praag.co.za

Tag: Einstein

  • Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Wim Moet Weg #WMW

    Leon Lemmer: Universiteit Stellenbosch: Wim Moet Weg #WMW

    Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl is op 10 Oktober 1975 ingewy. Die hoogte van die hoofsuil is 57 meter. Die argitek, Johan Carel (Jan) van Wijk (1926-2005), beskryf wat tydens die oprigting gebeur het: “Op ‘n dag, toe die bopunt van die hoofsuil bereik is, en daar met die finale afwerking daarvan begin sou word, het ek in ‘n tierende suid-oostewind besoek afgelê by die monument. Gedagtig aan die ossillering van die ‘vliegtuigvlerk’ in hoë winde, moes ek net eenvoudig na bo om die fenomeen van bewegende of swaaiende beton persoonlik te gaan ervaar. Die strukturele ingenieurs het immers die suil ontwerp om te kan beweeg, te kan ossilleer. Saam met Victor Hugo, die voorman, is ek met die oop hysbak na bo – tot by die toppunt. Staande op die steierwerkplatform rondom die punt, en met my hande daarop, ervaar ek die sirkelvormige beweging, omtrent 200mm na alle kante toe. Met my uitlating van ‘Magtig Vic, maar die ding beweeg seker te veel!’ staar hy my verbysterd aan en sê: ‘Meneer, dis nie die monument wat beweeg nie, maar die steierwerk!’ Wat ‘n verligting – en ‘n dankie aan die struktuurmanne! Die taal sal staan, ondanks hoë winde” (Jan van Wijk, Taalmonument, Tokai: Historical Media, 2014, p 55-56). (‘n Bespreking van die boek is op Praag, 31.08.2014, gepubliseer.)

    Van Wijk het sy lewe vir Afrikaans gewaag. Hy het sekerlik nie voorsien dat “hoë winde” Afrikaans 40 jaar later minder as 30 kilometers van die Paarl op Stellenbosch sou tref nie. Die argitek van die wrewel teen Afrikaans is die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Wim de Villiers. Na aanleiding van sy akademiese prestasie as student is De Villiers Slim Wim genoem. Maar ‘n slim mens is slim in sekere opsigte en nie in ander nie.

    Dit het standaardpraktyk geword om genialiteit met Albert Einstein (1879-1955) te assosieer. Walter Isaacson skryf: “Extraordinary brilliance made his face a symbol and his name a synonym of genius” (Einstein: his life and universe, New York: Simon & Schuster, 2007, p 2). Hy noem Einstein “science’s preeminent poster boy” (5). Einstein was ‘n briljante fisikus maar het gebrekkige wiskundige vermoëns gehad (216). Sy eerste vrou, Mileva Marić, het hom met wiskunde gehelp (3). “She solves all the mathematical problems for me” (136). “I treat my wife as an employee whom I cannot fire” (183). Marcel Grossmann (xx, 36, 159), Michele Angelo Besso (xix, 136) en Walther Mayer (363) het Einstein ook met veral wiskundige probleme gehelp. Aan die einde van sy lewe het Einstein gesê: “If only I had more mathematics” (542).

    Later het Einstein tog van Mileva geskei, hoewel dit nie maklik was nie: “I am curious what will last longer, the world war or our divorce proceedings” (236). In 1919 het hy met sy tweede vrou, Elsa, getrou. Sy het hom met vertaling in en uit Frans en Engels gehelp omdat hy net Duits goed magtig was (246). “Einstein tended to become impractical once outside the scientific field” (378). Hy kon nie swem (435) of motorbestuur nie. “‘The professor does not drive,’ Elsa often said. ‘It’s too complicated for him’” (438). Hy was ook “naïve in the field of international politics” (493). “Genius in science is no guarantee of sagacity in political affairs … Einstein has come down from the stars to dabble in ideological politics, with lamentable results … It is always astonishing to find that a man of great intellectual power in some directions is a simpleton or even a jackass in others” (528). Maar Einstein se sêgoed, bv vergelykings, getuig van sy briljantheid. “He had discovered something faster than the speed of light, he said: ‘The speed with which a woman arriving in Paris goes shopping’” (465). Sy nuwe vaderland, Amerika, het hy raak gekarakteriseer: “Everything – even lunacy – is mass produced here” (537).

    Ek wil Wim de Villiers nie met Einstein gelykstel nie. Al wat ek probeer aantoon, is dat ‘n slim mens net in sekere opsigte slim is en in ander opsigte ernstige beperkings kan hê. Die uitlating van Einstein wat De Villiers die meeste ter harte moet neem, is: “One can be an internationalist without being indifferent to members of one’s tribe … I am glad that there should be a little patch of earth on which our kindred brethren are not considered aliens” (282). Die Jood Einstein het na Israel verwys. In die konteks van hierdie skrywe verwys die aanhaling na Afrikaners, Afrikaans en die US.

    In Afrikaans is daar ‘n uitdrukking: “Slim vang sy baas.” Dit beteken “lis slaag nie altyd nie; ‘n mens kan te slim probeer wees en dan daarom misluk” (HAT). Dit is wat myns insiens die afgelope tyd met die US-baas gebeur het. Vorentoe gaan Afrikaans moeilik van die US-gebeure herstel, maar dit geld ook vir De Villiers. Afrikaans en De Villiers kan nie saam aan die US voortbestaan nie. Afrikaans moet verkieslik die enigste of niks minder nie as die hooftaal aan die US wees. De Villiers moet gaan. Dit geld ook sy viserektor vir transformasie, Nico Koopman.

    De Villiers se voorstel vir die verengelsing van die US het as ‘n groot skok gekom. Tog is Praag-lesers beter daarop voorberei as ander mense. Die kreeftegang van Afrikaans aan die US, veral sedert 2002 toe Chris Brink die rektor geword het, is deur Pieter Kapp in die boek, Maties en Afrikaans (2013), gedokumenteer. Die boek is op Praag (6.04.14) bespreek, bv “Primêre, vertrek-, verstek-, ankeltaal, ens, is terme wat onnodiglik hulle intrede gemaak het omdat afgewyk is van die gesonde historiese vanselfsprekendheid dat Afrikaans die enigste US-onderrigtaal is.”

    Op 1 Desember 2014 is De Villiers se aanstelling as US-rektor bekend gemaak. Op dieselfde US-raadsvergadering is besluit dat Afrikaans en Engels voortaan gelyke status aan die US sou hê. Eintlik is dit ‘n doelbewus misleidende leuen, want net voorgraads sou die twee tale amptelik gelyke status hê. Nagraadse onderrig sou, indien nie uitsluitlik nie, by voorkeur in Engels geskied. Voorgraads is daar ook geen werklike taalgelykheid nie, want gesamentlike klasse ontaard in hoofsaaklik Engelse onderrig, terwyl hulle amptelik as 50-50% gereken word. Tolking geskied uit Afrikaans in Engels, maar nie (noodwendig) andersom nie, want, so word daar geredeneer, Afrikaanssprekendes verstaan mos Engels. Wat hier gesê word, geld net die hoofkampus.

    Die Militêre Akademie op Saldanha is in elk geval eentalig Engels. In Bellville is die US-sakeskool oorweldigend Engels, al word daar in advertensies valslik beweer dat dit nog moontlik is om ‘n magistergraad in Afrikaans te voltooi. Hier kan daar geskuil word agter die argument dat die US se nagraadse onderrig mos in Engels is. En voorgraadse MBChB-onderrig in die mediese fakulteit? Daar is verswarting en dus verengelsing aan die orde van die dag. Hoekom dit so is, kan afgelei word uit die rasgebaseerde toelatingsbeleid. Van blanke matrieks word vir moontlike toelating ‘n gemiddelde van 92% vereis, van bruines en Indiërs 60% en van swartes 50% (Die Burger, 24 deser, p 18).* Russel Botman het sodanige hemelskreiende rassediskriminasie eufemisties “belyning” genoem. Geen akademikus met akademiese integriteit sal so ‘n opset aanvaar of goedpraat nie. Desnieteenstaande beweer Nico Koopman dat die US gelyke geleenthede aan almal bied (US-webwerf 7 Augustus). Om van beurtafrikaans by die Militêre Akademie, die US-sakeskool en die US se mediese fakulteit te praat sou ‘n ernstige oordrywing wees.

    [* ‘n US-amptenaar beweer hierdie inligting is onakkuraat en verwys na riglyne (nie voorskrifte nie) wat op die internet beskikbaar is (Die Burger, 27 deser, p 18). Daarvolgens word ‘n gemiddelde matriekpunt van minstens 70% van alle MBChB-studente vereis. 25% van die keuringsfaktor word deur nie-akademiese meriete bepaal. Die geslagsprofiel van aansoekers word ook in ag geneem. Die eerste 100 plekke word nie-rassisties toegeken. Die volgende 150 plekke gaan aan bruines, Indiërs en swartes. ‘n Verdere 20 plekke gaan spesifiek aan swartes. Die US-rektor kan 2 plekke na sy goeddunke vul. As daar hierna plekke oor is, mag hulle aan Indiërs en blankes toegeken word. Daar is ook ‘n verlengde MBChB-program met 40 plekke uitsluitlik vir bruines, Indiërs en swartes. Die rol wat transformasie, inklusiwiteit en diversiteit in hierdie keuringsproses speel, word erken. Dit is vir my duidelik dat akademies begaafde blanke aansoekers om nie-akademiese redes erg benadeel word.]

    Kort na sy aanstelling as rektor maar voor diensaanvaarding het De Villiers gesê: “Afrikaans as akademiese taal moet ondersteun en uitgebrei word.” Maar hy het ook gesê: “Ek is entoesiasties oor die koers waarop prof Russel Botman die US geplaas het,” wat die drastiese afskaling van Afrikaans ingesluit het. Reeds toe het ek geskryf: “Dit is juis De Villiers se opmerkings oor Afrikaans wat glad nie gerusstellend is nie.” “Vir De Villiers is Afrikaans blykbaar nie werklik ‘n hartsaak nie, bloot ‘n (lastige) verskynsel wat, soos Botman dit so graag gestel het, ‘bestuur’ moet word.” “De Villiers ondersteun die nuwe taalbeleid in die waan dat dit tot die ‘uitbreiding van Afrikaans as akademiese taal’ sal lei.” “Soos Chris Brink kan hy anders wees as wat hy aanvanklik voorgegee het.” In daardie vroeë stadium is voorspel “dat daar tydens die rektorskap van De Villiers klemverskuiwings gaan wees, maar van ‘n daadwerklike ommekeer van die situasie, dus van ‘n welkome terugkeer van die US na ‘n egte Afrikaanse universiteit, is daar geen sprake nie” (Praag 13.12.2014).

    Op 1 April het De Villiers diens as US-rektor aanvaar. Op 29 April het hy sy intreerede gelewer. Hy het beklemtoon dat die US nie ‘n Afrikaanse universiteit is nie en dat die taalbeleid (eintlik Afrikaans) deur sommige (eintlik swartes) as uitsluitend ervaar word. Inklusiwiteit was die wagwoord: ‘n US “where everyone feels welcome” en “a University that works for all of us.” Maar dan kondig hy eksklusiewe nuwe studiebeurse vir bruin studente aan. Ook dat die Verwoerd-plaket verwyder gaan word, wat sommige mense verheug maar ander aanstoot gee. Internasionalisering was sy ideaal: “The challenge for us is to be locally relevant, yet globally competitive,” wat pro-Engelsgevolge inhou; des te meer omdat die teiken is om teen 2018, die US se eeufeesjaar, ‘n meerderheid swart studente en personeel/dosente te hê (Praag 10 Mei). Blankes en Afrikaans word om politieke, dus nie-akademiese, redes toenemend uit die US gedruk. Daar is geen sprake meer van ‘n US wat ooreenkomstig die stigtingsvoorwaarde van Jannie Marais verseker dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels beklee nie. Daarom behoort Afrikanerdonateurs net so ywerig hulle steun te onttrek. Wat sou Jannie Marais gedink het van daardie groep uitgenooide gaste wat op 30 Mei in sy huis op Coetzenberg byeen was? Hoeveel van hulle is taalbulle wat bereid is om vir ‘n Afrikaanse US te veg? Hoeveel is taalboewe wat Wim de Villiers se verengelsing steun?

    Op 12 deser het De Villiers sy taalplan bekend gemaak: Dat Engels met ingang volgende jaar “die primêre taal van kommunikasie en administrasie” aan die US moet word. Die openbare reaksie daarteen was so oorweldigend dat die uitvoerende komitee van die US-raad op 15 deser vergader het. Daarna is aangekondig dat die taalbeleid vir 2016 bly soos dit is en dat Afrikaans nie “verwater” sal word nie. Ook dat De Villiers se pro-Engelsversugting ‘n besprekings- en nie ‘n beleidsdokument is nie; dus ydele wensdenkery. Ook dat De Villiers wyer moet konsulteer as Open Stellenbosch, die ANC se SASCO en die US-studenteraad deur ook insette van Afrikaanse studente-organisasies en die US-konvokasie te verkry en in ag te neem. Ook dat die korrekte prosedure met die taalvoorstelle gevolg moet word, dus die standaardroete via die fakulteite en senaat voordat die saak aan die US-raad voorgelê word. Dit kom neer op niks minder nie as ‘n repudiëring van die opportunistiese De Villiers.

    Maar dit lyk asof De Villiers vasbeslote is om sy sin ten koste van Afrikaans te kry. Daarom ontken hy dat die vlieër wat hy opgestuur het, teruggetrek is. Dit lyk asof hy ‘n stryd met die US-raad wil aanknoop, want hy weet dat sy voorstelle in die volle raad (met sy bv Blade Nzimande-verteenwoordigers) ‘n beter kans op aanvaarding as in die raad se uitvoerende komitee het. Dit lyk ook asof hy die skuld vir die onrus en vandalisme wat sedertdien op die kampus voorgekom het, wil afwentel op die uitvoerende komitee van die raad, wat nie genoeë geneem het met De Villiers se oorgawe aan die eise van Open Stellenbosch nie. Hy word in sy kwaad gesterk deur 226 persone, veral dosente, wat hulle steun aan sy Engelse taalplan toegesê het. Daarom skryf De Villiers: “Dit is ‘n moeilike tyd vir almal van ons, maar kom ons hou by ons visie om ‘n meer inklusiewe, innoverende en toekomsgerigte instelling te word wat kennis in diens van almal bevorder” (US-webwerf 17 deser). Daardie inklusiwiteit sluit Afrikaans grootliks uit en daardie “almal” het nie wittes nie maar swartes op die oog. Dalk ly De Villiers aan swartsig: Op die kampus sien hy by voorkeur swartes raak maar hoogstens die swart skaduwees van wittes. Dit lei tot sy illusie van homogeniteit en inklusiwiteit onder die dekmantel van Engels. Die voorttierende onrus moet aan De Villiers se ruggraatloosheid gewyt word. Hy wend geen daadwerklike poging aan om bv Open Stellenbosch kort te vat nie. Hou in gedagte dat ‘n universiteit veronderstel is om ‘n opvoedkundige inrigting te wees, met die rektor in die rol van hoofopvoedkundige.

    ‘Afrikaners het grondige redes om die erodering van hulle taal, kultuur, skole en universiteite heftig teen te staan’

    Onder die 226 persone wat De Villiers se verengelsingsvoorstel steun, is daar Afrikaanssprekende Moslems soos Mohammad Karaan (Die Burger, 19 deser, p 1) en Aslam Fataar (Eikestadnuus, 26 deser, p 4), wat ‘n leidende rol gespeel het om ondertekenaars te werf. Wat hier gebeur, is soortgelyk aan Open Stellenbosch: ‘n Klein groepie luidrugtiges probeer voorgee dat hulle die meerderheidsmening verteenwoordig. Onder die 226 ondertekenaars is daar iemand soos Nico C Gey van Pittius wat op sy Boere-voorgeslag roem. Hy is ‘n mens wat soos De Villiers in die mediese enklawe van die akademie opgelei is en glad nie kultuur, ideologie en propaganda verstaan nie. Na analogie van die Engels wat hy met Duitse vriende moet praat, vind hy dit noodsaaklik dat die US moet verengels (Netwerk24, 19 deser). Hy is dermate gebreinspoel dat hy die belange van die ander vooropstel en die belange van sy eie mense versaak. Hy besef blykbaar nie dat die meeste universiteite in die wêreld nie Engels as voertaal het nie; dat die US die reg het om Afrikaans te wees en kragtens sy stigting sodanig moet wees. Daar is by Gey van Pittius geen begrip vir die gevoelige en onnodige verliese wat Afrikaners sedert 1990 gely het nie. Afrikaners het grondige redes om die erodering van hulle taal, kultuur, skole en universiteite heftig teen te staan.

    Op dieselfde dag wat De Villiers met sy Afrikaansverraad gekom het, het hy die aand van die 12de ‘n permanente uitstalling van bruin mense se eertydse woongebied, Die Vlakte, geopen. Die US se gebou vir die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe (voorheen die BJ Vorster-gebou) is op grond gebou wat ingevolge die groepsgebiedewet onteien is. Die US het destyds die skynbaar onvergeefbare flater begaan om die grond sonder verskoning te aanvaar pleks van dit te weier. Hiervoor kan Wim de Villiers en Johan Hattingh, die dekaan by wie die blink idee van die uitstalling ontstaan het, nie genoeg verskoning vra nie. Die naïewe Hattingh het reeds in 1992 beweer dat Afrikaans geen beskerming nodig het nie (Kapp, p 62). De Villiers is gaande oor die nuwe uitstalling; nie net omdat dit ‘n hou teen blankes inkry nie, maar ook omdat dit hom help in sy pogings om sy linkse voorganger, Botman, nie net na te doen nie, maar te oortref. Ek verwys hier na Botman se uitstalling van die Slag van Andringastraat (1940) in die RW Hilcocks-gebou (Praag 25.08.2013), ‘n gebeurtenis wat De Villiers na 25 jaar herdenk het (Praag 13 September). Maar De Villiers sal nie Jannie Marais na ‘n eeu huldig nie.

    Sowel die pasgenoemde Botman- as die Hattingh/De Villiers-uitstalling dui op eksklusiwiteit; dus die manier waarop daar deesdae met die veelgeroemde begrip inklusiwiteit omgegaan word. Aansluitend hierby word daar tans geadverteer vir aansoeke om vyf studiebeurse wat deur De Villiers eksklusief vir bruines, vorige inwoners en afstammelinge van Andringastraat/Die Vlakte, ingestel is (Die Burger, 18 deser, p 3). De Villiers se voorgestelde uitsluiting van Afrikaans as voertaal word ironies ook as ‘n poging tot groter inklusiwiteit aangebied.

    Op Stellenbosch is Hattingh eintlik die arm man se Anton van Niekerk. Hy het na Van Niekerk dekaan geword en hy probeer om net so oorverlig te wees. Hy spog daarmee dat hy reeds op 13 Mei ‘n fakulteitsvergadering volledig in Engels gefasiliteer het. Die rede daarvoor was dat van die dosente sou uitloop as hy dit nie gedoen het nie. Onder druk swig hy dus net so knap soos De Villiers. Hattingh besef nie dat studente dieselfde laai gaan uithaal as daar in Afrikaans gedoseer word nie. Taalboewe, of hulle nou dosente of studente is, moet tot hulle eie skade eerder vryelik toegelaat word om weg te bly. Hattingh glo sonder meer die louter twak, afkomstig van Amerika, dat swart Engelssprekendes “twee keer so hard vir die helfte van die punte moet werk” (Die Burger, 26 deser, p 23). Hy steun De Villiers se verengelsingsvoorstel met ‘n ontwyking van sy verantwoordelikheid: Daar is glo “geen ander keuse nie.” As Afrikaans aan die US tot die vlak van Xhosa neergehaal word, sal dit glo “nuwe geleenthede na vore” bring. Die resultaat sal wees dat Afrikaans met talle “uitdagings” geseënd gaan wees.

    Polities korrek het die US onlangs aangekondig dat ‘n eredoktorsgraad aan Adam Small toegeken gaan word. Hy word gewoonlik beskryf as ‘n Afrikaanse digter en dramaturg. Ingevolge hierdie betiteling het ek gedink dat Small, weens die anti-Afrikaansvlaag wat De Villiers ontketen het, die ontvangs van hierdie akademies waardelose sertifikaat sou weier. Die teenoorgestelde het gebeur. In Die Burger ontvang Small deurgaans net die hoogste lof. Hy het egter besluit om eerder ‘n brief in die Cape Times te publiseer waarin hy De Villiers gelukwens met sy inisiatief om Afrikaans nek om te draai. De Villiers se anti-Afrikaansingesteld hou volgens Small “geen bedreiging” vir Afrikaans in nie. “Inteendeel, Afrikaans word bevorder” (Die Burger, 25 deser, p 11). Sulke brutale onnoselheid laat nie my hart soos ‘n besie sing nie (Ingrid Jonker).

    Small bevestig my vermoede dat daar feitlik geen ontwikkelde bruine is wat met die heil van Afrikaans vertrou kan word nie. Waar is die reaksie van bv Henry Jeffreys, Hein Willemse, Christo van der Rheede en Danny Titus; mense wat graag baie oor Afrikaans te sê het? Hulle is klaarblyklik nie sterk teen De Villiers se taalplan gekant nie; eerder, soos Michael le Cordeur, ten gunste daarvan. Titus het wel oor die US-gebeure geskryf en ‘n pleidooi ter bevoordeling van bruines gelewer, maar nie ‘n woord ten gunste van Afrikaans nie (Netwerk24, 26 deser). Is dit hoe die ATKV-kultuurhoof veronderstel is om te reageer? Die enigste bruine (waarvan ek weet) wat De Villiers teengespreek het, is die oudpolitikus, Peter Marais: “Die gerieflikheidswaarde van Engels as kommunikasietaal, in uitsonderlike gevalle, moet nooit gebruik word as ‘n strategie om Afrikaans te lei na kulturele selfmoord nie … Waarom nie ‘n uitsluitlik Afrikaanse universiteit vir ons ook nie?” (Eikestadnuus, 19 deser, p 6; ‘n berig wat doelbewus nie deur Die Burger oorgeneem is nie).

    Soos die US het Die Burger danksy Jannie Marais se vrygewigheid ontstaan en is hy veronderstel om die belange van Afrikaans en Afrikaners te bevorder. In hierdie sage vervul Die Burger, soos De Villiers, ‘n skandalige rol. Die uitsprake van anti-Afrikaanselemente, soos Max du Preez en Amanda Gouws, geniet prominensie. Die studenteraadslid James de Villiers se betoog ten gunste van verengelsing word gepubliseer (Die Burger, 19 deser, p 15), maar nie die uitstekende pleidooi ten behoewe van Afrikaans deur Frederik Rudolph van Dyk van die Adam Tas-vereniging nie (LitNet 16 deser). ‘n Hele bladsy word afgestaan aan ‘n US-betoger, Ntina Lentsa, wat nie in Afrikaans klas wil loop nie maar Frans leer (Die Burger, By, 21 deser, p 13). Dit is soortgelyk aan die swartes wat Spaans leer om in Kuba medies te studeer maar plaaslik om die dood nie Afrikaans wil leer nie. ‘n Duidelike aanduiding dat Die Burger se simpatie by De Villiers se taaltransformasie lê, is gegee toe Joan Hambidge se pro-Afrikaansstandpunt met ‘n duim wat afwaarts wys en Stan du Plessis se vertrapping van Afrikaans met ‘n duim wat opwaarts wys, geïllustreer is (Die Burger, 19 deser, p 9). Dierselfde laai is uitgehaal toe Hattingh se anti-Afrikaansstandpunt (duim op) naas Ebbe Dommisse se pro-Afrikaansstandpunt (duim af) gepubliseer is (Die Burger, 26 deser, p 23). Afgesien van Die Burger se ontstaansgeskiedenis kan ‘n mens nie glo dat die redaksie van ‘n Afrikaanse koerant die verengelsingsproses aan die US kan steun nie. Bun Booyens jr is die redakteur. Sy pa, Bun Booyens sr, was ‘n egte Afrikaner wat jare lank voortreflike akademiese werk ten bate van Afrikanerkultuur aan die US gedoen het. Rapport en Volksblad steun Afrikaans en nou selfs ook Beeld (sonder Adriaan Basson).

    Ten slotte plaas ek die kersie op die koek. Chris Brink het die US-rektor geword deur die aanstellingskomitee gewetenloos te belieg oor sy houding jeens Afrikaans (Praag 15 deser, 1ste paragraaf). Reeds op 13 Desember (kyk hier bo) het ek die moontlikheid geopper dat De Villiers dalk dieselfde gedoen het. Onder die opskrif “Et tu, Brute?” staan daar in Eikestadnuus (19 deser, p 1) die volgende oor Wim de Villiers: “Prof Christo Viljoen, president van die US-konvokasie, sê hy voel mislei deur De Villiers en die besprekingsdokument weerspreek wat hy met sy keuringsproses beloof het. ‘Ek was lid van die keuringskomitee vir die keuring van kandidate vir die pos van rektor en visekanselier. Hy het daartydens die versekering gegee dat Afrikaans se posisie ononderhandelbaar is. Hy was trouens verbaas dat daar enige twyfel bestaan dat Afrikaans nie sou voortbestaan as onderrig- en kommunikasietaal aan die US nie. Nou het hy, sewe maande ná sy bewindsaanvaarding geswig’.” Dit lyk asof De Villiers ‘n volledig toegeruste swakkeling is. Die US-raad behoort sy gedrag as kontrakbreuk te beskou. Net soos Die Burger doelbewus nie berig het oor die damesstudente wat die boewe se gemors by Jannie Marais se standbeeld opgeruim het nie, het die koerant hierdie belangrike inligting oor De Villiers nie gepubliseer nie. Dít terwyl Eikestadnuus ook ‘n Naspers/Media24-publikasie is en Die Burger dikwels berigte daaruit oorneem.

    Die US-raad vergader Maandag, 30 deser. Dan neem die US moontlik afskeid van óf Afrikaans (en Jannie Marais) óf Wim de Villiers (en Nico Koopman). Die waarskynlikste uitkoms is egter dat die ondergang van Afrikaans aan die US ietwat uitgestel word. Enige besluit sal as spoorslag vir verdere onrus dien. Die pro-De Villiers Amanda Gouws sê: “As ons nie hierdie rubicon [Max du Preez se term] oorsteek nie, sal die destabilisering van die universiteit voortgaan. Ons wil nie konstante ontwrigting hê nie” (Die Burger, 20 deser, p 1). Deur aan Open Stellenbosch se anti-Afrikaanseise toe te gee, sal egter net as aanmoediging vir verdere eise dien, bv dat Afrikaanssprekende dosente se Engels nie goed genoeg is nie, dat Jannie Marais se standbeeld verwyder moet word, ens. Soos Saul Alinsky (1909-1972) dit gestel het: In die geledere van boewe “the issue is never the issue. The revolution is the issue.”

  • Piet Croucamp, Pierre de Vos en die honde van Karl Marx

    Tans vlieg daar steeds eposse heen en weer oor Piet Croucamp se anti-Christelike uitlatings waarvan ‘n opname onlangs na vore gekom het.

    Om meer as een godsdiens of wêreldbeskouing in ‘n enkele land te akkomodeer, was nog altyd ‘n probleem. Ons voorouers met Franse vanne het in die Kaap beland vanweë die Bartolomeusnag toe Catherine de Médicis besluit het om die poorte van Parys te sluit en alle Protestante voor die voet dood te maak. Tot in die vroeë 1700s was daar nog godsdiensoorloë en ‘n sekere Marie Durand (‘n naam wat eintlik Afrikaans klink!) is in die suide van Frankryk vir 38 jaar in ‘n kerker opgesluit omdat sy verseg het om van haar Protestantse geloof afstand te doen.

    roodt_fbfotoVandaar dus die Europese besluit om kerk en staat te skei. Ongelukkig sien ons tans hoe die sekulêre Europese staat nie meer in staat is om dié skeiding te handhaaf nie omdat Moslem-immigrante ‘n absolute siening van hul eie geloof handhaaf en dus verwag dat skole veral daarby moet aanpas en hulle moet toelaat om hul gebruike te handhaaf.

    In ons land heers daar enersyds ‘n waardekrisis omdat ons nie meer in staat is om tussen reg en verkeerd te onderskei nie, en andersyds word daar ‘n soort appèl op sekularisme van die Europese tipe gedoen, maar dan sonder om werklik die geskiedenis en veronderstelllings daarvan te verstaan.

    Die post-1994-staat is kwalik ideologies neutraal. Croucamp se aanval spesifiek op die Christelike godsdiens geskied vanuit ‘n chauvinistiese vooroordeel teenoor Christene. Hy sou byvoorbeeld nie dieselfde kwetsende opmerkings oor Islam of die Jodedom maak nie.

    Of selfs Mandela se naam ydellik gebruik nie. Toevallig het ek ‘n week of tien dae gelede ‘n epos van iemand ontvang wat by sy werk afgedank gaan word omdat hy geweier het om aan die korporatiewe Mandeladag deel te neem! Hy is geskors en word dissiplinêr verhoor omdat sy weiering blykbaar die maatskappy in ‘n swak lig stel en boonop aanstoot aan swart werknemers gegee het.

    ‘n Mens sou vele intellektuele of akademiese besware teen Croucamp se “argument” kon inbring. Immers hou die bestaan, aldan nie, van God denkers en teoloë al eeue lank besig. Die wetenskap self is geensins absoluut nie (hoewel swaartekrag en ‘n paar ander dinge moeilik weerlê kan word) en Croucamp se beroep op Einstein as die teenpool van Christelike denke is op sy minste problematies, aangesien die moderne kwantumfisika, waaronder die teorie van die Oerknal, deelagtig aan sekere veronderstellings is wat in wese nie veel van byvoorbeeld Genesis verskil nie. Maar ek dink nie dis waaroor dit gaan nie.

    Croucamp is heeltemal vry om op Christene te vloek en te skel – hoewel, ‘n mens sou wou sien dat hy ter wille van konsekwentheid dit na die ander Semitiese gelowe uitbrei, as hy oor die moed beskik – maar dan in sy persoonlike hoedanigheid. Die argument wat teen die bestaan van Afrikaanse universiteite gebruik word, naamlik dat die belastingbetaler geen ander taal as Engels mag subisidieer nie, geld seker ook vir die verkondiging van idiosinkratiese persoonlike vooroordele terwyl mens ‘n gesubsidieerde amptenaar is? Croucamp het insgelyks nie sy uitlatings oor ‘n breindood God en Christus in ‘n Melvillese kafee gemaak nie, maar blykbaar op die perseel van die UJ (wat eens die RAU was). Tensy die styl van akademiese debatvoering dermate agteruitgegaan het en deesdae nie meer van die gemiddelde kroeggesprek te onderskei is nie, meen ek ook dat Croucamp nie die vorm en reëls van ‘n akademiese of intellektuele gesprek nakom nie.

    Pierre de Vos van die Universiteit van Kaapstad het Croucamp ondersteun met die volgende woorde:

    Die Grondwet beskerm nie gelowiges teen kritiek van hul Godsdiens nie net soos dit nie ateïste teen kritiek bescherm nie. Dan het ons ’n teokrasie. Dit beskerm almal se reg om te glo wat hulle wil en om wat hulle glo te verkondig (sien Grondwetlike Hof-uitspraak in S v Lawrence). U is dus geregtig om te glo dat die essensie van menswees is om te glo. Ander van ons het die reg om te glo die stelling is absurd en om dit te sê. ’n Akademikus se plig is nie om hom of haarself te sensureer om te voldoen aan wat sommige ander as fatsoenlike gedrag en denke voorhoud nie, maar om sy of haar eerlike sienings te gee, ongeag wat ander mag glo.

    Dit wil voorkom asof De Vos vir hom en Croucamp absolute vryheid van spraak met staatsubsidie opeis, want die grondwet sou dit toelaat. Geeneen van ons het ooit tot hierdie grondwet ingestem nie en daar was nooit ‘n referendum daaroor nie. Ek voel my hoegenaamd nie deur die grondwet gebind nie en weier byvoorbeeld om te aanvaar dat ek en my nageslag aan regstellende aksie onderworpe moet wees omdat een of ander NP-amptenaar iewers dertig of veertig jaar gelede iemand sou te nagekom het. Dat die grondwet daarom carte blanche verskaf aan sogenaamde “tenured radicals” om die res van ons te beledig en eintlik haatveldtogte teen ons te voer, maak ook allermins sin.

    Ons het ‘n nuwe Verligting in Suid-Afrika nodig. Want die soort onverdraagsaamheid van die Spaanse Inkwisisie wat deur Van Wyk Louw in sy gedig “Die hond van God” beskryf word, leef tans voort by wat mens “die honde van Karl Marx” sou kon noem. Ons land het die ideologiese uitskot van ‘n totalitêre Oos-Europa geërf. Tot 100 miljoen mense is deur die kommuniste uitgemoor, vele ook omdat hulle Christene was. Die studente in Pretoria wat ná ‘n Bybelstudiesessie by haar meenthuis in Pretoria aangeval, verkrag, met ‘n mes geskend en vir dood agtergelaat is, is maar een van die duisende gevalle waar gelowige Christene deur “vryheidsvegters” of “honde van Karl Marx” aangeval is.

    Nietzsche se kritiek op die humanisme is ook ter sake, want die sogenaamde ateïs plaas bloot die mens op die troon van God en daarmee saam word die hele siklus van sensuur, onverdraagsaamheid en vervolging wat die Kerk in sy donkerste jare gekenmerk het, herhaal. Croucamp en vele ander het al oor en oor bewys hoe onverdraagsaam hulle is deur byvoorbeeld dissidente akademici aan te kla, hul spraakvryheid – selfs in hul persoonlike hoedanigheid weg van die kampus af – aan bande te lê en letterlike heksejagte teen hulle te onderneem. Deur Christus met Mandela te vervang en daarmee diegene te vervolg wat oneerbiedig teenoor “Nelson van Qunu” (teenoor Jesus van Nasaret) is, is ewe seer Middeleeus.

    Pakistan en Indië het twee lande geword omdat Moslems en Hindoes nie saam in dieselfde land kon aanbly nie. Solank as wat die honde van Karl Marx ons in Suid-Afrika vervolg, ons spraakvryheid skend en die universiteite slegs katedrale vir anti-Christelike vloekers is, sien ek nie hoe die stelsel volhoubaar is nie. Ek sou eerder in ‘n verdraagsame Christelike volkstaat wou woon wat soos in die 1983-grondwet godsdiensvryheid erken, as in ‘n fanatiese, dom, totalitêre, sekulêr-fundamentalistiese soort Demokratiese Kampoetsja (die republiek van Pol Pot wat tussen 17 April 1975 en 7 Januarie 1979 bestaan het) waarin “akademici” dit as hul taak sien om slegs Christene (maar geen ander gelowiges nie) te beledig.

    Demokratiese Kampoetsja is net soos Demokratiese Suid-Afrika gekenmerk deur etniese vervolging, anti-Christelike onverdraagsaamheid en terreur:

    Massacres of ethnic Vietnamese and of their sympathizers, as well as destruction of Vietnamese Catholic churches by the Khmer Rouge took place sporadically in Cambodia under the Democratic Kampuchea regime, especially in the Eastern Zone after May 1975. By early 1978, however, the Vietnamese leadership decided to support internal resistance to the Pol Pot regime and the Eastern Zone of Cambodia became a focus of insurrection. In the meantime, as 1978 wore on, Khmer Rouge bellicosity in the border areas surpassed Hanoi’s threshold of tolerance. War hysteria against Vietnam reached bizarre levels within Democratic Kampuchea as Pol Pot tried to distract attention from bloody inner purges. In May 1978, on the eve of So Phim’s Eastern Zone uprising, Radio Phnom Penh declared that if each Cambodian soldier killed thirty Vietnamese, only 2 million troops would be needed to eliminate the entire Vietnamese population of 50 million. (Uit: Wikipedia)

    Wat my betref, kan al die fakulteite van geesteswetenskappe aan die universiteite maar afgeskaf word, want hulle verteenwoordig kultureel-marxistiese kloosters wat geen kennis of kritiese denke aan studente oordra nie en bloot bestaan om hul arme slagoffers met hul negentiende-eeuse dogma te indokrineer. Pleks van miljarde rande hierop te vermors, kan vryskutnavorsers bloot vergoed word vir publikasies in geakkrediteerde tydskrifte. Aangesien die gemiddelde akademikus slegs een artikel per jaar produseer, terwyl hulle veel meer aandag aan hul heksejagte op “afvalliges” bestee, sal die land ‘n groot intellektuele inspuiting kry en daar ook veel meer mededinging wees, pleks van die huidige baantjies-vir-boeties-stelsel.

    Maar dis weer ‘n ander debat.

  • ‘n Seder val in Potchefstroom

    ‘n Seder val in Potchefstroom

    skoppensboer

    deur Skoppensboer

    [followbutton username=’skoppensbo3r’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

    Skoppensboer dink Afrikaners het mal geword. Ten minste volgens Einstein se definisie. Hy het mos gesê die definisie van waansin is wanneer jy keer op keer dieselfde ding doen en ‘n ander resultaat verwag.

    Die Noordwes-universiteit op Potch, vir diegene wat nie weet nie, het so pas ‘n nuwe rektor gekry. Hy is swart. Hy praat nie eintlik Afrikaans nie. Hy dra snaakse, glinsterende hemde met goue mansjetknope wat hy nie by sy langbroek insteek nie. As jy swart is, mag jy maar. En dít alles kwalifiseer hom seker vir die rektoraat.

    Hy heet Dan Kgwadi. Vandag verklaar “die prof” – Skoppensboer kan dié Afrikaanse gemeensaamheid nie verdra nie – in Rapport: “Ek meen, ek het eers my menswaardigheid as student in Amerika ontdek, dáár bevry geraak…”

    Skoppensboer wil amper uitroep: “Nes Jonathan Jansen!” As jy swart is, ontdek jy jouself eers in Amerika, want dis mos waar die anti-wit ideologie en swart identiteit voortdurend messkerp geslyp word. Veral aan daardie land se kultureel-marxistiese universiteite.

    En soortgelyk aan Kovsies waar Faan Hancke en sy mede-oud-NP-Kruiperkaners vir Jansen ingevoer het, het Potch se spierwit senaat besluit hulle kort ‘n swart rektor. Vanuit Dan Kgwadi se perspektief beteken dit net een ding: ““Ons senaat is grootliks wit en mens sou kon dink die universiteit is nie gereed vir só ’n drastiese verandering nie. Dié steun sê vir my, wow, ons ís.”

    Hoe lyk “drastiese verandering” op die Potch-kampus. Hanlie Retief se onderhoud in Rapport draai dit alles mooi in witskuldewatte toe, maar elders op KykNET praat Kgwadi vrylik oor hoe Potch “getransformeer” gaan word. Meer “sosiale integrasie”: met ander woorde die koshuise moet eers gemeng en dan swart word, net soos dit aan die voormalige RAU en toe op Bloemfontein gebeur het. Volgens Kgwadi moet daar ook “mobiliteit” tussen die verskilende Noordwes-kampusse kom, wat beteken dat die knyp-die-kat-in-die-donker-Afrikaans wat op Potch gehandhaaf is, ook in die gedrang gaan kom.

    Dis lekker om mal te wees, volgens Einstein se definisie. Skoppensboer herinner hom daaraan dat fw de klerk gedink het hy beheer Mandela. Toe beheer Mandela hom. Faan Hancke en sy mede-Kruiperkaners op Bloemfontein het ook gedink hulle beheer Jansen, toe geskied die teendeel. Hoe lank voordat die hele Potchefstroom na Dan Kgwadi, die “bevryde swartman met Amerikaanse waardes” se pype dans? Nie lank nie, reken Skoppensboer.

    Die noordwestelike transformeerder gaan glo nou “Afrikaans leer”. Bravo! Op KykNET, wat kwansuis ‘n Afrikaanse kanaal is, het hy Engels gepraat met so elke drie minute ‘n halwe sin Afrikaans. Dis seker hoe “Afrikaans” binnekort op Potch gaan lyk. En die Afrikaanse “prof” op Potch, Wannie Carstens, werk kliphard aan ‘n taalteorie wat gaan bewys dat ons taal eintlik deur die Khoisan uitgevind is. Alvorens dit deur veramerikaanste Tswanas tot Engels “verfyn” is?

    Volgens Kgwadi word Afrikaans “as taal deur die grondwet beskerm”. Nêrens het dit egter die verengelsing van alles wat bewe verhoed nie, ook nie die pleknaamveranderings nie. Nietemin voel hy tydens die KykNET-onderhoud op sy Ingels dat daar “balans moet wees tussen Afrikaanse taalregte en die reg op toegang vir studente”.

    Daar het jy dit! dag Skoppensboer. Miskien moet Skoppensboer maar groendakkies toe gaan, hy het so ‘n gevoel van déjà vu… Of is ons almal reeds daar? Want hoeveel keer het ons nie dít al gehoor nie? Die “reg op toegang” wat beteken dat Engels – en swart – voorrang moet kry! Dis seker waarom die polisie vir Renate Barnard bevordering in die polisie geweier het, want sy het ‘n swarte “toegang” tot sy rassevoorkeurpos ontsê. As ‘n mens die voormalige technikons daarby inreken, is daar seker dertig tot veertig hoëronderwysinstellings in dié land waar nie net plaasike swartes nie, maar die uitverkore ras van oor die hele Afrika, vrylik “toegang” tot Engelse kursusse geniet. Maar die laaste paar Afrikaanse lesingsale op Potch is ‘n steen des aanstoots vir die heer Kgwadi met sy snaakse hempies.

    Kgwadi voel ook dat die Potchefstroomkampus agter raak by die res van die land as dit by “transformasie” kom. Lees: hier is nog te veel wit gesigte op die kampus. Wat hy vir ons gaan regstel.

    Let wel: die verbasende is nie dat hy dié menings huldig nie, want swart tropdenke in Suid-Afrika neig tot die eindelose herhaling van verslete Amerikaanse rasse-idees. Jansen op Bloemfontein dweep mos met “diversiteit”. As ‘n kampus honderdpersent swart is, het hy die toppunt van “diversiteit” bereik. Op Potch gaan die hele dosentekorps seker ook binnekort die D-woord begin prewel.

    Wat Skoppensboer egter ligweg raaiselagtig vind, is dat al daardie akademici wat gewoonlik met rooi pennehale kritiek op studente se logika of idees lewer, hul eie ondergang so klakkeloos aanvaar. Dat nog ‘n episode van Einsteiniaanse kranksinnigheid hom op Potchefstroom – komende ná Pretoria, Stellenbosch, Johannesburg, Bloemfontein, Port Elizabeth en wat nog – afspeel.

    Soms voel Skoppensboer: hoe gouer iemand ‘n vuurhoutjie onder die oorblywende pseudo-Afrikaanse universiteite insteek, hoe beter. Laat die spul Kruiperkaner-akademici ander betrekkings gaan soek. Of karre begin oppas in Pretoriase parkeerruimtes.

    Die snode verraaiers verdien niks beter nie.

    [followbutton username=’skoppensbo3r’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

  • Die Afrikaner: ‘n nuwe optimisme

    In 2005 het ek met ‘n mate van intensiteit begin om aan die politieke prosesse van die land deel te neem deur die Afrikaner se krisis te ondersoek en te beskryf. Dit was moontlik die donkerste tyd in die volk se geskiedenis. Ons val was hard en ons het gesamentlik winduit rondgestaan in die oorblyfsels van wat ons voorgangers in die geil jare van Afrikaner-heerskappy opgebou het. Niemand het blykbaar ‘n werkbare oorlewingstrategie vir die volk gehad nie en die enigste Afrikaner-stemme wat enigsins volume gehad het, was dié van oorlopers soos Max du Preez en Christi van der Westhuizen wat darem té skril en heeltemal voortydig oor die snelnaderende algehele verdwyning van die Afrikaner gejodel het.

    Nie net was ons aansienlike mag deur die verraad van ons leiers van ons gestroop nie, dit is aan ons mees verbete vyande oorhandig om teen ons te gebruik. As dit nie was dat ons soldate die kruipende pes van wêreldwye marxisme vir dertig jaar vertraag en buite ons landsgrense gehou het nie, en as ons nie vir die nuwe heersende elite ‘n sekere monetêre waarde gehad het nie, en as dit nie was dat die ANC se vernaamste internasionale borg sy imperiale wensdenkery moes laat vaar het nie, het dit die nuwe swart regering vrygestaan om ons finaal te verpletter.

    Erger nog, ons was die slagoffers van ons eie mismoedigheid en het versteen gestaan en toekyk hoe ons kultuursimbole vernietig word, ons universiteite en skole ingeneem word, ons taal geminag en ons dorpsname verander word. Die Afrikaner het werklik oor die afgrond geleun en in die dieptes van sy eie laaste sonsondergang getuur, of dit nou was weens die aggressie van ons vyande of ons eie ongeërgdheid.

    Nou, egter, agt jaar later, as jy my vra watter volk is die beste toegerus en in posisie om die toekoms in Suid-Afrika te oorleef, sal ek sonder huiwering die Afrikaner kies, en dit juis weens ‘n uitsonderlike verloop van wêreldwye omstandighede en die merkwaardige oorgang tussen epogge.

    Ons vyande het ons verslaan met die masjinerie van ‘n verdwynende wêreld: Ekonomiese mag onder hulle ystere beheer, internasionale isolasie en propaganda. Soms het ons eenvoudig nie die implemente vir weerstand gehad nie; ander kere het ons bloot versuim om vas te skop. Die feit wat Orwell se ou Grootboet in die tande moet kyk, is dat sy mag geheel en al ingemessel is in ‘n wêreld wat binnekort waarskynlik nie meer sal bestaan nie.

    O, kyk, ons teenstanders is ontsaglik groot en magtig, maar hoe groter en magtiger iets of iemand word, hoe moeiliker vind hy om iets wat nie groot of magtig is nie, raak te slaan. Salomo het duisende jare gelede hom reeds verwonder aan hierdie beginsel. ‘n Akkedis, beduie hy, is ‘n diertjie wat met die hand gevang kan word en tog is hulle in koningspaleise te vinde.

    As daar een hedendaagse nasie is wat allergies vir dié beginsel behoort te wees, is dit die V.S.A. Hulle is militêr gesproke die onbetwiste swaargewigkampioen. Hulle krygsmag is tegnologies en toerustinggewys waarskynlik nou nog magtiger as al die ander lande s’n saam. In 1991 het hulle die vierde grootste weermag in die wêreld veelgeroemd binne 100 ure vergruis. Hulle beskik nou nog oor ‘n arsenaal kernwapens wat die vermoë het om hopies uitgebrande koolstofkorrels van die hele mensdom te maak. En tog kon hulle nie keer dat ‘n anderhalfdosyn doelgerigte fanatici duisende burgers in New York en Washington met Amerika se eie vliegtuie afmaai nie.

    Hulle het ook, byvoorbeeld, nie ‘n antwoord gehad vir een ontgogelde jongman wat met ‘n trokkie vol diesel en kunsmis ‘n regeringsgebou in Oklahoma opgeblaas en meer as 160 mense om die lewe gebring het nie.

    Geen nasie probeer meer verbete om hulle akkedisse te vang nie, maar dit word vir hulle al hoe moeiliker. Om ‘n akkedis te vang moet jy sy gedrag, vermoëns en habitat ken, maar die probleem ontstaan wanneer die reptiel van gedaante en gewoontes verander. Niemand kon die verskyning, groei en mag van die internet voorspel nie. Dit het ‘n hele nuwe gebroedsel akkedisse vrygestel.

    Met al hulle mag kon twee regerings, dié van Amerika en Swede, en die hele magtige Hollywood met falankse prokureurs aan die voortou, nie ‘n roofstroomwebwerf, Pirate Bay, wat deur drie bleek jong Skandinawiërs bedryf word, vir een enkele dag van lyn af haal nie.

    ‘n Hele nuwe geldstelsel, geheel en al efemeer, Bitcoin, verhandel vir miljoene dollar. Dit word nie deur goud of nywerheidsuitset ondersteun nie; net deur ‘n algoritme. Al die ontwikkelde lande saam kan niks doen om dit te stuit nie.

    Grootboet sidder by die gedagte, maar die internet is besig om ‘n alternatiewe ekonomie te skep en dit is een waaruit die wêreldmagte nie hulle kilogramme vleis kan sny nie.

    Hierdie pasafgelope week het ‘n Amerikaanse student, Cody Wilson, suksesvol ‘n pistool met ‘n 3D-drukker uitgedruk en afgevuur. Grootboet sluk swaar. Dink net aan die implikasies: Binnekort sal enige pokkel met ‘n rekenaar, ‘n internetverbinding en ‘n 3D-drukker (tans kos ‘n bruikbare een sowat R10 000) ‘n ontwerp van die web kan aflaai en vir homself ‘n vuurwapen druk, ‘n wapen sonder reeksnommer en, omdat dit van plastiek is, amper onopspoorbaar. Grootboet kan homself net handhaaf as hy in volkome beheer is. Wanneer mense begin om hulle eie geld op die internet uit te gee en die vermoë ontwikkel om hulle eie wapens te druk van alle dinge, is Grootboet se mag besig om te kwyn.

    En watter volk in Suid-Afrika is die beste in posisie om hierdie hoogtegnologiese golf te ry?

    Die regstreekse gevolg is dat die regering toenemend irrelevant raak. Mense begin tegnologie te gebruik om hulleself te beveilig en om sonder belemmering oor landsgrense heen te werk en handel te dryf. Die Afrikaner met sy ingebore skranderheid, wilskrag en ondernemingsgees is uiters gemaklik in hierdie nuwe wêreld.

    Ons moet drie tegnologiese vraagstukke oplos om onafhanklik te wees waar ons ook al leef: Ons moet kos kan verbou, onsself beskerm en elektrisiteit opwek. Tans is ons nog afhanklik van die nasionale kragnetwerk, maar teen die koers wat Eskom pryse verhoog, sal alternatiewe, privaat opgewekte energie een van die dae goedkoper wees. Vir die ander vraagstukke sal daar oplossings wees en jy kan maar weet die Afrikaner sal dit uitwerk.

    Albert Einstein was van mening dat die Derde Wêreldoorlog nie, soos die Tweede, met kernwapens beslis sal word nie, maar met klippe en stokke. Daarmee het hy aangedui dat hy van mening is dat die hele wêreld na ‘n na-tegnologiese epog gaan beweeg. Hierdie is ‘n scenario wat al hoe meer mense voorsien. Tegnologie en die wêreldekonomie is baie styf inmekaargeryg. Ná 2008 se skrikmaker is dit skielik heel denkbaar dat die steierwerk rondom die wêreldekonomie baie skielik kan wegval.

    As dít gebeur, slaan die staatsmasjinerie vas. Lande se vermoë om elektrisiteit op te wek, sal ingrypend belemmer word en as dit gebeur, verdwyn massamedia onmiddellik en daarmee saam ons opponente se vermoë om die waarheid in propaganda op te los en om die openbare mening te manipuleer.

    Ons sal dan sowaar in ‘n nuwe duister tydperk wees, een sonder moderne tegnologie waarin net die taaiste, vindingrykste, geduldigste volke sal oorleef. In Suid-Afrikaanse terme, stel ek voor, is dit die Afrikaner.

    Aanpasbaarheid is ‘n voorvereiste vir oorlewing. Die Afrikaner het die afgelope twintig jaar opnuut sy verstommende vermoë om aan te pas gedemonstreer. Ons sal onsself in ‘n hoogtegnologiese wêreld handhaaf. Ons sal dit ook doen in ‘n wêreld van stokke en klippe. Ons is die akkedis, mnr. Grootboet. Jy dink maar net jy kan ons vang.