Leon Lemmer: Wim de Villiers, die laksman van Afrikaans

Deel op

Die rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), Wim de Villiers, se voorlaaste voorganger, Chris Brink, was van huis uit ‘n Afrikaner en dus Afrikaanssprekend. Brink het egter ‘n aantal jare as dosent in Australië deurgebring en het as ‘n hanskakie na die US teruggekeer: anti-Afrikaner en anti-Afrikaans. Voor sy aanstelling het Brink in 2001 egter plegtige versekeringe aan die US-raad gegee, bv “Ek sien US as sentraal binne ‘n Afrikaanse Renaissance” en “dat Afrikaans veilig in sy hande is” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 76-77). As rektor het Brink hom deurgaans vir die afskaling van Afrikaans en die bevordering van Engels beywer omdat hy behep met Engels as internasionale akademiese taal was.

‘n Mens sou dink dat die US-raad met Brink ‘n dure les geleer het. Brink se opvolger, die bruin Russel Botman, was die eerste “swart” US-rektor. Wat Afrikaans betref was Botman se aanstelling ‘n verdere terugwaartse stap, want hy het onder meer moeite gedoen om sy huisgesin sover moontlik te verengels. As militante ANC-aktivis was hy in woord en daad sterk anti-Afrikanergesind. Polities korrek is Botman om etniese redes baie minder as Brink gekritiseer, wat hom in staat gestel het om Afrikaans in veel groter mate te benadeel, soos geboekstaaf deur Kapp. Toe daar na ‘n opvolger vir Botman gesoek is, is deur sowel die voorsitter van die US-raad as die waarnemende rektor te kenne gegee dat ‘n Botman-kloon die ideale US-rektor sou wees.

Teen hierdie agtergrond het Wim de Villiers op 1 April vanjaar sy ampstermyn as US-rektor begin. Hy het voorgraads aan die US van weleer gestudeer. Sy pa, AB de Villiers, was ‘n hoogleraar in die regte aan die US. Wim de Villiers het nagraads in die buiteland studeer en meer as ‘n dekade lank daar vertoef. Soos sy voorganger Brink het hy grondig van sy Afrikanerskap en Afrikaans afskeid geneem, met ‘n huisgesin wat, anders as die een waarin hy grootgeword het, ingrypend verengels het. Sy pa sou sekerlik geen behae hê in ‘n seun wat met ‘n passie vir Engels as internasionale akademiese taal hom geroepe voel om as die laksman van Afrikaans aan die US op te tree nie. Daar is geen rede om te vermoed dat die moontlikheid van ‘n nie-Afrikaanse US ooit by AB de Villiers opgekom het nie. Nog minder het hy besef dat hy baie geld belê het in ‘n kind wat dermate sou ontaard dat hy Afrikaans aan die US sou vernietig. Wim de Villiers moet ‘n baie dik, ANC-gedienstige vel hê.

Die gebeure is des te meer weersinwekkend omdat hierdie aankondiging gedoen is in die jaar waarin die US se groot weldoener, Jannie Marais, se sterfte ‘n eeu gelede herdenk word. Wim de Villiers het vanjaar doelbewus enige huldiging van Marais deur die US-studente en -personeel vermy. Op ‘n skandalige wyse het hy hom nog nooit openlik uitgelaat oor Marais se skenkings- en stigtingsvoorwaarde waarvolgens Afrikaans nie ‘n mindere posisie as Engels aan die US mag beklee nie. Druk word ook nie deur bv die US-raad toegepas sodat De Villiers verplig word om sy gedrag te verduidelik/regverdig nie. Hy kan nie daarvan beskuldig word dat hy as rektor al ooit iets goeds van Afrikaans en Afrikaners gesê het nie.

Die mate waarin De Villiers verengels en veramerikaans het, blyk uit die weergawes van sy toesprake wat op die US-webwerf gepubliseer word. As ‘n leë gebaar kom hy met enkele Afrikaanse sinne vorendag, met die res van sy toespraak in Engels. Dit word gedoen terwyl ek die indruk het dat die meeste US-studente tans nog Afrikaanssprekend is;* ook omdat De Villiers meer vloeiend/gemaklik in Engels is. Op die US-webwerf gebeur dit telkens dat die Engelse weergawe van ‘n De Villiers-toespraak eerste gepubliseer word omdat die enkele Afrikaanse sinne gou vertaal kan word. Die Afrikaanse weergawe verskyn heelwat later omdat feitlik die hele toespraak eers uit Engels in Afrikaans vertaal moet word.

[* De Villiers beweer: “Die meeste studente is Engels en minder as ‘n derde wil in Afrikaans onderrig ontvang” (Die Burger, 14 deser, p 2). In Kapp se boek word aangetoon hoe De Villiers se twee voorgangers doelbewus ter benadeling van Afrikaans gelieg het. Omdat De Villiers sy eie agenda het, behoort sy uitlatings myns insiens nie sonder meer as die waarheid aanvaar te word nie.]

Op 12 deser het De Villiers, met die ondersteuning van sy bestuurspan, op die US-webwerf aangekondig dat hy Engels met ingang volgende jaar “die primêre taal van kommunikasie en administrasie” van die US wil maak. ‘n Jaar gelede het die US-raad besluit dat Afrikaans en Engels voortaan gelyke status sal geniet; glo omdat “gelykberegtigende toegang tot leer- en onderriggeleenthede vir alle Suid-Afrikaners” daardeur moontlik gemaak word. Ooreenkomstig ‘n eis van Open Stellenbosch het die US-raad vroeër vanjaar weer aan die taalbeleid getorring met die besluit dat Afrikaans nie meer beskerm gaan word nie. Die jongste is dat Afrikaans en Engels ingevolge De Villiers se insig vorentoe nie meer gelyke status aan die US sal hê nie; dat Engels in weerwil van Jannie Marais se voorwaarde dié onderrigtaal word, met Afrikaans wat, soos Xhosa, tot ‘n onbeduidende randeier afgegradeer word. Dieselfde argument wat in 2014 gebruik is om Afrikaans en Engels gelyk te stel, word nou gebruik om hulle beoogde heeltemal ongelyke status te probeer regverdig: “gelykberegtigende toegang tot leer- en onderriggeleenthede.” Dieselfde motivering kan onmoontlik sinvol ter regverdiging van twee heeltemal verskillende taalopsette gebruik word.

In die verklaring word ongelooflik slodige logika gebruik. ‘n Mens kan nie glo dat senior akademici so ongesofistikeerd dink nie. Dit is myns insiens duidelik dat hulle nie in daardie hoë poste hoort nie. Engels word dié US-taal “om geen uitsluiting op grond van taal te verseker;” ‘n stokou maar valse ANC-argument. Wat van Afrikaanssprekendes, daardie studente wat tradisioneel aan die US hoort? Is hulle gelyk aan “geen”,’n ronde nul, dus nie-bestaandes? Is dit net Afrikaans wat kan uitsluit en nie Engels nie? Die De Villiers-redenasie is gebaseer op die uitgangspunt dat “Engels die omgangstaal in Suid-Afrika is” en daarom “sal alle onderrig by die Universiteit Stellenbosch in ten minste Engels gefasiliteer word.”

In werklikheid word Afrikaans deur baie meer mense as Engels as hulle moedertaal beskou. Afrikaans was (en is dalk steeds) in veel groter mate as Engels die verstaanbare gebruikstaal tot in die verste uithoeke van die land. Die taalsituasie was/is plaaslik soortgelyk aan dié in Namibië: die koloniale taal Engels is dié amptelike taal maar Afrikaans is die landstaal. Dit is seker net ‘n swart regering wat so ‘n onverkwiklike taalopset vir homself as ‘n verdere “uitdaging” op die hals kan haal. In elk geval bestaan daar geen twyfel dat Afrikaans in die Wes-Kaap baie meer moedertaalgebruikers as Engels het nie. ‘n Hanskakie soos De Villiers word glad nie met so ‘n argument beïndruk nie. Grootdoenerig wil hy van die US ‘n wêreldspeler maak; nie ‘n lokale, parogiale inrigting wat die plaaslike belastingbetalers dien omdat die US met hulle geld onderhou word nie.

Onderliggend is daar myns insiens ‘n groot skeut onregverdigbare Afrikanerhaat en leedvermaak. Weens die ANC-regering se voorkeur vir Engels word dit nou oral, insluitende aan die US, aan almal opgedring. Ooreenkomstig die ANC se skewe voorstelling van die geskiedenis word egter telkens van Afrikaans gesê dat dit nooit weer aan iemand opgedring mag word nie. Die De Villiers-US speel ANC-gedienstig hiermee saam. Maar let op hierdie blatante opdringing van Engels: “In koshuise en ander leefomgewings behoort studente Engels as omgangstaal in huisvergaderings en ander amptelike funksies [te] gebruik.” Afrikaans word beskuldig van opdringing, maar nie Engels nie. Afrikaans sluit uit maar nie Engels nie. Het ons hier voorbeeldige voorbeelde van gelykberegtiging of die doelbewuste, polities gemotiveerde toepassing van dubbele standaarde?

“In hierdie verband wil ons graag erkenning gee aan die beduidende bydrae wat die Open Stellenbosch-kollektief in die onlangse gesprekke gemaak het om te verseker dat taalimplementering aan die US nie ‘n struikelblok vir toegang tot onderriggeleenthede of die suksesvolle voltooiing van akademiese programme word nie.” Afrikaans word op ‘n gemene manier alewig as ‘n struikelblok voorgestel sonder om die voortreflikhede van die taal te besing.

Open Stellenbosch (OS), ‘n klein minderheidsgroep met ‘n sterk nie- of anti-akademiese oriëntasie, se bydrae tot die verheffing van Engels tot hoofonderrigtaal word spesiaal deur De Villiers uitgesonder. Hy en sy meelopers het steeds geen besef van wat OS werklik is nie. ‘n Vorige redakteur van die saketydskrif Finweek, Marc Ashton, het die aandag op ‘n voor die hand liggende waarheid gevestig: “Students go to university because there is no work for them” (Moneyweb Today, 19 deser). Die ANC-regering faal met werkskepping, soos met die meeste ander dinge. Die US help die ANC-regering uit die verknorsing deur tot in Limpopo meesal akademies onbelowende swart skoliere met studiebeurse na die US te lok as onwillige/ongemotiveerde studente. Hierdie skoliere word voor ‘n keuse gestel: óf werkloosheid en krepering tuis óf “studie” aan die US, insluitende gratis akkommodasie en kos. Die US word hiertoe deur nie-akademiese oorwegings gemotiveer, te wete om die rasteikens wat hy onnodiglik vir homself stel, te haal.

Sodra (die meeste) OS-lede in hierdie lig gesien word, word dit duidelik waarom hulle eerder chaos saai as om te studeer, selfs in eksamentyd, en waarom hulle probeer om te verhoed dat egte studente eksamen skryf. Die meerderheid OS-belhamels is waarskynlik US-beurshouers. Die US is in ‘n gunstige posisie om van hulle ontslae te raak deur hulle studiebeurse nie te hernu nie. Maar dit sal die getal swart studente op die kampus verminder, terwyl ‘n so groot moontlike swart komponent om nie-akademiese/politieke redes deur die US gewens geag word.

Onlangs het Rudolf Gouws genoem dat omtrent die helfte van die studiegeld wat ingesamel word aan US-studiebeurse bestee word (Die Burger, 29 Oktober, p 14). Dit is bekend dat hierdie beurse hoofsaaklik aan swartes toegeken word; dikwels op twyfelagtige akademiese gronde, bv om rasteikens te haal. Een van die implikasie is dat daardie blanke studente wat vir hulle studie betaal, die studiebeurse van swart studente subsidieer. ‘n Ander rede waarom studiegeld so hoog is, is omdat hoofsaaklik swart studente aan die wydverspreide wanpraktyk van toe-eiening ly, dus om sonder teenprestasie geregtig op (feitlik) enigiets te voel. Daarom versuim sommige van hulle om hulle finansiële verpligtinge teenoor die universiteit na te kom, wat nog hoër studiegeld tot gevolg het. Ook omdat vandale nie verplig word om die skade wat hulle veroorsaak het aan die universiteit te vergoed nie. In ‘n onderhoud met Jean Oosthuizen het De Villiers die moontlikheid van ‘n “gedifferensieerde fooistelsel” genoem (LitNet 11 deser). Besluit maar self wie gaan bevoordeel en wie gaan benadeel word. Polities korrek word die aandag nie gevestig op die ironie dat dit juis bevoordeelde swart studente is wat teen hoë studiegeld betoog nie. Dink watter chaos op kampusse gaan heers as “gratis” universiteitstudie ingestel sou word.

Oproerige vandale word nie geskors nie. Na die onlangse gebeure het De Villiers die oproerige studente om verskoning gevra omdat hy ‘n hofbevel verkry het om hulle uit ‘n US-administrasiegebou te smyt. In geen opsig het hy hulle gedrag gekritiseer nie. Pleks daarvan is DeVilliers vol lof vir hulle, bv: “Ons studente het getoon hulle is verbind tot beginselvaste meningsverskil en vreedsame protes. Daarvoor gee ek ons studente graag die eer. Ons studente het die denkleierskap getoon was die US juis nastreef” (Jean Oosthuizen-onderhoud). Pleks van die studente te kritiseer het De Villiers namens die US onderneem dat die universiteit sal probeer om te verbeter. Dit is nie ‘n resep vir wet en orde en ‘n doelmatige akademiese milieu nie. Ek vind dit moeilik om gesonde, akademies-gefundeerde rasionaliteit by De Villiers op te diep.

As De Villiers sy sin kry, gaan Afrikaans vorentoe volgens behoefte of op aanvraag aangebied word. Maar hierdie opsie word op allerhande gemene maniere tot onlewensvatbaarheid verdoem. “Dit sal afhang van vermoëns van dosente,” terwyl die internasionaal georiënteerde US Afrikaansvermoë glad nie meer as ‘n vereiste by die aanstelling van dosente stel nie. Verder: “Die addisionele tale [Afrikaans en Xhosa] mag nie gebruik word om enigeen uit te sluit nie,” terwyl die De Villiers-US Afrikaans definieer as ‘n taal wat studente uitsluit. “Dit impliseer dat alle kommunikasie by die Universiteit Stellenbosch minstens in Engels sal wees.” Hoekom? Omdat die dwase wat die voorgestelde nuwe taalbeleid uitgedink het Engels definieer as ‘n taal wat niemand uitsluit nie.

Daar is hierdie leë of valse belofte: “Dosente sal voortgaan om in beide Afrikaans en Engels onderrigmateriaal te verskaf en assessering te fasiliteer. Soos tans die geval is, kan studente toetse, eksamens en opdragte in Engels of Afrikaans voltooi.” Dit is ‘n gemene manier om die Engelse pil te versuiker en kan hoogstens in sommige en progressief minder gevalle ‘n hoogs tydelike Afrikaansopsie wees. Na mate die dosente al hoe meer eentalig Engels word, sal Afrikaans as akademiese taal sekerlik uitgefaseer word.

Die jongste US-verklaring sluit af met die volgende doelbewuste misleiding: Die hersiene taalbeleid “sal taaldiversiteit daadwerklik deel maak van die Universiteit Stellenbosch se wese en toegang vir personeel en studente verseker.” “In kleiner klasgroepe sal alle inligting in Engels oorgedra word.” Dus as daar bv 6 of 12 studente in ‘n klas is, waarvan 5 of 11 Afrikaanssprekendes is, sal die voertaal Engels wees, want aan Engels word voorkeur bo Afrikaans gegee. Dit is in ‘n neutedop Wim-geregtigheid. Dit is juis taaldiversiteit wat in groter mate as tevore ontken word deur tweetaligheid tot eentaligheid te transformeer. Die groter toegang wat vir personeel en studente verseker word, verwys feitlik uitsluitlik na swartes; daardie mense waaraan die US om etnies-politieke, dus nie-akademiese, redes voorkeur gee.

Om Afrikaanssprekendes te sus, beklemtoon De Villiers dat sy nuwe taalbeleid bloot voorstelle is wat nog nie deur die US-raad goedgekeur is nie. In daardie raad is in De Villiers se kort ampstermyn onnodiglik groter verteenwoordiging aan die kommunistiese minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, toegestaan. Voorstelle wat anti-Afrikaans en anti-Afrikaner is, kan dus met groter gemak as voorheen goedgekeur word. Dit is ook opvallend dat omstrede voorgestelde veranderings aan die taalbeleid vanjaar, soos verlede jaar, (doelbewus) oorgehou is tot die einde van die akademiese jaar, wanneer daar minder weerstand van die Afrikaanse studente en dosente sal wees. Die punt is dat selfs al sou De Villiers se huidige taalvoorstelle afgekeur word, dit is lae hou teen Afrikaans is en so sal bly; dermate dat Afrikaans as US-voertaal kwalik daarvan kan herstel.

Ek dink dit is die aangewese tyd vir Johann Rupert om as US-kanselier te bedank. Hy en ander Afrikanerdonateurs behoort hulle steun aan die US te beëindig. Rupert het enkele jare gelede die mooi voorbeeld gestel om een van sy maatskappye se advertensies aan ‘n glanstydskrif te onttrek toe daarin ‘n artikel gepubliseer is wat Afrikaans en/of Afrikaners beledig het. Hy het nou weer die geleentheid om sy pa se nagedagtenis met sy optrede eer aan te doen.

‘n Mosie van wantroue behoort myns insiens teen De Villiers en sy viserektor vir transformasie, Nico Koopman, ingestel te word. Vir ‘n akademiese US, asook vir Afrikaans en Afrikaners, is daar geen heil in hierdie twee mense nie. Die ander viserektore, wat blykbaar geen beduidende besware teen die verregaande taalvoorstelle geopper het nie, verdien heel moontlik ook mosies van wantroue. Johann Rossouw verwys na die US-bestuurspan as “bruikbare idiote vir ‘n kortsigtige politieke agenda wat nóg diversiteit, nóg kennis in ons land bevorder … ‘n stem van kritieklose, polities naïewe onnoselheid” (LitNet 13 deser). Breyten Breytenbach sinspeel op iets soortgelyks: “Dit sou al help indien die universiteitsowerhede rondborstig wou erken dat dit nog altyd deel was van die bestaansvesel van die Universiteit Stellenbosch om die politieke hegemonie van die dag na die mond te praat” (Praag 14 deser). Mosies van wantroue kan in die onderrigdepartemente, fakulteite, senaat en raad te berde gebring word; hoe gouer en hoe meer, hoe beter.

Van die studente se kant af, verdien die Studenteraad ‘n mosie van wantroue. Daar is nie ‘n enkele oorspronklike gedagte in hierdie groepie studente se verklaring nie. Hulle herhaal die foute in die De Villiers-evangelie klakkeloos en laat my met wanhoop vir hulle. “‘n Historiese stap is gedoen om die deure oop te maak vir onderrig aan almal.” Geen groep word glo gemarganaliseer nie en alle studente word op gelyke voet geplaas. Die voorgestelde nuwe taalbeleid is glo nie ‘n aanval op Afrikaans nie, “maar ‘n stap vorentoe om ‘n meer toeganklike en wêreldklas universiteit te word” (Die Burger, 14 deser, p 2).

Ek wonder hoe die US se Afrikaansdosente voel oor hulle jarelange versuim om in enige opsig taalbulle ten behoewe van Afrikaans te wees. Hopelik sal hulle skuldig oor Breytenbach se woorde voel: “Dis ‘n skande wat onthou sal word.” Maar hulle sal dalk eerder troos in die kenmerkende Afrikaans- en Afrikaner-dislojaliteit van Max du Preez vind. Let op hoe slinks verskuif Du Preez die klem van die US na (die dorp) Stellenbosch: “Afrikaans gaan nie van Stellenbosch verdwyn nie. Inisiatiewe soos die Woordfees gaan steeds groei” (Die Burger, 14 deser, p 11). Wat op die Woordfees gebeur, weerspieël nie in watter taal onderrig in die US-klaskamers gegee word nie. Orakel Du Preez voorspel groei vir die Woordfees. De Villiers sê egter: “Dit is nie die US se verantwoordelikheid om die voortbestaan van Afrikaans te waarborg nie” (Die Burger, 14 deser, p 2). Hoe lank sal die Woordfees nog op die US se finansiële en ander ondersteuning kan staatmaak as De Villiers agterkom hoe min swartes Woordfees-byeenkomste bywoon? Hy sal daardie US-geld seker eerder na nog studiebeurse vir swartes wil kanaliseer.

Du Preez loof die voorgestelde taalbeleid as iets “in die belang van die universiteit en sy huidige en toekomstige studente” omdat “die onderrigtaal nie langer studente en dosente gaan uitsluit nie. Dit is ‘n voorwaarde vir groei, oopheid en uitnemendheid.” Hy kritiseer Breyten Breytenbach en Leopold Scholtz wat lansies vir Afrikaans gebreek het. Du Preez hoop die US-raad aanvaar De Villiers se waagmoedige voorstelle vir ‘n (grootliks) eentalige US met geesdrif, want die US sal dan “al die mense en kulture van Suid-Afrika waarlik weerspieël.” Afrikanerkultuur kwalifiseer volgens Du Preez blykbaar nie as ‘n kultuur nie. Die “Nuwe Stellenbosch” gaan “‘n Afrika-universiteit” wees; “Suid-Afrika se intellektuele kroonjuweel.” Kan ‘n mens in Du Preez se misleide oë met reg meer verwag van die instansie wat deur Jannie Marais se skenking ‘n werklikheid gemaak is?

Teken die petisie:


Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.