Bono en Bob pleit in Berlyn

Image

Bono en Bob Geldof

Die G-8 skuld Afrika die geld wat hulle belowe het in 2005. Só sê die twee Ierse sterre Bono en Bob Geldof. Hulle het spesiaal na Berlyn in Duitsland gereis om hulle boodskap oor te dra.

Die Duitse Kanselier, Angela Merkel, is die voorsitter van die byeenkoms en sal ook as gasvrou optree vir die volgende spitsberaad van G-8 lande in Junie vanjaar. Na verwagting sal Afrika 700 miljoen Euro ontvang indien die beloftes wat Gerhard Schroeder, Merkel se voorganger, gedurende die 2005 Gleneagles-beraad in Skotland gemaak het, realiseer.

 

Bob Geldof het daarna verwys tydens sy perskonferensie. “Ons vra slegs dat politieke leiers hul beloftes hou, nie ‘n Euro meer nie,” het die stigter van Live Aid gesê. Die sanger het moeg gelyk tydens die geleentheid.

Bono, hoofsanger van die bekende groep U2,  wat ook deelneem aan die inisiatief om hulp vir Afrika in te samel, het benadruk dat Duitsland ‘n spesiale rol het om te speel in dié opsig. “As julle nie julle beloftes nakom nie, gaan die ander (G-8 lande) van die wa afspring,” het hy gewaarsku van agter sy rooi sonbril.

“Mevrou Merkel,” het die groot Duitse rock-ster Herbert Groenemeyer uitgeroep, “ons het u in die oog!” Groenemeyer sal op 7 Junie neffens die G-8 spitsberaad in Rostock in die noord-ooste ‘n konsert teen armoede hou.

Die drie sangers het tydens hul perskonferensie  die 2007 DATA-verslag (Debt, Aids, Trade, Africa) bekend gestel waarvan Bono die beskermheer is. Die verslag kyk veral na hoe die sewe rykste lande asook Rusland hul ondernemings van Julie 2005 by Gleneagles gestand doen.

Die ryk, geïndustrialiseerde lande het gedurende dié geleentheid onderneem om die 35 armste lande se skuldlas af te skryf en om hulpbystand aan die sukkelendes te vermeerder na 25 miljard dollar tot 2010.

Volgens DATA het egter net Groot Brittanje en Japan hul beloftes gehou. Die res van die betrokke lande het tussen 2004 en 2006 2,3 miljard dollar aan hulp gegee, maar “dis minder as die helfte van wat hulle behoort te gee,” het Jamie Drummond van DATA bevestig.

Die ryk lande se swak vertoning het Bono laat verklaar dat hy die “woede kan verstaan” van duisende betogers wat opruk na Heiligendamm om te protesteer teen die G-8 spitsberaad komende Junie. Hy het gesê dat indien die G-8 nie hul beloftes nakom nie dit die opstand verder mag aanwakker. Hy was nietemin “gekant” teen geweld wat mag uitbreek.

“Ek verstaan hulle woede, want ek het dit self gevoel toe ek by ‘n hospitaal (in Afrika) mense in ‘n ry sien doodgaan het.” was die ster se vermaning.

playФильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae