Francisco Chimoio, die Katolieke aartsbiskop van Maputo, het Westerse kondoomvervaardigers daarvan beskuldig dat hulle kondome met opset besmet met die MIV-virus en dit dan na Afrika stuur “om die Afrikane vinnig dood te maak.”
Hy het aan die BBC vertel dat hy oor buitengewone inligting beskik oor ’n sameswering om Afrikane uit te roei. “Ek weet dat daar twee lande in Europa is … wat opsetlik kondome met die virus produseer,” het hy beweer. Hy wou egter nie sê na watter lande hy verwys nie. “Hulle wil ons steeds koloniseer. As ons nie versigtig is nie, sal dit klaarpraat wees met ons binne ’n eeu.”

Enkele jare gelede het ek en ’n klompie Praaglede ’n Roelf Meyer-partytjie bederf deur ’n aantal skerp vrae te vra tydens ’n toespraak van die Groot Uitverkoper aan die Potchefstroomse Universiteit. Wat my dié aand opgeval het – en ek meen ek het dit ook gesê – is dat Roelf Meyer verslaaf is aan Amerikaanse clichés. Trouens, sy Afrikaans is deurspek met sulke woorde. Dis asof die man iewers in ’n laboratorium geprogrammeer is met die korporatiewe jargon van Dilbert.