Volkleurbetoging teen SABC se ge-tshwane

Die foto van Steve Hofmeyr in Beeld voor die mikrofoon met sy donkerbril en ’n vierkleur in die agtergrond gee iets weer van ons betoging Maandag teen die gebruik van die woord “Tshwane” pleks van Pretoria op die SAUK-TV. Ongeveer tweehonderd Afrikaners van alle politieke oortuigings het daaraan deelgeneem. Daarom was die geroesemoes van kleur simbolies van hierdie spontane samekoms van belanghebbendes wat nie langer met die SAUK se ge-tshwane in nuusbulletins gediend is nie.

Image

Betogers voor SAUK-gebou

Die meeste betogers het uit Pretoria na Aucklandpark, Johannesburg, opgeruk, maar een afvaardiging onder leiding van Inga Gilfillan, het al die pad van Louis Trichardt gekom. Daar was vele vlae, ’n meerderheid vierkleure, twee of drie oranje-blanje-blou vlae maar as “Prinsevlae” sonder die vlaggies in die middel en dan iets interessants, die Brawolandvlag: ’n oranje vaandel met ’n blou en wit kruis op Skandinawiese wyse effens na die kant van die vlagpaal geplaas. Voeg daarby die oordaad van plakkate en baniere wat met groot moeite en sorg vooraf ontwerp, geverf, gedruk en geprakseer is en mens kom onder die indruk dat die Afrikaner in die NSA ’n betogende dier geword het!

Image

Tswhane is ‘n koei

Ons mense betoog egter nie soos ons toi-toiende landgenote met klippe en buitebande nie, maar met ’n vertoon van hul praktiese vindingrykheid as dit kom by die vervaardiging van plakkate en baniere, asook die pièce de résistance, ’n lewensgrootte standbeeld van ’n swart koei van veselglas agter op ’n bakkie met die woorde “Tshwane” en “Aikona” daarop geverf. Dié blink idee behoort aan André Alkema van die GHA (Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans) wat ook ’n reuserol in die reëling van die byeenkoms gespeel het.

Tydens die toesprake voor die SAUK-gebou met die betogers in ’n halfmaan rondom ingang twee versamel, lê Theuns de Wet van die AKB (Afrikanerkultuurbond) die betekenis van die swart koei uit: “Kaptein Tswane” soos die Pretoriase stadsraad na hom verwys, is ’n mite. Daar bestaan ook geen woord soos “Tshwane” in inheemse tale nie, soos prof. Louis Louwrens, Afrikataalkenner van UNISA, bevestig het nie. Die enigste gedaante op deeske aarde wat ooit daardie naam in Noord-Sotho of Tswana gedra het, was die koei wat in reënmaakseremonies gebruik is. Tydens die seremonie het die toordokter moeti aan die bees gesmeer en oral waar sy mis, sou dit reën.

Is die huidige burgemeesteres van “City of Tshwane”, Gwen Ramakgopa, daarom ’n soort reënkoningin? Pleks van voggies vir voorstedelike tuine, laat reën sy egter net straatnaamveranderings, misdaad, swak dienste en korrupsie.

As ons verby die kantore van Beeld in Kingsway (ja, Kingsway, is dit nie ’n naam wat smeek om verander te word nie, maar hieronder meer daaroor) stap, skree die skare die slagspreuk: “Ons wil ’n Pretoria-Beeld hê!”, asook “Beeld verraai die volk!” Tog verbysterend hoe Naspers, die uitgewers van dié koerant met sy groot sirkulasie in Pretoria, aanhou om ’n “Tshwane-Beeld” te publiseer. Hopelik het iemand in die hermetiese verseëlde glaskantore van die grootste Afrikaanse dagblad in die Transvaal tog iets van die krete buite op straat kon hoor.

Mens word dors so in die warm son en oral sien mens halfliterwaterbotteltjies wat geledig word. Voor in die optog loop ek, Steve Hofmeyr, André Alkema, Wille Spies van die VF+, asook Henk van de Graaf van die Verkenners. En voor ons almal ry die heilige koei Tshwane op haar bakkie met ’n luidspreker waaruit die skare aangemoedig word om slagspreuke te skree, waaronder: “Pretoria is ’n stad, Tshwane is ’n koei!” Ons sing darem insgelyks die “Lied van jong Suid-Afrika”.

Tydens die oorhandiging van ons petisie met 95 000 name, ’n reusegetal as mens daaraan dink, heers daar ’n feestelike atmosfeer wat agterna so effens oorgaan in ’n vae aggressie teen die propagandamasjien van die verdrukker in sy betonbetoring wat, soos meer as een opmerk, “met Afrikanergeld gebou is”. Daar word TV-stelle wat die koei op haar reis vergesel het, moontlik vir vermaak in reënmaakland, op die sypaadjie voor die ingang afgelaai en mnr. Jaap Kelder van Kemptonpark poog om een met ’n stok van sy banier stukkend te slaan.

Die polisiekaptein of inspekteur of wat hulle ook al deesdae genoem word, kom kla by my dat dit “onaanvaarbaar” is.

Op pad terug na die parkeerterrein van waar ons begin het, sien ek ’n bordjie raak wat die onhoudbaarheid van ons situasie verder illustreer: “University of Johannesburg, Kingsway Campus”. Vir diegene wat nie weet nie, dis die voormalige RAU oftewel “Randse Afrikaanse Universiteit”. So het Afrikaans neffens die SAUK waar soveel Afrikaners eens gewerk en gewoon het, gesneuwel.

Image
 
Soos ek in my toespraak voor die SAUK gesê het, sal ons die vryheidsvlam moet hoog hou, anders gaan ons totalitêr getransformeer word tot ’n “Kingsway” waar die kwasi-Britse beeskultuur en sy Mugabe-agtige tirannie en naamsveranderings die septer gaan swaai.

100 лДанильченко Юрий Харьков

Maak 'n opvolg-bydrae