Teleurstelling dat e-tol nie geskrap word nie

Daar is groot teleurstelling dat die e-tol-hersieningspaneel nie aanbeveel het dat die stelsel in Gauteng geskrap moet word nie.

Die meerderheid van mense en organisasies wat voorleggings gedoen het, het gemeen die stelsel is onregverdig en behoort laat vaar te word.

Die paneel se verslag, wat meer as 50 aanbevelings insluit, is gister deur die premier van Gauteng, David Makhura in Johannesburg bekend gemaak. Hy het gesê die stelsel plaas ʼn buitensporige las op lae- en middelklas inkomste huishoudings.

Die paneel is in Julie verlede jaar deur Makhura aangestel om die sosio-ekonomiese impak van die stelsel te ondersoek. Die paneel het sy verslag op 30 November reeds aan Makhura oorhandig, maar die inhoud daarvan is eers vandag bekend gemaak.

“In sy huidige vorm is die e-tolstelsel onbekostigbaar en onbillik,” het Makhura gesê. “Dit is ook ʼn administratiewe rompslomp.”

Makhura het die media in Johannesburg toegespreek. Hy het egter gesê die implementering van die stelsel het die ekonomie en inwoners van Gauteng bevoordeel.

Makhura het gesê die gehalte van die pad is beter, reistyd het verminder, brandstofdoeltreffendheid het verbeter, voertuie se instandhoudingskoste het verlaag en besighede se logistieke doeltreffendheid het verbeter.

“Die belangrikste aanbeveling van die paneel is dat elemente van die huidige e-tolstelsel hersien moet word om die vrae oor bekostigbaarheid, gelykheid, regverdigheid, administratiewe eenvoud en volhoubaarheid aan te spreek,” het hy gesê.

Openbare vervoerinfrastruktuur, omgewingsvolhoubaarheid en ruimtelike integrasie van die Gauteng-provinsie is ook onder die loep geneem.

Die Departement van Vervoer sê hy sal reageer op die bevindings en aanbevelings van die Gautengse hersieningspaneel deur middel van die raadplegende proses wat deur adjunk-president Cyril Ramaphosa gelei word.

‘n Woordvoerder van die departement sê hulle sal aan die proses deelneem en dat die nasionale regering daarna ‘n aankondiging sal doen.

Verwarring heers oor nuwe nommerplate

nommerplateDie LUR vir vervoer in KwaZulu-Natal, Willies Mchunu het gesê die nommerplaatstelsel is gewortel in apartheid en is ​​irrelevant vir huidige landdrosjurisdiksie en -grense.

Kommer heers oor ‘n moontlike vermorsing van tyd en hulpbronne – terwyl verwarring heers – oor voorstelle vir nommerplate wat regoor die land gaan verander.

KwaZulu-Natal het ‘n plan wat die uitvoerende raad goedgekeur het in Januarie ontwikkel, maar dis nie seker of dit sal aanpas by die nasionale plan nie.

Spesifikasies vir nuwe nommerplate is onder die voorgestelde wysigings aan die Nasionale Padverkeerswet wat vrygestel is vir openbare kommentaar.

Die kwessie sal aanstons by ‘n sitting van die wetgewer gedebatteer word.

Taxi’s ruk op teen e-tol

taxis2Die Nasionale Taxivereniging sê hoewel dit jammer is dat duisende pendelaars gister sonder vervoer was, was dit nodig vir die vereniging om sulke stappe te doen.

Die vereniging het na die Departement van Vervoer in Pretoria opgeruk om ‘n memorandum van eise te oorhandig.

Onder die eise is dat die regering sy belofte gestand doen om taxi’s van e-tol vry te stel.

Taxi-operateurs voer aan dat hulle sedert die inwerkingtreding van die e-tolstelsel in Desember verlede jaar rekeninge van tussen 20- duisend en 40-duisend rand gekry het.

Die vereniging se hoofsekretaris, Alpheus Mlalazi, sê alles sal na verwagting vandag weer na normaal terugkeer. – RSG

Padongelukke eis ekwivalent van drie Boeings wat neerstort

ongelukDie werklike dodetal weens padongelukke is pas bevestig: Die afgelope Feesseisoen het meer as 1.500 lewens op die paaie geëis.

Dipuo Peters, die minister van vervoer, het vroeër gesê die slagting op die land se paaie was die ekwivalent van drie Boeing 747’s wat in Suid-Afrika verongeluk.

“Stel jou voor wat sal gebeur as drie vliegtuie van die grootte neergestort het in Suid-Afrika. Dit sal ‘n katastrofe wees,” het sy gesê.

Peters het gesê die Departement van Vervoer en sy agentskappe is verbind tot Verenigde Nasies se doelwit om padsterftes teen 2020 te halveer.

KwaZulu-Natal was heel bo-aan met 307 sterftes, gevolg deur Gauteng met 302.

Drank en spoed was die hoofoorsake van die sterftes, het ‘n woordvoerder van die Padverkeersbestuurskorporasie, Thato Mosena, gesê .

Sy sê daar is 1.287 noodlottige ongelukke aangemeld, wat tot 1.537 sterfgevalle gelei het.

Die minste padongelukke het in die Noord-Kaap, waar die paaie minder besig is, voorgekom. Daar was slegs 49 sterftes.

Mosena het ook ‘n beroep op motoriste gedoen om die padreëls na te kom.