico Koopman). Die waarskynlikste uitkoms is egter dat die ondergang van Afrikaans aan die US ietwat uitgestel word. Enige besluit sal as spoorslag vir verdere onrus dien. Die pro-De Villiers Amanda Gouws sê: “As ons nie hierdie rubicon [Max du Preez se term] oorsteek nie, sal die destabilisering van die universiteit voortgaan. Ons wil nie konstante ontwrigting hê nie” (Die Burger, 20 deser, p 1). Deur aan Open Stellenbosch se anti-Afrikaanseise toe te gee, sal egter net as aanmoediging vir verdere eise dien, bv dat Afrikaanssprekende dosente se Engels nie goed genoeg is nie, dat Jannie Marais se standbeeld verwyder moet word, ens. Soos Saul Alinsky (1909-1972) dit gestel het: In die geledere van boewe “the issue is never the issue. The revolution is the issue.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.