Motata het hom ook skuldig gemaak aan beledigings van die vroulike polisiebeamptes wat hom aanvanklik op die ongelukstoneel wou arresteer. Volgens die staat het hy geskreeu “F.. julle, onnosel vroumensbeamptes, julle kan my nie arresteer nie,” “vroumense kan my nie arresteer nie,” “julle onnosel vroue kan my nie arresteer nie,” en “n vroumens kan nie arresteer nie, dit moet ’n man wees.”
Alhoewel niemand die ongeluk, wat in die vroeë oggendure van 6 Januarie plaasgevind het, gesien het nie, is die regter “deurmekaar” agter die stuur van sy motor aangetref, te midde van die chaos van die muur wat hy stukkend gery het. Hy het aan polisie op die toneel erken dat hy die aand ’n partytjie bygewoon het en wyn gedrink het. Die regter kon nie self regop staan nie. Hy en die motor het sterk na drank geruik. Verder het hy met ’n sleeptong gepraat. Hy het aggressief geword toe hy gevra is om in ’n pypie te blaas. Hy het ook polisiebeamptes gedreig dat hy hulle sou vervolg indien hulle hom arresteer.
Na afloop van die voorval het die regter hemel en aarde probeer beweeg om sy saak van die Johannesburgse magistraatshof na die Pretoriase hoër hof te skuif, omdat hy geglo het sy status is te belangrik vir ’n doodgewone magistraatshof, maar sy pogings het misluk. Hy sal dus vandag in die eenvoudige magistraatshof moet verskyn.
