Volgens die eerste spreker, Errol Smith, Kommunikasiebestuurder van ABSA se groepsuitvoerende hoof, “is debat en spraakvryheid in ons land nou belangriker as ooit”. Hy het gesê dat ABSA glo dat die liedjie toon hoe ver Suid-Afrika al as demokrasie gevorder het en wat nog steeds in die land vermag moet word. Hy het die "heavy metal"-orkes Anthrax aangehaal, “If we were blind and had no choice, would we hate each other with the tone of our voice?”
Dr. Theuns Eloff, rektor van die Noordwes-universiteit, het gemeen dat “De la Rey” as ’n verrassing gekom het. “Enersyds is mense bang dat dit die regse Boeretipes mag inspireer – wat vergesog is. Andersyds kan dit as anti-swart gesien word, maar die woorde en die inslag weerspreek dié interpretasie,” het hy gesê. “Dis ’n nostalgiese, historiese ballade – nie ’n revolusionêre lied nie.”
Matshikiza was van mening dat “De la Rey” meer as ’n lied is en dat daar altyd ’n bedekte boodskap in die geskiedenis is. “Die Boere is opgevoed om kaffers te haat en die kaffers om Boere te haat,” het hy gesê.
Hy het voorts beweer dat “De la Rey was per ongeluk gewild weens die groter koopkrag van blankes en Boere. Die blankes doen steeds ’n beroep op (generaal Koos) de la Rey om hulle uit die swart land na die Beloofde Land te lei.”
Die sangeres Karen Zoid het aanvanklik geargumenteer dat die skrywers van die lied wat deur Bok van Blerk gesing word niks polities bedoel het nie, maar die persepsie rondom “De la Rey” is die probleem. “Wat ’n verspotte ding om te sê. Wat sê hierdie lied vir ons mense?” het sy opgemerk. “Ek is ’n Christen en ek glo dat mag in taal gesetel is. Bok, waar is jy vanaand?”
Dr. Dan Roodt, redakteur van die Praagwebblad, het Zoid se stelling weerlê. “Totdat hierdie liedjie op die toneel verskyn het, is ons (die Afrikaners) uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis verwyder. ‘De la Rey’ druk die pessimisme van ’n sterwende volk uit. Soos ’n ander sanger onlangs gesing het, ‘My Sarie Marais is dood. Sy lê iewers in ’n sloot.”
“‘De la Rey’ is nostalgies want dit verwys na ’n tyd toe die Afrikaner steeds geveg het, op ’n manier is ons nou oorwin,” het hy bygevoeg.
Die dramaturg Mike van Graan beskou “De la Rey” as ’n hulpkreet aan die voorouers. Volgens hom ervaar Suid-Afrikaners ’n gebrek aan leierskap in ons samelewing. “Hoe streef ons tegelyk geregtigheid en versoening na?” het hy gevra. “Nou ervaar ons die trauma van die oorgang en beskik oor geen leier om ons daardeur te lei nie. Mense vind daarom ’n soort leierskap in die liedjie. Maar ons behoort dit nie te oorbeklemtoon nie, dis geen politieke propaganda nie.”
Volgens ’n meningsartikel deur Antjie Krog, is die onderskeid tussen reg en verkeerd in vandag se samelewing dubbelsinnig. “Moet ons sleg wees, sodat hulle goed kan wees?” vra sy.
Eloff het voorts verklaar dat Suid-Afrikaners nie karikature van die verlede behoort te skep om ons huidige vrese te besweer nie. Hy verskil van Van Graan dat ons nie ‘De la Rey’ behoort te gebruik om mense op te sweep nie. “Maar jy kan nog steeds die liedjie geniet – ons is ’n reënboognasie wat verskeidenheid en eenheid in Suid-Afrika nastreef,” het hy bygevoeg. Dis in antwoord op dié stelling dat Matshikiza “reënboog se moer” gesê het.
“Een mens se held is ’n ander se verdrukker,” het Zoid opgemerk. “Jong kinders staan op aandag met die ou Suid-Afrikaanse vlag wat hoog gehou word as hulle ‘De la Rey’ hoor, maar hulle het geen benul waarmee hulle besig is nie. Ná elke politieke beweging volg ’n kunstenaarsbeweging.”
Roodt het gesê: “Buitelandse ambassades erken nie eens dat daar Afrikaners in Suid-Afrika oor is nie. ‘De la Rey’ herinner mense daaraan dat ons steeds bestaan. Ons is monsters, maar nie die grootste monsters nie.”
Volgens Van Graan het die hele probleem ontstaan omdat Suid-Afrikaners mekaar nie ken en verstaan nie. “Ek dink dat ‘De la Rey’ oordryf word, miskien neem ons dit te ernstig op.”
Eloff het bygevoeg dat dat die liedjie sal verbygaan. “Ek wil die stelling maak dat dit uiteindelik meer goed as kwaad sal doen.”
Elsabé Zietsman, die bekende sangeres wat ook die debat bygewoon het, het gesê dat die liedjie nie as ’n volkslied geskryf is nie, maar om geld te maak.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.