Die Springbokke het met 'n sekere swierigheid begin, die Wallabies se beste aanvalle gesluk en self hard en vinnig tot die aanval oorgegaan. Maar hierdie keer, al het hulle die spyker teen die plank gehad, kon hulle dit nie ingekap kry nie. Die Australiërs, daarenteen, het hard geswot dié week en het al die antwoorde op die Springbok-vraestel reg beantwoord. Dit was veral opsigtelik toe Matt Gitau, kort ná 'n standaard-Morné-Steyn-skepskop, die vermetelheid gehad het om self die bal oor die pale te skepskop, en dit met sy swakker voet nogal.
Nadat Adam Ashley-Cooper sy drie gedruk het, het die Springbokke begin om vir 'n bonuspunt en daarmee waarskynlik die 3N-trofee te speel. Daarvoor het hulle van wedstrydbenadering verander en op die grond tussen die stoele van twee wedstrydplanne gaan sit. Uit met die bal-in-die-hand-patroon ten gunste van die hangskopdoodwurgplan. Die presiese samehorigheid waarmee die Springbokke verlede week nog 'n wedstrydplan toegepas het, is toe daarmee heen; hulle doeltreffendheid ook, asof hulle 'n basaar bedryf het wat deur twee wedywerende komitees beplan is. En dit was die Aussies wat die tombola gewen het.
Daarmee saam het Pieter de Villiers 'n paar angels uit die Springbokke getrek met onbesonne aanwending van plaasvervangers. Bryan Habana, wat nog 'n aflewering in sy groeiende legende geskryf het met twee drievoorkomende lakke, is van die veld af. Die laaste beeld van hom was waar hy in die spelerstonnel af verdwyn het, waarskynlik, soos wat daar stuitig opgemerk is, om sy bagasie WP toe na te gaan. 'n De Villiers-liefling, Adrian Jacobs, het op die veld verskyn en onmiddellik en toenemend uit sy plek in meer bedrewe geselsskap gelyk. Die presiesheid waarmee hy op sy doellyn die bal vir Matt Gitau beskikbaar gestel het, was die skreiendste stukkie spel wat hy in 'n gehawende seisoen uitgestal het en dit was net 'n verbete Jaque Fourie wat met 'n titaniumgraadlak die geeltruilosskakel by die hoekvlag oor die kantlyn gekletter het.
'n Baie beter ontplooiing sou daardie voetboller, Ruan Pienaar op vleuel, en die eksentrieke Frans Steyn op heelagter, gewees het.
Hierdie neerlaag is nie die einde van die Springbokke se Drie Nasies-wêreld nie. Dis nie eers 'n baie ernstige terugslag nie; eerder deel van 'n amperse roetine. Suid-Afrikaners wen nie Super 14's of Drie Nasies-trofeë met ongeskonde seisoenrekords nie. Dié doen hulle net in Wêreldbekers. Die All Blacks, daarenteen, wen meestal die Drie Nasies wanneer hulle sterk genoeg is om al hulle wedstryde in die reeks te beklink. En in Wêreldbekers? Nou ja, Wêreldbekers wen hulle lankal nie meer nie.
Volgende week gaan die roes van die Springbokstoomroller afgeklop wees, die magtige enjin gaan weer op alle silinders teen volle kompressie vuur. Hulle sal hulle laaste toets in die reeks wen, en daarmee saam die Drie Nasies. Kyk maar net.
Vir die Australiërs het Adam Ashley-Cooper en die parmantige James O'Connor drieë gedruk. Gitau het Ashley-Cooper se drie verdoel en ook 'n skepskop en twee strafdoele geregistreer. Morné Steyn het weereens al die Springbokke se punte, 'n strafskop en 'n skepskop dié keer, aangeteken. Ongelukkig was dit net ses punte werd. Die Wallabies wen 21-6.
