Ek volg nou al ‘n hele rukkie die briewe op Praag. Party mense is goed ingelig en ander verbasend naïef. Werner Pereira – tien uit tien vir jou brief. Hoe gouer ons besef dat die gemors waarin ons sit ons eie toedoen is – hoe beter. Net ons kan dit regstel. Nie die buiteland, die VN of Thabo Mbeki nie.
Ons moet ophou om jammer vir onsself te voel en ophou om te kapituleer. Daar woed reeds ‘n oorlog teen ons daarbuite, maar nog doen ons niks nie. Ek is bevrees die dag dat mense gaan wakkerskrik gaan dit wees wanneer hulle man/ vrou en kind reeds doodgemaak is deur iemand wat nie ‘n snars omgee vir ‘n ander se lewe nie.
Ek is in my twintigerjare en het gelukkig nooit gestem vir die gemors waarin ons ons nou bevind nie – ons geslag sit egter met die probleme. Dis asof die meeste ouer mense nou maar net boedel oorgegee het. En as hy nog enigsins rugby kan kyk of ‘n bier by sy braaivleis kan geniet dan het hy nie ‘n saak nie. Die meeste kinders is onopgevoed, kry nie die regte leiding by hulle ouers nie en is – jammer om te sê – meestal slapgat, gee nie ‘n duiwel om vir naskoolse opleiding nie en is suiwer materieel ingestel. Baie van hulle is boonop ongeletterd en kan nie eens behoorlike Afrikaans praat of spel nie. Mens hoef net na
Facebook te gaan kyk na al die Afrikaanse groepe wat gestig word – waar hulle luid hulle liefde vir Afrikaans verklaar as “dis ‘n amazing taal – Afrikaans rocks”. Ten minste is daar darem nog by hulle trots oor. Dan is daar ander wat ly aan ‘n ongelooflike hoeveelheid selfhaat en eiehandig meer doen om die Afrikaner se trots te vernietig as al die Engelse Suid-Afrikaners saam.
Dis die Afrikaners wat vertel hoe agtertangs sommige “Boere” en ander konserwatiewes nou eintlik is. Daar is reeds twee groepe op Facebook wat sê dat Afrikaans ‘n “dying language” is – “let’s kill it” en waarop daar verskriklike haatspraak teen ons taal en kultuur voorkom. En dan is daar die groepe wat deur ongemanierde Afrikaners begin is waarop ander bevolkingsgroepe op so ‘n wyse verneder word dat dit baie meer van die mentaliteit en opvoedingsvlak van die kinders sê. Dit maak my skaam. Ons is nie boelies nie – ons veg regverdig en eerlik wanneer ons moet. Die Afrikaner vandag het egter in morele verval geraak wat heel moontlik die einde van ons sal beteken. Ouers, ek pleit by julle – leer jou kind om suiwer Afrikaans te praat – leer hom/haar trots vir sy/haar taal, leer hom/haar maniere, leer hom /haar om te lees en ‘n wyer belangstellingsveld as die televisie en Play Station op te bou. Want wragtag – “My volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis”.
одежда для яхтсменовtopcargo отзыв