“Die geskiedenis van Angola is oorheers deur die handel in slawe tot en met die negentiende eeu, wat ook die rede vir die yl demografie en selfs onderontwikkeling is wat ons vandag waarneem” het die Direkteur en antropoloog Siamo Souindula tydens die openingseremonie gesê. Die Minister van Kultuur, Boaventura Cardoso, het die seremonie gelei.
Honderde artikels wat deur die Potrugese koloniale owerhede gebruik is om slawe te jag tussen die 1400 en 1800 word in die Museum uitgestal. Die gebou wat die tentoonstelling huisves is die "Capela da Casa Grande", ‘n kapel waar die gevangenes eers gedoop is alvorens hulle aan boord gegaan het om die seereis na suikerplantasies in Brasilië en goudmyne in Sao Tomé en Principe te begin.
Mnr. Souindula glo dat die heropening van die Museum, 25km suid van die hoofstad, die herontdekking van die land se geskiedenis sal aanwakker. “Onderwysers, navorsers en studente het nou ‘n belangrike bron van inligting wat hulle kan help met hul ondersoeke,” het hy verklaar.
“Dit is ‘n plek waar die verskillende volke van Angola byeenkom want verskillende etniese groepe was slagoffers van slawerny. Dit funksioneer dus as ‘n vertrekpunt vir die nasionale rekonstruksie van Angola.” Die land was in ‘n burgeroorlog gedompel vanaf sy onafhanklikheidswording in 1975 tot 2002.
Portugal het slawerny in sy kolonies afgeskaf op 10 Desember 1836, nadat druk uit Brittanje gekom het wat besluit het dat abolisie deurgevoer sal word op 25 Maart 1807.
Volgens sekere geskiedskrywers is meer as ‘n miljoen slawe uit Angola ontvoer nadat Portugal met die verbouing van suiker in Brasilië begin het in die sestiende eeu. Ook het die ontdekking van goud in die Minas Gerais provinsie ‘n eeu later ‘n aanvraag na slawearbeid uit Afrika geskep.
