Wat die besoek in Junie aan Spanje betref, sê die voormalige adjunkminister dat Mbeki nie wou hê dat sy die internasionale vigskonferensie bywoon nie, aangesien politici nie behoort op te tree by ’n vergadering waar tegnokrate en navorsers sprekers is nie. Sy was nie met haar vertrek daarvan bewus dat Mbeki die besoek afgekeur het nie en het dadelik na Suid-Afrika teruggekeer toe sy van die president se besluit hoor.
Madlala-Routledge het gister ’n heldeontvangs by die Kaapstad-lughawe gehad. Sy was aangedaan om die skare (ondersteuners van TAC, Cosatu en die SAKP) te sien wat anti-Mbeki plakkate rondgeswaai het en het haar vuis in die lug gebal. “Viva the people!“ het sy uitgeroep.
Dit is bekend dat die voormalige adjunkminister swaarde gekruis het met Thabo Mbeki en Manto Tshabalala-Msimang oor hulle vigs-beleid. Sy het Dinsdagaand geweier om op aandrang van Mbeki haar pos te verlaat en is die volgende aand deur die president afgedank.
