Hierdie opheffingaksies gaan dikwels hand-aan-hand met die verdagmakery, beswaddering en afkraak van die man se rol in die samelewing. Dit is ’n feit dat die wêreld en ook SA ’n geslagsrewolusie in die kleine beleef. Die man het op alle terreine vrye wild geraak waarop vrylik gejag mag word: sy ego, sy trots, sy manlikheid, sy rol in die samelewing; tewens, sy hele wese verkeer in die spervuur. In baie opsigte het hy verward geword – selfs sy jagterinstinkte wanneer dit kom by hofmakery word aan bande gelê deur uitgebreide teisteringwetgewing en dies meer – ‘n man moet baie mooi dink voor hy toenadering soek by ‘n aantreklike vrou by die werk (selfs al is beide ongetroud). Uit vrees vir beskuldigings van chauvinisme of patriargale varsigheid, bly hy maar eerder stil wanneer hierdie bombardement met genadelose reëlmaat op hom toesak vanuit gesins- en vrouetydskrifte, TV-programme en dies meer.
Wanneer mens na Vrouedag en al die bohaai daar rondom kyk vanuit ‘n man se oogpunt, voel hy soms gekul t.o.v. regverdige behandeling en erkenning. Hy vra homself vrae af soos: dis baie goed dat daar soveel lawaai gemaak word omtrent geweld teenoor vroue, maar is dit nie ook 'n feit dat baie meer mans as vroue vermoor word in SA nie – waarom ook nie gelyke fokus op daardie gebied nie? Dis goed en wel dat vroue soveel opheffingsaksies beskore is, maar is dit nie 'n feit dat die oorgrote tronkbevolking uit mans bestaan nie – wat van verskerpte opheffingaksies op daardie gebied? Dis goed en wel dat aktivistegroepe soos paddastoele verrys het om vroulike verkragtingslagoffers by te staan met wetgewing en ondersteuning, maar waar is dieselfde groepe wanneer dit kom by waarskynlik baie meer mans in tronke wat verkrag en gesodomiseer word? Dis ’n feit dat mans korter lewe as vroue, waarom word daar dan teen mans gediskrimineer deur hul aftree-ouderdom later te hou as dié van vroue?
Alhoewel daar geluide gemaak word dat wetgewing se definisie uitgebrei gaan word om gesodomiseerde mans ook in te sluit as verkragtingslagoffers, blyk dit asof hierdie jarelange gesloer daarmee geen erg het aan die lyding wat mans deurmaak in hierdie opsig nie – sou dieselfde gesloer geduld gewees het indien die aanpassing van hierdie wetgewing op vroue van toespassing sou wees? ‘n Man beskik oor geen seggenskap oor die lotsbepaling van sy kind indien die moeder sou besluit om die ongebore kind te aborteer nie – is sy ouerskapreg dus ondergeskik teenoor dié van die moeder dat selfs sy ernstige geloofsbesware geen gewig dra nie?
Nee wat, die man mag moontlik vanuit sy tradisionele rol as broodwinner nog die botoon voer in die ekonomie, maar dis besig om baie vinnig te verander/ Die gevaar is egter dat die opheffingpendule van die vrou sodanig verby gaan swaai, dat ons besig is om ‘n skeefgetrekte samelewingsorde op te rig – een wat selfs die potensiaal kan hê om spanning tussen die geslagte tot ongekende hoogtes te voer.
En noem my maar gerus ‘n chauvinis daarvoor dat ek vir ‘n slag in die bresse wil tree vir die man. Dis sterk te betwyfel dat enige hoofstroomkoerant hoegenaamd hierdie brief sal plaas, want dit pas doodgewoon net nie die hedendaagse de facto feministiese agenda nie – jammer, punt.
