Volgens mediese kenners is sy uitsprake belaglik. Die MIV-virus kan glad nie binne ’n kondoom oorleef nie. Die aartsbiskop se bewerings kan egter die Mosambiekse regering se pogings om vigs te bestry in die wiele ry. Daar word beraam dat sowat een uit elke ses Mosambiekers die virus onder lede het en dat 500 mense daagliks aangesteek word. Mosambiek het ’n bevolking van 19 miljoen mense.
Die Katolieke kerk in Mosambiek is steeds sterk gekant teen die gebruik van kondome. Aartsbiskop Chimoio word as ’n gerespekteerde figuur in daardie land beskou, hoofsaaklik omdat hy ’n groot rol gespeel het om vrede tussen die strydende Mosambiekse faksies te bewerkstellig.
Soortgelyke skeptisisme oor die ware oorsprong van vigs is ook elders in Afrika aan te tref. Dit is welbekend dat president Thabo Mbeki die skakel tussen MIV en vigs betwyfel en glo dat antiretrovirale middels die liggaam vergiftig.
In Gambië verkondig die president, Yahya Jammeh, dat hy vigs-pasiënte kan genees deur ’n kruiemengsel aan hulle liggame te smeer. Die land se gesondheidsministerie verwys selfs pasiënte na die presidentskantoor. ’n Verenigde Nasies-beampte wat dit gewaag het om Jammeh se bewerings te bevraagteken, is onlangs summier uit die land geskop.
