Nozizwe Madlala-Routledge, pas afgedankte adjunkminister van gesondheid, het vanoggend tydens ’n radioprogram op Cape Talk bevestig dat Thabo Mbeki haar afgedank het op grond van haar onaangekondigde besoek aan die Frere-hospitaal in Oos-Londen en haar ongemagtigde reis na Spanje in Junie vanjaar.
Volgens haar wil sy graag hê dat die feite moet uitkom, soos sy dit sien. Mbeki het nie gehou van haar reaksie op die “skokkende” toestand in die Frere-hospitaal se kraameenheid nie. Haar besoek het gevolg op ’n berig in die Daily Dispatch oor die honderde babas wat in die hospitaal dood is oor die afgelope paar jaar. Sy het die toestand daar as ”’n nasionale krisis” bestempel.
