Regtigwaar, ons behoort nou vir Max du Preez uit te los. Selfs al is hy een of ander spesie van joernalistieke masochis wat blykbaar skryf vir die perverse vreugde om karwats te kry, moet ‘n mens een of ander tyd sê, genoeg is genoeg. Om hom skriftelik pak te gee is ‘n minderwaardige uitdaging. Dit is soos vir die Bulle om teen die Queensland Reds te speel: Net te maklik. Die waarheid is, as daar een iemand is wat nie naby ‘n pen toegelaat behoort te word nie, is dit Max du Preez. ‘n Pen in sy hand is soos ‘n skerp mes in ‘n baba se hand – baie gevaarlik vir homself.
‘n Groot deel van die skuld is Henry Jeffreys, regstellend aangestel as kleurlingredakteur van Die Burger, s’n. In plaas daarvan dat hy vir Maxie as’t ware ‘n skoon vel papier en ‘n paar vetkryte gee sodat hy in die hoek kan sit en met tongtippie wat by sy mondhoek uitsteek in konsentrasie, stokmannetjies teken en uit almal se pad uit bly, gee Jeffreys vir Max gereeld morge se kolomsentimeters om ‘n gek van homself in te maak.
