Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch

Deel op

Op 29 April het die raad van die Universiteit Stellenbosch (US) goedkeuring aan die rektor, Russel Botman, verleen dat hy hierdie inrigting van ‘n wit na ‘n hoofsaaklik nie-wit en van ‘n histories Afrikaanse na ‘n hoofsaaklik Engelse universiteit kan transformeer. Die Burger het oor hierdie gebeurtenis op 30 April heel gunstig onder die opskrif, “Plan vir vernuwing kry groen lig by US”, berig (Praag, 7 deser).

Die Wellington-stasie is geleë op grond wat geskenk is op voorwaarde dat iedere trein wat dit gebruik, moet stilhou. Hierdie voorwaarde word nagekom. Die US dank sy ontwikkeling en trotse verlede aan skenkings wat bepaal dat die onderrigtaal Afrikaans moet wees. Word hierdie vereiste nagekom deur Engels tot die hoofonderrigtaal te bevorder en Afrikaans tot die bykomende taal af te skaal? Kan sonder meer aanvaar word dat wanneer die belange van Afrikaans en van wittes en veral van Afrikaners vertrap word, skenkingsvoorwaardes maar geïgnoreer mag word? Die ANC is trots op die onwettighede in sy verlede. Blykbaar reken die US-raad en -bestuur en hulle vennoot, die ANC-regering, dat hulle hulle in hierdie geval ook die reg op onwettig optrede kan toe-eien.

Die Burger het na sy genoemde berig aanvanklik geen kommentaar in sy hoofartikels of in sy rubrieke op die US-raadsbesluit gelewer nie. Geen leserkommentaar oor hierdie belangrike saak is gepubliseer nie. In die Wes-Kaap is daar vier universiteite en aan net een van hulle, die US, is Afrikaans ‘n onderrigtaal. ‘n Mens sou dink dat dit vir ‘n Afrikaanse koerant ‘n hemelskuddende gebeurtenis moet wees as, andersom as voorheen, Engels tot die hoof- en Afrikaans tot die bykomende onderrigtaal verklaar word; des te meer as die aanduidings is dat Afrikaans vorentoe net in ‘n beperkte mate en vir ‘n beperkte tyd geduld sal word.

Vir Die Burger se verdoeseling van die US-besluit en sy onwilligheid om daarteen te velde te trek, is daar verskeie redes. Dit kan nie net aan bv apatie, gebrek aan (ideologiese) insig en die sug na politieke korrektheid toegeskryf word nie. Koos Bekker, die uitvoerende hoof van Naspers, is ‘n US-raadslid. Hy is hoogs waarskynlik een van diegene wat aandadig aan die gewraakte besluit is. Naspers het ‘n maatskappy met internasionale belange geword, wat sy Afrikaner- en Afrikaanse verlede ontgroei het. Bekker is dus waarskynlik vatbaar vir Botman se obsessie om van alle US-studente nie-Afrikaners en kultureel identiteitlose Afrika- en wêreldburgers te maak.

Eers na die Praag-berig van 7 Mei, het Die Burger nog ‘n berig oor die US-taalbesluit gepubliseer, onder drie opskrifte: “Nuwe taalmodel voorgehou / Meer tolke by US verwater wel T-opsie / Dosente sal lesingtaal kan kies” (9 Mei, p 9). Die T-opsie verwys na die gevalle waar in dieselfde klas in sowel Afrikaans as Engels onderrig verskaf word en wat in die praktyk in ‘n hoofsaaklik Engelse klas ontaard het. Die berig is gebaseer op ‘n onderhoud wat met ‘n US-viserektor, Arnold Schoonwinkel, gevoer is. Hy is ‘n ingenieur wat deesdae voorgestoot word om ideologiese sake, soos rasgebaseerde koshuisplasings en die afskaling van Afrikaans as onderrigtaal, so aantreklik moontlik voor te stel. Botman het na Schoonwinkel se aanstelling sonder omhaal van woorde verklaar dat sy beswaar teen sy nuwe viserektor nie bekwaamheid is nie, maar dat hy wit is. Botman se opdrag aan Schoonwinkel is dat hy hom met oorgawe vir transformasie moet beywer, dus dat hy só te werk moet gaan dat sy opvolger nie-wit sal wees (Die Burger, 5.09.2012, p 11).

Die twee nuwe elemente in die taalmodel is enersyds parallelmedium-onderrig (PMO), dus aparte Afrikaanse en Engelse klasse, pleks van gesamentlike klasse (die T-opsie). Andersyds gaan tolkdienste ingestel word. Saam kan hierdie twee elemente “bydra tot ‘n hoër persentasie Afrikaanse en Engelse klas-onderrig.” Die indruk word gewek dat ‘n wen-wen-haas uit die taalhoed getrek is. Die voor die hand liggende vraag, “Wat gaan voortaan die hoofonderrigtaal aan die US wees?” is óf nie deur die joernalis, Malani Venter, gevra nie, óf daar is redaksioneel besluit om liewer nie wêreldkundig te maak dat dit voortaan Engels gaan wees nie.

Wat duidelik uit die teks blyk, is dat die probleem wat die US-bestuur met gesamentlike klasse het nie is dat hulle in hoofsaaklik Engelse klasse ontaard nie, maar dat die US graag eentalig Engelse, spesifiek nie-wit, dosente wil aanstel. Engelse studente sal deurgaans onderrig in Engels ontvang. Afrikaanse studente sal hoogstens aan die begin, dus seker net in (groot) eerstejaarklasse, onderrig in Afrikaans ontvang. Schoonwinkel: “Omdat die meeste studente in hul senior jare voldoende akademies geletterd in Engels is in hul vakgebiede, word ondervind dat Afrikaanse studente die aanbod [van tolking] meestal van die hand wys.”

“Volgens [Schoonwinkel] kan die gebruik van Afrikaans en Engels afsonderlik in die klaskamer dosente die geleentheid bied om in hul sterkste akademiese taal onderrig te gee.” Aan die begin sal daar dus nog Afrikaanse onderrig deur Afrikaanse dosente aangebied kan word, maar namate die getal Engelse dosente toeneem, sal daar al hoe minder Afrikaans deur dosente gepraat word. Toenemend sal die Afrikaanse studente vir onderrig in Afrikaans op tolking aangewese wees en dit sal net op die elementêre vlak verskaf word. Verder los tolke nie die probleem van die nasien van werkstukke en eksamenskrifte wat in Afrikaans ingelewer word, op nie. Die eentalige Engelse dosent kan dit nie doen nie en die tolk ook nie.

Eerder as om hierdie probleme en dus die benadeling van Afrikaanse studente (bv wittes) ten gunste van Engelse studente (bv swartes) te erken, kom Schoonwinkel met hierdie wen-haas: “By implikasie kan die beste akademici aangestel word, ongeag hul huistaal, en versterk dit ‘n verwelkomende kultuur aan die US.” Hier word heelwat valsheid doelbewus gepleeg. Van wanneer af is dit die beleid van die transformerende US om die beste akademici aan te stel? Iedere keer as die US poste adverteer, word uitdruklik gesê dat voorkeur aan kandidate uit “die aangewese groepe”, dus aan nie-wittes, gegee word. Wit mans word, indien enigsins moontlik, nie aangestel nie, soos Schoonwinkel self tydens sy onlangse aanstelling as viserektor ervaar het. Dit is waarom hy verwys na “die beste akademici” en dan net “ongeag hul huistaal”, want hy weet hy kan nie sê “ongeag hul kleur en geslag” nie.

Die rasgebaseerde aanstellingsbeleid gaan ook veroorsaak dat die beste tolke nie aangestel word nie, maar hieroor swyg Schoonwinkel. Die verwysing na die versterking van die “verwelkomende kultuur” beteken in die praktyk dat net vir nie-wittes agteroor geleun word. Dit is baie duidelik dat Botman se totale transformasie wit studente en veral die Afrikaanssprekendes verder gaan ontheem. Die US-bestuur sal myns insiens nie ‘n vinger lig om hulle meer tuis op ‘n verswartende en al hoe meer Engelse kampus te laat voel nie.

Leopold Scholtz publiseer elke Vrydag ‘n rubriek in Die Burger. In sy drie rubrieke wat sedert die US-raadsbesluit van 29 April verskyn het, het hy nie ‘n woord oor die US gerep nie. Dit kom vreemd voor, want sowel hy as sy vrou is in die Lae Lande kampvegters vir Afrikaans. Scholtz is tans in Suid-Afrika en hy het ook in Stellenbosch besoek afgelê. Die afgelope Maandag het hy buitentyds ‘n rubriek gepubliseer, wat onder ‘n positiewe opskrif, “Taal by US slaan ‘n beter koers in”, verskyn het (Die Burger, 20 deser, p 8). Ek kon nie my oë glo nie. Is dit die resultaat van Koos Bekker-gedienstigheid?

Scholtz reken by die US is daar vordering in die rigting van “‘n gewaarborgde, vaste plek aan Afrikaans as onderrig- en administratiewe taal.” Ek dink hy vertolk die strekking van die gebeure heeltemal verkeerd. Hy verwys gunstig na die tolkdiens op die Potchefstroom-kampus. Wat Scholtz uit die oog verloor, is dat Potchefstroom Afrikaanse dosente het, dat die tolking in Engels is en dat die dosente Engelse werkstukke en eksamenskrifte kan nasien. Potchefstroom het wesenlik Afrikaans gebly. Aan die US is die visie dat die universiteit teen 2018 nie meer hoofsaaklik wit of hoofsaaklik Afrikaans mag wees nie. Dit gaan om verskerpte rassediskriminasie teen wit studente en dosente en versnelde verengelsing van die studente- en dosentekorps.

Scholtz verwelkom die voorgestelde vervanging van die T-opsie met die PMO. Maar dan hierdie absurde hoop: “Dit [is] dalk slegs ‘n oorgang na ‘n toestand waar dosente (en studente) bemagtig word om sowel Afrikaans as Engels magtig te wees.” Dit is glad nie die ideaal van die totaal getransformeerde US nie. Botman wil bv ‘n Engelssprekende Nigeriër aanstel sonder dat hy (of seker verkieslik: sy) ooit Afrikaans hoef te leer. Dit is die wese van totale transformasie in die Botman-idioom.

Dan verwys Scholtz na bruin Afrikaanssprekendes: “Dáár lê die US se natuurlike groeigemeenskap. ‘n US wat regtig sy sout werd is, sal daarom sy aansienlike kennis, ervaring en infrastruktuur aanwend om massief in die bruin Afrikaanse skoolonderwys te belê.” Dit is musiek in die ore van Botman. Dit sterk Botman in sy blatante rassediskriminasie ten gunste van sy eie etniese groep. Die verswartingsideaal aan die US word in die Botman-era by voorkeur in die werwing van bruin studente en bruin personeel vergestalt. Bruin is volgens Botman ‘n skakering van swart en dit slaag in elk geval die toets omdat dit nie wit is nie. Dit val op dat Scholtz geen pleidooi lewer vir die werwing van wit Afrikaanssprekende studente en personeel deur die US nie.

Wat Scholtz oor bruines skryf, sê hy na aanleiding van statistiek waarvolgens daar meer bruin as wit Afrikaanssprekendes is en die bruines vinniger as die wittes aanwas. Sy standpunt is dus kwantitatief gegrondves. Maar hoedanig is bruines se gesindheid teenoor Afrikaans? Op die platteland is die gesindheid meer positief as in die stede. By die laer klasse is dit beter as by die ontwikkelde bruines. Op die universiteitskampus erken bruin eerstejaars taamlik geredelik dat hulle Afrikaanssprekend is. Namate hulle in hulle studie vorder, beskou hulle hulleself toenemend as Engelssprekend.

Wat nodig is, is ‘n wetenskaplike, dus objektiewe, ondersoek van hierdie saak. Botman het al beweer dat hy die US-kampus met bruines verswart om Afrikaans te dien. In werklikheid is baie, dalk die meeste, bruin US-studente dislojaal teenoor Afrikaans en veral teenoor Standaardafrikaans. Om die toekoms van Afrikaans aan die US en in die land op bruin lojaliteit te grondves, is heel waarskynlik om op sand te bou.

In hierdie verband kan die bruin rektore as barometer gebruik word. In die ou Suid-Afrika was die Universiteit Port Elizabeth en die Universiteit van Wes-Kaapland tweetalige universiteite. Albei hierdie universiteite het nou ‘n bruin rektor, is eentalig Engels en daar is geen sprake dat hierdie inrigtings weer onderrig in Afrikaans gaan aanbied nie. Die tradisioneel Afrikaanse universiteite (in Bloemfontein, Johannesburg, Potchefstroom, Pretoria en Stellenbosch) het almal bruin rektore, met die uitsondering van Potchefstroom. Potchefstroom is die enigste kampus wat wesenlik Afrikaans gebly het. Die onvermydelike gevolgtrekking is: Moenie die heil van Afrikaans aan bruines toevertrou nie; veral nie in die geval van ‘n universiteit nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.