Beseerde kind laat immigrasiekwessie in Frankryk opvlam

Image

Pro-immigrasiebetogers in Parys

Die stryd rondom immigrasie in Europa, spesifiek in Frankryk, het verhewig toe die kind van ’n onwettige Russiese immigrant ernstig beseer is toe hy en sy pa van die polisie wou wegvlug. Die 12-jarige seun het per ongeluk van die vierde verdieping van ’n gebou in Amiens, Frankryk, afgeval en verkeer tans in ’n koma in die hospitaal.

Linkse groepe wat wil hê dat Frankryk sy deure vir alle immigrante, veral vanuit Afrika, moet oopgooi, het die insident aangegryp as ’n propagandageleentheid teen die voorstanders van immgrasiebeheer. Die “Opvoedingsnetwerk sonder grense”, oftewel RESF, ’n federasie van 125 Franse verenigings wat ten gunste van derdewêreldimmigrasie is, het in Parys voor die stadsaal betoog met die slagspreuk, “Hou op met klopjagte, hou op met uitsettings”.

Volgens die staatsprokureur van Amiens, Patrick Beau, is die kind se toestand ernstig nadat hy gepoog het om agter sy pa teen die balkonne van die gebou aan die buitekant af te klim. Die polisie het die gesin besoek omdat hulle nie ’n afspraak by die polisiestasie nagekom het nie. Die Algemene inspektoraat van die nasionale polisie (IPGN in Frans) het ’n ondersoek gelas omdat die “omstandighede van die ongeluk onduidelik bly”, aldus die staatsprokureur.

Hierdie ongeluk het gebeur terwyl “Opvoedingsnetwerk sonder grense” ’n toename in inhegtenisnames van onwettige immigrante waarneem. Blykbaar geskied sulke inhegtenisnames veral tydens Augustusmaand. Volgens die federasie, wat ’n daaglikse telling aanhou van onwettiges wat gearresteer word, is daar in Parys ten minste ses ouers van skoolgaande kinders verlede Dinsdag gearresteer.

In ’n communiqué spreek die RESF insgelyks sy kommer uit oor die polisie wat ouers teiken. “Tot dusver is uitsettingsbevele van ouers van skoolgaande kinders deur die administratiewe tribunaal tersyde gestel omdat hul persoonlike lewe in Frankryk in ag geneem is. Vele ouers is sodoende deur die polisie vrygelaat.”

Maar die tydens ’n vergadering met sy Italiaanse eweknie, het die minister van immgrasie, Brice Hortefeux, enige toename vandeesmaand in klopjagte teen onwettiges as spekulasie afgemaak en verseker dat “Augustusmaand geensins uitsonderlik is nie”.

ImageTerwyl slegs 5% van alle uitsettings via geskeduleerde vlugte van die nasionale lugredery, Air France, plaasvind, het die sosialistiese vakverbond, Werkersmag (FO), intussen ’n mosie aanvaar wat die beëindiging van alle uitsettings deur middel van die lugredery se vlugte eis.

Volgens die sekretaris-generaal van FO, Didier Dague “bring die uitsettings asook insidente op vlugte die beeld van die redery en sy personeel in die gedrang”. Ten einde die maksimum publisiteit en simpatie vir hul saak op te wek, weier onwettige immigrante dikwels om aan boord te gaan, skree en skop sodat hulle soms in terme van internasionale lugvaartregulasies weer van die vlug afgesit moet word.

Tydens die onlangse verkiesings in Frankryk was immigrasie die hoofkwessie. Kennelik gaan die debat rondom onwettige immigrasie en uitsettings nie lê nie en slyp die pro-immigrasiefaksie sy tande elke keer as ’n ongeluk gebeur soos in die geval van die Russiese kind wat van ’n balkon afgeval het. Die wreedheid van die polisie wat “ouers van skoolgaande kinders uit die land sit” gaan herhaaldelik beklemtoon word in die hoop dat die Franse regering kapituleer en die honderde miljoene mense in vorige Franse kolonies in Wes- en Noord-Afrika waar Frans steeds die amptelike taal is, toelaat om vrylik na Frankryk te beweeg op dieselfde manier as wat Zimbabwiërs tans Suid-Afrika binnestroom.

липецк сварочноеФільчаков Олександр Васильович прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae