Die plaaslike organiseerders en Fifa het ’n ooreenkoms bereik dat naamsveranderinge van gasheerstede slegs binne Suid-Afrika gebruik sal word terwyl ’n kombinasie van ou en nuwe name in die buiteland gebruik gaan word. Die stede is: Bloemfontein (Mangaung), Port Elizabeth (Nelson Mandelabaai-munisipaliteit) en Pretoria (Tshwane).
Volgens Joe Paahla, van die departement van sport en ontspanning, gaan die 2010 Wêreldbekerbyeenkoms gebruik word om die “kuns en kultuur” van Suid-Afrika – en ook die res van die vasteland – aan buitelanders bekend te stel.
Verder het John Barton, voorsitter van die Groeikoalisie, gister tydens ’n byeenkoms in Durban verklaar dat indien misdaad nie teen 2010 gehalveer word nie, Suid-Afrika met ’n “openbare beeldkatastrofe” te doen sal kry. Misdaad is volgens hom die een faktor wat 2010 kan laat sneuwel.
