praag.co.za

Max du Preez se hoepelsin

Written by

in

Ja, ons moet nou regtig vir Max begin uitlos. En ek sal, ek sal, ek belowe ek sal. Nog net hierdie een keer. Asseblief. As ek soos vanoggend lees wat die arme, simpel drommel weer te skrywe het – ek kan myself nie help nie; ek is ‘n swakkeling – dan helder sy sotlikheid ‘n reeds helder dag verder op en ek moet – móét! – hom eenvoudig net nog ‘n keer afransel.

Eintlik sal dit beter wees om daarvan te praat om Max te “rol.” Dit is hoe ons as kinders vir mekaar ‘n ellende belowe het: “Ek gaan jou rol.” Maar in hierdie geval het dit nog ‘n sterker toepassing. Sien, Max is van daardie spesie wat ons vandag ‘n “liberalis” noem. Maar dit is ‘n onbevredigende uitdrukking want ons is almal, in ‘n klassieke of ander sin, liberalisties. So moes daar ‘n ander benaming vir Max se soort gevind word. My voorstel is om hulle “hoepels” te noem; mense wat so ver weg van die waarheid af probeer agteroorleun dat hulle met hulle koppe in hulle agterwêrelde opeindig sodat hulle so hoepelvormig staan. Wanneer dit te donker en bedompig word, trek hulle hulle koppe uit en daar is ‘n klapgeluid soos ‘n sjampanjeprop wat losskiet. Max du Preez is ‘n hoepel en gemaak om te rol.

In hierdie naweek se By in Die Burger, sien ons die hoepel in aksie. (Die naam van die rubriekskrywer word aangedui as “Max du Preex,” maar dit help niks. Jy kan die regte Max du Preez en sy gebrekkige logika nie wegsteek nie.) In sy tipiese deurmekaar hardopmymerstyl – meer verwarrend vir homself as enige iemand anders – wonder die voorsitter, president en penningmeester van die Max du Preez-bewonderaarsklub of hy ‘n Afrikaner of nie ‘n Afrikaner is nie. Wat hom so verwar is dat hy blykbaar nie weet wat ‘n Afrikaner is nie. Hy bied aan om homself as Afrikaner te skors maar, sê hy, hy moet “net gou uitwerk wat dit is waaruit ek geskors word”. (Let op na Max se gekondisioneerde behoefte om ‘n slagoffer wees. In die vorige sin bied hy aan om homself te skors en dan – kul jou hier, kul jou daar – nou wórd hy geskors – seker deur daardie onbedagsame Afrikaners, ás daar so ‘n iets soos ‘n Afrikaner bestaan.)

Die rede hoekom die Afrikaner vir Max so ‘n enigmatiese element is, is omdat hoepels soos hy in die verlede die Afrikaner se aanspraak op erkenning, regte en ‘n selfstandige geskiedenis probeer omseil het deur…  deur eenvoudig aan te voer dat daar nie so iets is soos ‘n Afrikaner nie! Hoekom sal jy, byvoorbeeld, Afrikaner-gevoelens oor die beoogde verandering van Pretoria se naam in ag neem as daar nêrens ‘n Afrikaner bestaan nie? En die hoepel se grootste vrees is dat die Afrikaner sy goed gaan vat, vir homself ‘n deel van die land gaan afbaken, daar gaan bly en vir Max en die ander hoepels uitlos om die vreugde van Azaniese verval alles op hulle eie te beleef. Maar daar kan nie sprake van Afrikanerselfbeskikking wees as daar nie Afrikaners ís nie! Terselfdertyd wéét Max goed wat ‘n Afrikaner is. Selfs al slaap hy alleen, is daar elke aand een in sy bed.

En net hier kry ons ‘n eienaardige verskynsel wat ons die “hoepelsin” kan noem. Ons kry dit wanneer ‘n hoepel iets sê wat hy vas glo maar wat dan selfs in sy eie oë heeltemal onsinnig is, waarna hy die teendeel aanvaar sonder om van sy oorspronklike stelling af te sien. So sal Steven Friedman selfvoldaan aanvoer dat regstellende aksie ‘n volslae sukses is en geen negatiewe invloed op dienslewering in Suid-Afrika gehad het nie. Dan onthou hy van kragonderbrekings, verkrummelde paaie, vervalle hospitale en ‘n vasgebrande onderwysstelsel, alles regstreeks terug te voer na regstellende aksie. Nou goed dan. Die rede hoekom regstellende aksie nie werk nie, verduidelik hy, is: blahblahblah… die Afrikaner… waflawaflawafla… armoede… piffelpiffelpiffel… rassisme… As jy Friedman se hoepelsin, wat die hoepel in een vinnige sin, eintlik in een lang woord, aframmel voordat hy sy kop terugstoot tussen sy boude, herkonstrueer, sê hy in effek: “Regstellende-Aksie-is-‘n-sukses-dit-is-‘n-mislukking-en-dis-die-Afrikaner-se-skuld.”

Max se hoepelsin van die dag is: “Daar-is-nie-so-ding-soos-‘n-Afrikaner-nie-ek-is-‘n-Afrikaner.”

Syne is darem nie die enigste hoepelsin van die dag nie. Hy haal ‘n prima een van “regsfilosoof” Loammi Wolf aan: “Om tot die etniese of kultuurgroep ‘Afrikaners’ te behoort maak jou tog nie eintlik ‘n ‘etniese Afrikaner’ nie, of hoe dan?” Plaas koppeltekens tussen die woorde en jy het ‘n klassieke voorbeeld van ‘n hoepelsin.

Want – gee nou aandag Max, Loammi – ja, as jy tot die etniese of kultuurgroep “Afrikaners” behoort, ís jy ‘n “etniese Afrikaner net soos, sou jy tot die etniese of kultuurgroep “Russe” behoort, jy ‘n “etniese Rus” sou wees of, as jy tot die etniese of kultuurgroep “Zoeloe” behoort… Julle kry die idee, vertrou ek? Nie? Kom ek help:

“’n Etniese groep of entnisiteit is ‘n bevolking van mense wie se lede met mekaar identifiseer, gewoonlik op grond van ‘n veronderstelde, gemeenskaplike herkoms of voorgeslag. Herkenning as ‘n afsonderlike etniese groep deur ander mense, is dikwels ‘n bydraende faktor om hierdie identifikasieband te verstewig.” (Vry vertaal uit Wikipedia.)

Hier’s ‘n eenvoudige toets: Wys foto’s van Geo Cronjé, Bryan Habana, Hasim Amla en Akona Ndungane vir enige inwoner van Suid-Afrika, vra vir hulle om die Afrikaner vir jou te wys en hulle sal – as hulle nie dronk, gerook, bedwelm, moronies of ‘n hoepel is nie – onmiddellik en sonder om kop te krap na Geo Cronjé wys.

Blykbaar het Max nie regtig ‘n probleem om ‘n Afrikaner te herken nie en om selfs te erken dat hyself een is nie. Maar sy kapasiteit om sy naam te nqakula het skynbaar geen perke nie: “Ek is dalk etnies gesproke ‘n Afrikaner,” sê hy in die tweede deel van sy hoepelsin, en kan homself dan blykbaar nie nog ‘n onsinnigheid ontsê nie. “Ek is beslis nie deel van die ‘Afrikanervolk’ nie – daaruit het ek al as jong man bedank.”

Ûmmm, ja… sien, Max as jy ‘n lid van ‘n etniese groep is, is jy –  of jy wil of nie en of húlle wil of nie (en glo my, ons wíl nie) – deel van daardie groep. En jy en Kombuis en Landman en die res sal dit moet aanvaar. Ons wil julle net so min hê as wat julle deel van ons wil wees. Maar, soos ‘n boggel of ‘n haaslip, ís julle deel van ons.

Ja, Max en Kombuis en Landman is deel van die Afrikanervolk, maar daar is ‘n afsonderlike klassifikasie binne hierdie groep vir hulle, ‘n versameling van Afrikaners wat ons so afstootlik vind dat ons vir hulle nie eens die waardigheid van ‘n Afrikaanse woord as benaming het nie. Ons noem hulle sommer – joiners.

компрессор воздушный поршневой ценаАлександр Фильчаков Васильевич

Comments

Leave a Reply