Maties en Afrikaans

Deel op

matiesdeur Leon Lemmer

Die historikus Pieter Kapp was tot 2011 jare lank die president van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US). Tydens die rektorskap van Chris Brink en Russel Botman het Kapp die stryd om die behoud van Afrikaans as onderrigtaal meegemaak. Ek skryf vandag na aanleiding van sy boek, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere Verhouding, 1911-2011 (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, 261p, R150). Kapp gee gesaghebbende perspektief op wat plaasgevind het; ook agter die skerms. Die boek is meer werd as korale.

Wat dadelik opval, is dat Naspers se uitgewerye en die US nie by die publikasie betrokke is nie. Dit dui myns insiens op hierdie instansies se negatiewe gesindheid jeens Afrikaans. Naspers sal boeke in Afrikaans publiseer (en glad te dikwels met Engels in die titel) mits dit polities korrek is, maar nie boeke oor Afrikaans nie. Onlangs is bv Ilse Salzwedel en Christo van Rensburg se boeke deur Lapa gepubliseer, terwyl Protea Boekhuis die boeke van Daniel Hugo en Pieter Kapp uitgegee het. Anders as die huidige US, sou die US van weleer sekerlik graag Kapp se boek om die oog op die universiteit se eeufees gepubliseer het.

Die besondere verhouding van die US met Afrikaans, wat in die boektitel genoem word, blyk reeds in die voorwoord:

“Die behoefte aan onderrig in en deur Afrikaans/Hollands was trouens die vernaamste enkele rede om ‘n universiteit op Stellenbosch tot stand te bring” (p 7).

Maties-en-Afrikaans-voorbladDie teks begin met die eerste Britse besetting van die Kaap in 1795 en die daaropvolgende verengelsing van veral die Kaapstadse openbare lewe, maar “Stellenbosch was deur en deur ‘n Hollandse dorp” (p 12). Die Victoria Kollege, waar grade verwerf kon word, is in 1874 gestig. Die onderrigtaal was Engels. “Hoewel soveel studente-aktiwiteite en veral publikasies in Engels geskied het, dit deur Afrikaanse studente geskryf is” (p 32). Deesdae is dit weer só aan die US. Kyk of dit moontlik is om Afrikaanse teks op die studentewebwerf Bonfiire Stellenbosch te vind.

Na die Slag van Amajuba (1881) “het die atmosfeer aan die Victoria Kollege begin verander van apatiese aanvaarding van Britse imperiale oppergesag en die Victoriaanse kultuur na ‘n soeke na ‘n eie plek, rol en identiteit” (p 15). NJ Hoogenhoudt het die Zuid-Afrikaansche Academie voor Taal en Letteren in 1910 oorreed om hom vir ‘n universiteit te beywer waar onderrig in Afrikaans/Hollands tot sy reg sal kom. DF Malan (1874-1959) was ‘n vroeë kampvegter vir Afrikaans. Hy het daarop klem gelê “dat die taal die eenheidsband tussen die individu en die volk is, taal is soos die skil van die vrug, die een wat alles insluit en saambind” (p 28).

Na analogie van Vlaamse universiteite was Willem Blommaert (1886-1934), ‘n dosent aan die Victoria Kollege, se standpunt: “Moet nie tevrede wees met ‘n tweetalige universiteit nie, eis ‘n eentalige een” (p 30). Stellenbosch was meer as 90% Afrikaanssprekend. Gordon Tomlinson (1887-1955) het in 1912 geskryf: “De Universiteit is daarenboven ‘n middelpunt van geestesleven, dat direkt of indirekt op het ganse volk ‘n grote invloed uitoefent” (p 30). “Die taal skep die band tussen [des]kundigheid, vaardigheid en die volk. Dit skep die brandpunte van toewyding en lojaliteit aan die vaderland” (p 31). In 1914 skryf Tomlinson dat “Afrikaans die uitdrukkingsmiddel is van die gedagte van ‘n herleefde volk” (p 37).

In 1912 is aan die Victoria Kollege ‘n manifes opgestel waarvolgens Stellenbosch “de plaats [is] waar het Afrikanervolk zijn idealen het best kon verwezenliken … Zij staat voor een idee! Zij is daarom voor het volk geworden niet een blote opvoedingsinrichting … maar een simbool van de waarborg van eigen krachtig, groeiend, uitdrukking zoekend national leven” (p 39). Die raad van Victoria Kollege het in 1915 die stigting van “een echte Hollandsch-Afrikaansche universiteit” versoek (p 40). In 1916 het sy senaat besluit dat lesings in Hollands aangebied moet word. Vir hierdie doel het Jannie Marais ingewillig om ₤100 000 te skenk “op voorwaarde dat Hollands/Afrikaans geen minderwaardige plek aan die universiteit sal beklee nie” (Victoria College Calendar, 1916, p 31; Kapp p 41). Dit impliseer nie dat die US van sy oorsprong af ‘n dubbelmediumuniversiteit was nie. Hierdie bewoording is omsigtigheidshalwe gebruik om te voorkom dat die Engelsgesinde regering die stigting van die universiteit afkeur. Die transformasie van Victoria Kollege na US was van die begin af van ‘n Engels- na ‘n Afrikaansmediuminrigting.

Die US het amptelik in 1918 tot stand gekom. By die aanvang het NJ Brümmer (1866-1947), die eerste professor in filosofie, gesê: “De universiteit is niet slechts een school voor hogere ontwikkeling, maar een brandpunt van de volksbeschawing en ‘t objektiewe monument van de volks-kultuur. Als de omgeving van de universiteit een gees ademt die niet de nationale is en de professoren niet uit ‘t volk zijn, dan is zulk een universiteit een dreigend gevaar voor ‘t volk dat ze voorgeeft te willen dienen” (p 41, 47). (Is die huidige US bloot ‘n dreigende gevaar of reeds eerder ‘n werklike gevaar?) Die US is destyds ‘n volksuniversiteit genoem. Engels as onderrigtaal is uitgefaseer en Afrikaans ingefaseer namate die Engelstalige dosente uit die era van Victoria Kollege afgetree het. Reeds in 1919 is die helfte van die vakke deur die medium van Afrikaans onderrig. (Pas is aangekondig dat die US teen 2018 43,7% van sy voorgraadse klasse uitsluitlik in Engels gaan aanbied.) Destyds was die verafrikaansing onstuitbaar. “Daar was geen transformasieprosedure of -proses nie” (p 46).

In 1919 is ‘n leerstoel in Afrikaans aan die US ingestel, met J(ohannes) J Smith as die eerste hoogleraar. In 1920 het hy gesê dat “‘n selfbewuste, selfstandige Afrikaanse volk sonder Stellenbosch nie moontlik is nie” (p 49). “Die Studenteraad het hom reeds in 1921 tot [tweetaligheid] verbind met die duidelike verstandhouding dat Afrikaans eventueel die enigste onderrigtaal sou wees, maar dat nie-Afrikaanssprekendes welkom is en Engels kan gebruik om hulleself uit te druk” (p 50). Hoe vooruitsiende hierdie standpunt was, blyk uit die feit dat Die Burger van sy eerste uitgawe in 1915 tot 1922 nog oorwegend in Nederlands gepubliseer is.

Die 1921-standpunt van die studenteraad was US-beleid en -praktyk vir die res van die vorige eeu. Sedert die 1960’s het die getal Engelstalige studente aan Afrikaanse universiteite gegroei, onder meer omdat konserwatiewe studente onwelkom op die Engelse kampusse gevoel het. Aan die US kon hulle hulle skriftelike werk in Engels inlewer. Die voorlesings was in Afrikaans en die Engelstaliges het vir lief hiermee geneem. Die meeste handboeke was in Engels. Hierdie opset het tweetaligheid by al die studente bevorder.

Al is die US gestig om eentalig Hollands/Afrikaans (en nie Engels nie) te wees, was daar “nie sprake van isolasie of afsondering van wat op die internasionale wetenskaps- en universitêre toneel gebeur nie” (p 48). Baie van die dosente het hulle gevorderde grade in die buiteland verwerf. “In 1926 is ook ‘n gereelde uitruiling van dosente met buitelandse universiteite ingestel” (p 48-49). Kapp noem “dat die US trots is op sy Afrikaanse eersgeboortereg” (p 57; ook p 72, 224). Kontrastreer dit met Russel Botman se hedendaagse gehamer op “vrygebore” studente; diegene wat sedert die land se oorgang (eerder ondergang) na demokrasie gebore is. Moontlik ervaar nie-wittes gedwonge rasse-integrasie as vryheid. Swartes kan immers vryelik kies of hulle van ‘n tradisioneel swart, bruin, Asiatiese of wit skool, universiteit, woongebied of gerief gebruik wil maak. Vir die wittes word geen eksklusief eie etniese of Afrikaanse geriewe gegun nie. Gedwonge rasse-integrasie word deur baie (moontlik die meeste) wittes ongetwyfeld as nie-vryheid ervaar.

Veral sedert die Nasionale Party in 1948 aan die bewind gekom het, is Afrikaans met Afrikaner-nasionalisme geassosieer. Afrikaans is soms/dikwels as die vernaamste kenmerk van Afrikaners beskou. In 1968 het Willem de Klerk (FW se broer) ‘n onderskeid tussen verligte en verkrampte Afrikaners getref. Aanpassings aan die regeringsbeleid is voorgestel. Van die hervormings wat bepleit is, is dat universitêre leergange meer “relevant” moet wees (p 57). “Dit val op dat Afrikaans hoegenaamd nie as ‘n struikelblok vir sodanige aanpassings beskou is nie” (p 60). In 1977 het die US en die regering ooreengekom dat nie-wit studente daar kon registreer vir studierigtings wat nie aan die universiteite vir nie-wittes aangebied is nie. In 1980 het die studenteraad hom teen sowel rassediskriminasie as geweld uitgespreek. In 1989 is die US-koshuis Goldfields vir nie-wit studente geskep, met Willie Esterhuyse as huisvader.

“Die bevraagtekening van Afrikaans as ‘n struikelblok [sou] eers in die jare negentig deur dosente onder die studente ingedra word” (p 60), dus na FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990, wat die era van swart mag ingelui het. Dadelik is ingesien dat dubbelmediumonderrig “die skrif aan die muur vir Afrikaans” sou wees (p 64). Jan Sadie, ‘n US-dosent in ekonomie, “het gewaarsku dat die aandrang dat universiteite uitnemendheid moet prysgee die wese van ‘n universiteit aantas … dat onderwys gedoem is sonder meriete … Hy het Stellenbosch gewaarsku dat universiteitsonderwys ‘n meritokrasie en geen demokrasie is nie” (p 62). “Onderwys is die groot treffer van die onderskeid tussen die talentvolle en die armoediges van gees … Dít maak inrigtings elitisties” (p 64).

Aanvanklik was veral US-dosente by die taalstryd betrokke. Hennie Kotze wou hê dat die demografie in die studentegetalle en US-raad weerspieël moet word. Bernard Lategan en Johan Hattingh het beweer dat die Afrikanerkultuur en Afrikaans nie beskerm hoef te word nie. Amanda Gouws wou nie hê dat Afrikaans amptelik die enigste onderrigtaal moet wees nie. Willie Esterhuyse het gemeen Suid-Afrika kan nie vyf Afrikaanse universiteite bekostig nie. (Noudat die laaste wesenlik Afrikaanse kampus, Potchefstroom, op die punt staan om na Engels getransformeer te word, gaan Esterhuyse beswaar teen te min Afrikaanse universiteite opper?) Esterhuyse het “Afrikaanse onderrig aan Stellenbosch bestempel as ‘n struikelblok om swart studente te trek” (p 63).

Philip Nel se standpunt was: “‘n Universiteit wat die naam universiteit werd wil wees, kan nie net een kultuur dien nie. Stellenbosch kan nie ‘n tuiste vir Afrikaanssprekendes wees nie, want dan sal hy ‘n swak intellektuele tuiste wees” (p 65). Fanie Cloete het as die luidste propagandis vir verengelsing ontpop. Later het Ruda Landman as raadslid ‘n soortgelyke standpunt gehuldig. Haar man, JP Landman, het in 2009 “met heelwat arrogansie die strewe om Afrikaans se plek op Stellenbosch te verskans as die lelike gesig van Afrikaans beskryf” (p 179-180).

Let op dat al die genoemdes in die vorige twee paragrawe Afrikaanssprekendes is wat hulle vir die benadeling van Afrikaners en Afrikaans beywer het. In 2002 is bevind “dat dit Afrikaanse mense is wat Stellenbosch verengels” (p 82). In 2009 het Leopold Scholtz geskryf: “Afrikaners self is die grootste vyande van Afrikaans met hulle onbegrip vir die belangrikheid van taalregte” (p 179). Die skrywer Abraham Phillips het sy standpunt soos volg gestel: “Die aanslag teen Afrikaans tas [Afrikaanssprekendes se] basiese menseregte aan en is daarom ‘n middel van onderdrukking en marginalisering” (p 235).

Die anti-Afrikaanses het, soos verwag kon word, steun uit ANC-geledere gekry. Blade Nzimande het dit reeds in 1996 onomwonde gestel “dat hy gekant is teen die bestaan van Afrikaanse skole en universiteite … dat taal gebruik word om wit skole te waarborg” (p 65; ook p 167). In werklikheid kan Engels op presies dieselfde manier as Afrikaans sommige skoliere en studente uitsluit. Die probleem is dat die kommunis Nzimande die minister van hoër onderwys is en dat universiteite, anders as in beskaafde Westerse lande, in werklikheid nie outonoom is nie. Amptelik is verklaar dat die befondsing van ‘n universiteit afhang van “the proportion which an institution has of students of disadvantaged background” (p 222).

‘n ANC-parlementslid, Jan Momberg, het hom beywer om die taalklousule in die 1992-wet, wat bepaal dat die US ‘n Afrikaanse universiteit is, geskrap te kry. Die Nasionale Kommissie vir Hoër Onderwys het aanbeveel dat Engels die enigste werktaal moet wees. Die skryfster Sonja Loots het in 2000 “betoog dat dit nie die ANC is wat Afrikaans bedreig nie, maar die taalstryders en feeste soos die KKNK en die idee van ‘n afsonderlike Afrikaanse TV-kanaal” [!] (p 74). Die joernalis Hannelie Booyens is geïrriteer deur “die fascistiese en chauvinistiese Dan Roodt-trawante” (p 75). Ronnie Belcher, sowel skrywer as Afrikaans-dosent, het ontken dat die US die reg het om Afrikaans te wees. Koos Kombuis het die “gejil van die taalstryders” veroordeel (p 145).

Die rektor, Mike de Vries, het in 1990 gesê “dat almal wat Afrikaans kan verstaan, welkom is op Stellenbosch, maar toelatingsvereistes gaan nie verlaag word om die demografiese profiel van die land te weerspieël nie” (p 62). Pierre du Toit het gedink dat die ANC se “transformasie die intrinsieke waarde van taalgemeenskappe misken. Om ‘n taal te beskerm moet dit op skole en universiteite verskans word … ‘n Taalgemeenskap moet ‘n eie universiteit kan opeis” (p 64). Andreas van Wyk het as rektor in 1996 gesê “dat Afrikaanse instellings van nature veeltalig is en dat die Wes-Kaap, met ‘n Afrikaanse meerderheid, twee Engelstalige universiteite [UK, UWK en daar is nou ook die Cape Peninsula University of Technology] en een Afrikaanse een [US] het” (p 65).

Die US-raad het ‘n visie vir die 21ste eeu aanvaar waarvolgens die universiteit sy Afrikaanse karakter sou behou. Die US het hom verbind “om taalvriendelik te wees, met Afrikaans as vertrekpunt” (p 78). “Die keuse van die woord vertrekpunt eerder as basis sou later die onderwerp van heftige debat word” (p 79). Dosente wat nie Afrikaans magtig is nie, is verplig om binne twee jaar ‘n werkbare kennis van Afrikaans te bekom. Die idee was dat die US “die bakermat van Afrikaans, die simbool van Afrikaans en ‘n intellektuele kragbron van onskatbare waarde” moet wees (p 75).

Johan Degenaar het in 1999 (en in 2000) gewaarsku: “Voortdurende waaksaamheid is noodsaaklik, want die gevaar van kulturele imperialisme en die program van nasiebou hou ‘n bedreiging vir die taal en kultuur in” (p 71). Daarteenoor was die ANC en sy meelopers se standpunt: “Minderheidskulture moet … in ‘n konformistiese massakultuur geabsorbeer word en identiteit moet nie selfbepalend gekonstrueer kan word nie, maar polities deur mag en sosiale manipulering bepaal word” (p 70-71). Presies dít word deesdae jaarliks deur Russel Botman op die US-kampus onder die vaandel van diversiteit gevier (Praag 29.09.2013).

Die verengelsing van die US, met die gepaardgaande afskaling van Afrikaans, het tydens die bewind van Chris Brink (2002-2007) in alle erns begin. Hy kom van Upington af en is van huis uit so Afrikaans soos boerseep. As hy ‘n aantal jare aan ‘n Vlaamse universiteit deurgebring het, sou hy insig in die stryd van ‘n minderheidstaal gehad het. Hy was egter aan ‘n Australiese universiteit verbonde en het toe heeltemal oorboord met sy entoesiasme vir Engels as wêreld- en akademiese taal gegaan. Tydens Brink se onderhoud om die rektorspos was sy standpunt dat Afrikaans “bestuur” kon word. (‘n Mens kan natuurlik iets bestuur sonder om dit lief te hê.) Om sy aanstelling te verseker, het Brink mooi broodjies gebak. Hy het beweer dat hy “‘n sterk ondersteuner van US as Afrikaanse universiteit is en dat hy die onderrig en navorsing deur medium van Afrikaans wil versterk en uitbou … Hy [het] herhaaldelik die versekering gegee dat Afrikaans veilig in sy hande is … Stellenbosch kan in en deur Afrikaans transformeer” (p 76-77). Brink: “Ek sien US as sentraal binne ‘n ‘Afrikaanse Renaissance'” (p 76).

Die US-raad het Brink nie as ‘n Judas-figuur getakseer nie en hom aangestel op grond van die sterk pro-Afrikaanse standpunt wat hy aan hulle gestel het. Die praktyk het geblyk anders te wees. “Vir die nuwe US-bestuur was die kwessie van Afrikaans nie in sigself ‘n selfstandige prioriteit nie” (p 78). ‘n Taaloudit is in 2002 aan die US gedoen om vas te stel in watter mate die studente Afrikaans was. Daar is bevind “dat 73% Afrikaans as huistaal en 26% Afrikaans as tweede taal op skool gehad het en dat 86% van die studente se voorkeurtaal Afrikaans is” (p 79). Amptelik is egter beweer dat net 55% van die studente Afrikaans as huistaal het en 45% Engels.

Brink het voorgegee “dat daar jaarliks ‘n sterk swaai na Engels is” (p 79). Hy het ‘n groter akkommodasie van Engels bepleit. “Hy het selfs so ver gegaan om die stelling te maak dat hy op kampus onder die studente ewe veel Afrikaans en Engels hoor. Dit beteken dat die aanspraak dat US ‘n Afrikaanse universiteit is, ongegrond is” (p 79). In 2005 het Brink ‘n pro-Afrikaanse petisie teen dubbelmediumklasse met 3 600 handtekeninge van studente stilweg in sy kantoor ontvang; skynbaar omdat hy wou verseker dat die minimum publisiteit daaraan verleen word.

Leon de Stadler se vertolking van die taaloudit was “dat Afrikaans die uitgangspunt van die US is, maar dat dit nie diversiteit en meertaligheid mag uitsluit nie” (p 79). Daarna het De Stadler, ‘n Afrikaanse taalkundige, dikwels as spreekbuis ter regverdiging van Chris Brink en Russel Botman se afskaling van Afrikaans opgetree, bv dat die US se “swak diversiteitsprofiel ‘n bepalende faktor” in die taalkwessie is (‘n suiwer politieke of ANC-argument) en dat die US “‘n goed bestuurde model [volg] wat sal verseker dat probleme billik hanteer word” (p 220). In 2009 het De Stadler selfs “openhartige en eerlike debat as ‘n gevaar vir Afrikaans beskryf” (p 180). Hy en sy komitee het hulle net ‘n enkele keer verwerdig om met die konvokasiebestuur in gesprek te tree en wel eers in 2007. Ten spyte van die kolossale afskaling van Afrikaans wat daar tydens die rektorskap van Brink en Botman plaasgevind het en die dikwels chaotiese taalonsekerheid, bly De Stadler se deuntjie dieselfde: dat ‘n “goed bestuurde model” aan die US gevolg word (p 220).

Die volgende skuif van die Taaltaakgroep was dat die US ‘n meertalige universiteit moet wees wat Afrikaans bevorder. Daarteenoor het die konvokasie verklaar dat die US ‘n Afrikaanse universiteit moet wees wat meertaligheid bevorder. Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns wou hê dat Afrikaans die ankertaal moet wees. Primêre, vertrek-, verstek-, ankertaal, ens, is terme wat onnodiglik hulle intrede gemaak het omdat afgewyk is van die gesonde historiese vanselfsprekendheid dat Afrikaans die enigste US-onderrigtaal is.

Voordurend is gepoog om die US los van Afrikanerkultuur te maak:

“Moedertaalonderrig geld nie vir universiteite nie. Akademiese voortreflikheid kan hoofsaaklik net deur Engels bereik word. Taal is ‘n saak van aanvraag en voorsiening. Markkragte is ‘n belangriker faktor as taalregte. Afrikaanse vaktaal is nie mededingend genoeg om internasionaal te wees nie. Die grootskaalse afskaling van Afrikaans aan die US sal nie verskil maak aan die Afrikaansheid van Stellenbosch nie”[!] (p 81-82).

‘n Kandidaat vir die studenteraad, Yvonne Malan, het diegene wat hulle vir die heil van Afrikaans beywer, afgemaak as “ou mans met grys skoene” (p 82). Die sangeres Karen Zoid het vere vir ‘n pro-Afrikaanse taalstrewe gevoel. Die skryfster en Afrikaans-dosent Marlene van Niekerk het Brink se verengelsingsbeleid gesteun en Afrikaans “‘n geformaliseerde kreool van Nederlands” genoem (p 85). Afrikaans het deurlopend veld verloor. Afrikaans het die primêre voorgraadse onderrigtaal geword, met Engels as die primêre (en spoedig feitlik enigste) nagraadse onderrigtaal. Om gemoedere te sus, het Brink beweer dat “die US nie op ‘n glybaan na verengelsing is nie” (p 88).

Vervolgens het die doelbewuste verswarting van die studentekorps en personeel aan die beurt gekom. Albei moes “meer verteenwoordigend” word. Een van die uitkomste van “diensbillikheid” was dat ‘n moratorium op die aanstelling van wit mans geplaas sou word. Francois Viljoen het die beleid as selfinkriminerend beskryf omdat dit “die belangrikste bron van uitnemendheid – wit mans – wil uitsluit” (p 93). Die Vroueforum het gehou van die voorneme om vroue in topposte aan te stel. Skielik was daar “aangewese groepe” wat bevoordeel moes word, met die implikasie dat ander groepe (blankes, veral mans) maar benadeel mag word.

Christo van der Rheede het gereken dat “Stellenbosch se deure wyer oopgemaak moet word vir die ontmagtigdes” (p 120). Geen akademiese argument is ten gunste van hierdie rassistiese en seksistiese sentimente aangevoer nie. (Dit is myns insiens bloot ‘n geval van ANC-gedienstigheid.) Willie Esterhuyse en Fanie Cloete het die teenstanders van “regstelling” as rassiste beskou. In 2010 het Van der Rheede so ver gegaan om universitêre Afrikaans met die raskwas by te kom deur te beweer dat “die hoër funksies van Afrikaans … ‘n behoudende en etnies gedrewe denkraamwerk dra” (p 185).

Die Afrikaanse skrywer André P Brink het sinvol in die bres getree deur te verklaar “dat die Suid-Afrikaanse samelewing nie normaal kan funksioneer as mense nie op meriete beoordeel word nie. Regstellende aksie … bevestig dat Suid-Afrika nog nie ‘n normale samelewing het nie” (p 91). Etienne van Heerden was ook teen die “eroderingsproses van Afrikaans” (p 119). In 2009 was sy oproep: “Wees skaamteloos wat jy is” (p 197). Abraham H de Vries het deurgaans met pro-Afrikaanse uitsprake vorendag gekom, bv “om in Afrikaans onderrig te wil word, [is] so normaal soos om in Engels onderrig te wil word” (p 140).

Breyten Breytenbach het hom in 2007 skerp teen Chris Brink se taalbeleid uitgelaat en ‘n Keniaanse skrywer aangehaal waarvolgens “taal meer as blote kommunikasiemiddel is; dit is die wese van ons bestaan, die ware kern van ons siel” (p 154). In 2010 het Breytenbach genoem “dat dit ‘n gebrek aan wil was dat Afrikaans se posisie verswak” (p 223). Chris Brink het daarteenoor beweer dat “die standaarde verhoog [het] sedert transformasie ingevoer is” (p 110).

Teen 2004 was Afrikaans voorgraads die verstektaal. Alle dosente moes binne twee jaar na aanstelling in staat wees om studentewerk in albei tale te beoordeel. Chris Brink het dit reeds in 2005 verwater met sy standpunt dat uitnemendheid die hoogste maatstaf by die aanstelling van dosente is (wat duidelik strydig met die voorkeur vir sekere groepe soos nie-wittes en vroue is) en “hy daarom nie daarop kan aandring dat departemente die taalfaktor by aanstellings in oorweging moet neem nie” (p 113).

Volgens die beleid kon dubbelmediumklasse (50% Afrikaans, 50% Engels) net op eerstejaarsvlak en na spesiale goedkeuring aangebied word. Die Fakulteit Lettere (met Anton van Niekerk in sy geledere, bv as dekaan) het egter hierdie vergunning, wat veronderstel was om uitsonderlik te wees, sonder raadsgoedkeuring na al die voorgraadse jaargange uitgebrei. Die Fakulteite Teologie en Gesondheidswetenskappe het dieselfde gedoen. Teen 2006 is geen voorgraadse klasse uitsluitlik in Afrikaans meer in die Fakulteit Lettere aangebied nie. Brink het dit oogluikend toegelaat.

Thabo Mbeki het die US gewaarsku om “in die hoofstroom te kom” (p 100); ‘n stroom wat sekerlik swart is. Naledi Pandor het gedink “buitengewone status vir Afrikaans of enige ander taal sal moeilik in ‘n demokratiese land geregverdig kan word” (p 100). Gerieflikheidshalwe het sy van Engels se buitengewone status vergeet. Jakes Gerwel, wat die UWK tot ‘n uitsluitlik Engelse inrigting getransformeer het, het verklaar dat “taal as identiteitsvorming sy waarde verloor het en dat in ‘n nuwe Suid-Afrika Afrikaans nie belangrik sal wees nie” (p 101). Geen wonder dat die ANC-regering Gerwel aangestel het om verslag oor Afrikaans as universiteitstaal te doen nie. Richard van der Ross, daarenteen, het ‘n mosie gesteun waarvolgens transformasie deur die medium van Afrikaans kan geskied.

‘n Dosent in beeldende kunste, Sandra Kloppers, het in die Brink-era verslag oor diversiteit gedoen: “Afrikaans is die groot struikelblok wat transformasie en diensbillikheid teenwerk … Die klem op Afrikaans bevorder by studente ‘n vyandige gesindheid teenoor nie-Afrikaanssprekendes en ontmoedig diversiteit” (p 101). Brink het hierdie sentiment ge-eggo deur “die ‘taalstryders’ daarvan te beskuldig dat hulle Afrikaans ondermyn deur geen vriende vir die taal onder andertaliges te wen nie” (p 118). Reeds voor dit het Brink gereken “Maties moes leer om van iets anders as Afrikaans te lewe” (p 102). “Afrikaans kan net in ‘n bondgenootskap met ander inheemse tale onderhou en uitgebrei word” (p 111). Dieselfde drogredenasie word deesdae in die Afrikaanse Taalraad, en by name by Wannie Carstens, aangetref.

In 2005 het die voorsitter van die US-raad, Edwin Hertzog, dit gestel dat die raad Afrikaans goedgesind is, “maar die taal is nie die voorwaarde vir die voortbestaan van die US nie” (p 114). In 2006 het Hertzog gesê as die US 80% Engels en 20% Afrikaans is, “is hy gelukkig” (p 152). Met ‘n rektor soos Brink en ‘n raadsvoorsitter soos Hertzog was Afrikaans se vooruitsigte uiters droewig. Toe die konvokasie met reg besorg oor die voortgesette afskaling van Afrikaans en moeg vir al die misleiding was, is ‘n onafhanklike taaloudit en die aanstelling van ‘n onafhanklike taalombudsman versoek. Dit is sonder meer geweier.

Daarna het Brink sonder raadsgoedkeuring en teen ‘n koste van R95 000 vir die US ‘n “onafhanklike” meningsopname laat doen. Brink het op grond daarvan beweer dat 80% van die oudstudente die US se taalbeleid steun. Jaar na jaar was die konvokasie-verteenwoordigers in die US-raad egter juis diegene wat Brink se afskaling van Afrikaans teengestaan het. Dit is waarom hulle as buitestanders geëtiketteer is. Later is daar selfs gepoog om die getal konvokasie-verteenwoordigers in die US-raad te verminder. Brink het selfs advertensies geplaas om die stemming vir konvokasie-lede te probeer beïnvloed. Daarby is baie donateurs onwettig ontkies om die stemme wat vir daardie raadslede uitgebring word pro-Brink te beïnvloed.

Kort voor die raadsverkiesing in 2006 is Brink se boek, No Lesser Place: The Taaldebat at Stellenbosch, deur die ANC se Matthews Phosa bekend gestel. Die boektitel verwys na Jannie Marais se skenking. “Brink suggereer dus dat die taalbeleid minstens ‘n gelyke plek vir Afrikaans met Engels sal verseker” (135). Die boek was aanvanklik net in Engels beskikbaar. Brink skryf dus by voorkeur in Engels oor Afrikaans omdat hy wou hê die politieke maghebbers moet van sy standpunt kennis neem. Hy poog om ‘n sterk politiek-ideologiese onderskeid te maak tussen die pleitbesorgers vir Afrikaans aan die een kant en die US-taalbeleid aan die ander kant. “Die boek handel in werklikheid minder oor die taaldebat op Stellenbosch en meer oor ‘n uiteensetting en bespreking van wat die skrywer die Neo-Afrikaners noem en hulle ‘ware oogmerke’ om ‘n volkstaat van die gees op Stellenbosch as ‘n kulturele Orania te skep” (p 136).

Brink blyk dus sowel anti-Afrikaans as anti-Afrikaner te wees. Later het hy selfs verwys na “‘n opdwing van Afrikaans soortgelyk aan wat met die Soweto-opstande gebeur het” (p 143). Hy het dit “as diskriminasie beskou … dat daar van nie-Afrikaanssprekendes verwag kan word om Afrikaans magtig te word” (p 144). Brink noem nie of hy die omgekeerde ook as diskriminasie sou bestempel nie. By sy vertrek in 2007 na Newcastle is Brink se standpunt soos volg geformuleer: “Stellenbossers dink aan hulleself as die hekwagters van ‘n paradys vir die Afrikaner-elite, onder die beskerming van ‘n outoritêre wit Afrikaner-patriargie” (p 145).

Nico Koopman het net lof vir Brink se standpunt gehad. In 2009 het hy, soos Blade Nzimande, Afrikaans as ‘n uitsluitmeganisme geëtiketteer en die taalstryders van “taalimperialisme” beskuldig (p 183). Dat Koopman pro-Kaaps en anti-Standaardafrikaans is, blyk uit sy stelling “dat taal as gebruikstaal geleef moet word en dat die versekering van die hoër funksies minder belangrik is” (p 183). Ruda Landman het die term “taal-Orania” gebruik om voorstanders van Afrikaans verdag te maak (p 136). ‘n Ander raadslid, Francois Groepe, het dit teen die US as ‘n “neo-Orania-enklawe” gehad (p 138). Later het hy “die pro-Afrikaanse groep van versluierde rassisme en diskriminasie teen niewittes beskuldig” (p 171). Die taalstryders maak glo vyande van Afrikaans, terwyl die voorstanders van dubbelmediumonderrig die progressiewes is wat ‘n Suid-Afrika skep waarin die Afrikaner nie op ‘n eie universiteit geregtig is nie. Volgens Ruda Landman moet dosente nie gedwing word om Afrikaans te leer nie. As studente uitsluitlik in Afrikaans onderrig word, sou dit glo uitnemendheid verhinder.

Anton van Niekerk het as voorsitter van die Taalkomitee sekerlik ‘n beduidende rol in die afskaling van Afrikaans gespeel. Hy het bv “die klem op identiteit verwerp as ‘n Afrikanerbeheptheid” (p 159). Kapp noem dat die Taalkomitee deur Brink saamgestel is en uit “eensgesindes” bestaan het (p 127) en ook dat Van Niekerk ‘n “rol in die afskaling van Afrikaans” gespeel het (p 159). Die bestendiging van Van Niekerk se oorverligte politieke beeld is myns insiens vir hom belangriker as die bevordering van Afrikaans. Hy het beweer dat die taalbeleid tot die voordeel van Afrikaans is. Selfs “dat die T-opsie [dubbelmedium] eintlik in pas is met die US se tradisie” (p 121), wat ‘n valse stelling is.

In 2010 het Van Niekerk beweer “dat taal [by implikasie die betekenis/begrip van wat meegedeel word] in die opleiding van wetenskaplikes en die oordrag van kennis van minder belang is – dit is die kwaliteit en uitnemendheid van die kennis wat die swaarste moet weeg” (p 208). Breyten Breytenbach het soos volg gereageer: “Julle filosoof sê mos taal is net ‘n middel om kennis oor te dra. Die man weet waaragtig niks van taal nie” (p 204). Van Niekerk bevind hom ook op dun ys as hy dink uitnemende kennis word aan die US versprei terwyl die beleid is om aanstellings en bevorderings eerder op grond van rassistiese en seksistiese as suiwer akademiese oorwegings te doen. Sover bekend het hy hom nog nooit teen hierdie anti-akademiese wanpraktyk uitgespreek nie.

Sowel Amanda Gouws as Marlene van Niekerk het die dubbelmediumopsie gesteun. Selfs in 2012 het Gouws steeds standpunt teen die heil van Afrikaans ingeneem. In 2005 het 134 Afrikaanse skrywers egter teen ‘n dubbelmediumuniversiteit gewaarsku omdat dit skadelik vir Afrikaans is, want lesings word dan uitsluitlik of oorwegend in Engels aangebied. Akademies is dit ook ‘n verwerplike praktyk omdat effektiewe klastyd verminder word. Dit druis ook in teen moedertaalonderrig.

In Brink se ampstyd het die dubbelmediumopsie egter die gebruiklike of verstekopsie geword met as klaarblyklike uiteindelike oogmerk uitsluitlik Engelse klasse. Hierdie opsie word raak gekarakteriseer as ‘n oorgangsopsie. Leopold Scholtz het die dubbelmediumopsie “‘n halfwegstasie na Engels” genoem (p 160). “As die T-opsie [dubbelmedium] tweetaligheid vereis, waarom kan lesings dan nie … net in Afrikaans aangebied word nie?” (p 164).

Soos in die skole in die nuwe Suid-Afrika word die klem aan universiteite op die agtergeblewenes geplaas, terwyl dit in landsbelang juis die begaafdes is wat voorkeur behoort te kry. “Begaafde studente vind dubbelmediumonderwys vevelig en onbevredigend” (p 223).

In die verdere verloop van die taalstryd het Hermann Giliomee en Lina Spies as raadslede ‘n sterk pro-Afrikaanse standpunt ingeneem. In 2009 het hulle beswaar teen “die etikettering van die taaldebat as ‘n apartheidstrewe en ‘n etniese mobilisasie” (p 179) gemaak. Giliomee wou bv hê dat US-raadsvergaderings oor die taalkwessie in die openbaar moet geskied sodat vertroue herstel kon word. Dit dui ook daarop dat Brink se beleid nie die openbare steun geniet het waarop hy en sy meelopers aanspraak gemaak het nie.

Omstreeks 2006 is ‘n reël neergelê “dat Engels gepraat moet word as daar mense in ‘n vergadering van ‘n statutêre liggaam is wat nie Afrikaans verstaan nie” (p 139). Dit weerspieël eintlik wat dikwels/meesal in dubbelmediumklasse gebeur. Dit is ook soortgelyk aan Jonathan Jansen se reëling aan die Universiteit Vrystaat, naamlik dat wanneer daar ‘n byeenkoms van Afrikaans- en Engelssprekendes is, net Engels gepraat mag word.

Russel Botman het in 2007 diens as rektor aanvaar. Hy het dadelik ‘n politieke deuntjie gesing: “dat die eentalige Afrikaanse onderrig die US verhinder om sy rassesamestelling te verander en meer verteenwoordigend te wees” (p 153). Hy het voorbrand vir die bevoordeling van lede van sy etniese groep gemaak; selfs onder die voorwendsel dat bruines die Afrikaanse studentekorps sou vergroot. Dit is egter algemeen bekend dat ontwikkelde bruines meesal min lojaliteit teenoor Afrikaans openbaar en soos Jonathan Jansen maklik hulle moedertaal vir Engels as hulle eerste taal verruil. Teen 2010 het Botman sy deuntjie verander en erken dat bruines onderrig in Engels verlang. Omdat die Botman-US die belange van bruin studente vooropstel en die meeste van hulle Engels verkies, het dít die bepalende faktor van die taalbeleid geword. Die belange van Afrikaanse studente en hulle ouers dra minder gewig (p 220).

Die etnies-gemotiveerde bevoordeling van bruines blyk deesdae die duidelikste in die US se Fakulteit Gesondheidswetenskappe. Dit is algemeen bekend dat bruines akademies swakker as die ander etrniese groepe (blankes, Asiate, swartes) presteer. Nogtans word ‘n oorwig van bruin studente tot mediese studie toegelaat. In hierdie fakulteit het die getal nie-wit studente baie vinniger as in al die ander fakulteite toegeneem. Die rede hiervoor is ‘n anti-akademiese rasgebaseerde maatreël: “In Gesondheidswetenskappe bestaan daar twee stelle vereistes vir toelating: uitnemende skoolprestasie in die geval van wittes en veel laer vereistes vir niewittes” (p 219). In die naam van transformasie word daar op groot skaal onvergeefbare onreg teen blankes gepleeg.

Die bruin Clinton du Plessis “wil hê [Afrikaans] móét doodgaan” (p 188): “Kom ons loop weg van Afrikaans” (p 189). Die bruin Jason Lloyd het in 2011 “gepleit dat die US tog moet verengels” (p 190). Dit is ook bekend dat Botman se vier kinders Engelsgesind is (p 232). Leopold Scholtz het gesê “dat vir bruin mense Afrikaans ‘n instrument is, maar vir Afrikaners ‘n deel van hulle identiteit is” (p 186). Moontlik is dit waarom Adriaan Basson reeds as US-student die afskaling van Afrikaans sterk voorgestaan het (p 226). Tydens die besoek van die Portefeuljekomitee vir Hoër Onderwys in 2009 het Botman tot sy ontnugtering agtergekom dat die lede “in die getal swart studente en personeel belangstel en dat hulle bruin studente nie as swart aanvaar nie” (p 181). Botman se eie herklassifikasie as generies swart het dus deur die mat geval; die ANC-owerheid erken nie neo-swartes as rasegte swartes nie.

Kapp toon aan dat Die Burger dikwels ‘n onbetroubare bondgenoot in die taalstryd was. Toe die US ‘n deurwinterde blanke wetenskaplike en akademikus vir die rektorspos teen die bevrydingsteoloog Botman, wat beperkte akademiese ondervinding gehad het, moes opweeg, het die koerant in die naam van transformasie, dus ANC-politiek, entoesiasties voorbrand vir Botman gemaak. Akademiese oorwegings is oorboord gegooi. In die Brink-era is kritiek op Brink geredelik in die koerant toegelaat. Tydens Botman se rektorskap is Afrikaans meer drasties afgeskaal, maar polities korrek is Botman toegelaat om grootliks kritiekloos daarmee weg te kom. ‘n Ander faktor wat ‘n rol speel, is dat Botman in die direksie van Media24 dien. By geleentheid het Botman vertel hoe hy dit geniet het as Jakes Gerwel in ‘n direksievergadering mede-kommunis Antonio Gramsci (1891-1937) aanhaal.

Botman roem op sy geskiedenis as UDF/ANC-aktivis. In sy CV staan daar onder “activities”: 1976: “Leading university students in the Human Rights Protest against the forces of Apartheid in solidarity with the Soweto Revolt.” Groot skade is tydens die gewelddadige betogings op die UWK-kampus aangerig. Weens sy politieke aktiwiteite is Botman ingeperk. Behoort sy gedrag Botman vir die rektorskap (dus as die hoof akademiese en opvoedkundige beampte) van ‘n buuruniversiteit te kwalifiseer of eerder grondig te diskwalifiseer? In 2011 het Botman die ware aard van sy destydse skandalige gedrag doelbewus verdoesel: “Hy is in 1976 byna doodgeskiet oor Afrikaans” (p 232). Dit beteken allermins dat Botman doodsveragtend vir Afrikaans in die bres getree het nie. Dit verwys na die feit dat hy die Soweto-onluste van 1976 as voorwendsel gebruik het om die UWK-kampus op horings te neem.

Baie van diegene wat destyds verwoesting gesaai het, beklee deesdae hoë poste en steek skynbaar gewetenloos miljoene rande as vergoeding in hulle eie sakke. Ek bly wonder wanneer hulle die etiese ding gaan doen deur die skade terug te betaal wat hulle aan bv staatseiendom aangerig het. In 1976 was Botman een van die voorbokke in die stryd om alle rassediskriminasie af te skaf. Deesdae is hy die voorbok in die veldtog van rassediskriminasie teen blankes op die US-kampus. Vir hom is daar skynbaar geen teenstrydigheid in sy manteldraaiery nie.

Diegene wat vir Botman as rektor gestem het, het sekerlik nie ‘n US in gedagte gehad wat die tuiste van Afrikanerkultuur en Afrikaans is nie. Hulle was dalk beïndruk deur die onderwerp van Botman se doktorale proefskrif (natuurlik in Engels): “Discipleship as transformation? Towards a theology of transformation” (UWK, 1994). Botman se uitgangspunt is klaarblyklik dat die US ooreenkomstig die ANC se wense en die voorbeeld van die UWK getransformeer moet word. Hy laat geen geleentheid verbygaan om die akademies voortreflike US van weleer te diskrediteer nie. As rektor beklee Botman “‘n simboliese posisie” (p 155). In die nuwe Suid-Afrika moet die US glo radikaal verskil van wat dit in die ou Suid-Afrika was. Volgens Botman mag die US nie “groepbesit” wees nie (p 223). Wat Botman betref, geld dít sekerlik wittes, Afrikaners en Afrikaanssprekendes. Botman sal myns insiens hoegenaamd geen beswaar hê as groepbesit by die US die vorm van verswelging deur swartes en Engelse eentaligheid aanneem nie. Wat tans aan die US gebeur, kan “taal- en kultuur-imperialisme” genoem word (p 235). Wat Afrikaans betref, is dit “taalverarming” en vir die Afrikaner is dit “dekulturasie” (p 236).

In sy intreerede as rektor het Botman met sy tema van “hoop” ‘n duidelike aanduiding gegee van waar sy hoop kom, bv van die kommunistiese opvoedkundige Paulo Freire (1921-1997). In 2010 het Botman ook ‘n Hoop-projek aan die US geloods as “a concerted move away from Stellenbosch being considered an exclusively Afrikaans university … Stellenbosch has a very special responsibility, given its history. We have played a significant part in the injustices of the past and we are committed to redress” (p 215). Daardie Botman-hoop impliseer ook ‘n wegbeweeg van die “language roots” van die US (p 216).

In die kritiek op die Hoop-projek is genoem dat die aanvaarding van sosiale verantwoordelikheid of gemeenskapsdiens as ‘n universiteitsfunksie “‘n demper [kan] plaas op [die US se] basiese onderrig- en navorsingsaktiwiteite” (p 217). Dit val ook op dat geen kultuurgerigte projekte ingesluit is nie. Allermins word ‘n poging aangewend om Afrikaans en Afrikanerbelange te bevorder; eerder swart en Afrika-belange. Die konvokasie se standpunt is: “Die US kan net ‘n sentrum van hoop vir Afrika wees as hy ‘n sentrum van hoop vir sy gemeenskap is en sy gemeenskap is primêr Afrikaans. Daarom moet die US se rol in Afrika nooit gestel word as ‘n alternatief vir sy rol ten opsigte van Afrikaans nie” (p 218).

Botman: “Die US moet eerlik wees en erken dat hy ‘rolspeler(s) was in die onreg van die verlede … So ver dit ons as ‘n instelling betref: ons kan nie genoeg om verskoning vra nie'” (p 157). Botman kan myns insiens glad nie buite die raamwerk van ANC-politiek dink nie. Vandaar sy voortdurende versugting dat die US ‘n Afrika-universiteit moet wees. ‘n Mens vra jou af: As die US pro-Afrika-kultuur mag wees, waarom mag dit nie eerder pro-Afrikanerkultuur gebly het nie? Bun Booyens en Pieter Gobbelaar het bv uitstekende onderrig in Afrikaanse Kultuurkunde aangebied en akademies voortreklike navorsing gedoen, maar hierdie departement en studierigting is in die naam van transformasie sonder meer afgeskaf.

Dit was van die begin af Botman se wens dat die US “volledig multikultureel” moet word en dat “die personeelkorps te wit en manlik” is (p 157). Soos die ANC het Botman dus uitgesproke ras- en geslagsvoorkeure. Jonathan Jansen het “klem daarop gelê dat Botman aan niewittes ‘n groter aandeel aan die Universiteit moet gee en nie aan taal nie” (p 157). Botman het onderneem “dat die US teen 2012 ten volle getransformeer sal wees” (p 157). Dit het nag vir die Afrikaner- en Afrikaanse US geword. Jannie Marais draai seker in sy graf om, maar hiervoor voel die Botman-US klaarblyklik vere.

Die ANC-regering weier om ekstra geld vir tweetalige onderrig te bewillig. Pleks van die ANC aan te spreek, het Willie Esterhuyse in 2007 waaragtig “die ryk Afrikaners veroordeel omdat hulle nie geld vir onderrig deur Afrikaans wou voorsien nie” (158). Sy redenasie is blykbaar dat Engels as owerheidsbefondste onderrigtaal aan die US hoort en dat Afrikaans as bykomende onderrigtaal deur skenkings van Afrikaners moontlik gemaak moet word.

Van die eerste skuiwe van die Botman-US was om besluite oor onderrigtaal te desentraliseer en dit na dosente af te wentel, wat in die praktyk die deur vir Engels wyer sou oopmaak. Daarna is voorgestel dat meer erns met parallelmediumonderrig (aparte klasse vir Afrikaans en Engels) en tolkdienste gemaak moet word. Parallelmedium sou op eerstejaarvlak en dubbelmedium in die ander voorgraadse jare gebruik word. In 2009 is bevind dat dubbelmediumonderrig, met al die gevare wat dit vir Afrikaans inhou, “in werklikheid die norm geword het” (p 173). Uitsluitlik Afrikaanse klasse, wat veronderstel was om die gebruiklike of verstekopsie te wees, het “feitlik verdwyn” (p 174). In 2009 het Botman die floue versekering gegee dat Afrikaans aan die US sou “aanbly” (p 175). Die pro-Afrikaanse Adam Tas-vereniging het beweer dat dit nie Afrikaans is wat in US-studente se kele afgedruk word (soos tydens die 1976 Soweto-opstand) nie, maar Engels. Hierdie vereniging is deur die Botman-US verbied om sy byeenkoms op die kampus te hou.

Druk is van die ANC-regering ondervind om meer studente toe te laat. Pleks van hom te beywer om (weer) ‘n klein universiteit van onbesproke akademiese gehalte te word, is die ANC-gedienstige Botman-US op groei ingestel. Vir groei kan die US na bewering nie op Afrikaanssprekende en blanke studente aangewese wees nie. Botman wil hê dat die US teen 2015 minstens 35% swart studente en personeel moet hê; ‘n suiwer etnies- of rasgebaseerde ideaal. Verder sal die eis vir tweetaligheid blykbaar net op Afrikaanssprekendes van toepassing wees; daar word dus teen Afrikaanssprekendes gediskrimineer.

Botman het die aanbeveling in die Gerwel-verslag dat daar twee Afrikaanse universiteite (een in die suide en een in die noorde) moet wees, afgemaak met die opmerking “dat daar nie genoeg Afrikaanse studente is om eers die US van genoeg Afrikaanse studente te voorsien nie” (p 176). Sy toekomsvisie vir die US het klaarblyklik twee hoofkomponente: swart en Engels. Anders as Botman meen twee demografiekenners, Lawrie Schlemmer en Flip Smit, “dat daar geen opdroging van die Afrikaanse mark is nie” (p 219). “Met ‘n potensiële voedingsbron van 19 000 Afrikaanse universiteitsgereed studente per jaar, is daar genoegsame getalle om Afrikaanse universitêre onderrig te regverdig” (p 223).

In die Botman-era het die ideaal van ‘n Afrikaanse US vervaag. By die taalstryders het die klem veel eerder op “‘n vaste plek vir Afrikaans” begin val (p 178, 195) en dat “‘n keerwal” teen verengelsing gebou moet word (p 228). Daar word nie, soos vroeër, meer amptelik oor die “bevordering” van Afrikaans gepraat nie, maar bloot van die “teenwoordigheid” van Afrikaans (p 182). Om daardie teenwoordigheid so min moontlik te maak, is gesê dat na 60% Afrikaanse klasse “gestreef” sou word, eerder as om dit as die minimum “aanbod” te waarborg (p 192). In die praktyk was dit egter nader aan 40%.

“Stellenbosch het dus gekies vir ‘n minimale posisie vir Afrikaans en ‘n maksimale posisie vir Engels” (p 195). In 2011 het Beeld in ‘n hoofartikel verwys na “die US se defektiewe toekomsvisie dat hy net ‘n wêreldklas-universiteit kan wees as hy verengels” (p 225). Wat het geword van die “taalgelykberegting” wat in die grondwet genoem word? (198). Daar is al hoe meer teensinnigheid in die US-raad en daarbuite om amptelik tyd aan die taalkwessie af te staan; maw dit word nie (meer) van wesenlike belang geag nie.

Afrikaanssprekende elemente aan die Universiteit Kaapstad, Pierre de Vos en Jaco Barnard-Naudé, het in 2011 met anti-Afrikaanse uitsprake gekom. De Vos het “die ‘taalbulle’ daarvan beskuldig dat hulle die US probeer wit hou en dat hulle optrede die dood van Afrikaans sal wees” (p 230). Naudé het beweer “dat daar nie ‘n reg op onderrig in ‘n minderheidstaal bestaan nie” (p 231). By die Bosch-fees in 2009 was net 6 van die 39 openbare lesings in Afrikaans. Met die inhuldiging van die Afrikaanse Johann Rupert as die US-kanselier in 2010 was net 10 minute van die verrigtinge, wat 90 minute geduur het, in Afrikaans. Toe Botman US-oudstudente in Londen toegespreek het, het hy net Engels gepraat.

Botman het ‘n projek geloods om wiskundige en natuurwetenskaplike kennis by bruin skoliere te bevorder en hulle met die toekenning van studiebeurse te bevoordeel. Feitlik vanselfsprekend het die projek nie ‘n Afrikaanse naam nie. Dit word SciMathUS genoem. Daar is ook die US-mentorprogram vir bruin skoliere met die Engelse naam Rachel’s Angels. Wanneer wittes by iets betrokke is, word “inklusiwiteit” deur die Botman-US vereis. Wanneer nie-wittes bevoordeel word, soos by SciMathUS, Rachel’s Angels en die Afrika-doktorale program, word inklusiwiteit gewetenloos vergeet en eksklusiwiteit skaamteloos gepleeg, want dit is maar net wittes wat weens rassediskriminasie benadeel en uitgesluit word.

Dubbelmediumonderrig (die T-opsie) is ongetwyfeld “opvoedkundig onverstandig” (p 194). Daar is ook talle ander gewigtige besware daarteen. Dit is tereg die “swakste van al die beskikbare opsies” genoem (p 206). Botman het egter sy wesenlike aard absoluut ondubbelsinnig geopenbaar toe hy sy voorkeur vir die T-opsie uitgespreek het “omdat dit verseker dat wit en swart saam in die klasse sit” (p 205). Aparte klasse (parallelmedium) word weens Botman se politieke gepreokkupeerdheid as apartheid beskou. Botman se vrygeborenes word met sy komplimente tot gedwonge rasse-integrasie verplig; soortgelyk aan Jonathan Jansen se gebod van 50% wit en 50% swart in die Universiteit Vrystaat se koshuise.

Soos in Chris Brink se geval word Botman se gedrag al hoe meer arrogant en irrasioneel. Hy het bv beweer dat die US onderrig in Engels moet aanbied, “anders kan die ouers van Engelstalige studente die US hof toe neem omdat hy nie die grondwet nakom nie” (p 211). (En Engelse universiteite, kom hulle met eentalige onderrig wel die grondwet na?) In werklikheid vereis die grondwet glad nie transformasie deur taal nie. Verder het Botman, Francois Groepe en Die Burger in 2010 in die US-raadsverkiesing ingemeng, maar die uitslae toon dat hulle nie in hulle doel geslaag het nie.

Omdat Botman werklikwaar vir ‘n verdere termyn van vyf jaar as rektor aangestel is, kan verwag word dat hy al hoe meer opportunisties sal optree en sy mentaliteit met selfs groter oorgawe aan die US sal opdring; na verwagting ongelukkig meesal met akademies bedenklike en moeilik herstelbare gevolge. Van die jongste manies is dat “die taal nie belangrik is nie; net uitnemendheid is van belang” (vergelyk dit met wat hierbo oor Anton van Niekerk se standpunt gesê is) en “die bestryding van armoede en die opheffing van mense [is] belangriker as die ontwikkeling van taal en kultuur” (p 210). Kapp verwys na “die verwaande aanspraak: ‘Maties kán die wêreld verander'” (p 210; ook p 215), die oorsprong waarvan op geen ander plek as by kommuniste gesoek hoef te word nie.

Sowel Chris Brink as Russel Botman het as rektor die wesenlike aard van die akademie misken deur voorkeur aan politieke oorwegings te gee. Hulle het vir hulleself verdere gramskap op die hals gehaal deur die kulturele (insluitende taal-) aard van die US, wat oor dekades gevestig is, te minag. Die gevolg is dat hulle verplig gevoel het om gebeure te verdoesel en daar is dikwels gewoon gelieg. In 2012 het kameraad Botman steeds volgehou met ‘n standpunt soos: “Aansprake dat Afrikaans se posisie agteruitgaan, is onbillik” (p 229).

In hierdie skrywe kon ek nie reg aan alle aspekte laat geskied nie. Dit is wenslik dat u Kapp se uitstekende boek lees. Enersyds om die bostaande aanhalings in konteks te plaas. Andersyds om addisionele inligting te bekom. Dan sal dit ook duideliker wees in watter opsigte ek Kapp se teks aangevul het, bv met my eie vertolkings en menings.

Die einde van die boek val saam met die uittrede van Kapp as president van die US-konvokasie. Sedert 2011 was daar verdere verwikkelings. Dit is belangrik dat diegene wat die gebeure eerstehands ervaar deurlopend inligting daaroor in die openbare domein plaas. Verlede jaar op 29 April het die US-raad ‘n nuwe Botman-taalplan goedgekeur. My vertolking daarvan is dat dit die amptelike oorgang van ‘n hoofsaaklik wit Afrikaanse na ‘n hoofsaaklik nie-wit Engelse US is (Praag 23.05.2013).

Engels het amptelik die hoofonderrigtaal geword en die tafel is gedek om Afrikaans al hoe meer en selfs vinniger af te skaal. Dit is bv baie duidelik dat daar voortaan glad nie van dosente vereis sal word om Afrikaans magtig te wees of dit ooit te word nie. Niks wat sedert Mei verlede jaar gebeur het, laat my vermoed dat daardie vertolking van my foutief is nie. Die lees van Kapp se boek het eerder my vermoede in sekerheid omskep.

Les bes het Botman op 24 Maart die US-raad ingelig dat beoog word om teen 2018, die eeufeesjaar, 43,7% van die voorgraadse programme net in Engels aan te bied (Rapport 30 Maart). Vir Die Burger het die lot van Afrikaans so onbelangrik geword dat geen berig hieroor geplaas is nie. Die strategie is klaarblyklik dat van Afrikaanssprekende studente verwag word om tweetalig te wees maar dat ander studente deurgaans onderrig in Engels sal ontvang. Groot koste word aangegaan om Xhosa as ‘n derde onderrigtaal in te voer. Daar word blykbaar geredeneer dat aansien die nuwe Suid-Afrika elf amptelike tale het, die US drie onderrigtale kan bekostig. Vanselfsprekend gaan hierdie drie tale hiërargies gerangskik word, hoogs waarskynlik sonder om Jannie Marais se skenkingsvoorwaarde in ag te neem. Daar sal eerder kwantitatief as kwalitatief gedink word. Dit is baie duidelik dat die US sedert 2002 in die verkeerde hande is.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.